LitNet-repliek
Nini Bennett se feministiese lesing van Franci Phillips se roman Net ’n lewe verwys na “die feminisme”. Ons praat deesdae eerder van feminismes, júis omdat daar verskillende denkrigtings binne hierdie reaksie op die patriargie in al sy vorme is. Camille Paglia sou byvoorbeeld in opstand kom indien ’n mens haar ’n feminis sou noem, omdat sy onder andere in Vamps & Tramps (1994) kritiek uitspreek teen ’n sekere soort feminisme. Dieselfde geld Hélène Cixous wat in White Ink (2008) intellektuele posisies teen die patriargie inneem of Luce Iragaray wat teen Lacan standpunt ingeneem het.
Daar is iets soos die feminisme nie; daar is verskillende vorme van feminismes wat selfs anti-intellektueel of opstandig is; of selfs dan binne die manlike orde werk en dit dekonstrueer soos Jane Gallop in haar briljante The Daughter’s Seduction (1982). ’n Burgeroorlog sou nou uitbreek by ’n kongres waarin hierdie geykte soort feministiese lesing aangebied word.
Binne die “Afrikaanse feministiese diskoers”, soos Bennett skryf, is daar ook verskillende diskoerse: van bloemlesers soos Corlia Fourie tot Annemarié van Niekerk; van ’n skrywer soos Jeanne Goosen tot ’n teoretikus soos Marianne de Jong.
“Dit is verfrissend dat die skril ondertone wat dikwels in feministiese teorie en kritiek teenwoordig is, afwesig is by Phillips,” skryf Bennett. Dan weet ’n mens sy ken nie werklik die volle prentjie nie.
Julia Kristeva se studies is hier dalk ’n verlossing uit die binariteite wat hierdie lesing aanbied, net soos wat vele gender-teoretici eweneens wys op die problematisering van man versus vrou wat nie meer dui op die superieure posisie van mans nie. Gaan lees maar net Bad Sex van Leon de Kock wat hierdie jaar verskyn het, om hiervan kennis te neem of homoseksuele literatuur.
Mans wat binne en buite die patriargie staan, ervaar eweneens ’n gevoel van vervreemding en gender-teoretici kyk deesdae méér geskakeerd na mag. Juis hierom.
En boonop het ons ’n roman geskryf deur ’n vrou met agentskap wat beslis nie ’n slagoffer is nie.
Joan Hambidge
Oktober 2011

