Oor Afrikaans

  • 5

Afrikaans gaan nou met rasse skrede agteruit. ’n Groot bydraende faktor is natuurlik die feit dat Engels nou die amptelike taal is so Afrikaanssprekendes praat heeldag en aldag, en oral, Engels. Al waar hulle nog Afrikaans praat is tuis of by huisvriende en, wanneer die gesprek oor hulle onderskeie werke of selfs stokperdjies gaan, is die Afrikaans so deurspek met Engelse woorde mens kan dit nie meer eintlik Afrikaans noem nie; die ouens ken doodeenvoudig nie meer die Afrikaanse terme nie (en kan dus nie meer eintlik goed Afrikaans praat nie).

Benewens die verdwyning van Afrikaanse woorde en terme onder die invloed van Engels word Afrikaans nog verder verarm deurdat Afrikaanssprekendes al hoe meer die Engelse spreekwyse volg, selfs bewustelik naboots. So byvoorbeeld het die vroulike vorm al grootliks verdwyn. Dit verteenwoordig beslis verarming want die uitdrukkingskrag van Afrikaans is nou afgewater. Jy kan byvoorbeeld nie meer iets sê soos “ek en ’n vriendin van my nooi moes dié se kêrel en sy vriend by die partytjie gaan haal” nie; jy moet nou verder omskryf met woorde soos ‘mansvriend’ en ‘damesvriend’ en dies meer. Woorde soos ‘redaktrise’, ‘onderwyseres’, ‘regisseuse’, ‘sangeres’ ens het spesifieke betekenis gehad maar het verdwyn en nou moet met verdere omhaal van woorde verduidelik word, of uit konteks gesien word, dat na die vroulike of manlike geslag verwys word.

Seker die irriterendste invloed van Engels op Afrikaans is om na al wat voertuig en vaartuig is te verwys in die vroulike; háár kiel, háár vlerkspan, háár sitplekke, sý is ’n mooi kleur ens ens. Selfs taal en moondhede word as vroulik behandel. Hierdie goed het nie spene nie; hulle is onsydig (in Afrikaans).

Ook, soos in Engels, het die hoflikheidsvorm verdwyn. Daar is ’n liedjie waar die ou sing “… en as jy my wil seën los die sonskyn stuur nog reën.” Dit klink net nie reg nie, nie Afrikaans nie; “… en as U my wil seën …” verleen ’n heeltemal ander nuanse, iets wat jy nie in Engels kan regkry nie omdat in Engels die hoflikheidsvorm nie meer bestaan nie. Waar in TV- en radio-onderhoude die hoflikheidsvorm nie gebruik word nie klink die onderhoudvoerder voor-op-die-wa, nie dat hy is nie; hy praat bloot nie reg Afrikaans nie.

Van radio en TV gepraat, dáár kan nou duidelik gesien word hoe Afrikaans agteruitgaan. Die gewone man se traak-my-nie-agtigheid kan nog in ’n mate oorgesien word maar swak taalgebruik by mense wie se werk, onder andere, die besig van goeie taal behels kan kwalik oorgesien word. Omroepers, en veral omroepsters, praat gedurig van ‘met dit’, ‘vir dit’, ‘in dit’ ens. Nou die dag sê ’n omroeper “… en as jy nog nie [versekeringsfirma X] opgeneem het op hulle R400-offer nie dan …” ’n Omroepster praat nou die dag van iemand wat ‘n toebroodjie ge-offer is. Kan jy dit glo?

'n Ander omroeper praat nou die dag oor een of ander dag wat opgedra is aan een of ander saak (iets absurds soos ‘blinkskoenedag’ of so iets) en hy sê “ … ek het nie eers geweet daar bestaan so ’n dag nie maar daar doen blykbaar.” Dit kan dieselfde ou wees wat een oggend gesê het “ ... ek hoop nie jy sit in die verkeer vas nie maar as jy doen …” Hulle praat gereeld van tyd wat ‘uithardloop’, iets ‘mis’, ‘in terme van’, ens ens. Klem word ook gereeld op die verkeerde lettergreep geplaas, byvoorbeeld ‘handhááf’, ‘úniversiteit’, ‘onderwýs’, kragopwékking’ ens.

Omroepers praat ook al hoe slordiger; gooi Engelse woorde oral in. Die ou wat ‘n opvoedings- en onderwysprogram aanbied praat nou die dag die hele tyd van ‘crafts’ (in plaas van handwerk of vlyt) wat kinders kan beoefen en nou die middag in ‘n geselsprogram verwys die omroeper na witruis as white noise. Hy’t ook een en ander oor helikopters gesê, onder andere dat die ding ’n ‘propeller’ bo en ’n ‘propeller’ agter het. ’n Helikopter het ’n rotor bo en ’n lugskroef agter aan die een kant (om die waarheid te sê selfs in Engels het ’n vliegtuig ’n ‘air screw’; ’n ‘propeller propells’, soos in die geval van ’n skip of duikboot of daardie rare vliegtuie waar die skroef agter die kajuit sit). Dieselfde ou lewer onlangs ’n praatjie oor demokrasie en noem ouens soos Sokrates en Aristoteles maar hy praat van ‘Sokritties’ en ‘Erristoutel’.

Verdere ondermyning deur middel van die radio (RSG) – dis nou benewens die swak voorbeeld – is die skep van die idee dat Afrikaans ondergeskik is. Daar is omtrent nie ’n program waar ’n Engelssprekende gas genooi is en dan praat die programaanbieder ook Engels met die gas. Die Praatsaam-program is meestal half Engels en nou die dag was dit so te sê geheel en al Engels. Selfs luisteraars wat inbel kondig bloot aan dat hulle gaan Engels praat en dan sê die omroeper (meestal die omroepster) hulle is welkom. Sommiges bel in en praat uit die staanspoor Engels (bel bietjie na ’n Engelse stasie toe en praat Afrikaans en kyk wat gebeur). Advertensies is meestal swak Afrikaans en eindig bykans altyd met ’n Engelse slagspreuk.

Daar was ’n program op KykNet, ‘n braaivleiskompetisie, aangebied deur Thys die bosveldklong. Een van die beoordelaars, ’n Belg, het die gewoonte gehad het om kort-kort oor te slaan in Engels en sommiges het dan teruggepraat in Engels (een van hulle was nogal ’n RSG-omroeper). So, daar word ’n Afrikaanse televisieprogram toe Engels en die regisseur sê niks en Thys sê niks. Kan jy jou voorstel dat so iets op ’n Engelse program gebeur? Op ’n reisprogram praat Gerrie van Keulen as ‘Kilhóún’ en Jan Braai in sy program verwys na houtskool as ‘tsjakoul’ – en die regisseurs weet nie van beter nie want hulle het ooglopend nie ‘kat!’ geskree nie.

Hierdie mense praat Afrikaans asof Afrikaans hulle tweede taal is. Niks fout daarmee om Afrikaans as tweede taal te hê nie maar nie as jy ’n omroeper of ’n aanbieder van ’n Afrikaanse program is nie. Volgens watter kriteria word hierdie mense aangestel? Vir seker moet bedrewenheid in Afrikaans tog ’n groot faktor wees maar dit lyk nie so nie.
Afrikaanssprekendes is ook baie apaties teenoor hulle eie taal. Daar is byvoorbeeld ’n totale afwesigheid van Afrikaans in winkelsentrums (soos name, uithangborde, advertensies ens, selfs in Bloemfontein en al is die eienaar van die besigheid Afrikaans) en alhoewel die klandisie grootliks Afrikaans is, kraai g’n haan daarna nie. Vra mens hulle oor die gebrek aan Afrikaans is die standaardantwoorde ‘kan jy nie Engels lees nie?’ of ‘dis maar vir die toeriste’ of ‘as ons Afrikaans ook gebruik moet daar dan ook ál die ander swart tale verskyn.’

Al drie verskonings is natuurlik onsin maar die laaste een die ergste; die Engels is juis vir die sprekers van die swart tale, dis wat húlle wil hê. Hulle daag nie op by Afrikaanse skole en eis om in ’n swart taal onderrig te word nie nee, hulle dring aan op Engels. Hulle voel so min vir hulle eie tale ek twyfel of hulle dit kan lees of skryf. Hulle het lankal ‘opgradeer Engels toe’ soos Breyten dit stel. Die gebrek aan Afrikaans is niks anders as ’n afjak nie en ons aanvaar dit maar gedweë.

Daar is darem ‘n troos: As Afrikaans verdwyn is dit weens siekte; ons ly erg aan politieke korrektheid, witvoetjie soek, geduldigheid, gedweënheid en kruip. Ons het nie aangesteek by iemand nie, ons het onsself so siek gemaak. Niemand kan dus die skuld kry vir die verdwyning van ons taal behalwe onsself nie.

Jan Rap

  • 5

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Wat met Afrikaans gebeur, gebeur met alle tale ... hulle verander gedurig. Afrikaans verander net meer en vinniger as bv Engels, omdat dit 'n betreklik nuwe taal is. Engels het ook eens met rasse skrede verander, maar nou gaan dit al stadiger, sodat dit nie meer so sigbaar is nie.
    Taal moet gedurig vooruit om aan te pas by allerhande omstandighede, anders sterf dit uit. Troos jouself maar daaraan dat die Afrikaans oor 'n duisend jaar vir jou taamlik onverstaanbaar sal wees, soos ou Engels vir die Engelsman.
    Ek het dit al male sonder tal in die verlede aan jou verduidelik, en ek het ook al aan jou verduidelik dat niemand hierdie verandering kan keer nie. Die geskrewe taal en goeie taalonderwysers kan wel so 'n bietjie rem aan hierdie verandering, maar nie veel nie.
    So 'n taalverandering is vir baie mense onaanvaarbaar, soos ons ook kan sien in die ontstaan van Afrikaans.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Ek het al male sonder tal aan jou die verskil tussen agteruitgang en verandering verduidelik. 'n Appel kan aan 'n boom hang en ryp word of op die grond lê en vrot en in beide gevalle ondergaan die appel 'n verandering maar in die een geval verteenwoordig dit groei en laasgenoemde geval verteenwoordig doodgaan.
    Afrikaans onder die invloed van Engels verloor sy uitdrukkingskrag, nie omdat hy inherent 'n ontoereikende taal is nie maar omdat sy sprekers, weens die feit dat Engels nou kunsmatig die lingua franca gemaak is en in ons kele afgedruk word. Afrikaners praat nou Engels by die werk, in die hof, by die aanklagkantoor, in die supermark en selfs die kerk ook lyk dit my en dit geskied ten koste van Afrikaans. Mense kan doodeenvoudig nie meer Afrikaans praat nie en slaan op wisselende wyse oor Engels toe in 'n gesprek. Engelspraat tussenin in 'n gesprek verteenwoordig nie groei in Afrikaans nie, dit behoort tog nie te moeilik vir jou te wees om dit te sien nie.

  • Beste Jan,
    Dis duidelik dat jou en my siening van Afrikaans hemelsbreed verskil. Vir jou is Afrikaans ʼn appel wat klaar van die boom afgeval het en op die grond lê en vrot. Dis dan klaarpraat met hom; nooit sal hy weer lewendig word nie. As ʼn donkie dood neerval, dan sal slaan hom nie weer die karretjie laat trek nie. Dan is ons almal se stryd om die behoud van Afrikaans mos futiel. Gee oor, man, praat maar saam met almal Engels.
    Ek weer, sien Afrikaans as soortgelyk aan ʼn lewendige, groeiende organisme. Afrikaans groei gedurig om aan te pas by allerhande omstandighede. Veral op wetenskaplike gebied het Afrikaans se woordeskat al ontsaglik gegroei. Dit is noodsaaklik, want anders bly die seggingskrag van Afrikaans agter. Daar is amper niks wat so gou verouderd raak as ʼn Afrikaans verklarende woordeboek nie.
    Afrikaans bang nie Engels en onderdrukking nie. Sedert die agtiende eeu word Afrikaans onderdruk deur planke met donkie daarop geskryf om sy nek gehang. Die gevolg? Afrikaans het ongekend gegroei tot die taal wat ons vandag ken.
    Jammer, Jan, maar ek kan nie insien hoe my gesprek met iemand in Engels enigsins Afrikaans gaan benadeel nie. As iemand nie behoorlik Afrikaans kan praat of verstaan nie, praat ek met hom Engels. As hy ook nie Engels kan verstaan nie, probeer ek so 'n mengsel van Afrikaans, Engels, Duits en Zulu. Verstaan hy nog nie, dan maak ek sulke handgebare gepaard met keel- en snorkgeluide, maar verstaan sal hy verstaan. Hoe ek ook al beduie en snork, dit sal geen letsel aan Afrikaans maak nie.
    Groete,
    Angus

  • Mag Afrikaans tog nie in dieselfde slaggat trap as Nederlands nie.
    Kyk hierna:
    Cookies op Trouw.nl
    Trouw.nl gebruikt cookies en vergelijkbare technologieën ("cookies") onder andere om u een optimale gebruikerservaring te bieden. Ook kunnen we hierdoor het gedrag van bezoekers vastleggen en analyseren en daardoor onze website verbeteren. Cookies van onszelf en van derden kunnen worden gebruikt om advertenties te tonen en artikelen aan te bevelen op Trouw.nl die aansluiten op uw interesses.
    Cookies kunnen ook gebruikt worden om op sites van derden relevante advertenties te tonen. Cookies van derde partijen maken daarnaast mogelijk dat u informatie kunt delen via social media zoals Twitter en Facebook. Meer informatie hierover vindt u in ons cookie-statement.
    De serviceafdeling is te bereiken op telefoonnummer 088 - 0561 588.
    De servicepagina kunt u hier vinden. Klik hier om direct de digitale krant te lezen.
    Soms word mense net te lui om in hul eie taal woorde te vind, ook om bv Engelse krieketterme te vertaal want: "Nee,'' sê mnre. Geerhard Antoon de Grooth van Radio Holland en Rudi Onstein van De Telegraaf, “Hollands het sommer die Engelse krieketterme oorgeneem.''
    Dan is dit tyd om die vraag te vra wanneer is Nederlands nie meer Nederlands nie en wanneer is Afrikaans nie meer Afrikaans nie.

  • Ek haat hierdie direkte vertalings van Engelse spreekwoorde die meeste en weereens is dit omroepers en joernaliste wat in die slaggat trap. Hulle ken nie Afrikaans nie en dis nie hoe 'n taal groei nie; dis hoe 'n taal vergaan en 'n ander taal word.
    Die film het my weggeblaas (The performance blew me away)
    Jy moet jou plek nou bespreek anders gaan jy groot uitmis op 'n heerlike dinner.
    Ek ruik 'n rot (I smell a rat) Wat van: Daar is 'n slang in die gras.
    Vir die ouens wat sepies skryf:
    Gaan jy ons join, moet wees: Kom jy saam.
    Dis 'n challenge. Uitdaging.
    Obviously het hy gedink sy is mooi. Natuurlik het hy gedink sy is mooi.
    As jy nie ordentlik Engels kan praat nie, dink hulle jy is kommin en agterlik en nie dat die taal aan die groei is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top