Ek het hom maar so leer ken. Destyds as spietkop. Vir jarre kon ek sonder lisensie verbyskuur en hy het altyd ’n waarskuwende vinger gelig en ek sien sy lippe: "Moenie dat ek jou weer gewaar nie." En dan moes ek later by moeder luister na hoe onverantwoordelik mense is as hulle in ’n voertuig klim en bestuur sonder om dit wettig te doen. Die feit dat mens dink jy kan bestuur gaan nie af nie, want die dolksteek is mos maar altoos: Ja, maar dis nie asof jy ’n ongeluk gaan maak nie, iemand ry in jou vas en dan hoor ek die lang relaas oor die versekering en mens knik mos maar kop.
Oom James was, en is ’n legende hier rond. Wel meeste mense wat ek ontmoet is soort van elkeen op sy eie manier. Maar oom James was ’n spietkop, en om onder daai spesie legendes te kry is basies baie skaarser as om ’n politikus te kry wat nie mooi sal lyk met ’n tou om sy nek nie. Hyself kon net lank genoeg spietkop bly tot hy met pensioen kon gaan en toe het hy maar loop doen wat hy eintlik van kind se dae af wou doen: Boer. En sy eie mielies en bete en kole en blomkole smous. Plek tot plek ry hy en omdat almal vir oom James destyds geken het as spietkop is hy altyd welkom en algar koop maar 10 kole en 10 bete en as die Broers artappels sorteer kan jy boonop nog ertappels teen ’n winskoop ook koop.
Kettingroker. Texan filter. Min mense deesdae rook nog texans want dis mos 12 volt sigarette daai goed. Altyd op pad lughawe toe kry ek maar vir oom James laag in sy ou afgeleefde Bantam bakkie op pad iewers heen met sy vrag groente. Texan innie geel gebrande vingers.
Hy stop vanoggend hier in ’n uit die boks nuwe Isuzu met elektriese vensters en cd speler en onner die bonnet (wat logies oopgemaak moet word) ’n hele spul perde wat doeksag loop. Soos ’n moeder wat vir haar baba neurie, beduie oom James vir my. Hy vra of ek nog melkterte oorhet en ek beduie dis vroeg reeds uitverkoop en laasnag was ’n laatnag en ek konnie meer bak nie en ek vloek in Apie se rigting dat hy gouer sou beweeg het as hy ’n beter broek aangetrek het vanoggend want die broek laat hom lyk of hy hom bekak het en Oom James lê so teen die toonbank en teug aan sy Texan en ek weet hier kom ’n ding, want hy lag hier van onner uit sy groot maag uit en beduie vir my ek moet kalmeer want hy is in elk geval nie haastig nie.
En toe beduie hy vir my van die dag wat hy in groot moeilikheid was by mammie (ek weet nie van ’n man wat nog nie by sy mammie in groot kak was nie): Want sien, oom James drink nie. Glad nie. Wel, water en Coke en tee en koffie by die liters maar geen sterk drank nie. Hy beduie vir my van die aand wat sy vrinne hom uitgevat het en ek vermoed hy lieg maar ek vra nie en gaan beslis nie in die pad van sy storie kom nie. Hy beduie dat die manne hom daai aand so dronk gemaak het dat hy homself "letterlik, so in my stoel bekots" (ek haal hom verbaal aan) het. Van hier van sy kraag of tot kort duskant sy nealtjie. Hy beduie dat hy erg beswaard was oor die situasie maar die manne het ’n plan gehad: R5 muntstuk. Hulle beduie hom dat hy, as hy wel eendag aan ’t huis kom en mammie die suur reuk kry hy bloot moet beduie dat iemand anders dronk geraak het, op hom gebraak het en toe maar R5 gegee het om die hemp te "dry clean".
Oom James beduie dat hy wel met moeite die huis ingestrompel het en mammie inderdaad dik die donner in was en die suur reuk gekry het van kos en drank wat deur ’n sisteem is. Hy het die storie presies vertel soos die manne in die kroeg hom beduie het en toe hy sy hand in sy nat hempsak steek haal hy toe twee R5 muntstukke uit. Hy beduie vir mammie oor die ongeskikte dronkgat innie kroeg waar hy nooit ’n voet sit nie wat sowaar op hom kom kots het en mammie lyk of sy die storie sluk en vra oor die ander R5 muntstuk.
"Nee, sien, ek het myself bekak ook."
oester


Kommentaar
Jissie ou Oester, hier verwag ek weer een of ander melancholiese einde aan die storie. Ek het myself amper bekak van die lag en sit nog en giggel as ek aan Oom James dink. Ek sal definitief jou boek koop.
heita, skot!
ons skotte is almal goeie mense hoor ekke.
nee, daar sal nie 'n boek wees nie, goeie genade nee! dis die mense wat hier praat. ek dra bloot oor wat ek sien en probeer maar oordra.
groete uit oesterland!