Oor Jan de Bruyn

  • 0

Ek het iewers gehoor dat Jan de Bruyn oorlede is, maar nie geweet of dit dieselfde Jan de Bruyn was wat ek geken het nie. Toe ek nou Engemi se gedig oor hom lees, is iets in my geraak en het ek ’n bietjie navorsing gedoen. Dit wás hy.

Jan en ek was nie net saam dosente aan die Universiteit van Fort Hare nie; hy was ook my buurman in Alice. Ons was van die laaste blankes wat in Alice uitgehou het toe die meeste Fort Beaufort toe getrek het. Hy was seker die enigste buurman ooit met wie ek gereeld gekommunikeer het en oor en weer gekuier het. Hul kinders en ons s’n was ook heeltyd oor en weer.

Jan was ’n diep mens, en destyds al versot op poësie (dit was voor sy digbundels verskyn het). Ek was nog nooit regtig ’n poësie-mens nie, maar my vrou was (is). Sy het sy poësie verstaan. Jan en ek het mekaar gevind in ons gedeelde liefde vir die natuur. Van tyd tot tyd het ons as families in die Andries Vosloo natuurreservaat sommer in die bos gaan slaap. Ek onthou hy was net so mal oor die jakkalse se getjank as ek.

My oudste seun was destyds so 3-4 jaar oud en het deur ’n fase gegaan waar hy gereeld sy broek uitgetrek het. Ek onthou hoe Jan se dogter Sonja eenkeer vir ons kom vra het of ons nie geld het om vir ons kinders broeke te koop nie?

Dankie vir jou gedig, Engemi. Hoewel ek my nog nooit in die poësie verdiep het nie, het jou gedig iets in my geraak.

Groete,

Douwe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top