Oor kuns, eerlikheid en die Living Newspaper

  • 0

“Dit hoef nie altyd iets te beteken nie,” blaf ’n vriend terug. Ons het The Favour, the Watch and the Very Big Fish gekyk. Die kring was almal bietjie ouer, gegradueerde teatermense. Ek was besig om my naskoolse af jaar in ’n restaurant op ’n nywerheidsdorp om te werk en het geen begrip vir absurde komedie gehad nie. Dit het egter nie lank geneem nie. Twee jaar later was ek ’n kunsverslaafde wat 26 vertonings in ’n week by die Grahamstadfees kon kafdraf.

Dit het vir my duidelik geword het dat terwyl kuns ’n jaloerse minnaar vir die praktisyn kon wees, dit van die waardeerder slegs eerlike omgang gevra het. Ek was baie meer gemaklik in hierdie rol. Dit het nie ’n kunstenaarsaanvoeling geverg nie. Kuns kon nie agterdogtig teenoor toeskouers wees nie en ook nie ’n ooreenkoms met die aanskouer afdwing nie, nie eers met die mees getroue entoesias nie.

Sedertdien het ek menigmale kuns aan die voorpunt aanskou. Ongelukkig was daar ook minder beginselvaste voorbeelde, wat die vrese en onkunde van hul gehore uitbuit om hulle meer beïnvloedbaar eerder as verlig te laat. In Suid-Afrika word sulke produksies gewoonlik verbloem as die historiese of religieuse musiekblyspel, die eenman-komedie (om geslagstereotipes uit te buit), “goeie” musiek en “kontroversiële” kuns.

Soos die oneerlike praktisyn, bestaan ook oneerlike gehore orals: die kritikus en die toeskouer wat nie eerlik omgaan met wat aan hulle voorgehou word nie, maar eerder slegs heersende sienings daaroor beaam na hulle hul gehaas het na die nuutste opspraakwekkende produksie, omdat vrees vir uitmis (FOMO – Fear Of Missing Out) hul soontoe gedryf het.

Nêrens is FOMO groter as in Manhattan nie. Daar het ek op ’n onlangse besoek $100 op ’n “meeslepende, terrein-spesifieke en interaktiewe teaterervaring”, gebaseer op Shakespeare se Macbeth, gewaag. Sleep No More, wat oor ses vloere in ’n voormalige Chelsea-hotel opgevoer is, is sonder uitsondering as “cool”, “sexy” en “mind-blowing” beskryf. Ja, ek het die angs wat die Big Apple se kritici so blyk te geniet gevoel terwyl ek skamel-geklede akteurs op en af met gevaarlik-onderbeligte trappe gejaag het saam met honderde ander minder beweeglike en gemaskerde gehoorlede. Van die bewegingswerk (die akteurs s’n ook) was roerend. Dit was egter slegs na die ervaring, toe my lewer deur ’n $20 glas wyn in die jazztema-waglokaal meegesleep kon word, dat Google my indrukke van Londense resensies kon eggo: die enigste behoefte wat Sleep No More bevredig het, was om die maksimum geld uit gehore te maak.

Waar die werklikheid kuns nagemaak het, het ek egter geleer dat vorm funksie nie altyd so skouspelagtig hoef te troef nie. Een van my laaste take as hoof in die leier van die opposisie se kantoor tot kort voor die 2009-verkiesing was die voorbereiding vir haar deelname aan ’n forum van die Joodse gemeenskap in Seepunt genaamd The Living Newspaper. So kom dit na vore dat die forum se naam ontleen is aan ’n styl dokumentêre teater vir populêre gehore, wat burgerlike ingryping aangemoedig het en onder depressie-era-Amerika se Federal Theater Program gekodifiseer is. ’n “Lewende koerant” word saamgestel uit nuusgebeure met betrekking tot ’n spesifieke onderwerp, bygewerk met niefeitelike voorstellings van die invloed van hierdie nuusgebeure op die lewens van betrokke gemeenskappe.

Terwyl die Seepunt-gebeurtenis min met teater gemeen gehad het, het dit wel die Tim Robbins-film van 1999 The Cradle Will Rock in herinnering geroep. Dié fliek handel oor die kansellasie van die Amerikaanse Federal Theater Program as gevolg van antikommunistiese paranoia (ja, The Living Newspaper het inderdaad Bolsjewistiese wortels), en beeld ook die geïmproviseerde opvoering uit van die laaste Living Newspaper, wat uit protes gevolg het. Tweedens het dit ook herinner aan ’n studenteproduksie van die Universiteit van Kaapstad getitel Trivial Pursuit, wat by die 2001 Grahamstadfees deur Heike Gehring (tans lektrise by Rhodes) aangebied is. Hierdie produksie is met behulp van werkswinkels uit parlementêre debatte saamgestel om ’n dialoog te skep vir ’n gesin wat ’n mikrokosmos van Suid-Afrika verteenwoordig het. Dit het die trajek waarop ons jong demokrasie hom bevind, vermaaklik en onheilspellend weergegee, sonder die prekerige oproep tot aksie wat blykbaar die Amerikaanse Living Newspapers gekenmerk het, en so die moontlikhede vir hierdie genre op plaaslike bodem aangedui.

Baie minder Suid-Afrikaners was so hoorbaar bekommerd oor die pad waarop ons demokrasie hom bevind het voor die 2009-verkiesing as nou. Die wapenskandaal, president Mbeki se beweerde misbruik van staatsinstellings, sy en sy opvolger, president Motlanthe, se onderskeie skorsing en ontslag van die later-geregverdigde Nasionale Vervolgingsgesaghoof, Vusi Pikoli, het wel kommer gelok. Hierdie beweerde misbruike het hulself goed geleen tot die Living Newspaper-konsep, om die bedreiging wat dit inhou duidelik te maak aan die mense wat dit meeste sou raak, en wat dit soos die spreekwoordelike padda in die verhittende pot eerder ontken het.

Buiten Pieter-Dirk Uys se werk het my beperkte teaterervaringe na die 2009-verkiesing slegs een opflikkering op die gebied van politieke teater geregistreer: die ietwat rampspoedige opvoering The Ragged-Trousered Philanthropists in The Fugard in 2010. Dit was gebaseer op ’n grootse, eeu oue linkse werk van ’n voormalige Kapenaar, Robert Tressel, en dus ideaal om as kommentaar op die maatskaplike verdeeldheid in Suid-Afrika geprojekteer te word. Die geleentheid is egter nie aangegryp nie. Kaapse kunsskrywers verdien ’n pluimpie omdat hulle dit ook uitgewys het.

Met die bekroonde onlangse Afrikaanse teatertreffer Balbesit, wat verlede week ’n lopie in die Staatsteater afgesluit het, is dinge egter anders. Met rugby as die gemene deler takel dit op omstrede wyse aangeleenthede soos die verlies van mag, eienaarskap en geweld, met ’n teks wat op grepe uit werklike kommentaar van nuus- en koerantwebtuistes gebaseer is. Dit gee nie net aanstoot oor die onderliggende kulturele voorskrifte waarmee dit te koop loop nie, maar dwing ook ongemaklike begrip oor dit ’n baie spesifieke tipe kwesbaarheid wat in ons samelewing amper universeel ontken word, ontbloot: die kwesbaarheid van die wit man. Dit het egter ook breër betrekking, want dit gee uitdrukking aan die frustrasies wat daarmee gepaard gaan om in ’n land te lewe wat, na Antjie Krog se onlangse beskrywing, is soos “’n honderd bote op ’n stormagtige see ... en hulle vaar almal in verskillende rigtings”.

Dié toneelstuk verskaf stof tot nadenke, want dit dui op ’n hele aantal probleme wat die lewens van Suid-Afrikaners beïnvloed. Dit bied ook hoop, want dit doen nie net ’n oproep om die tekort aan leierskap wat ons ervaar op te los nie, maar wys ook uit dat ons reeds beskik oor sterk openbare toonaangewers. Dit laat ons met die name van sterk leiers, wat dan ook toevallig swart en vroulik is: Rhoda Kadalie, Thuli Madonsela, Mampela Ramphele …

Miskien as gevolg van my spesifieke reis deur die kunste en politiek glo ek dat ’n toneelstuk soos Balbesit ’n baie spesifieke uitdaging aan kritici, gehore en teatermakers rig. Dit is, om erkenning aan dié werk se unieke plek in die Suid-Afrikaanse oeuvre te gee, die verband wat dit hou met ’n geskiedkundige teatervorm soos Living Newspaper te besef, en om die toenemende toepaslikheid van hierdie genre op die omstandighede in Suid-Afrika te ontgin. Ek is immers ’n lewende bewys dat kuns selfs onder die mees onkundiges bewustheid kan kweek.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top