Oom Jors en Koos

  • 1

En so sit die twee Saterdagmiddae op die ou Pastorie se stoep … twee ongeletterde filosowe, vraend en soekend na die waarhede van die lewe en die dood … oom Jors die blas, forsgeboude effe gesette boukontrakteur met yl swart hare en ‘n hitlersnorretjie, kortbroek, lang omgevoude kouse wat net-net bo sy bruin stewels uitloer en Koos … Swart Koos uit die lokasie … lank, dun en seningrig, ’n klompie yl stoppels wat poog om sy gesig toe te maak, met regop kroesies wat die stof van die Wes-Transvaal in hulle ronddra.Oom Jors op die houtbankie voor die venster … Koos op die sementtrappie na die leivoor se kant … twee boesemvriende, maar tog ver van mekaar, een wit,die ander swart, een die werkgewer, die ander die arbeider, een die opdraggewer, die ander die uitvoerder, een .... die mens wat vloek en gewone taal een kon laat klink, die ander die onderskrywer dat dit so is … Oom Jors wie se Chev in daardie jare deur die polieste ‘n gat ingeskiet is toe hulle hom as Gryshemp probeer vang het en Koos wat nog nooit verder as Wollies met die voet kon loop nie! Hulle is so verskillend … en tog so eners…die twee geesgenote wat ure kon praat en wat mekaar kon verstaan, selfs al sou die woorde dit nie sê nie, die twee wat eintlik aan mekaar verslaaf was sonder dat hulle dit self geweet het … die twee wat in dieselfde omgewing gebly het maar van verskillende wêrelde afgekom het, die twee wat albei diep geglo het, maar die Woord tog so verskillend verstaan het … En tog … beide het antwoorde gesoek op die hunkering na begrip, na verstaan, na antwoorde op die vrae wat dreig om jou kop te ontspoor …

... die doel van die lewe, hoekom blink diamante, hoekom val ons nie af as die aarde dan rond is nie,hoekom skyn die maan net soms in die nag, hoe kry die draadloos dit reg om soos ‘n mens te praat, is almal in die hemel wit, hoe kon Salomo so baie vrouens aanhou en hy wat Koos is, net vir Johanna en ... honderde ander … Vrae was baie meer as antwoorde … antwoorde oor hierdie dinge is immers nie maklik nie …

Soos dit maar gewoonlik met gesprekke tussen mans gaan, kon die liggaamlike/seksuele ook nie uitbly nie. Koos wou so graag die mens en die lyf verstaan … en hy kon nie lees nie … So het hulle dan sit en praat oor die verskille tussen man en vrou … hoe kan oë sien, hoekom praat al die mense nie dieselle taal nie, hoekom word jou kop eerste dronk as die kafferbier na jou maag toe gaan, waar kom die naels wat uit vleis uitkom, vandaan, hoekom word party mense dik van pap en ander nie, hoekom kyk Johanna se een oog nie vorentoe nie en dan ...

.. as ek by Johanna loop slaap en ons maak …… Jorsweet mos …… waar kom daai vleis nou skielik vandaan??

Sou Suid-Afrika nie ‘n beter plek gewees het as daar nog baie oom Jorse en Kose was nie????

(Fiksie met ’n bietjie waarheid daarin!)

Lucas Nel

  • 1

Kommentaar

  • Lucas;  ’n briefie wat aan die hart ruk!!  Dankie! 

    Ja, so het ons tog in die ou dae gepraat en by geleentheid, vandag ook nog. Dis lekker om te weet tussen al die skewe goed in die wêreld – en in ons pragtige land; is daar nog hoop omdat hierdie soort goed nog mooi en reg op die siel lê. Alles is nie net lelik vandag nie. En ons moet daarop konsentreeer om dit weer die norm te maak.

    Mooi loop!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top