Oor Dirk Rigter se kommentaar van 6 deser

  • 6

Dirk baseer sy betoog op ’n klomp verkeerde of halfwaar-aannames:

Hy sê ek beweer Afrikaans is so te sê in sy maai (hoekom sê hy ‘sy/haar’?) as gevolg van ons slapgathouding en RSG en KykNET se ondermynende aksies.  Dis nie waar nie.  Ek sê Afrikaans gaan agteruit weens die feit dat Engels, nou die amptelike taal, heeldag en aldag oral gepraat moet word en Afrikaans gevolglik sy hoër funksies verloor het. Bring daarby nog die regering se blatante vyandigheid teenoor Afrikaans, die ondermyning deur RSG en KykNET EN ons slapgatgeit en die dood van Afrikaans is ’n voldonge feit.

Hy sê Angus kyk histories en linguisties na die ontwikkeling van Afrikaans terwyl ek uit ’n streng ideologiese en emosionele hoek daarna kyk.  Dis nie heeltemal korrek nie want Angus haal die geskiedenis aan om sy stelling dat Standaardafrikaans uit ’n soort Engfrikaans ontwikkel het te staaf.  Ek sê die teenswoordige verdringing van Afrikaans deur Engels het niks met die taalkundige ontwikkeling van Afrikaans te doen nie.  Ek geniet Angus se geskiedenis wat hy telkens aanhaal, maar die ouens wat Afrikaans teiken voel vere vir Afrikaanse taalgeskiedenis, vir hulle is dit net #AfrikaansMustFall.

Ek kyk ook nie uit ’n ideologiese hoek na Afrikaans nie – ek sien die ooglopende agteruitgang en spreek my daarteenoor uit.  Ek is net so teen die tonne hout wat uit Mosambiek China toe verskeep word en die leeus, donkies en renosters wat so ge-oes word en dit het niks met ’n ‘ideologiese hoek’ te doen nie.  Dit lyk my dit is polities nie-korrek om bekommerd te wees oor Afrikaans; dit gee sekere mense aanstoot en SJW’s en polities-korrekte mense soos Dirk is in erge verleentheid as sekere mense aanstoot gegee word.

Dirk reken ek ly aan erge simptome van magsverlies want in die 60’s tot 80’s sou Afrikaans as taal domineer wat nie meer die geval is nie.  Dit is nie so nie; daar’s nie sprake van magsverlies nie.  As iemand jou kar kaap is jy die moer in oor jou kar weg is en nie oor jy nou aan magsverlies ly nie.  Dit is ook snert dat Afrikaans gedurende daardie periode as taal domineer het soos Dirk beweer; Afrikaans het selfs gedurende daardie tyd aan die agtertiet gesuig.

Wat die brosjures betref is Dirk reg; ek wil graag sien dat als in Afrikaans is met Duits, Engels en Frans onderaan.  Dit is per slot van rekening Suid-Afrika en ’n toeris wil weet hy’s in SA, nie Australië of Nieu-Seeland of Kanada nie. Ek sal byvoorbeeld erg aanstoot neem as ek in China of Duitsland ’n soewenier koop en daar’s Engels op; dis mos kunsmatig (terloops, in Duitsland sukkel jy om nie ’n Engelse soewenier te koop nie), hulle lyk my is deesdae net so anglofilies soos die Hollanders, RSG en KykNET.

Dirk is onthuts oor ek sê daar’s nie meer Afrikaanse universiteite nie.  Hy skiet homself in die voet deur te sê studente wat op Tukkies, Maties en Potch wil gradueer kan dit GEDEELTELIK, (SOMS HOOFSAAKLIK) in Afrikaans doen (sy woorde, my hoofletters).  Nou toe nou.  Dis juis wat ek sê, daar was ’n tyd toe daardie studente gedeeltelik dit in Engels kon doen (selfs hoofsaaklik) weens die toegeeflikheid van die Afrikaanse universiteite daardie jare (so iets was egter nie moontlik op Engelse universiteite tov Afrikaans nie) maar die universiteit was Afrikaans en studente was vry om hulle dinge in Afrikaans te bedryf.

Dirk sê by sy plaaslike owerhede word hy in Afrikaans bedien maar skiet homself weer in die voet deur te sê die papierwerk was in Engels.  Nog ’n nou toe nou.  Hoekom was die papierwerk in Engels? Daar was ’n tyd wat die papierwerk in Afrikaans was vir die Afrikaanssprekendes maar nie meer nie.  Dis mos agteruitgang wat Afrikaans betref en dit is waaroor my en Angus se gesprek gaan.  By my plaaslike owerheid is alles Engels, by Dirk-hulle is hulle ’n bietjie agter maar dit kom; die papierwerk is darem al Engels.

Dirk wonder hoe ek kan sê RSG en KykNET ondermyn Afrikaans.  Maklik, Afrikaans speel tweede viool op daardie twee stasies.  Hulle kry Engelssprekende gaste op besprekingsprogramme (en nie dan en wan soos Dirk beweer nie maar gereeld) en hulle laat inbellers toe om Engels te praat en gaan selfs so ver as om Engels terug te praat met die inbeller.  Nog is dit het einde niet; hulle NOOI mense om Engels te praat as dit vir die omroeper of -ster klink of die persoon sukkel met Afrikaans (laat staan nog die feit dat dit ’n klap in die gesig is van die ou wat probeer Afrikaans praat). Hierdie goed gebeur nie op Engelse stasies nie.

Dit is mos nou heeltemal onregverdig teenoor luisteraars wat nie Engels verstaan nie.  Dit is duidelik dat RSG in opdrag staan om Engels te stoot; ek laat my nie vertel dat die grootkoppe by RSG rêrig onder die indruk verkeer dat ALLE Afrikaanssprekendes Engels kan praat nie.  Dit laat ook Afrikaans tweederangs lyk; RSG maak Engels die verstektaal en skep gevolglik die indruk dat Afrikaans onbelangrik is.   

Die hele ingesteldheid by RSG en KykNET is om Engels as belangrik, as die verstektaal, uit te beeld.  Advertensies is Engels en die enkeles wat Afrikaans is, is swak (direkte) vertalings wat Afrikaans lomp en ontoereikend laat vertoon.  Die meeste Afrikaanse advertensies eindig gewoonlik in ’n Engelse slagspreuk.  Die nuwe ekstra Afrikaanse TV-stasies waaroor Dirk so in beswyming is beteken niks vir Afrikaans nie inteendeel, dis nog ’n paar instrumente waarmee Afrikaans ondermyn word.

Dirk reken die “dan en wan se Engelse gas . . .  verbreed tog elke Afrikaanssprekende kyker se horison.”  Watter onsin; in die eerste plek is dit nie dan en wan nie maar gereeld en in die tweede plek, hoe op aarde moet dit ’n Afrikaanssprekende wat nie Engels verstaan nie, se kennis verbreed?  Dirk is gaande oor die kykie in Madonsela se lewe wat hy op KykNET gesien het.  Ek reken ek sou dit ook interessant gevind het maar hoekom moes dit in Engels wees?  Dirk sal natuurlik sê dit is omdat Madonsela nie Afrikaans kan praat nie maar tegelykertyd verwag hy elke Afrikaanssprekende in die land Engels moet kan praat.  Nou hoe nou, dis mos nou dubbele standaarde of hoe?

‘n Ou geykte argument, eintlik ‘n strooihalm, van die hoofstroom tropdiere is hierdie idee dat tydsverloop aan die een kant, en geluksaligheid en lewensgehalte aan die ander kant, altyd ’n positiewe korrelasie het.  Dis hulle troefkaart: “ons leef in 2017”. Ek wonder of “ons leef in 2017, nie 1970 nie” die burgers van Iran sal troos.   

Nog ’n manifestasie van RSG en KykNET se gedienstigheid jeens Engels is dat hulle Engelse en alle vreemde woorde op die Engelse manier uitspreek (met die sagte ‘r’).  Woorde en name soos Christina Aguilera, Renault Sandero, Mercedes, Toyota, Chobe, Nissan, Roland, Allanridge ens word op die Engelse manier uitgespreek terwyl die Afrikaanse uitspraak baie nader aan die oorspronklike sou wees. 

Die Engelse omroepers (en gewone Engelssprekendes) doen dit nie, hulle verengels die uitspraak van vreemde woorde en dis reg so, dit pas by die ‘sleutel’ van Engels en klink nie of hulle iemand se agterent lek nie.  Engelse stasies laat ook nie inbellers toe wat Afrikaans praat nie en ek vermoed een van die hoofredes is omdat daar Engelssprekende luisteraars is wat nie Afrikaans verstaan nie.

So, ja; Engels word in ons kele afgedruk deur RSG en KykNET.  Dirk se bewering dat ek hierdie mening toegedaan is “ . . . getuig van een of ander wrewel wat waarskynlik niks met Afrikaans te doen het nie” is nou sommer pleinweg geniepsigheid.  Ek het niks teen Engels nie; die vriend waarmee die meeste oor en weer gekuier word is Engels, die meeste van my boeke is Engels, die meeste van my rolbalvriende is Engels en my ma is ’n direkte afstammeling van die 1820-setlaars.  Ek het dit teen die verdringing van Afrikaans deur Engels, dis hoofsaaklik waaroor ek en Angus se briefwisseling gaan.  Ek sou net so teen die verdringing van Engels deur Afrikaans gevoel het maar die Engelssprekendes sal nooit so iets laat gebeur nie; te veel taaltrots.

Die omroeper wat onkundig is oor “harmansdrup in die winter” is onkundig nie omdat harmansdrup uit die ou tyd is soos Dirk beweer nie.  Hy ken die uitdrukking nie omdat sy Afrikaans gebrekkig is.  Baie idiome kom nog uit die seilskeepsvaart- en ossewadae.  Alhoewel seilskepe en ossewaens vir alle praktiese doeleindes nie meer bestaan nie, is die idiome nog steeds geldig (en dit geld vir alle tale).  As Dirk reg is dat een uit ‘n honderd Afrikaanssprekendes nie daardie uitdrukking sal ken nie getuig dit weer eens van hoe Afrikaans agteruitgaan.  So, ek sê weer, ‘n groot gros omroepers en omroepsters se Afrikaans laat veel te wense oor.

Dirk wonder wat my idee van Standaardafrikaans is.  Baie eienaardig, moet dit dieselfde as syne wees want Standaardafrikaans is Standaardafrikaans.  Dit is die Afrikaans van sakebriewe, kennisgewings, tydskrifverhale en essays en rubrieke op LitNet (vgl Bettina Wyngaard). Ek is seker Duits, Pools, Engels ens het ook so ’n standaard.  As jy gaan Engels leer vra hulle jou nie of jy dit met, sê die Cockney-aksent, wil leer nie; jy leer die Standaardengels. 

Dirk, soos Angus lyk dit my, kan nie tussen mengeltaal en taalvariant onderskei nie. Hy wonder hoekom is “baing kirislam by die hys se kant” vir my mooi maar “jy’t gemention dat ons nie 'n future saam het nie” vir my lelik.  Wel, die eerste sin is Afrikaans, 'n tipies Kaapse variant waar die tweede sin mengeltaal is, kensketsend van sterwende Afrikaans.  Vra bietjie vir Engelssprekendes hoe sal hulle van die volgende Engels hou: “You noemed that we don’t have a toekoms together.”

Dirk beveel aan dat Afrikaanssprekendes elke weergawe van die taal omarm.  Goeie aanbeveling; hy moet net besef mengeltaal is nie ’n weergawe van die taal nie, net so min as wat 1+1=3 ’n ander weergawe van die wiskunde is.

 

  • 6

Kommentaar

  • Beste Jan
    Ek stem saam met jou. Engels is besig om Afrikaans op alle vlakke te verdring. Dit is so erg dat, toe ek onlangs 'n weduwee van 'n vriend na die plaaslike munisipale kantoor moes neem ivm die sluiting van 'n munisipale rekening, wat in haar man se naam was, daar nie een was wat haar prokureur se brief in Afrikaans kon lees nie.
    Toe ek die brief sommer uit die vuis vertaal, verstaan hul nog minder en gaan soek toe 'n Afrikaanssprekende persoon in die departement om hul te help. Die probleem word nog verder vererger deur die duisende immigrante uit Afrika wat Engels as voertaal gebruik. Dit plaas nog verdere druk op staatsorganisasies om slegs Engels as voertaal te gebruik.
    As minderheidsgroepe persentasiegewys so klein teen die oorwegende swart bevolking gaan word en hul Engels al meer as voertaal begin gebruik, is die kanse mi maar skraal dat Afrikaans as taal behoue sal bly.
    Hier is 'n skakel oor wat in Amerika gebeur: http://homepage.ntu.edu.tw/~bcla/e_book/67/6709.pdf
    Lekker dag

  • Jan en FC,
    Julle beide het ongelukkig 'n hunkering terug na die verre verlede toe die Nasionale Party die septer in Suid-Afrika geswaai het met 'n meerderwaardigheid teenoor alles en almal wat nié wit en Afrikaans was nie. Daai dae is verby, dit gaan nie weer terugkeer nie.
    Kyk rondom julle. Op grond waarvan verwag julle voorkeurbehandeling in Afrikaans in hierdie land as 7 miljoen mense Afrikaans praat en 48 miljoen anderstalig is?
    Terloops FC, kan jou weduwee-vriendin se prokureur nie 'n Engelse brief skryf nie? Verwag jy wragtig van staatsdiensorganisasies om gelyke behandeling aan al die amptelike tale te gee? Dis of dit, of slegs Engels in die staatsdiens. Op grond waarvan moet Afrikaans naas Engels voorkeur kry bo al die ander tale? Afrikaner supremacy het gesneuwel in '94. Maak vrede daarmee. Soos Jan tereg hierbo sê, "... daar was 'n tyd toe die papierwerk in Afrikaans was ..."
    Nog iets: Jan, elke enkele Afrikaanssprekende tv kyker/radioluisteraar in die land verstaan Engels. Moenie nonsens praat om my argument hieroor af te skiet nie. Jou bewering dat RSG en KykNET Afrikaans "aktief ondermyn" is so belaglik dat dit eintlik nie kommentaar verdien nie.
    Laastens, Jan wat betref jou stelling oor wildtuinbrosjures met Afrikaans bo-aan en Engels Duits en Frans daaronder sodat die oorsese toeris kan weet dat "... hy/sy in SA is ...": Jou onderrok hang uit Jan. Glo jy waaragtig nog in 2017 dat Afrikaans gelyk is aan Suid-Afrika? Jy kan nie ernstig wees nie. Hoe sê jy hierbo? Die seilskip- en ossewadae ...

  • Jan en FC Boot het my nou oortuig. Afrikaans gaan verdring word en uiteindelik verdwyn. Watter taal die miljoene Afrikaanssprekendes gaan praat, weet ek nie. Hulle gaan seker maar met gesnoerde monde moet terugval op gebaretaal. Miskien kom Engels tot hulle reddding, want wie verstaan dan nie Engels nie? En almal kan dit praat, al is dit ook hoe krom en skeef, dit maak nie saak nie.
    Koebaai Afrikaans

  • Beste Dirk en Angus

    Julle kommentaar maak nie sin nie.Dirk, waarom sou 'n Prokereur aan 'n kliënt wat Afrikaanssprekend is 'n brief in Engels stuur?Dit is ook baie duidelik dat nie julle nie bewus is van: REPUBLIC OF SOUTH AFRICA SOUTH AFRICAN
    LANGUAGES BILL

    Objects of Act
    2.
    The objects of this Act are —
    (a)
    to regulate and monitor the use of official languages by the national
    government for government purposes;
    (b)
    to promote parity of esteem and equitable treatment of the official languages
    of the Republic;
    (c)
    to facilitate equitable access to the services and information of the national
    government; and
    (d)
    to promote good language management by the national government for
    efficient public service administration and to meet the needs of the public."

    Natuurlik is dit die amptenare, ongeag in watter openbare regeringsinstansie, se plig om die doelwitte te verwesentlik. Dit het mos niks met taalmeerderwaardigheid te doen nie
    Maar as ons as landsburgers dan nie daarop aandring om in die taal van ons keuse bedien te word nie, gaan geen amptenaar dit vir jou doen nie, soos duidelik uit die totale verengelsing.

  • Beste Jan Rap,
    Ek weet nie van Dirk nie, maar jy het reg; ek weet nie wat die verskil is tussen ʼn mengeltaal en ʼn variant nie. Jy sal asseblief moet verduidelik. Ek sal graag wil weet waarvoor elkeen gebruik word, en hoe hulle sintakties, fonologies en semanties van mekaar verskil. Ek het altyd gedink alle tale is maar mengeltale en alle tale is maar taalvariante. Jou goed nagevorste kennis sal hoogs waardeer word.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Ek is nou seker: jy verdraai nie moedswilliglik wat ek vir jou skryf nie. Jy verstaan net nie so mooi nie. Jy beweer: "Dis nie heeltemal korrek nie want Angus haal die geskiedenis aan om sy stelling dat Standaardafrikaans uit ’n soort Engfrikaans ontwikkel het te staaf."
    Nêrens het ek ooit so iets gesê nie. Wat ek wel tot vervelens toe al aan jou verduidelik het, is dat Kaaps/Kaaps-Hollands uit die 17de eeuse Nederlands ontstaan het. Toe dit in 1875 Afrikaans genoem is, het dit al heelwat Engelse woorde, verafrikaanste woorde, en idiome bevat. Weens die haat teenoor alles wat Engels is, het taalpatriote begin met 'n suiweringsproses. Almal wat Afrikaans op skool geneem het, sal jou hiervan kan vertel. Die sogenaamde hedendaagse Kaaps sal jou so 'n vae idee gee hoe Kaaps/Kaaps -Hollands geklink het, want sedert 1875 het dit ook maar bly voortbestaan en ongesuiwerd veranderinge ondergaan.
    Standaardafrikaans beteken dat dit gestandaardiseer is, maw dit is doelbewus deur gebruikers/taalkundiges op standaard gebring hoofsaaklik vir sakebriewe, kennisgewings, ens. Standaardafrikaans is 'n variant van Afrikaans, net soos al die variante van Afrikaans variante van Afrikaans is.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top