Onthou jy nog die see se blou? ’n Villanelle in die tyd van die koronavirus

  • 2

Fotobron: Pixabay

Onthou jy nog die see se blou? 
Iets vorm strak in die geheue.
Van blou onthou ek net die rou

soos branders oor die kuslyn vou,
’n blougroen waterspieël.
Onthou jy nog die lug se blou

met ganse aan jou toevertrou 
in vorm oor die troposfeer?  
Van blou onthou ek net die rou.

Die skemerlig verdonker gou
die afstand het nou ingetree.
Onthou jy nog die nag se blou   

soos mistigheid die see vergrou,
die land verhul in skaduwee? 
Van blou onthou ek net die rou.

Wat oorbly tussen my en jou?
Skakerings lug van berg en see.
Onthou jy nog die see se blou?
Van blou onthou ek net die rou.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top