Terwyl Duitswester vir Oom Daan tereg berispe oor dié se ligsinnige aanbieding van dinge wat hy nie verstaan nie en hom kwel aangaande die Woord, is dit duidelik dat Oom Daan homself besighou met die Woord en maar ’n bot manier het om te vra vir klaarheid omtrent dit wat hy nie begryp nie, getint met ’n allemintige skeut vooroordeel ook, natuurlik. Net jammer dat Duitswester toe nie vir Oom Daan reghelp saam met die berisping nie …
1. Die Woord is deurspek met insidente van God se wonderwerke. Dit verbaas nie dat een enkele sodanige gebeurtenis nie uitgesonder word vir rapportering asof dit ’n koerant is nie. Die vier evangelies het elk hul eie evangeliese aksent, en laat die klem dienooreenkomstig val om daardie aspekte te beklemtoon met verwysing na ’n sentrale verwysingsraamwerk. Matteus se doel is om die Persoon van Jesus Christus bekend te stel in besonder, tesame met die breë evangelie vanuit daardie perspektief. Daarom is gedetailleerde vermelding van die gebeure rondom die kruisiging in detail van belang. Mattheus het Christus persoonlik geken;
2. Dit is nie asof die opgestane mense met plakkate geloop het om hul opstanding te adverteer nie. As hulle werklik zombies was, sou dit wél opslae maak … maar nee. Die Romeinse owerhede het die opstanding net so min soos Oom Daan verstaan en die verskyning van mense wat nie voorheen op die sensus lyste was nie, waarskynlik afgemaak as swak rekordhouding deur die betrokke amptenary. Nie belangrik genoeg om te vermeld in die historiese annale van Rome nie. Voorts was die 14 jaar-siklus sensus juis net afgehandel ongeveer 5 jaar voor dié gebeure (die sensus was ten tye van Christus se geboorte, toe weer 14 jaar uitmekaar later en sou eers weer plaasvind ongeveer 9 jaar ná Christus se kruisiging en opstanding);
3. Die opgestanes was waarskynlik oor ’n wydverspreide area en was waarskynlik oud en het maar stilweg saam met hul oorlewende familie gewoon, soos die gebruik destyds onder mense was vir families om saam te woon. Boonop was mense se bestaan en gebruike maar eenvoudig destyds. Die doel is sekerlik om te dien as lewende simbole om juis aan te dui dat Christus se dood, die begin van nuwe lewe beteken vir die mens en dat Christus mag het ook oor die dood;
4. Die opgestanes kon enige vooroorlede gelowiges wees – oorlede in die tyd van Jesus se verblyf as Mens op aarde, of selfs voor dit. Dit is glad nie relevant of hulle Christus persoonlik (soos die apostels) geken het in lewe nie. Die apostels se aanvanklike “twyfel” is gou weerlê nadat hulle die HERE weer ontmoet het en Thomas se naam is nie verniet Thomas nie … Christus het nie met die dissipels vooraf die presiese detail van Sy opstanding bespreek nie. Hulle het Hom verwag, maar nie geweet presies hoe en wanneer nie;
5. Die verlossingsloon vir sonde is betaal die oomblik toe Jesus se liggaam sterf, nie eers 3 dae later nie – Die opgestanes was reeds gelowiges en dus reeds verlostes – die doel van hulle opstanding is reeds hierbo in 3 genoem. Jesus het hulle uit die dode laat uitkom, terwyl Hy self daar gegaan het om verlossing aan te kondig vir diegene wat lank tevore reeds gesterf het. Hierdie geld ook vraag 6.
Mattheus het nie gefouteer nie. Mense wat nie glo nie, fouteer wél.
Terloops, die Joodse midrash het daar niks mee te make nie. Mattheus was verseker geen fariseër nie. Die midrash was hulle verwronge weergawe waaroor die HERE baie direk met hulle gebots het – welke hy “gebooie van mense” noem.
Groete
Kobus de Klerk

