Oor die maagdelike geboorte

  • 24

Daar is heelwat bespiegeling oor die maagdelike geboorte van die HERE Jesus Christus. Sommige  - deur die bank ongelowiges – verwys na ander religieë se mitologie waar hulle sommer die mitologie gelykstel aan die maagdelike geboorte van die HERE Jesus Christus, maar hulle is nie in staat om aan te toon presies wanneer sulke mitologie geskrywe is en of dit nie na aanleiding van die bewuswording van die HERE Jesus se eie geboorte is, dat kompeterende religieë van die tyd bloot net aangepas is om in lyn te kom met die ware Evangelie nie.

Dit lyk of hierdie mitologieë aangevul is om ooreen te stem. In die geval van die ou religieë, byvoorbeeld, is daar fabelagtige en mitiese ikone soos isis, maar was daar nooit voorgegee dat sy 'n maagd was nie. Trouens, op daardie stadium, volgens die mite, was sy die mitiese osiris se vrou. Kyk na die onrealistiese fabelagtige beskrywing van die 'konsepsie' van isis na osiris se 'afsterwe' – die kunsmatige fallus wat sy gebruik het om haarself mee te penetreer en kwansuis met die mitiese horus swanger te raak – en dié horus is 'n halfmens halfvalk-gedrog wat nog nooit aan enige lewende mens verskyn het nie want daar bestaan eenvoudig nie so 'n ding nie. Al hierdie mitiese figure, nes in die geval van die Suid-Amerikaanse mitologie en die Griekse en Romeinse mitologie is so onrealisties, so verwyderd van die werklikheid, so absoluut onnatuurlik, juis omdat die verkondigers en skeppers van die mites gehoor het dat dit (inkarnasie van God – na alles, die Godsdiens in God is die oudste van alles sedert Noag en sy seuns) sou gebeur, maar nie geweet het hoe dit werklik sou plaasvind en wat presies die doel daarvan sou wees nie en hulle dus die ding só versin en vermenslik het omdat dit al was in hulle verwysingsraamwerk. Dit is hoe die fabel, die mite kontrasteer en maklik uitgeken kan word teenoor die werklike gebeurtenis, synde die maagdelike geboorte van die Seun van die Mens, die HERE Jesus Christus. Hulle het die Heilige Gees nog nie geken nie ... Só word daar ook maar deur diegene wat dit beweer, aannames gemaak.

Die mees ooglopende onderskeid tussen die ware gebeure van die maagdelike geboorte van die HERE Jesus is natuurlik die feit dat niemand ooit daardie wesens in lewende lywe gesien het nie – hulle was almal 'gode' waarvan die mitologie aan die volkere wat dit aanhang, verkondig is, beginnende in Egipte en daarna aangeneem in Rome en in Griekeland. Só wat osiris, byvoorbeeld, beskrywe as 'n god met 'n groen vel maar met menslike voorkoms. Maar in teenstelling is die uitsonderlike en unieke geval van die HERE Jesus, egter, is HY werklikheid en is SY teenwoordigheid en SY geboorte as Mens histories opgeteken en het HY tussen mense gewoon en gewerk en was SY moeder, Maria, welbekend.

Die rede vir hierdie verskille hieromtrent tussen die mitologie en die werklikheid (die geboorte van die HERE Jesus uit die maagd Maria) is ooglopend. Die pagaan-volkere wat die valse religieë aangehang en verkondig het, het eenvoudig nie geweet hoe dit werklik werk nie en daarom dus hulle fabelagtige beskrywings en voorkoms van daardie sogenaamde 'gode' wat nie werklik bestaan het nie. Hulle religieë is algar die korrupte weergawes van die eens ware Godsdiens wat deur Noag en sy seuns aangehang en verkondig is, maar mettertyd deur allerlei invloede korrup geraak het.

Eers toe dit werklik gebeur, met die HERE Jesus Wie uit die maagd Maria gebore is, het mense gesien en besef hoe God te werk gaan om te inkarneer as Mens en hoe HY dus uit 'n rein, smettelose vrou (vandaar die rede waarom sy maagdelik is) ontvang en gebore is. Dit is welbekend want dit is geskiedenis, nie mitologie nie, en is as sulks opgeteken en bevestig.

Die bevestiging van die maagdelikheid en reinheid (die Griekse woord 'parthenos' word gebruik) van die geboorte blyk juis uit Lukas 1:27; 34-35; Mattheus 1:18-25 (Josef se reaksie toe hy agterkom Maria is swanger – wat beteken dat hy ook nog nie met haar  omgang had nie want hulle was nog nie getroud nie en gemeen het sy het met iemand anders omgang gehad en haar daaroor wou los totdat die engel hom omtrent die feite ingelig het – sien weer Mattheus 1:18).

Nou vra die ongelowiges, hoe het die ander religieë dan vroeër geweet hiervan om dit te kon verkondig voor dit werklik gebeur het? Die antwoord is voor die hand liggend. Nou weet ons ook dat die advent van die koms van 'n maagdelik-gebore Godheid as mens geïnkarneer, geprofeteer is (Jesaja 7:14) baie eeue voor die plaasvind daarvan by die geboorte van die HERE Jesus uit die maagd Maria en selfs voor dit die eerste maal deur die profete opgeteken is. Derhalwe is dit logies dat die voorspelling daarvan reeds baie lank voor die werklike plaasvind daarvan as gerug versprei het deur al die nasies en die religieë van hulle dienooreenkomstig aangepas is en die ware gebeurtenis as 't ware 'voorgespring' het in hul eiesoortige weergawes daarvan, gevul met fabels en mites. Hulle het nie werklik geweet het hoe dit werk nie. Die werklikheid daarvan het eers bekend geword by die plaasvind van die enigste ware advent daarvan, naamlik toe die HERE Jesus uit Maria, wie duidelik 'n maagd was, gebore is.

Daar is natuurlik sommige – uiteraard almal ongelowiges – wat die duidelike beskrywing in die evangelie van Lukas in twyfel wil trek. Maar ons moet onthou dat Lukas 'n geleerde man was wat baie noukeurig te werk gegaan het en selfs persoonlike toegang tot Maria self had om te bevestig wat hy opgeteken het in die Evangelie. Dan was daar natuurlik ook die Joodse gebruike van die tyd. Maagdelikheid van 'n jonkvrou was van kardinale belang en was vooropgestel ten einde haar kuisheid te bevestig en daar was effektiewe metodes om die maagdelikheid vas te stel, soos al reeds beskrywe is in Deuteronomium 22:13-19, byvoorbeeld. Dus kon – en was – Maria se maagdelikheid vinnig en gou bevestig en daarom was dit nooit betwyfel of bestry nie.

Dan is daar natuurlik die toets van die werklikheid. Hierdie mitologieë het gekom en gegaan en het geen blywende invloed gehad nie want dit was alles deel van versinsels en paganisme. Maar die advent en werklikheid van die HERE Jesus Christus het gebeur en die wêreld verander, selfs vandag nog. In stede van om te taan, soos die fabels en mitologieë wat Hom probeer voorafgaan het, het die werklikheid van die HERE Jesus en SY Goddelikheid van krag tot krag deur die eeue heen gevorder en die ganse mensdom beïnvloed. Na Hom was die wêreld nooit ooit weer dieselfde nie. Dit is nog 'n maklike manier of die kaf – die versinsels en mitologieë, van die korrels – die Waarheid omtrent die HERE Jesus, te onderskei.

Die Waarheid van die HERE Jesus Christus het gekom om te bly en hóé die paar ongelowiges ook al vir eeue aaneen probeer om dit af te breek, groei dit van sterkte na sterkte want dit is die énigste  Werklikheid, die énigste Waarheid.

Kobus de Klerk

  • 24

Kommentaar

  • Chris Dippenaar het nou mos vir ons die probleem opgelos. Daar was nie 'n maagdelike geboorte nie; God is die knapie se pappa. Soos ander gode tevore, het hy ook maar jong vleisies hier op aarde kom soek.

    • Kobus de Klerk

      Kyk nou net so, Angus! Jy beweer jy is 'n ateïs, maar jy verleen hierbo uit en uit saam met Chris, wat ook beweer hy is 'n ateïs, erkenning aan die bestaan van God - al is dit nou op jul insiglose en korrupte manier. Wat julle sê, bedoel julle mos want dit is wat julle glo.

      Ai, die deurmekaar wêreld van die tipiese ateïs, darem. In een asem ontken hy kamstig die bestaan van God maar net met die volgende kom hy uit met wat hy werklik glo - in God, maar op korrupte manier wat pas by sy leefstyl van ontkenning van werklikhede.

      Kobus de Klerk

  • Kobus, jy kwoteer Deuteronomium 22: 13-19 as bewys dat Maria 'n maagd was. Die gekwoteerde stuk sê dat as 'n man sy nuwe vrou beskuldig dat sy nie 'n maagd is nie, wys haar ouers die bloed op die kleed as bewys dat sy 'n maagd was.
    Die metode werk as die vrou 'n maagd was en seks gehad het wat die bloeding veroorsaak. Nou die Bybel sê dat Josef nie met Maria seks gehad het tot na die geboorte van Jesus nie, so ek wonder hoe is haar maagdheid volgens hierdie metode wat jy kwoteer het bewys ? Ek hoor graag.
    Jesajah 7 :14. Hierdie een word gedurig gebruik deur die Christene om ieder en elk, ook hulself te oortuig dat daar wel 'n maagdelike geboorte was. In my Bybel lees die vers "Assuredly, my Lord will give you a sign of His own accord! Look, the young woman is with child and about to give birth to a son ... Hierdie is deur die profeet gesê, die vrou was sy eie vrou. Sy was reeds toe al swanger, eeue voor die geboorte van Jesus. Kyk verder, vers 16 sê "For before the lad knows to reject the bad and choose the good, the ground whose two kings you dread shall be abandoned.
    Die Hebreeuse woord wat gebruik is, is "almah" wat eenvoudig beteken 'n jong vrou van huwelik ouderdom, hetsy getroud of nie, hetsy 'n maagd of nie. Die vertalers na Grieks en Latyns het die word maagd ingebring om hul teorie van 'n maagdelike geboorte te probeer ondersteun. Lees vanaf vers 1 tot 16 en besef dat hierdie oor twee vyande van Jerusalem gaan en niks met 'n Jesus te doen het nie. Hierdie seun is eeue voor Jesus gebore en pas beslis nie die Nuwe Testament se sketse nie.
    Die woord betulah is die enigste woord in Bybelse en modern Hebreeus wat uitsluitlik maagd beteken.
    Daar is ook nêrens in die Hebreeuse geloof en geskrifte enige verwagting of profesie dat die Messias van 'n maagd gebore moet/sal word nie. Dit is uit en uit 'n Nuwe Testament idee wat verseker dat Jesus aan die kriteria van die heidense messiasse voldoen sodat die Romeinse ryk se hordes pagane die nuwe geloof sal aanvaar.
    Sonder benadeling van regte.
    Duitswester.

    • Kobus de Klerk

      Duitswester,
      Ek het na Deuteronomium 22:13-19 verwys nie soseer oor die metode wat gevolg is nie, maar om aan te dui hoe 'n belangrike aspek die maagdelike status in die Hebreeuse kultuur oor al die eeue heen was en steeds was ten tye van Maria se konsepsie van die HERE Jesus as maagd. Daar was sekerlik ook ander metodes, soos visuele inspeksie van die maagdevlies, ens. Dan is daar ook natuurlik die algemene getuienis van die jongvrou se kuisheid of gebrek daaraan deur diegene wat haar besonder goed ken, ens. Daar is geen getuienis in die Woord dat Maria met enige iemand omgang had voor haar konsepsie van die HERE Jesus nie. Ook is daar geen rekord dat enigiemand dit betwis het nie. Sulke aannames word dus agterna gewoon opgemaak deur skeptici,maar sonder enige gronde. As jy Josef se aanvanklike reaksie mooi verstaan, sou jy besef dat die maagdelikheid van Maria steeds van primêre belang was en dat hy deur die engel daaromtrent tevrede gestel was. Juis vanweë haar konsepsie van die Heilige Gees, was daar dus nie 'n teken dat haar maagdelikheid in die slag gebly het nie omdat daar geen man of penetrasie betrokke was nie. Jou opmerking sou dus eerder as bevestiging dien van haar maagdelikheid.
      Met verwysing na Jesaja 7:14, word die betekenis van die Hebreeuse woord 'almah' as maagd deur die skrywers van die Nuwe Testament as sulks bevestig, byvoorbeeld Mattheus 1:23 - Grieks is 'parthenos'. In Lukas 1:34 bevestig Maria in soveel woorde haar maagdelikheid. In Lukas 24:27 bevestig die HERE Self alles wat Moses en die profete oor Hom geskrywe het - dit sluit noodwendig SY maagdelike geboorte en Jesaja se profesie oor Hom in.
      In Hebreeus was hierdie woord direk met maagdelikheid geassosieer aangesien dit na jongmeisie of jongvrou verwys het ook, en daar van jong meisies en ook die wat op huwelik gestaan het, verwag was om maagde te wees. Daar is dus geen probleem hoegenaamd om te aanvaar dat dit na 'n maagdelike jongmeisie verwys nie. Daar kan dus geredelik aanvaar word dat Maria so 'n maagdelike, kuise jongmeisie was. Om dit te wil weerspreek, sal mens die werklike en uitgebreide betekenis van die woord 'almah' moet verdraai en verkrag.
      Daarom is die woord 'betulah' maar net 'n alternatiewe woord vir dieselfde begrip soos ons maar in alle tale aantref. 'Almah' het net ’n effens wyer betekenis maar beteken in essensie dieselfde.
      Om op die hedendaagse en selfs die ou Joodse geskrifte en veral die rabbynse presepte te steun vir jou standpunt, bring vir jou dadelik 'n probleem, aangesien hulle die HERE Jesus se Messiasskap betwis en ontken en hulle vanuit die staanspoor nie vir die HERE Jesus aanvaar het vir Wie HY werklik is nie. Dit gee dus daartoe aanleiding dat daar wilde bewerings gemaak word ten aansien van die manipulasie van die tekste, waarvoor daar geen werklike bewys is nie en die aannames vir die motiewe daaragter ook nie water hou nie - daar is niks so kragtig soos die Waarheid nie en dit is die Waarheid wat deur die eeue heen ten spyte van aanslag na aanslag staande bly. Enige leuen sou net lankal vergaan het, soos dit gebeur het met die ou mites en fabels van die ander religieë van die tyd.
      Waarom behou jy jou regte voor? Dink jy dalk jy is op verhoor..?
      Kobus de Klerk

    • Kobus de Klerk

      Duitswester,

      Jou interpretasie van Jesaja 7:1-16 is nie korrek nie. Die verwysing daarin na die afvallige koninkryke (Aram en Israel) waarna in Jesaja verwys word, wat reeds verlate sou wees voor die seuntjie, is in tyd aansienlik later as die tydstip toe die profesie daaromtrent gemaak is. Dit pas dus presies in - teen die tyd dat die HERE Jesus gebore is (en dus sou weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is - verse 15-16) was die twee koninkryke reeds verlate.

      Nadat Agas geweier het om vir 'n teken vir die toekoms te vra, het die HERE Self hierdie oorkoepelende profesie juis vir die hele volk se onthalwe ook gedoen deur te profeteer dat uit die huis van Dawid (dit wil sê, die huis van Juda) die Messias, genoem Immanuel, gebore sal word uit die maagd ter wille van die verlossing van die ganse Joodse volk.

      Daar is geen aanduiding van die geboorte van 'n ander seuntjie wat daardie rol van messias sou speel op enige stadium voor of na daardie profesie, soos jy te kenne gee nie. Trouens, daarna is die volk nie verlos nie, maar finaal onderwerp tydens die groot ballingskap wat later gevolg het. Die enigste Seuntjie wat daardie rol vervul, is juis die Seun van die Mens, die HERE Jesus Christus, Wie ontvang is van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria.

      Watter weergawe gebruik jy dat jy sulke afleidings daaruit maak? Geeneen van die Engelse vertalings wat ek gesien het, stem ooreen met die een wat jy kwoteer nie, hulle almal se bewoording dui op 'n toekomstige gebeurtenis.

      Kobus de Klerk

  • Kobus
    Ek is op die oomblik in Europa en jou persepsie dat die christelike meester narratief van maagdelike bevrugting deur 'n god besig is om te groei is totaal onwaar - inteendeel dit is besig om te taan. Niemand neem dit meer ernstig op nie en slaafse volgelinge van jou idees is almal bejaard en vinnig besig om uit te sterf.
    Jy gaan baie vryelik met die woord waarheid om. Jou waarheid is slegs dit: jóú waarheid. Vir enige waarheid om universeel te wees moet dit verifieerbaar en toetsbaar wees. Jou waarheid druip egter hierdie elementêre toetsie en daarom gaan dit eventueel uitsterf.
    Groetnis
    Thomas

    • Kobus de Klerk

      Thomas,
      Soos gewoonlik bevind jy jou in die geselskap van 'n paar mense wat soos jy dink - julle soek mos diesulkes uit en verkondig dan dat hulle die meerderheid verteenwoordig, met verwysing na die opinies van sekulêre teoloë en leeglopende kerke waar die dwaalleringe in die eerste plek ontstaan het juis vanweë die verkeerde opleiding wat hulle by sekulêre teoloë ontvang het. Kyk maar na die susterkerke hier by ons en jy sien dieselfde tendens. Die massas is besig om weg te beweeg na die suiwer kerke waar die Woord suiwer verkondig word en dit gaan van sterkte na sterkte. Maar julle sê niks van die miljoene in Europa en Amerika wat die nuwe kerke bywoon en daar aanbid nie en die HERE se Woord verkondig soos dit is en dit vir die Waarheid as sulks ken - wat nog te sê van elders in die wêreld.
      Terloops, die feit dat jy nou in Europa mag wees, maak jou glad nie kundig omtrent hierdie dinge nie. Jou reikwydte en invloedsfeer is hopeloos te gering.
      Kobus de Klerk

  • Beste Kobus,
    Ek bewonder jou braafheid om die Bybel te verdedig, want iemand met jou geleerdheid behoort mos te weet dat jy ʼn dooie donkie opgesaal het. Al slaan jy hom ook waar, lewendig sal hy nie meer lewendig word nie.
    Soos nou weer, jou poginkie om te bewys dat daar ʼn verskil tussen die mite en die Bybelse stories is. Ek het dit herhaaldelik al vir jou verduidelik, die mite skep sy eie wêreld en wette, en gebeure daarin is onrealisties. Hoe jy ook al spartel en spook, die Bybelse verhale is net so onrealisties as enige ander mite, of sprokie: die ses dae skepping, Adam wat ewe skielik uit die stof van die aarde geskep is, Eva wat van Adam se ribbebeen gemaak is, ʼn slang en bome wat praat, die Noag-storie, ʼn vrou wat in ʼn soutpilaar verander, die Rooisee wat met ʼn stok oopgekloof word, die son wat tot stilstand geroep word, ʼn man wat op water loop, dooies opwek, water in wyn laat verander, en fisies opvaar na die hemel, en vele ander, te veel om op te noem. Wat is realisties daaraan?
    Dan jou “ooglopende onderskeid”: niemand het die vreemde wesens al ooit in lewende lywe gesien nie, want hulle was gode. Het iemand al ooit vir God “in lewende lywe “ gesien? Natuurlik nie, want hy is ook maar een van die gode. So ook het niemand nog ooit vir Moses of Jesus “in lewende lywe” gesien nie. Nêrens is Jesus histories opgeteken nie. Die Bybel kan nie as ʼn historiese werk beskou word nie, as gevolg van die tallose onjuisthede daarin, en dit besit geen verwysingsraamwerk nie. As historici in hulle werke verwys na die Bybel en die inhoud daarvan, is dit nog nie ʼn bewys dat dit wat in die Bybel staan, histories eg is nie.
    Die sogenaamde geboorte van Christus is welbekend, maar welbekendheid maak dit nie histories waar nie. Mary Poppins se sweeftog met haar sambreel oor Londen is ook welbekend, so ook die wolf wat vir Rooikappie ingesluk het.
    Enigiemand wat so ʼn bietjie kan skrywe, en ʼn bietjie verbeelding het, kan die storie van Jesus se geboorte vertel NADAT hy Jesaja 7:14 gelees het. So daar is die “voorspelling” ook daarmee heen.
    Mitologieë het gekom, maar nog nie gegaan nie. Soos die Bybelse mitologieë is dit ook deel van ons wêreldletterkunde.
    Niemand probeer om enigiets van die Christendom af te breek nie; dis maar net die Christen wat aan agtervolgingswaan ly wat so dink. ʼn Mens kan darem ook nie jou lewe bou op ʼn spul leuens nie, en dit is juis die ateïs wat dit by julle Christene wil tuisbring.
    Groete,
    Angus

    • Kobus de Klerk

      Angus,
      Jy kan steeds nie die verskil insien tussen die historiese gebeure wat die HERE Jesus Christus aanbetref soos opgeteken in die Woord en as sulks aanvaar en geken word vir eeue al wêreldwyd, en bekende fabels en mites soos Mary Poppins en soortgelyke nie. Die onvermoë van jou kan sekerlik net toegeskryf word aan jou gebrek aan Spiritualiteit en gevolglike agnostisisme.
      Ek het al telkemale vir jou die verskil probeer verduidelik, maar jy kan net nie verstaan nie. Dit help dus nie om dit weer vir jou te herhaal nie.
      Kobus de Klerk

  • Beste Kobus,
    Die onvermoë lê by jou. Dis jou spiritualiteit wat jou verblind vir die realiteit.
    Die verhaal van Jesus soos opgeteken in die NT, sal geen historiese toets slaag nie. Waar is die kruisverwysing? Waar is die bewyse dat Jesus 'n historiese figuur is? Daar is talle bewyse dat hy 'n mitiese figuur was, en ek het dit al herhaaldelik aan jou verduidelik. So 'n bietjie minder spiritus sal jou nugterder na dinge laat kyk.
    Groete,
    Angus

    • Kobus de Klerk

      Bietjie meer spiritus, sê jy Angus? Nie vir my nie, dankie. Ek verkies nugtere ontleding, denke en kommunikasie met die HERE.

      Kyk na jou agterstevoor redenasies hierbo - is dit dalk as toonbeeld van jou eie spiritus-geïnduseerde denke? Daar is juis geen bewys vir jou bewering dat die HERE Jesus mitologies is nie (a figment of your spirit-induced imagination? Jy kan mos Engels verstaan...) maar daar is historiese bronne waarvan die Woord (in die Bybel) die belangrikste is, maar ook antieke geskiedskrywers soos Josephus, Tacitus, Plinius die Jongere, Lucius van Samosata en die Babiloniese Talmud. Om dit alles te ontken, is die tipies subjektiewe destruktiewe werk van sommige agnostici wat ter wille van hul agnostisisme (waarvan ateïsme die ekstreme vorm is) in ontkenning verkies om te lewe daaromtrent.

      Kobus de Klerk

      • Beste Kobus,
        Miskien moet ons jou "Kobus Verdraai" doop. Ek het gesê so bietjie MINDER spiritus sal jou nugterder na dinge laat kyk.
        Jy vra bewyse dat Jesus 'n mitologiese figuur is? Daar is talle; ek sal net so 'n paar noem. Sy pa was 'n god, en sy ma 'n aardse vrou wat maagdelik aan hom geboorte geskenk het. Hy kon op water loop, water in wyn verander, dooies opwek, en duisende mense voed met 'n paar vissies en 'n bietjie brood. Hy kon saam met die duiwel rondrits van woestyn, tot die hoogste dakke van Jerusalem, om daarna netso gemaklik vanaf die hoogste berg die wêreld te bekyk. Hy is onsterflik en vaar so met klere en al lewendig op die lug in ...
        Die vermelding van die naam Jesus in werke van die geskiedskrywers wat jy noem, is nie 'n bewys dat hy 'n historiese figuur is nie. Hulle skryf oor die Christene wat so iemand navolg; buitendien het daar in Josephus se werk heelwat suurlemoensous deurgeloop.
        Deur so bitter vas te klou aan die begrip Jesus as historiese figuur, lê die Bybel bloot aan historiese norme. Soos ons almal weet, die Bybel is nie 'n geskiedenisboek nie, maar 'n versameling van letterkundige fiksie.
        Groete,
        Angus

        • Kobus de Klerk

          Angus,
          By implikasie sê jy dat ek op spiritus staat maak vir dit wat ek weergee - dus, hoe meer ek weergee waarmee jy nie saamstem nie (en dit is waarskynlik alles) hoe meer spiritus by implikasie? Daarom sê ek dat jy (by implikasie) sê dat ek bietjie meer spiritus gebruik. Ek help jou dus reg. Ek is glad nie lief vir 'n enkelmout soos jy al tevore by verskillende geleenthede te kenne gegee het dat jy wel is, of enige ander spiritus, nie.
          Jou aannames omtrent die verhalings van die HERE Jesus is maar bloot vanuit jou oogpunt as volslae ateïs en is dit duidelik waarom jy nie insig kan toon in die werklikhede daaromtrent nie - jou ateïstiese benadering en uitkyk onderdruk doelbewus enigiets wat die werklikheid sal ontbloot. Byvoorbeeld, jy sal enige Goddelike werk, soos die wat jy noem, as fiksie beskou omdat jy nie oor die nodige Spiritualiteit en oor die nodige Spirituele intelligensie beskik om die werklikheid daaromtrent te kan insien nie. Jy het geen idee van hoe Goddelikheid werk nie en hoe dit in praktyk aanwending vind en gevind het nie.
          Vandaar jou uitlatings en weens jou Spirituele gebreke, is dit alles maar net insiglose snert.
          Die historiese bronne buite die Bybel verwys na Christene en hulle Leier - en daar is net een naamlik die HERE Jesus want HY is die Een Wie gekruisig is. Jy skop teen die prikkels om dit te probeer verkleineer of minag. Selfs ernstige en ongelowige skeptici soos Bart Erhman moes later, na deeglike ondersoek, erken dat Jesus werklik geleef het - HY leef natuurlik steeds. Ons wie met Hom 'n persoonlike verhouding het, weet dit. Maar daar sal jy, weens jou agnostisisme, ook niks van verstaan nie.
          Dan is jou 'ons almal' stelling hierbo waarmee jy afsluit, net so misleidend, tensy jy net na die geïsoleerde paartjies wat soos jy dink, verwys. Andersins is daar biljoene gelowiges wat van jou stelling van 'ons almal' pure snert maak. Dit kan hoogstens maar net die paartjies wees wat soos jy dink, en hulle is by baie verre in die minderheid.
          Kobus de Klerk

          • Beste Kobus,
            Ek weet nie waarom jy so protesteer nie; spiritus, spiritis, spiritualiteit, is almal stamverwante woorde. Eintlik verkies ek 'n versnit bo 'n enkelmout. Ek dink ek en jy sal lekker kan sit en gesels oor so 'n enetjie in die hand.
            Jy het dit verkeerd as jy sê my aannames oor Jesus is uit die oog van 'n ateïs. Ek sou eerder wou hê jy moet my oog uitskel as 'n letterkundige oog. Dis mos so helder soos daglig dat die hele Bybel letterkundige fiksie is, want slegs binne 'n fiktiewe wêreld kan al hierdie wonderwerke gebeur.
            Ek wil jou nie van insigloosheid beskuldig, soos jy so lief is om te doen nie, maar dit lyk my jy verstaan nie die betekenis van so iets nie. Ek het al so vele kere aan jou verduidelik as jy die historisiteit van Jesus teen wil en dank wil bewys, doen jy die Bybel skade aan. Nou is die deur oop vir historici om met historiese norme die Bybel te ondersoek.
            Groete,
            Angus

  • Beste Kobus,
    Ek merk nou eers jou skrywe hierbo waarin jy beweer dat, alhoewel ek 'n ateïs is, erken ek die bestaan van God.

    Natuurlik erken ek die bestaan van God. Hy is dan die hoofkarakter van die Bybel. Het jy nie geweet nie? In hierdie verhaal is hy die pappa van Jesus. As jy nie wil glo nie, gaan lees dit in die Bybel. 'n Mens kan mos nie sê die karakters in fiksie bestaan nie. Kyk maar hoe lewe Mary Poppins en Bart Nel, Eline Vere, Ampie en nog baie ander.

    Groete,
    Angus

    • Hello Angus
      Jy is heeltemal reg, vir Kobus is dit belangrik om met die Bybel agter sy rug te staan terwyl hy vir ons wil vertel, in sy eie woorde, wat daarin geskryf staan.
      Eerstens, volgens hom is daar die "duidelike beskrywing in die evangelie van Lukas" wat deur ongelowiges in twyfel getrek wil word. Die beste is seker maar om self te gaan kyk daarna:
      Luk.1:34 Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? [maw dat sy 'n maagd is] 35 En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu [God gaan sy ding kom doen en sy gaan verseker nie meer 'n maagd wees na hierdie sessie nie]. Daarom sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word [natuurlik, wat anders?].
      Hy besef natuurlik baie goed dat hierdie interpretasie 'n baie meer natuurlike een is as die een van swangerskap sonder seks, en dit is die rede hoekom hy hierdie "duidelike beskrywing" moet opvolg met: "Maar ons moet onthou dat Lukas 'n geleerde man was wat baie noukeurig te werk gegaan het en selfs persoonlike toegang tot Maria had om te bevestig wat hy opgeteken het in die Evangelie". Dit is net die mees verstokte Christene wat hierdie twak glo, die skrywer van Lukas word erken as 'n anonieme werk deur die oorgrote meerderheid van kundiges; ons weet eenvoudig nie wie die skrywer(s) was nie. Verder, selfs al was dit 'n spesifieke Lukas, die teks is duidelik, dit beskryf nie 'n maagdelike geboorte nie.
      Matteus beskryf dieselfde, Maria is "swanger bevind uit die Heilige Gees" (1:18) en "wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees" (1:20). Vir die skrywer van Matteus moet daar geen twyfel wees dat God die kind se pappa was nie, en dit was dan die rede hoekom Josef nie seks gehad het met Maria totdat die kind gebore was nie. Nie omdat haar maagdelikheid beskerm moet word nie, daarvoor was dit te laat.
      Die probleem vir latere Christene was dat ons mos "in sonde ontvang en gebore" is, 'n interpretasie uit Gen.8:21 deur Augustyn, wat 'n sondelose Jesus se geboorte sou bederf. Matteus 1:23 is die enigste sin wat gebruik kan word: "Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar ...". Die konteks van Matteus en Lukas moet egter heeltemal geïgnoreer word om te kan sê dat sy 'n maagd bly regdeur haar swangerskap.
      Vir Kobus is hierdie mite die waarheid omdat mense dit nou al vir twee duisend jaar glo. Foei tog, dat dit nou sy sterkste punt kan wees!
      Chris

      • Kobus de Klerk

        Chris,
        Jou insigloosheid is absoluut verstommend. Dit is nie as belediging bedoel nie, maar dit is bloot 'n feit.
        Volgens jou moet die Heilige Gees 'n fisieke Wese wees wat met Maria fisieke omgang sou moes hê om die swangerskap te bewerkstellig. Dit dui daarop hoe verstok en insigloos julle agnostisisme julle maak.
        Watter bewys het jy dat die Heilige Gees 'n fisieke man is? Jy weet dan nie eens van SY bestaan nie? Hoe gaan jy dit onderskraag? Dit is so verregaande.
        Jy kan duidelik nie insien dat die Heilige Gees nie 'n fisieke Wese is nie, maar die Krag van God - dieselfde Krag wat aan die mens en die lewende wesens aanvanklik hul 'asem' (lewenskrag) besorg het om te kon lewe en sedertdien daardie lewe in stand hou (Numeri 16:22; 27:16; Job 34:14-15; Jesaja 57:16; Sagaria 12:1; Prediker 1:6-7).
        Hoe meer julle skrywe, hoe meer openbaar julle jul onkunde, insigloosheid en onvermoë om te verstaan. Dit is lagwekkend, dikwels, maar terselfdertyd tragies hoe die agnostisisme met julle mors en julle stomp maak vir so baie waardevolle dinge.

  • Daar is om verstaanbare redes baie mense wat die bestaan van Jesus in twyfel trek en hom eerder as 'n denkbeeldige figuur uit die pen van verbeeldingryke mense beskryf.
    Dit is tog opmerklik dat die Jode nie Jesus se bestaan ontken nie maar dat hy soos vele van sy tyd 'n misleide man met groot aansprake was met 'n klompie volgelinge.
    Twee artikels werp meer lig oor die onderwerp:
    1.Did Jesus Exist? Searching for Evidence Beyond the Bible
    http://www.biblicalarchaeology.org/daily/people-cultures-in-the-bible/jesus-historical-jesus/did-jesus-exist/
    2.http://religion.blogs.cnn.com/2012/04/05/jews-reclaim-jesus-as-one-of-their-own/
    Lekker lees.

    • FC, die ewe skielike erkenning van Jesus deur Jode/Israelis het baie meer te doen met politiek en geld as met een of ander teologiese rede. As jy 'n klein bietjie nader gaan kyk na baie van hierdie groepe, Joods en Christen, sal jy gou-gou agterkom dat hulle heeltemal gekant is tot die totstandkoming van 'n Palestynse staat en die voortsetting van die okkupasie, en dat Amerika se steun van uiterste belang is om dit so te hou.

  • Chris Dippenaar

    Kobus, wat jy dan eintlik probeer argumenteer is dat windbestuiwing nie seks is nie. Of dat God se semen/DNA, dit wat hom die pappa maak van Jesus, wonderbaarlik geplant is in Maria deur 'n spokie. Al hierdie bokspronge van jou kom nog glad nie uit by die belaglike idee dat Maria van begin tot einde 'n maagd gebly het nie.

    • Kobus de Klerk

      Chris,
      Vir jou as ateïs is dit nie eintlik vreemd dat jy reageer soos wat jy doen nie. As jy tot beter in staat was, sou jy in die eerste plek nie 'n agnostikus wees nie. Jy sou verstaan het wat gebeur en jy sou die vermoë had om dit in te sien. Jy sou, byvoorbeeld, besef het dat God die Skepper van alle lewe is, ook van die mens en dus die biologiese aspekte van die mens nie net volkome verstaan nie, maar ook vir SY doel ontwerp het. Dus, deur die lewegewende Krag van God wat in die eerste plek vir alle lewe verantwoordelik is, het HY eenmalig ingegryp en dit wat reeds in die vroulike liggaam voorkom, in 'n bevrugtingproses omgeskakel om die Goddelike bevrugting te bewerkstellig waarvan die realiteit van Jesus Christus die getuienis en bewys is.
      Maar jou onvermoë om hierdie dinge in te sien is so ingrypend dat jy selfs nie eens die feit van die bestaan van Jesus Christus kan erken nie, ten spyte van historiese gegewens en ten spyte daarvan dat ander agnostici wat 'n studie van die dinge maak, soos jou held Bart Erhman, wat moet erken dat Jesus realiteit is.
      Nou, gesien jou onvermoë en gepaardgaande insigloosheid daaromtrent, is die snert wat jy kwytraak te verwagte van jou.
      Die probleem wat julle het is dat julle God se Goddelikheid wil afwater tot blote menslikheid en die beperkings wat dit bied. Waar dit nie kan gebeur nie, verwerp julle dit. Dus, julle sou God aanvaar as HY blote mens was - maar HY is God en dit is te verstane dat Hy dinge kan en sal vermag wat julle begripsvermoë geheel en al te bowe gaan. Die maagdelike geboorte van die HERE Jesus Christus is maar een van verskeie sulke voorbeelde.
      Onthou, die HERE Jesus Christus het die voorkoms van mens gehad terwyl Hy op aarde was, maar die geaardheid van SY Vader, van God die Vader. Vandaar dat HY so fundamenteel die hele wêreld verander het - en jy kan sekerlik nie dit weerspreek nie. Geen volk, mens of held in die bestaan van die mensdom kon Hom dit ooit nadoen nie, gewoon omdat dit SY Goddelikheid is wat so fenomenaal invloedryk is.
      Vandag nog self meer as tevore.
      Kobus de Klerk

  • Beste Chris

    Jy dink die aanvaarding van Jesus lê op politieke gebied. Ek glo nie. Daar is van die mense wat diens in Christen- kerke bygewoon het en soos een dit uitgedruk het was die verduideliking van 'n skrifgedeelte vir hom meer duidelik en aanvaarbaar as die van sy eie Rabbi.

    Beide het oor dieselfde teks gepreek.

  • En An Atheist Historian Examines the Evidence for Jesus, bewys presies die teenoorgestelde en kom dan tot die gevolgtrekking dat: "The proponents of the Jesus Myth hypothesis are almost exclusively amateurs with an ideological axe to grind and their position is and will almost certainly remain on the outer fringe of theories about the origins of Christianity" (geplaas op 23.12.2020).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top