Oor honde, onderbroeke en boekrakke ... maar meestal boekrakke

  • 0

Die week in woorde

Ek het geweet dat ek hierdie week iets oor boekrakke wou skryf, maar die fyner besonderhede van daai plan het my gepla. Ek kon net nie my vinger daarop sit nie. Dit was asof ek presies geweet het wat ek wou sê en selfs hoe die sinne sou klink, maar daar was êrens fout. Ek het ure lank aan my potlood gekou en verskillende eerste sinne probeer skryf, maar nie een van hulle was die regte een nie. Ek het gegoogle, ’n paar artikels gelees, foto's gekyk en in die woordeboek rondgeblaai, maar die begin het my bly ontgaan. Tot laatmiddag toe dit my tref: ek kan nie oor boekrakke skryf nie, want wat ék wil sê, het Griet reeds in 1992 geskryf, in ’n sprokie.

In die hoofstuk getiteld "Domhans en die goue gans" in Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie raak Griet-van-die-titel dronk saam met haar goeie vriend Jans-wat-bietjie-soos-’n-boemelaar-lyk. Griet vertel vir Jans van haar swakte vir ’n boekrak: in plaas daarvan om te kyk of mans van honde hou (soos haar ma haar aanraai) of om die kleur en toestand van hulle onderbroeke na te gaan (soos haar suster voorskryf), kyk Griet na hul boekrakke. "En ek sien elke keer my gat."

Hierdie brokkie wysheid sou dalk by my een oor in en die ander uitgegaan het as ek nie op hoërskool hierdie einste passasie as gedramatiseerde prosa opgevoer het nie. Seën die Zoeloelandse Eisteddfod: lyk my as jy iets eers een maal uit die kop moes ken, steek dit vir ewig daar binne vas.

Nou moet ek bysê: net omdat ek bewus is van Griet se argument (vergeet van die boekrak en soek eerder spiere), beteken dit nie dat ek haar wysheid slaafs navolg nie. Om die waarheid te sê volg ek dit glad nie. Ek val nog steeds vir ’n boekrak, en wie kan my blameer? Griet eindig immers self aan die einde van die boek met ’n man wat Camus lees ...

My eie boklam se boekrak was beslis een van die eienskappe wat hom vir my onweerstaanbaar gemaak het. Teen die tyd dat ek agtergekom het hy het die meeste van die boeke daarop nog nie gelees nie, was dit reeds te laat. (Ten minste het ek toe reeds geweet sy onderbroeke is onberispelik, en nie rooi nie.) Hy is een van miljoene wêreldwyd wat ’n boekrak sien as objek wat die intellek van sy eienaar eggo. In ’n artikel oor Ikea se "Billy"-boekrak beskryf Siobhan Toman hierdie neiging:

It's hard to escape the theory that there is an exhibitionist side to our bookcase obsession - it's about showing off how much you have read, or plan to read, or pretend to have read. You are subtly suggesting that you are the sort of person who keeps Finnegans Wake handy, for example, just in case you ever fancy dipping in for a quick, albeit incomprehensible, catch-up.

Boekrak-ekshibisionisme is heeltemal vergeefbaar, omdat dit so ‘n algemene kwaal is. Tom Cox som dit uitstekend op in ’n artikel in The Guardian:

When I think of the way my bookshelves looked when I was 23, I realise they perhaps were no more about me than they were about a stranger I subconsciously imagined would one day visit my house. This stranger was an uncommon combination of extremely tasteful, hugely judgmental and ridiculously attractive.

Maar deesdae gaan dit selfs oor meer as net die boeke op die rak. Die voorkoms van die boekrak self is net so belangrik om aantreklike vreemdelinge (en miskien jouself?) te oortuig dat jy méér is as die Filistyn wat skelmpies The Hunger Games lees. Bogenoemde boklam se bedkassie/boekrak is ’n outydse houtleertjie en dit maak nie regtig saak watter boeke daarop gerangskik is nie, dit is beslis ’n merk van sy kreatiewe gees. Ek het die leertjie-idee skaamteloos by Boklam gesteel en verder daarop verbeter deur my boeke te colour-code. ’n Goeie vriendin se boekrak is ’n vintage houtbankie wat teen die muur gemonteer is, terwyl my kollegas onderskeidelik gesteelde melkkratte (ondernemend!) en ’n onberispelike donker imbuia-rak (ongetwyfeld tipe A) as boekrakke gebruik.

Tog is ons almal klein vissies in die boekrak-see. ’n Vinnige draai op Google is bewys dat ’n boekrak deesdae die "ultimate fashion statement" is. En daar is geen keer aan die lengtes, breedtes en kurwes van boekrak-kreatiwiteit nie.

 

Die laaste vraag is dit: As jy nou reeds jou belaglik-aantreklik en uiters judgemental medeboekliefhebber ontmoet het en hom of haar oortuig het van jou goeie smaak en liefde vir honde, waarom steeds moeite doen met die boekrak? Die antwoord vind ek weer by Tom Cox:

From 1999-2001, while living in London, I would go on epic, overambitious book-buying sprees, telling myself I was heading into town to "write in a café" only to return with bags laden with books from the hipper end of the US literary canon, perhaps hoping that the sheer fact that I owned them would turn me into the writer I wanted to be.

Daar is dalk ander maniere om die skrywer te word wat jy graag wil wees, maar jou boekrak bly die een wat jou waarskynlik die grootste en mees langdurige plesier gaan verskaf.

Voorgeskrewe leesstof

Kop op ’n boekrakblog. Hier is ’n blog wat toegewy is aan net een tema: die nederige boekrak.

Laat dit hyg. Dit kan nie beter raak as boekrak-pornografie nie. Laat die nimlike Anthony, die man agter Bookshelf Porn, jou verlei met sy sappige foto's van aanloklike ... boekrakke.

Goed. Beter. Billy. ’n Interessante artikel oor ’n ikoniese boekrak: Ikea se "Billy". Meer as 41 miljoen van hierdie makkers het al sedert 1979 huis gekry.

Kom ons wees eerlik. Hier is Tom Cox se artikel oor sy poging om sy boekrak volgens "The honesty system" te organiseer.

Op my bedkassie boekrak

Ek het toe verlede week die Hunger Games-boeke klaar gelees. En om my naam in ere te herstel, darem ook ’n paar meer respektabele tome: Dave Eggers se versameling kortverhale How we were hungry (my gunsteling was een oor ’n groep honde wat in die nag in ’n oop veld hardloop), John Berger se Photocopies (absoluut uitstekend), en nog ’n paar essays in Jonathan Franzen se versameling How to be alone (wat my baie jaloers maak).    
 

Met ander (se) woorde

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top