Oor Jaco se gesanik

  • 2

Jaco reken wat was, was en daar kan niks aan gedoen word nie.  Ek wonder of hy in 1912 hierdie raad aan die stigters van die ANC sou gegee het?  "Man, kêrels, Van Riebeeck het nou in 1652 aan wal gestap en die setlaars het in 1820 hier aangekom en daar is nou niks aan te doen nie; hulle is nou in beheer en aanvaar dit maar so."   Hy kan nou wel aanvoer dat hy nie in die omgewing was ten tyde van daardie gebeurtenisse nie maar hy kan ons nog steeds vertel of hy reken dit die ding was vir die swart volkere om te gedoen het. Maar hy sal natuurlik nie; sy gebrek aan antwoorde en redenasies praat hy weg met die verskoning dat hy nie met 'fanatici' praat nie.

Hy praat van ouens wat hier " ... tot vervelens toe te skrywe oor die onreg van die konsentrasiekampe."  Ek het nog net een gesien en dit was van Gerhard Venter, en dit was net een brief.  Ek sal bly wees as Jaco my die datums van die ander briewe kan gee.

Ek vermoed ek is een van die ouens in sy visier wanneer hy praat van dié wat mede-Afrikaners as volksverraaiers uitkryt.  Indien dit so is sal ek dit waardeer as hy ook die datums van daardie briewe kan gee, miskien, vir geloofwaardigheidsredes, dit sommer kopieer en plak sodat ek hom nie van verdraaiings kan beskuldig nie.

Sover dit die 'vervrotting' van Afrikaans aangaan is dit wel waar dat ek 'n broertjie daaraan dood het.  Ek hou egter nie die media daarvoor verantwoordelik nie; ek sê dat dit duidelik die geval is soos gehoor en gesien kan word deur middel van die media.  Daarvan gepraat, die radio kan, soos die BBC, beslis 'n voorbeeld stel van ordentlike taalgebruik.  Daar faal hulle maar die verantwoordelikheid lê by elke taalgebruiker.

Dat die naamsveranderinge 'n fait accompli is, is miskien so of dit is nie so nie.  Wat ek egter in die verband gesê het is dat hierdie naamsveranderinge tekenend is van die jag op Afrikaans en Afrikaners.  Die feit dat daar Afrikaanssprekendes is wat dit so geredelik aanvaar en selfs meewerk om hulle taal af te rangeer kan net verklaar word as hulle in 'n staat van hipnose is, soos zombies.  Ek sê egter vir die honderdduisendste keer dat dit dié is wat reeds gaan lê het want daar is darem nog ouens soos Dan Roodt, Jan Boer, Steve Hofmeyer, Johannes Comestor en nog vele ander.

Wat die taal betref, ek weet nie waar hy daaraan kom dat 'let' eers 'belet' beteken het nie. Die Afrikaanse en Duitse ekwivalente is onderskeidelik 'laat' en 'lassen' maar dit nou daar gelaat.  Dit is wel so dat taal verander maar 'groei' en 'kwyn' is, respektiewelik, gewenste en ongewenste verandering.  Iets wat verdwyn omdat dit oorgeneem word is nie goed vir die ding wat aan die verdwyn is net omdat dit later (in 'n chronologiese sin) gebeur nie.  So is die besmet van Afrikaans met Engelse woorde nie groei nie, dis sterf.

Om te beweer dat 'baie' Afrikaners nou, na '94, meer sigbaar word in die sakewêreld is onsin tensy, natuurlik, hy verwys na dié wat nou in die buiteland sit (en dieselfde geld natuurlik vir sy sport-storie).  Wat wel die geval is, is dat daar nou meer Afrikaners in plakkerskampe bly as wat voor '94 die geval was (wás daar ooit voor '94 wit plakkers?).

Jaco is reg as hy sê "Afrikaans en die Afrikaner sal daadwerklik ondergaan indien hy homself nie by sy aanhoudende veranderende omstandighede kan aanpas nie."  Die Afrikaner het deur die eeue nog aangepas by veranderende omstandighede, dié dat hy vandag nog bestaan.  'Aanpassing' en 'oorgawe' is egter verskillende dinge.  Deur ingesluk te word deur 'n ander kultuur is nie aanpassing nie.  'n Van Tonder in, sê  Amerika, oor 'n honderd jaar is nie 'n Afrikaner wat aangepas het nie, dis 'n Amerikaner, net soos 'n Kennedy daar nie meer 'n Ier is nie, of 'n Pawinski nie meer 'n Pool nie. Afrikaners wat dus tweedehandse Engelse geword het, het nie aangepas nie, hulle het gejoin.

Alweer skimp hy dat ek kritiseer sonder 'n oplossing of voorstel.  Nou-ja, alhoewel ek al  herhaalde male daarop gewys dat jy nie oor 'n alternatief hoef te beskik om 'n gemis uit te wys nie, het ek nogtans 'n voorstel:  Demokrasie.  Dis die enigste oplossing.  En terloops, die Afrikaner was nog nooit 'wetlik verskans' nie.

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • die enigste oplossing volgens my is om te sorg dat jy ekonomies magtig word. van grondvlak af en nie van bo af soos die onderskeie magtige families hier plaaslik gedoen het nie, en om dan daardie mag wat jy dan het te gebruik tot voordeel van jou mense. doen dit soos die portugees en jood en italianer. sodra jy jou kafee opgebou het, skep 'n nuwe geleentheid en maak nog een oop. vir 'n vriend of familielid. konsolideer die besighede en bly weg van die JSE af en werk net met kontant. so kan jy betaal aan die keiser net wat hom toekom en oor twee generasies is hy bankrot want sy eie mense loop en bedel en kan nie uithelp nie.

    daarom dat ek alle vorme van "spanner in die wheels" voorstaan. ek betaal met 'n glimlag en sonder 'n oomblik se wroeging die spietkop 'n R100 solank ek net weet die geld gaan nie na hierdie regime toe nie.

    hierdie regime kan slegs maak en breek en tekere gaan soos hy inderdaad doen omdat hy op die eend wat die goue eiers le se nes afgekom het en die eend voel te sleg om hom aand die hand te byt elke keer as hy nog 'n eier steel.

    belastingweerhouding sou uiteindelik die beste oplossing wees maar ons mense is te bang vir die tronk.

  • oester, ek is dit eens met jou dat R100 vir 'n spietkop 'n baie sindeliker spandeer van geld is as R1 000 vir 'n bedeling wat Afrikaners en Afrikaans om elke hoek en draai benadeel.  Ek word hewig deur sommige familielede vir hierdie houding veroordeel maar gegee die huidige stand van sake is dit by verre die meer edele manier van dinge doen.  Die spietkop kan die geld gebruik om vir hom 'n paar biere te koop, of roomys vir sy kinders, of 'n stukkie steak vir sy familie, als baie beter as in die staatskas om die speknekke nog dikker te maak of in staat te stel om nog Afrikaanse namete vervang met volksvreemdes.

    'n Algemene opmerking oor entrepeneurskap:  Dit het 'n limiet; kan jy jou voorstel dat elke burger 'n entrepeneur is?  Geld maak dan eintlik geen sin meer nie; ek ruil my skilderye vir jou oesters want die ou wat die messe maak wat ek wil hê moet oesters ruil vir groente.  En wie sorg dat die riool en stoemwater ens werk? Ouens op komitee's?  Nie maklik nie.

    Nee, daar is 'n plek vir 'n openbare sektor, met ander woorde 'n regering en as die een wat op 'n gegewe oomblik aan bewind is en sy werk half doen moet hy gekritiseer word, as hy glad nie sy werk doen nie is dit ons plig om hom uit te stem.  As ons geen stem het nie, of as ons stem geen invloed het nie, leef ons in 'n wêreld wat 'n skande sal wees om aan ons nageslag oor te laat. 

    Dit is dus 'n probleem en om 'n probleem toe te laat om aan te gaan is defeatisties.  'n Begin is darem om die probleem te identifiseer en sodra dit gedoen is kan mens 'n plan maak (solank dit nie oorlog is nie; oorlog het lewensverlies tot gevolg, iets wat geen volk kan bekostig nie).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top