Oor Jaco se aksie en reaksie

  • 5

Jy's reg Jaco; aksies het die geneigdheid om reaksies uit te lok. Terwyl ek jou brief lees, berig die radio dat 'n 77-jarige boer in sy huis deur 4 mans doodgeskiet is, die vrou is in 'n kritieke toestand in die hospitaal. Dit is minder as week later wanneer berig was dat 'n 79-jarige boer en sy 76-jarige vrou deur mans op hulle plaas aangerand is.

Vandag is ook berig dat die afgelope week 6 renosters gestroop is en dat Petrus Steyn se naam na wie-weet-wat verander word. Ook het hulle 'n klankgreep van Malema se opvolger gespeel waar hy in duidelike terme mnr Van Tonder en mnr Van der Merwe (ek gee jou drie raaie wie dit is) openlik dreig.

Verder kan mens nie meer Afrikaans praat behalwe in omtrent net jou huis nie, en Afrikaans word al hoe swakker gepraat, selfs deur Afrikaanse radio-omroepers. Jy praat miskien met jou klante Afrikaans, siende dat hulle oor die algemeen Afrikaanssprekend is maar ek wed jou alle dokumentasie is in Engels.

Wat is die reaksie hierop? Wel, daar is mense wat kwaad word en hulle daarteen uitspreek maar die reaksie daarop weer is dat hulle 'nie met die tye saam beweeg nie'. Soos jy en jou vriende se reaksie byvoorbeeld, hierdie Afrikaners sou nou ander tot 'hulle denkwyse' wou oorhaal (kan mens weerstand teen vertrapping 'n 'denkwyse noem?) en word deur julle " ... uitgelag, uitgekoggel en grappies van gemaak. Hulle is heeltemal uit voeling met vandag se Afrikaner."

Daar is net een verklaring vir julle aanvaarding, eintlik verlustiging, in die vertrapping van julle eie mense: Julle dink nie, julle moet eenvoudig in een of ander trans, onder 'n soort van hipnose wees, totaal en al gezombifiseer.

Jan Rap

  • 5

Kommentaar

  • Tse! Tse!.  Om met fanatici te redekawel, is om perels voor syne te gooi.  Gaan maar jou treurige en ongelukkige trant voort ou maat.  Ek geniet en verlustig my Afrikanerskap terdee.

    Jaco Fourie

  • Jou reaksie, Jaco, is nie eers 'n eierdans nie want 'n eierdans verg 'n mate van vaardigheid.  Joune is 'n klap op die mat, 'n cop-out.  Jy moet jou egter nie daaroor kwel nie want wat kan jy nou eintlik sê daarop?  Niks, absoluut niks nie.

  • Ai ai ai, ek wonder wie die meeste onder mekaar kan stry en redekawel, die Jode of die Afrikaners?

  • Seker maar die Jode, Duitswester.  Hier wys Jaco mos nou vir jou ons stry nie:  Ek beskryf die status quo, hy snou.

  • Beste Duitswester

     

    Ons heer Jan baklei meer teenoor sy mede Afrikaners as wat hy werklik die ANC, Afrikaner vyand, aanspreek.  Vir die afgelope twee jaar wat ek op SeNet met hom te doen het, is sy entonige trant en gesanik dat die Afrikaners te slapgat is  of nou kwansuis zombies.  Die swartes en ANC se optredes teenoor Afrikaners dien as sy buskruit om teenoor mede Afrikaners af te vuur, eerder dat die ANC die teiken behoort te wees.

     

    Ek is nie bereid om met fanatici te redekwawel nie.  Lesers kan eerder hulle eie gevolgtrekkings maak teenoor wat ek te se het of wat die mannetjie te se het.   Ek dit geniet om met Kobus te redeneer, want hy het ten minste 'n opregte standpunt ingeneem, ten spyte daarvan dat ons twee hewig van mekaar verskil het.

     

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top