Oom Daan
Ek het aanvanklik nie op jou skrywe reageer nie, want volgens my is die antwoord op die vraag wat jy stel, voor die handliggend. Oom Daan, ek is bewus daarvan dat jy geen Christen is nie.
Tog is jy 'n mens, en ek is seker dat jy nes enige ander mens ook daarna strewe om 'n beter mens te word. Het jy nog nooit die ambisie gehad om beter te doen in jou werk nie? Het jy nog nooit daarna gestreef om beter op te tree teenoor jou medemens nie? Of is jy perfek en het jy alreeds al hierdie dinge bereik? Is dit so 'n slegte ding om daarna te strewe om beter te raak in die dinge wat vir jou belangrik is?
Dit is maar dieselfde met die Christenskap. Ons as Christene sal nooit volmaak wees nie, en ons kan altyd daarna strewe om beter Christene te word. Beter as mekaar is ons nie, maar ons kan mekaar motiveer om in ons eie persoonlike hoedanigheid te groei en nog nader aan Christus te lewe.
Sien, Oom Daan, dit is nie so 'n moeilike konsep nie!
Ek is jammer as jy my brief as 'n gevloek interpreteer, maar as jy die dinge lees wat aan my geskryf is, sou jy verstaan hoekom ek so reageer het. Soms moet mens maar tot hulle vlak daal as jy die boodskap wil oordra. Mens dring nie deur tot daardie gespuis indien jy nie hulle taal praat nie. Ek gaan ook nie net hier sit en toelaat dat daardie groep karakters op my trap nie!
Groete en seënwense vir jou
Tant Alie

