Oom Daan (en Hans ok)

  • 0

Liefste Oom Daan

Jy is darem verskriklik moedswillig en wil nou hê dat ek myself in beter PK-taal moet uitdruk. Wel ons kan seker kyk wie die PKste kan wees, maar ek vind dit so effe vervelig. Ek is seker jy het heel goed verstaan wat ek bedoel het. Ek is nie seker dat n heen en weer antwoord sessie enige nut sal hê nie. Maar ek sal enigiets een keer probeer:

1) ’n Mens is nogal dom en arrogant as jy jonk is – in alle geval, ek was (is) dit sekerlik. Ek dink daar is by heelwat mense ’n vernuwing in hul denke na die geboorte van ’n eerste kind. Dit het by my so gewerk. En as jy verder dink dat ek "vegter" in enigiets meer as ’n metaforiese konteks gebruik het, dan sit jy ok die pot mis. Miskien sou voorstander, aanhanger, ens meer korrek wees? Weereens te PK vir my. (Of dalk het dit net nie daai grensvegter-gevoel vir my nie.)

2) Jy weet sekerlik beter as ek dat daar wette is wat slegs op vroue van toepassing is. Jou vraag is dus irrelevant. Ek sou egter byvoeg dat hierdie wette bestaan omdat daar binne meeste gemeenskappe erkenning is dat vroue soms meer weerloos as mans is. Die probleem is gewoonlik dat daar in praktyk nie hieraan aandag geskenk word nie. Maw die wette word nie noodwendig konsekwent toegepas nie. Dit is tog nie ’n nuwe idee in Suid-Afrika nie, is dit? So ver ek kan agterkom is almal gelyk voor die reg in Suid-Afrika. Dit beteken egter nie dat daar nie in die praktyk diskriminasie bestaan nie – weereens niks nuuts nie. Vroue behoort natuurlik nie meer regte te hê nie, maar daar behoort beskerming te wees teen enige diskriminasie. Die vraag of daar ook beskerming behoort te wees vir ander groepe waarteen gediskrimineer word is relevant (en ek stem heelhartig saam met so ’n proposisie), maar buite die konteks van my oorspronklike skrywe – of moet ek dit nou in fyn detail gaan kwalifiseer het.

3) Daar behoort niks in enigiemand se pad te staan nie. Jy sou seker wou hê dat ek dit moet kwalifiseer met "ekstern" of iets dergeliks. Wiet darem nie Oom Daan. Dan gaan ons mos heelnag hier sit en kwalifiseer. As jou gidshond te bang is vir helikopter vlieg is dit seker ook ’n "eksterne" saak, maar wragtig moet ek nou aan elke moontlike uitsondering ook dink?

4) Dit is nie ek (of mans) wat die regte uitdeel nie. Dit is die staat en die gemeenskap(pê) binne die staat. Soos jy opgemerk het is daar ’n regse aspek en soos ek opgemerk het, ’n sosiale of "regte lewe" aspek ook. Suid-Afrika is al lankal oor daai eerste hekkie, maar dit is by die praktiese gelykheid waar hierdie nasie so effens faal. Jy behoort ook te weet dat baie vroue soms heel te gaaf is om die loodpyp of loodpil te gebruik wat nodig sou wees om nuwerige idees by baie mans se koppe in te kry – veral rondom gelyke behandeling en teen diskriminasie.

5) Yip.

Ek is dan ook maar bly dat ek nie op daai baie plekke in die wêreld is nie Oom Daan. Ek het al klaar baie moeite om myself net hier uit die gevaar te hou.

Nou ’n woordjie aan Hans

As jy nie kan lees nie en dinge wil verdraai, voel vry. Ek het jou geensins aangeval nie – om die waarheid te sê was ek eintlik half jammer vir jou. Miskien moet jy nie daai groen twak rook voor jy SêNet lees nie – ek hoor dit maak mens paranoïes.

In alle geval, groete vir beide van julle,

"koos sas"

Brief verkort. – Maggie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top