Ek dink persoonlik die foto maak nie ’n bespotting of plaas die saak in ’n ligter luim as wat dit verdien nie. Wat dit wel gedoen het, was om ’n klomp verskillende persone te kry om saam oor ’n saak te debatteer. ’n Gesonde openbare debat is alreeds een stap nader aan ’n moontlike oplossing; en daar was in die geskiedenis van die mensdom nog nooit ’n tyd gewees waar ’n oplossing tot hierdie probleem meer nodig was nie.
Die foto se verskyning op Facebook kom te midde nuus dat die laaste Javaanse renoster in Vietnam onlangs tydens ’n stropersaanval doodgemaak is. Tans is daar volgens berekeninge minder as 50 van hierdie sub-spesie steeds in die wildernis van Java en Indonesië oor. Die aanvraag na renosterhorings spruit hoofsaaklik uit Asië voort, waar dit as deel van Chinese medisinale praktyke voorgeskryf word vir enigiets van stuiptrekkings, krampe, koors en selfs as ’n seksuele opkikker. Die ironie van die saak is dat daar geen gedokumenteerde moderne navorsing is om die idee dat daar gesondheidsvoordele verbonde is aan die inname van renosterhoring te staaf nie.
Dr Jacques Flamand, ’n Franse veearts verbonde aan die World Wildlife Fund en projekleier van die hoogs suksesvolle Ezemvelo Wildlife Black Rhino Range Expansion Project in KwaZulu-Natal sê self dat “the demand from Asia is insatiable, and it is driven by greed as there is no medical value to rhino horn. The tragedy is that no animal product can have any medicinal value, as all animal protein is destroyed in the stomach by [the digestive enzyme] pepsin and hydrochloric acid before it can be absorbed as basic amino acids.”
In hierdie moderne tyd van wetenskaplike vooruitgang en intellektuele verligting is dit dus meer as ooit tevore noodsaaklik dat hierdie bestaande argaïese bygelowe en wanpersepsies aangespreek en gekorrigeer moet word. Danksy die internet en die amper onmiddellike kommunikasiekanale wat daardeur geskep word, is dit binne ons as verantwoordelike wêreldburgers se vermoë om hierdie saak uit te lig as die belangrike kwessie wat dit is. In daardie opsig voel ek verdien foto’s, soos die ene onder bespreking, om gesien te word. Die werklikheid van renoster stropery is veel meer grusaam, onnodig en hartseer as wat enige foto akkuraat kan uitbeeld.
Ludwig

