Daar het onlangs ’n foto op die sosiale netwerk Facebook die rondtes gedoen wat baie verskillende en hewige reaksies by gebruikers in die kuberruim ontlok het. Die illustrasie is ’n digitale gedokterde uitbeelding van ’n Suid-Afrikaanse R1- noot, met die bykomende bekende renoster wat daarop verskyn se horning wat verwyder is. Die eindproduk was ’n grafiese, bebloede voorstelling van hoe ’n renoster tipies lyk na afloop van ’n stroper aanval.
Talle mense was van mening dat dit ’n effektiewe wyse was om aandag te vestig op en bewustheid te skep van hierdie belangrike saak. Ander was weer van mening dat dit té grusaam was en nie veronderstel is om vrylik beskikbaar te wees op ’n digitale platform soos Facebook waar dit aanstoot kan gee nie. Ander het op hul beurt weer gevoel dat dit ’n lighartige manier is om kommentaar te lewer op ’n andersins ernstige onderwerp, en dat dit in die proses die erns van die saak ondermyn. Dit het my aan die dink gesit.
Dit is nie ongegrond om te sê dat indien daar nie iets gedoen word om die laakbare praktyk van stropery in die kiem te smoor nie, dat die renoster op ons R10-noot in die nabye toekoms net ’n vae herinnering sal wees nie. Hoe grusaam hierdie uitbeelding ook al is, kan dit myns insiens nie eers begin om te vergelyk met die werklike pyn, lyding en vrees wat hierdie arme, argelose, pragtige diere in hul laaste oomblikke moet ervaar nie. Dit is werklik ’n betreurenswaardige stand van sake.
Een dame het op ’n ander forum gemerk dat alhoewel dieremishandeling en uitbuiting van hierdie kaliber skokkend en onaanvaarbaar is, daar meer ernstige kwessies in die Suid-Afrikaanse samelewing is wat aandag moet geniet, soos onder andere roof, moord en verkragting om net ’n paar te noem. Alhoewel ek met daardie dame saamstem dat die bogenoemde verskynsels ook belangrike sake is wat ons almal kollektief as Suid-Afrikaners in die gesig staar, verskil ek wel egter met haar op een punt.
Wildstropers maak tog deel uit van die groter probleem van misdaad in die land. Om net een voorbeeld te noem: Hulle kry tog sekerlik hulle wapens op ’n magdom van onwettige wyses, by verskaffers wie op hul beurt dit self tien teen een op bevraagtekenbare wyses bekom het. Daar bestaan dus ’n beduidende moontlikheid dat hierdie skadu-figure op die buitewyke van die samelewing, benewens hul werksaamhede in die ondergrondse wêreld van onwettige wapenhandel, ook by ander tipes misdade betrokke is.
Renosterstropers verkoop ook hulle produk op die swartmark, ’n kriminele netwerk wat via ’n kring-effek verbind kan word tot ander vorme van misdade soos die voorafgenoemde rooftogte, dwelm handel- en verspreiding, geweld en dies meer. Stropers, onwettige wapenhandelaars, dwelmsmokkelaars; almal vorm deel van dieselfde misdaadskultuur en moet myns insiens dus ewe veel aandag vanaf die wetstoepassers geniet. Deur die onwettige handel in renosterhorings ’n prioriteit te maak, word misdaad in die geheel dan hoër op die prioriteitslys geplaas. En om my goeie vriend aan te haal (met wie ek ’n gesprek oor hierdie saak gehad het): "Daar bestaan ’n verband tussen 'mens'-misdaad en 'dier'-misdaad, aangesien dit alles deel van dieselfde kultuur is – onetiese, immorele, selfverrykende optrede. Misdaad is misdaad ongeag of dit teen mens of dier gerig is".
Ludwig

