Die storie van Panda oor Ougert se opstanding het my laat dink aan die opstanding van oom Kat wat vir baie jare handel gedryf het as koper van wol en velle op die Vrystaatse dorpie waar ek groot geword het.
Oom Kat was ’n nederige mens van sobere gewoontes en gerespekteer oor sy ouderdom en die agt seuns wat hy by tannie Tienie, sy vrou, verwek het. Oor die klomp kinders wat hy moes groot kry was hy arm en die kinders het almal hulle pa se nederigheid geërf. Ieder en elk van hulle het op ouderdom van klas tot klas gespring en as ek reg onthou het ek en die tweede jongste saam skool begin en ek het met die oudste een standerd vyf toe gegaan.
Op ’n dag het ons net gehoor oom Kat is dood en die hele dorp (slegs blankes) was by die begrafnis met die agt orrelpypies en tannie Tienie stigtelik langs die graf. Gelukkig was oom Kat goed verseker en met tannie Tienie en die kinders het dit goed gegaan.
Agtien maande later is oom Kat in sy huis op die buitewyke van die dorp (die arm deel) gearresteer vir bedrog en was die hoofgetuie in die saak teen die distriksgeneesheer met wie hy gekonkel het om die versekeringsgeld te kry en te deel. Die distriksgeneesheer is drie jaar tronk toe en oom Kat het vrywaring gekry oor hy ’n staatsgetuie was en het weer sy besigheid begin asof niks gebeur het nie.
Ek het gedog ek het nog die koerantuitknipsel van die Volksblad van Bloemfontein van ek dink iewers in 1963 want ek het dit uitgeknip en in ’n boks met all sulke dinge gehou. Tussen die tyd dat ek die vorige paragraaf getik het tot ek nou weer aan die tik is het drie ure verloop soos ek gesoek het deur al die uitknipsels in die boks. Wat ek wou weet is hoe oom Kat of die dokter gedink het hulle gaan wegkom met die ding. Wat ek kan onthou is dat die derde oudste seun wat toe in my klas was gesê het dat sy pa na sy dood elke aand huis toe gekom het om te kom huisgodsdiens en dan weer doodgegaan het.
Ek was laas in 1989 op my tuisdorp en toe het oom Kat nog geleef maar tannie Tienie was al jare dood en al die seuns het by die munisipaliteit gewerk.
Lafras du Toit

