
Ons nasie was maar nog altyd zef. Maak nie saak hoe lanie ons dink ons is nie, ons is zef. Toskaanse huise, groot diamante en Toyota Prado's is net so zef soos fur op die dashboard, daai juweliersware wat jy by Edgars koop, opgewarmde Datsuns en slapende keramiek-Meksikane teen die voordeur se muur.
Dit sluit natuurlik ons musiek ook in.
In die dertigs was ons boeremusiek-paarties ’n verleentheid vir ordentlike mense met al die ouens wat dronk was, mekaar se vrouens gespyker het en dagga gerook het terwyl hulle wild partytjie gehou het. Die beperkinge van Calvinisme is weggegooi saam met verstedeliking en veraming. Noudat die dominee nie meer daar was om as morele waghond op te tree nie, het die volk uitgebreek, weggebreek en losgebreek.
Daardie gedrag word vandag voortgesit, en die spirituele erfgename daarvan is die volgelinge van Nicholis Louw (daai passion wagon van hom is die ultimate cool in zef en die tipe ding waarna elke Krugersdorper en Brackenfellse skoolseun net van droom), Juanita du Plessis (wat nou so ewe haar nuwe album adverteer deur in die kerk te sing), en natuurlik Steve Hofmeyr, wie se politiek en mediaprofiel aangepas word na gelang van die produk wat hy probeer afsmeer.
Soos in die verlede loop beweerde kindermolesteerders, verkragters en dronk bestuurders vry rond te midde van die sogenaamde skeppende tipes.
Die Antwoord en Jack Parow se toe-eiening van die term zef is maar net ’n manier om eienaarskap te vat van ’n benaming wat ons almal lankal weet is deel van ons, maar net te bang was om te erken.
"Zef" was mos altyd die grootste belediging van almal. Selfs "daggaroker", "kommunis" of "moffie" was sosiaal meer aanvaarbaar. Om iemand zef te noem was maar net jou eie manier om jouself te laat probeer beter voel.
Die hele idee van smaak, wat tog maar die maatstaf is waarvolgens ons ander as zef beskryf, is ’n relatiewe een. En soos die Afrikaner homself met die hulp van die Nasionala Party-regering uit sy zef gat getrek het, het daar dun lagies vernis oor gedrag begin verskyn wat ons kwansuis meer ordentlik sou maak. Dit was reg om ’n snob te wees. Dit was verkeerd om ’n jafel te wees.
Jy het jouself meer ordentlik probeer maak deur onder die wakende oog van dr Anton Hartman na Afrikaanse musiek te begin luister wat uit Europese tale vertaal is, of met afsyde te kyk na die Anglia in plaas van die Volkswagen wat jou buurman gery het.
Noudat ons van Hartman, Calvinisme en die Natte ontslae geraak het, het ons weer die geleentheid om na ons ware self terug te keer en siedaar, nou’s ons almal weer zef.
Die ontploffing in Afrikaanse musiek sedert 1994 waaroor die media so lustig geskryf het, is alles deel van die opstanding van zef. Soos ’n Lasarus van ouds het ons onsself herontdek en skielik besef wie ons maar nog altyd was.
Die volgelinge van Die Antwoord en Jack Parow mag maar dink hulle is ironies, maar ironie het ’n vermoë om weer nes te skop in die psige en die hoofstroom te word.
So eintlik is dit maar net die trendies wat dink dis lekker om nou weer zef te wees. Die res van ons weet dit al lankal.

