Oom Daan en die

  • 0

Beste Oom Daan

Jy maak ’n akkurate observasie rakende spesifieke situasies in die lewe, waar mense, of groepe mense moet waak om ’n mederwaardigheidsgevoel teenoor ander te ontwikkel.

Die keuse wat individue rakende hulle kerkverband maak, lyk vir my na die idee waaroor jy die meeste peins. Ek kan nie verkondig dat my kerkverband my enigsins ’n beter Christen maak as die persoon wat ’n ander kerk, of manier van aanbid, verkies nie. Dit gaan eintlik nie oor die Kerk of wat sodanige Gemeente verkondig nie, maar eerder oor die individu se spesifieke ervaring. Die Kerk is daar om die riglyne vir aanbidding neer te lê, maar speel ook ’n groot rol in die opbou van die Christelike gemeenskap. Dat daar verskeie maniere in die uitlewing van Sy Woord bestaan, kan niemand betwyfel of afskiet nie.

Tog is daar sommige Kerke of Groepe wat wel afgedwaal het van die Woord en riglyne wat die Skrif stel. Dit is nie ons plig om ons beter te ag as diegene wat dalk meegesleur raak in valse denkwyses en dwaalleringe nie. Dit is wel ons plig om daardie mense, na die beste van ons vermoë te probeer oortuig dat hulle wel ’n verskil kan maak in hulle eie lewe indien hulle bereid sou wees om terug te keer na die Woord. Ons moet dus nederig bly, maar ons plig is tog om die wat afgedwaal het daarop te wys dat hulle ’n geleentheid het om weer nader aan God te beweeg. Ek sal beslis met jou saamstem dat dit vir baie van ons moeilik is om nederig voor te kom in hierdie proses, maar ek betwyfel of die meeste Christene uit meerderwaardigheid Getuig. Ons doen dit omdat ons so graag wil he dat ons medemens ook die Wonder van die Ware Christendom kan ervaar.

Ek kan jou waarborg dat ek nooit myself beter ag as ander nie. Ek het al telkemale genoem dat ek deernis het met mense van verskillende oortuigings en nie oordeel nie.

Ek het geen probleem met mense wat opregte, kritiese vrae stel rondom geloof nie. Ek het wel ’n probleem as mense aggressief of spottend tekere gaan teenoor dinge wat vir my en miljoene ander Christene belangrik is. Die heel ergste is mense wat beweer hulle is Christene, en dan openlik valshede verkondig en ander Opregte Christene beswadder. Ek dink dus nie ek is beter as Cornelius nie, maar kan jy my werklik blameer as ek hom aanspreek oor sy gedrag?

Groete

Tant Alie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top