Oor God, verbeelding en emosies – vir die agnostikus

  • 0

Deur die menslike persepsie van die Godheid te wil toeskryf aan en afmaak met “verbeelding”, kom die agnostici juis véél nader aan spiritualiteit as waarmee hulle gemaklik is. Hoe kan hulle, na alles, die bestaan van die menslike verbeelding in twyfel trek?

Verbeelding, of “imagination”, is juis ’n báie spirituele ervaring. Selfs sekulêre Kenners beskrywe verbeelding juis as “the ability of forming mental images, sensations and concepts, in a moment when they are not perceived through sight, hearing or other senses. Imagination helps provide meaning to experience and understanding to knowledge”. Dit is dus ’n eg menslike ervaring (daar word gepraat van “innate ability” – natuurlik/ingebore vernuf). Kunstenaars steun sterk daarop – daarom kán verbeelding nie in die brein geskep word nie – die brein werk slegs met bekendes en verwerk dit in bruikbare formaat vir die mens, baie soos die hardeskyf wat onverwerkte data ontvang en die prosesseerder wat dit via die programmeringstaal wiskundig in bekende formaat herlei.

Dit is só eenvoudig. Sommige energieke verbindings is sintuiglik vir die mens waarneembaar en ander weer nié sintuiglik waarneembaar nie, behalwe net deur die unieke menslike vermoë om die nie-sintuiglike te assimileer – spiritualiteit. Verbeeldingsmateriaal is maar net één verskynsel daarvan.

Die mens is in staat om sinvol te verbeeld wat hy nie met die bekende sinlike sintuie waarneem nie. Wat die agnostikus nie wíl erken nie, is dat die brein gewoon maar ’n reseptor en verwerking sentrum is van allerlei impulse wat die mens van buite ervaar. Die verbeelding is dus die vermoë om ook die onsintuiglike te verstaan.

Die Godheid het die mens só geskape. Die agnostici kan met hulle spesifieke evolusieteorie wat deur hulle aangehang word, glad nie verklaar waar en hoe die unieke menslike vermoë, verbeeldingskrag, tot stand gekom het nie …

Pro dink kom nader aan die waarheid as hy sê dat mense oorvereenvoudig deur te sê God bestaan nie. God bestaan inderdaad en gebruik die spirituele vermoë van die mens, om tot die mens tot kom, dieselfde vermoë wat die mens in staat stel om te skep deur aanwending van sy Godgegewe vermoë tot verbeelding van die nie-sinlike impulse van buite die mens deur daardie eksterne, nie-sinlike energieke impulse te assimileer en in die brein te verwerk, tot iets sinvol vir die sintuiglike.

Deur dus te sê dat God as ’n skepping van die brein bestaan en daar bestaan as ’n kragtige emosie, is om op uiters lasterlike wyse die Goddelike werklikheid te wil verdring – pure wensdenkery. Die “emosie” waarvan gepraat word, is juis ook só ’n spirituele impuls wat in ’n besondere onderskeibare emosie in die brein verwerk word. God is nie ’n lasterlike “skepping van die brein” nie, maar God in die brein is inderdaad deur die Spirituele werking, die onafhanklike Spirituele realiteit van die Godheid wat in die brein geëien word. Agnostici moet nog leer dat eksterne energie impulse van buite die mens en sy brein, wél deur die brein geaksepteer en verwerk word.

Laastens sinspeel Pro-dink daarop dat hy ook op n tyd ’n “gelowige” was en dan die pad via vertwyfeling na ateïsme gekom het. Dit is selfbedrog. Eerstens kan vertwyfeling nié die ware geloof vernietig nie, maar versterk dit eerder, omdat die oorsaak van die vertwyfeling telkens uit die weg geruim word. Vertwyfeling, oftewel beproewing, is juis een van die sterkste geloofsbouers! Elke ware gelowige weet dit. Pro-dink was dus nog nooit ’n gelowige nie, gesien sy selfingenome ateïs-status, maar ’n persoon wat dinge nie verstaan nie, en al die antwoorde juis in sy eie ontoereikende brein probeer vind, waar dit in die eerste plek, nié verstaan kon word nie – hoe ironies paradoksaal.

Groete,

Kobus de Klerk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top