Oom Apie

  • 4

Ek het jou mos destyds al beduie oor oom Apie van Rensburg. Die klein mannetjie met die slim planne en sy veilings. Skatryke ou donner, so het die mense eers agtergekom toe hy mos die dag besluit het hy gaan self veiling hou en alles wat hy het verkoop. Groot boere met nog groter skuld moes kop onderstebo staan want hulle het altyd afgekyk na die klein mannetjie met die groot bek. Altyd oor-nederig en sommer ge"meneer" as hy gesien het hy kan 'n ploeg of 'n skaap of hoender vit 'n appel en ei optel.

Want sien, niemand het ooit gedink die ou man het geld nie. Niemand kon hom loop rapporteer nie want hy het nie vir hom 'n blinknuwe Mercedes (meeste mense se doodsteek) elke jaar bestel nie. Geen idee gehad watse ding 'n SUV is nie en maar met sy ou Cortina-bakkie met die hoenders en kole en wortels agterop gesmous. Geen Ray-bans gedra nie en het maar sy ou army hoedjie gedra en sy ou verslete broek. Want hy het geweet: As die mense kan sien hy het geld kan die staat dit ook sien. En dan het hy moeilikheid.

Alles altyd kontant gedoen en as jy 'n tjek uitgeskryf het moes dit 'n kontant tjek wees en hy het so 'n orgie gemaak van die tjek dat menige maar die tjek gekanselleer het en iewers die kontant loop uitgrawe het. Want oom Apie het geweet dat iemand hom daar in ABSA sou gewaar en hy het nie daai kans gevat nie.

Oom Apie is intussen onder die kluite in en ek dink SARS het nie geweet wat hulle getref het toe die boedel beredder is nie. Want hy het letterlik miljoene vergaar. Nou sit sy dogter in 'n tehuis. Weliswaar in weelde. Sy het geen idee waar sy is nie en sy het nog minder 'n idee hoe om die miljoene nuttig te gebruik en uiteindelik gaan die magiese "staat" dit uiteindelik erf om dit te spandeer om tenderpreneurs te vergoed.

Jy kan nie 'n oorlog wen as jy een teen tien is nie. Jy kan nie hoop om iewers te kom as al die odds teen jou opgestapel is nie. Jy baklei nie iemand met 'n presies uitgewerkte agenda deur op sy gevoel te probeer speel nie. Hy gaan maak of hy na jou luister en in elk geval doen volgens die beplanning. Belangrikste: Jy kannie veg of vlug as jou broek om jou enkels is nie.

Die juigkommando skreeu rassisme elke keer as jy jou mond oopmaak. Skreeu ten hemele oor hoe sleg jy is as jy jou werk probeer doen. Beboet jou omdat jy asemhaal en verkondig dit die wêreld vol hoe sleg jy en jou voorsate is en was en vir ewig sal wees. Dus: Waarom hulle teleurstel?

Die kaderaangestelde idioot wat letterlik uit die bos gehaal is om 'n departement te administreer voel niks vir my nie maar glimlag as ek my beursie oopmaak as ek 'n kontrak wil hê. Ek weet hy dink niks van my nie omdat die juig-en-weenkommando sommer kollektief en ongevraagd die flanke oopgestel het. Waarom moet ek hom probeer bevredig? Om wat te bereik? Sy respek? Sy vertroue? Dink jy werklik dat Malema of Zuma of wie ookal jou blad gaan skud sonder dat jou wit gesig iets in hom gaan wakker maak? Dan het jy duidelik sopas hier aangeland. Dink jy werklik die klakommando se geweerklaag word iewers ingeneem? Dan leef jy in Lalaland. Al wat jy word is 'n idioot wat deur beide partye misbruik word. Ek omdat ek jou beskou as bloot net nog 'n kommoditeit soos brood en melk en Malema omdat hy jou kan gebruik om sy huis klaar te bou.

Ek dink terug aan oom Apie en ek weet nie of ek moet lag huil nie. Jy wen nie teen 'n oormag met gewere nie, want hy gebruik jou geld waarvoor jy jou gat af werk om bloot net nuwe kanonvoer in te stoot. Jy kan net sover in die howe veg tot hy sy eie regters en aanklaers aangestel het. Jy kan net sover op die JSE veg tot jy moet buig voor die letterlik derduisende regulasies. Jy kan net wen deur dit wat hy ook as primêre behoefte beskou te misbruik tot jou eie voordeel. Want elke mens moet eet, en moet klere aanhê en in Afrika moet mense mos altyd die kar van die "onderdrukker" (die "slim" filosowe sien nie die ironie nie) 'n duur Duitse voertuig bestuur of agterin sit. Die mees skreiende ironie is dat die grootste onderdrukte steeds een van die mees onderdrukkende tale ooit as lingo aanvaar het sonder dat 'n enkele skoot daaroor geskiet is.

Gee vir die malende en stakende massas Coca Cola en KFC en McDonalds en Nandos (teen 100% markup natuurlik). Sorg dat jy iewers in die tou is as hy sy BMW kontant koop(20% kommissiefooi). Sorg dat jy die IT verskaf vir sy BEE en staatsgefinansierde maatskappy wat aan die staat teen 'n 2000% markup boeke verskaf. Iemand noem dit uitbuiting en die manne op die JSE noem dit donners goeie besigheid. Ek noem dit payback. Want iemand sal moet hoes vir die feit dat ek, sonder my medewete en alte lekker kollektief skuldig bevind is aan sekerlik die mees skreiende menseregtevergrype ooit. As julle my en my direkte voorsate klaar verhoor het en skuldig bevind het moet julle nie kla as ek die regskostes net so ongevraagd van julle verhaal nie. En nee, gewetespeletjies gaan nie werk nie want ek het al vir jarre lank nie meer 'n gewete waar dit mense met agendas aan betref nie. Hoe meer die gewetenspolisie wroeg en wremel en wriemel hoe meer geld kan ek en my nieblanke "vennoot" uit die slimmes maak.

God is dood. Mammon regeer. Vir 3000 jaar al en niks of niemand kan dit verander nie. Ek vir een wil nie hê dit moet verander nie. Die manne met die slim redenasies wil dit verseker ook nie hê nie, anders sou hul bankbalanse nie so goed gelyk het nie.

oester

  • 4

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Dankie Oester ... so leer mens elke dag ... Mammon regeer miskien wel hier en daar ... maar God slaap nie ... selfs Oom Ampie se ryke nalating is toe ook uiteindelik maar nie die blinde sambok gespaar nie ...

  • 'n Baie interessante verhaal veral vanuit 'n ekonomie-oogpunt.  Mens bou vir jou welvaart op om lewensgehalte te koop, dinge soos 'n Ferrari of 'n Lexus of, as jy nou minder uitspattig wil wees, 'n Mercedes of 'n BMW.  Ook 'n argitekontwerpte strandhuis en 'n dorpshuis kompleet met binnehuisversiering deur 'n deskundige en tuinverfraaiing deur 'n landskapsargitek, die soort van ding.  So waarom sou oom Apie al die rykdom vergader as hy dit nooit gebruik het nie?  Om sy kinders in weelde te laat leef?  Maak nie sin nie; dis soos om dromme en dromme petrol te vergader en jy het nie eers 'n kar nie.

  • dit is juis vir my die tragiese van oom apie van rensburg. hy het opgegaar en self niks daarvan geniet nie. alles weggesteek en is 'n miljoener dood. sy dogter is verstandelik gestremd en weet van geen sout of water nie. onthou ook dat uitspattigheid vir oom apie en andere niks werd was nie. hy was tevrede met sy lewe. hy het tot kort voor sy dood rondgery en ou potte en panne en skroot opgekoop en opgetel. dis al wat hy gehad het of dalk ooit wou he. ek moet byse, hy was 'n harde drinker (my soort ou). dit het ek eendag goed agtergekom toe ons 'n trek moes ry oor die berg (robinsonpas) van oudthoorn se kant af. ekt myself vele kere amper natgepis daai dag en oom apie het bloot sy bekende kekkellag gelag en aanhou sluk.

    net nog iets: hier loop honderde mense rond wat stilweg kan getuig van hoe einste suinige oom apie kos en geld en hoenders en groente uitgedeel het. hy het nie gevra of iemand honger was voor hy gegee het nie. hy het gegee en sy woorde was altyd (ek hoor hom nounog hier in my agterkop): "moenie worry nie, ons worry mos nie. anderdag dan maak jy met my reg" en as mense wel wou regmaak dant hy skoon vergeet en gese "ons vergeet maar daarvan want ek kan niks onthou daarvan nie"

    my soort ou gewees die ou man.

  • CorneliusHenn

    Oester, ek wil net weereens vir jou dankie sê vir jou deelsaamheid met hierdie verhale... dit laat 'n mens besef hoe ongoddelik dit werklik is om ander te wil etiketteer op grond van jou eie "spirituele intelligensie"... ek leer gedurig self 'n paar lesse daaruit... oom Apie se herinneringe bring gedagte in my hart oor hoe dit is om onder die aanvoering van 'n Engel te leef... dit behels selde indien ooit 'n gemaklike lewe... die moediges wat sulke leiding aanvaar word op 'n morele weg deur diep klowe en oor ruwe berge geneem... mag Jesus Christus onse HERE oom Apie se gees in vrede bewaar ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top