Name van persone en plekke verander
Waste Land?
Wie, Generaal, gaan ons hier uitlei?,
Van die braakland se wilde geweld bevry?
En sal die volkies saans nog koring gaan sny?
Sal "ons" ooit die grawe, gewere, granate trugkry?
Die fluite en harpe, My Sarie Marais
Uit die wilgertakke van Mooirivier uitkry?
- Variasie op 'n tema van Afrikaanse poplied
My vriend Cor is nie iemand vir seremonie nie. Toe hy dus voor die witgekalkte sierpoort van die plaas "Goede Hoop" in die distrik Delareyville stop, die bakkie se enjin afskakel en met sy verleë en beskeie glimlag begin praat, was ek nogal verras en verbaas: "My ou maat, ek het jou hierheen gebring om iemand te ontmoet wat ek as 'n rasegte boer beskou.”
My probleem is egter: Is "raseg" nog gangbare munt en bruikbaar in terme van ons nuwe bedeling en sy waardes? “Dis die doel van my uitnodiging aan jou. Jy kan aan die einde jou eie gevolgtrekking maak. Dus, wees maar aan die begin geduldig …”
By die voorhekkie van die Kaaps-Hollandse gewelhuis (sic: paleis!) het 'n skraal, beskeie en "soft spoken" Wes-Transvaler: Gert, sy regteroog bedek met 'n oogklap, ons in tipiese Wes-Transvaalse koöperasiedrag van 'n saaklike grysgroen safaripak ontmoet en hartlik binnegenooi.
Hier is ek deur my gasheer aan sy aantreklike vrou en twee dogters voorgestel, en het ons 'n vroeg-oggend "high tea" geniet, Gert het sy vrou en dogters hierna liefderyk totsiens gesoen-groet, sy kakiehoed opgesit en uitgeloop om ons op 'n toer deur sy graan- en beesplaas te begelei.
Selfs die reuse-kannas in volle blom langs die onberispelik gesnyde grasperke - soos in die Silbersteins se Welgevonden - het nie sy aandag ontsnap toe sy vingers die kannablare se florerende bestaan in 'n nou kenmerkend- berekende streel- of groetbeweging erken en eerbiedig het nie.
By sy buitekamer verby waar hy na die dood van sy ma as wees grootgeword en met hamer en klip sy oog verloor het, het ons deur die massiewe skuur beweeg waar die roomkleurige Mercedes 500, twee Volkswagen-sedanmotors, drie Toyota-bakkies en 'n vloot trekkers in netjiese rye geparkeer was.
Ons het die eerste donkergroen mielielande met die koppe wat al swaar hang, teëgekom, die pluimvee- en Duitse merinoskape bewonder wat hulself ontspanne en pastoraal soos in Psalm 23 op groen weivelde neergevlei het en hierna 'n demonstrasie meegemaak van ultra meganisasie toe die uitgebreide besproeingstelsel met sy netwerk van geute, pype, watertenks, spilpunte, reservoirs, boorgate, damme, windpompe en dieselenjins met die druk van 'n knoppie op die rekenaarpaneel aan - of afgeskakel is.
Kosbare koel water het soos 'n reënwolk oor die lusernlande uit die sproeiers van die lang vlerke van die spilpunt gehang, en ek moes eers vir 'n oomblik stilstaan om my positiewe te herwin en te glo dat dit, ja, alles - soos in die liedjie - waar en werklik was.
Regs voor 'n welige populierbos het die nedersetting van netjiese hophuise met groentetuine en vrugtebome van die werkers en hulle families die ruimte romanties en kleurvol gevul. Die woelige jongklomp op die oop grond het rugby en 'n ander groep krieket gespeel, terwyl pa's en ma's die geleentheid benut het om na ses dae se harde arbeid op die Sabbat te rus.
Dis hier waar Gert halt geroep het toe hy op sy horlosie kyk en aankondig dat ons halfpad was en eers moes terugkeer huis toe waar sy vrou ons vir ete verwag het.
Gedagtig dat ek daaraan gewoond was om verlore paradyse a la Milton of Watermeyer literêr te herwin, is my stemming egter versteur deur die nou meer eksplisiete en deursigtige angel in die appèl tot en verwagting van 'n redelike en oorwoë gevolgtrekking waarmee my vriend Cor my die oggend gekonfronteer het.
Ek het dus as tussenspel om die komplekse veelheid van indrukke binne 'n ideologie van "a better life for all" te verreken, maar veral ook met die oog daarop om die laaste toneel van die werkers en hulle huisies en kinders - waaroor ek 'n betekenisvolle stilswye bewaar het - as kern en tooi van my belewenis en gevolgtrekking te gebruik, die onwillekeurige vermoede gekry dat my vriend my met die beloofde gevolgtrekking in 'n intellektuele val gelok het.
Aan die einde van die reis sou ek binne die konteks van Tony Ehrenreich se konfrontasie - filosofie en die De Doorns-aktiviste se oënskynlike vernietigingstrategie - as mikrokosmos van die uitdaging ons land se transformasie ideologie in 'n era van grondwetlike onbestendigheid - 'n publieke gevolgtrekking moeilik in gees en waarheid tot 'n samehangende teks van tese en antitese kon versoen. Maar dit was gelukkig vir later.
Al wat intussen in my kop gemaal het as leidraad vir 'n gevolgtrekking was G A Watermeyer se "Reën in die Voorwinter" en die dekonstruktiewe vertolking daarvan in terme van die literêr-ironiese ontkenning en onteiening/ toe-eiening in die teks van die volkies (sic) se daaglikse arbeid in die sweet des aanskyns wat in die boer die idilliese maar chauvinistiese gevoel van selfvergenoegdheid gewek het - sonder die besef of erkenning of morele bewustheid of selfs verwysing na hulle wat buite die weerstandige sekuriteitsone van die "vier mure teen die suidewind" van voordag tot laatmiddag geswoeg het, tesame met hulle waaksaamheid snags in pondokke van klei en strooi wat grootliks vir sy nagtelike welbehae verantwoordelik was:
(Alles myne: met apologie)
Vier mure teen die Suidewind-
MY swartoogvrou, MY blondhaarkind.
Kareehoutstompe in die vuur,
ketel en kaggel brons geskuur.
MY bontkoei lê op koringstrooi,
MY swart haan roep die dagbreek rooi.
Soet deur die lang nag sing die reën,
moflammers sal EK vroeg-Mei speen.
blink breek MY ploeg die middelvoor.
Ons het na die meesterlike middagete van tradisionele Maleise en tradisionele geregte wat geen Franse chef sou kon ewenaar nie, weer dadelik aangestryk om die hoogtepunt van die ekskursie, naamlik Gert se eksklusiewe en beroemde Brahmaankudde, te gaan besigtig.
Asof onwerklik in die dorre landskap van Wes-Transvaal, het Gert ons eers teen een van die min hellings op die karoo-vlakte deur sy vrugteboorde gelei waar jong sitrus- en sagtevrugtebome reeds in volle bloei gestaan het.
En algaande het ek deel van die metamorfose van die normaalweg dorre Wes-Transvaalse landskap geword om soos 'n "Elsie in Wonderland" nie meer ten volle te glo wat ek sien nie maar my sekerhede met die onseker- en onvoorspelbaarheid van dekonstruksiewe uitkomste te vervang.
Was hierdie scenario - soos Watermeyer se dramaties-ironiese voorstelling van die boer se vergenoegd- en veiligheid in sy "vier mure teen die suidewind" 'n reële belewing van my reeds gewraakte dekonstruktiewe interpretasies as letterkundige?, het ek gewonder. Was hierdie plaastonele in tegnikleur die ironiese uitdrukking en neerslag van 'n Eurosentriese kulturele en intellektuele gespletenheid soos in 'n rolprent wat voor my oë ontrol word? Of was my verstand deur postmoderne kenteorieë gekontamineer?
Het die Sabbatsreisreis my oordeel en waarnemingsvermoë in hierdie Afrikaanse Eden begin aantas in die sin dat ek soos die eerste mensepaar toenemend bewus begin raak het van die teenwoordigheid van die "boom in de midden van het hof" (Marais) en enige oomblik in my verbeelding die verleidelike ideologiese invloed en beïnvloeding van die slang sou begin voel wat my aanhits om hierdie paradys as die dekadente inenting op en die kweek van die vrugte van 'n on-afrikaans- Europese "boom van kennis van goed en kwaad" in Afrika te identifiseer en bevraagteken?
By die moderne kleurvol- geskilderde sinkplaatbedekte vark- en koeistalkonstruksies verby, met alles binne behulp van die nuutste tegnologie geoutomatiseer, het ons langs die garslande by die beeskampe geland waar Gert buite 'n kraal teen die stewige kreosoutreëlings uitgeklim en, soos met al die vorige demonstrasies, die byna prehistories en mitologies gestalte van die Brahmaanbul wat uit die skadu van 'n reuse-doringboom voor ons oë verrys het, liefdevol oor sy nek en kop gestreel.
Was hierdie toneel die finale virtuose openbaring van die Afrikaner se gewaande mandaat om te besit, bestuur, en die arbeid van ander, ondanks die afskaffing van apartheid en 'n demokraties-verkose regering, nog onbewustelik vir onsself, toe te eien?
Gert het flink van die paal afgespring en met 'n houding van nederige dankbaarheid gesê:"Vriende, ek dink ons moet hier stop. Dit was my doel om te demonstreer dat Afrika nou nog genoeg ruimte skep vir 'n voortgesette ontginning, ontwikkeling en evolusie van ons erfenis. Of hoe sien jy die saak Prof?"
My woorde was min en besadig toe ek buite die konteks van my ideologiese verwarring, die eienaar bedank het vir sy tyd en aandag en sy kennelike liefde vir sy grond en sy toewyding om soos in Psalm 8 oor dier en plan (en werkers?) te heers.
En sy reaksie het my nog verder in die diep kant van die dilemma gegooi toe hy inspirerend vanuit sy ideologiese perspektief reageer met: "Ja, want wie weet hoe verganklik alles hier is! Maar een ding weet ek seker dat ek ook soos die beroemde violis wat in die hemel kom, nadat Petrus hom by die hek vra wat hy op aarde sou doen as hy 'n tweede kans kry om van voor af te begin, geesdriftig sal antwoord: "Asseblief, om voort te mag gaan net daar waar ek opgehou het!"
En die diepgewortelde ideologie en sentiment het duidelik uit sy woorde gestraal! Ek het toe besef dat Gert geen akademiese ignoramus of rassistiese opportunis was nie maar dat hy in die galery van argetipes soos Willem Adriaan van der Stel en die simboliese impak van Vergelegen tot en met die latere Europese argitektoniese- en landskapytransformerende invloede van die Britte (soos in Blum se Rooinekke op Hermanus) 'n rasegte boer en Boer was - ondanks die onontkenbare skisofreniese en wedersyds uitsluitende tweespalt in die Afrikaner se toeëiening van en kultuurvestiging van Afrika op die wysie van die besielende maar tog anakronisties woorde van: “O Boereplaas, geboortegrond - Jou het ek lief bo alles!"
En dat hierdie Eurosentriese inslag van ons kultuur nie alleen naas die Brits-imperialistiese voorbeelde vir die mitiese toeëiening en institusionalisering van die Apartheidsideologie verantwoordelik was nie maar dat dit as 'n onuitwisbare en onvernietigbare oorlewings - en skeppingsdrang in die onderbewussyn van 'n toonaangewende groep Afrikaners sal voortleef, selfs in 'n gesublimeerde vorm.
Want terminologies sal hulleself wel trots as Afrikaners identifiseer:
Trots is ons om die naam te dra
Van kinders van Suid-Afrika
Maar in wese sou dit vir Afrikane bloot die masker of denkfilter bly van 'n onuitwisbare onafhanklikheidstrewe en 'n aristokratiese ideaal (sic) soos dit in die denke en dade van argetipes soos Pieter Retief, presidente Steyn en Paul Kruger, generaals Hertzog, De la Rey en De Wet tot by Van Wyk Louw en die Ruperts en verder, selfs onbewustelik, as 'n "dieper reg" gekoester sal word.
En dat Ware Afrikane soos Herrie, De Buys, Frederik Bezuidenhout, ds Boesak en aartsbiskop Tutu progressief minder geneë sal voel om die ideologie van akkulturasie tussen Wit en Bruin en Swart en hulle kulturele voortbrengsels bloot antropologies langer hier te verdra en dat ons toenemend die simptome en wonde sal merk van 'n radikale Pan-Afrikanisering binne die konteks van 'n Vryheid Sonder Grense.
En hierdie insig, het ek besef, was pynlik en totaal in stryd met my liberale en eerwaarde Tutu se geestelike droom van 'n reënboognasie!
Dit was my gevolgtrekking en toe ek Gert nogal seremonieel, en nie sonder ironie nie, geluk wens met die paradys uit klip wat hy hier tot stand gebring het, was dit binne die konteks van my oordeel wat vermoed het dat ook hierdie Eden soos ander Kaaps-Hollandse Paradyse van Goeie Hoop noodwendig uiteindelik in die onversoenbaarheid van twee botsende ideologieë afgetakel en as Gondwana geafrikaniseer sal word.
Na ons by die gewelhuis ons gasheer- en vrou gegroet en bedank het, het ek en my vriend in sombere stemming by die sierpoort verby, huis toe gery.
Humphries du Randt


Kommentaar
Baie dankie vir jou bydrae. Ek sit al lank en wonder hoe kan Afrikaner/Boere adel beskryf word. Afgesien van die wanpersepsie van die Afrikaner/Boer is daar adel onder ons. Ek ken mense wat kwalifiseer as adel onder die Afrikaner-gemeenskap. Jou ervaring op die man se plaas onderstreep my siening van Afrikaner/Boere adel . Hy/sy dink wyer en groter as die alledaagse beuselagtige krapperigheid van politieke onderstromings. Hy/sy werk hard, skep voorspoed, nie ten koste van ander nie, en laat iets na. Hulle is dankbaar, nederig en besef die verganlikheid van die mens en aardse besittings. Hulle is net rentmeesters.
Goeie dag Humphries,
Ek moet bieg dat ek jou bydrae 'n paar keer moes lees.
Dis werklik besonders midde die algemene redetwis so berug op die werf, en ongewoon daarby.
Ek sou egter berus in die feit dat Gert se toewyding, geneties is en heel tereg as raseg beskryf kan word.
Daarby stel ek dit met hoofletters; dat ander aard in die mensheid behalwe Boer, ook kroon dra.
Nietemin, meeste Afrikaners is hul Boereplaas kwyt.
Hul ywer elders in die opbou van ons land word vandag deur wetgewing geteiken, onderdruk en uitgesluit.
Tog voel 'n mens dankbaar vir die enkele Boere wat wel nog skitter - al is dit net om te bewys wat dalk vir altyd verbeur is na die laaste vredesooreenkoms in hierdie mooi land.
Boeregroete,
Cornelius