
Foto deur Anna van Pixabay
’n Kennis in die uitgewersbedryf groet my onlangs.
“How are you?” vra hy.
“I’m losing my religion,” antwoord ek. Die woorde was uit voordat ek hulle gedink het. Maar toe besef ek dit is presies hoe ek voel.
Die wêreld van boeke, my wêreld, is besig om te kwyn en te verdwyn. Alles wat so vir my sin gemaak het, verval.
So sê Jean-Philippe de Tonnac in This is not the end of the book:
But what is a book? And what will change if we read onscreen rather than by turning the pages of a physical object? What will we gain, and more importantly, what will we lose? Old-fashioned habits, perhaps. A certain sense of the sacred that has surrounded the book in a civilisation that has made it our holy of holies. A peculiar intimacy between the author and reader, which the context of hypertextuality is bound to damage. A sense of existing in a self-contained world that the book and, along with it, certain ways of reading used to represent.
Die volume is ’n gesprek oor die toekoms van boeke, gevoer tussen die skrywer en semiotikus Umberto Eco en die Franse skrywer en draaiboekskrywer Jean-Claude Carrière. Die Engelse weergawe wat ek gelees het, het in 2014 verskyn. De Tonnac is ’n skrywer en joernalis, en bemiddel die gesprek.
’n Dekade of wat gelede is vermoed dat boeke gekwes is, maar Umberto Eco was toe nog positief. “The book is like the spoon: Once invented, it cannot be bettered,” het hy gesê.
Nou is dit duidelik dat daar elke dag minder lesers is, en dat die boekhandel nie kan voortbestaan soos vantevore nie. Elke jaar is daar minder boekwinkels, en elke jaar minder uitgewers.
Ek wil nie sê boeke is al waarin ek belangstel nie, maar ek wil dit ook nie nié sê nie. Die eerste boek wat ek opgetel het, het my aangetas met die magiese. Om uiterlike simbole op papier te interpreteer tot innerlike beelde en emosies, om die gedagtes van iemand anders sodoende direk in jou eie kop te plant, is magies. So, geparafraseer, het die astrofisikus Carl Sagan ook gesê, en die waarheid daarvan is onteenseglik. Boeke was, vandat ek leer lees en skryf het, my wêreld. Ek het grootgeword in ’n era waarin afleiding, van aandag en andersins, nie ’n gegewe was nie, nie ’n universele reg soos wat dit nou byna wil voorkom nie. Ons het radio geluister, en boeke gelees. Ek is die eerste generasie van die plaas af verplaas. Desembervakansies was ons by oupa en ouma Venter op hulle plaas in die Karoo. Oupa was vir alle praktiese doeleindes reeds afgetree. Sy skoonseun het die plaas bedryf, aan die ander kant van die koppie wat die opstalle van mekaar geskei het. Daar het nie veel op oupa-hulle se werf gebeur nie, en vir ’n jong kind uit die stad was dit ’n lang, warm en vervelige vakansie. Ons kon daar nie eens radio luister nie, tensy dit nuus of kerk was. Gepraat van Sondae, na kerk en na die groot middagmaaltyd en die middagslapie van die oumense, waartydens kinders tjoepstil moes wees, het dit soms gebeur dat ons vir ’n uitstappie dorp toe gegaan het. Die dorp. Een teerstraat, een petrolpomp, polisiekantoor, hotelletjie en poskantoor. ’n Laerskool. Maar vyf kerke. Wat was die uitstappie, die vermaak, so op ’n bloedige, hittige, Sondagmiddag? Begraafplaasbesoek.
Lees was my lewenswêreld. En hoe meer ek gelees het, hoe groter het my wêreld geword. Dit is waar ek myself gekry, leer ken, het. “Kry jou neus uit die boek en gaan speel buite,” het ek baie gehoor. Ek dink baie lesers het dieselfde gehoor. En al wat ek wou hê, is dat almal my uitlos sodat ek my boek kan lees.
Vir die grootste gedeelte van my grootmenslewe was ek betrokke in die boekhandel – oud, nuut, gebruik, antikwaries – alles wat met boeke te doen het. Daardie wêreld sterf nou, en die laaste rukkings en stuiptrekkings is vir my pynlik om gade te slaan.
Alles verander, die hele tyd. Dit is een van die min dinge wat ons as mense as sekerheid kan aanvaar. Daar is nie fout met verandering nie, maar as ons boeke verloor, gaan ek verlore wees.
Die berigte oor sy dood was erg oordryf, het Mark Twain gesê, en dieselfde is dalk waar vir die boek. Die boek is nog nie dood nie, maar die wêreld waarin die boek die septer geswaai het, is. Boekhandel is noodlottig getref. Die digitale era bring ’n einde daaraan. Eens was die vrees dat die koms van e-boeke die doodslag sou wees. Toe was Stephen Fry nie bekommerd daaroor nie. “Books are no more threatened by Kindle than stairs are by elevators,” het hy gesê.
Maar nou lui die doodsklokke. Dis nie dat daar nie meer boeke gedruk kan word nie, dis dat mense nie meer boeke lees nie, en daarom is daar minder boeke en uitgewers. Uitgewers smelt saam om ekonomiese redes, om te kan oorleef. Hoe meer hulle saamsmelt, hoe minder keuses is daar vir my en jou. Vryheid is om oor die vryheid te beskik om keuses te kan maak. Ons verloor ons vryheid ook.
Hoekom lees mense nie meer boeke nie? Dink hulle miskien hulle het nie meer die wêreld nodig wat boeke vir hulle gee nie want alles word op die skerm vir hulle opgedis, reeds verteer en verwerk? Indien wel, is hulle verkeerd. Dis juis die andersheid van boeke lees wat van belang is. Dis ’n vaardigheid wat ons moet aanleer. Ons moet leer om abstrakte simbole te dekodeer en in beelde en gedagtes te omskep. Ons moet leer om aandag te skenk, om te konsentreer, en in ruil daarvoor word ons verbeelding geaktiveer en ons verstand geoefen. Dit is vir die mensdom oorlewingsbelangrik. Om net te kyk na woorde en beelde wat eindeloos voor jou oor ’n skerm verbyrol, laat jou onbetrokke. Boeke sluk jou in. Boeke dop jou uit. Boeke aktiveer verbeeldingsvlugte wat jou wegneem van die hier, en ook deel maak van alle ander dinge as jy self.
Dit is vir my verontrustend dat selfs my ploegmaats en tydgenote nie meer boeke lees nie. Die meeste van hulle het baie gelees toe ons jonger was. Kwalik kan ek hulle nie neem nie. Die verontrusting het ek eers in myself aangevoel. ’n Dekade of wat gelede het ek besef dat ek ook al hoe minder lees. Maar ek het ook gevoel hoe ek as gevolg daarvan verstok en verlep. Ek het bewustelik tyd daarvoor begin maak. Eers het die sukkelend gegaan, maar toe daardie magiese oomblik weer gebeur, toe ’n boek my insleep en deel van ’n ander wêreld maak, iemand anders se gedagtes en beelde myne word, het ek die wonder herontdek.
Daar is nog mense wat boeke koop en lees, maar hulle word minder. Daar is jonger mense wat ook boeke lees, maar hulle is min. Dit beteken nie dat boeke gaan verdwyn nie, nie in die afsienbare toekoms nie, maar dit begin lyk asof boekhandelaars toenemend gevaar loop om verskaffers van fetisjistiese objekte te word.
(Fetisj. Daar is iets grillerigs aan die sh-sj-vertaling uit Engels in Afrikaans, iets wat met slange en sisklankende gevaar te doen het, soos ’n dronkie met gebalde vuiste in ’n kroeg.)
Soos wat mens deesdae oor omtrent alles voel, is daar nie veel goeie nuus nie. Maar daar is dit:
- Daar is nog baie boeke.
- Boeke vereis nie elektrisiteit nie, net jou aandag en verbeelding.
- Jy het dit miskien al vergeet, maar boeke lees maak van jou ’n beter mens.
Ek probeer nie om iemand te oortuig dat hulle boeke moet lees nie. Al wat ek sê, is dat ek byna my religie verloor het, maar ek gaan nie toelaat dat dit gebeur nie.
My sirkel word voltooi. Ek wil weer net hê dat die wêreld en almal my verdomp uitlos sodat ek my boek verdomp in vrede kan lees.

