
In die geskiedenis van teater en kabaret is daar talle voorbeelde van hoe die gegewe van ’n nasie binne geskiedkundige konteks weerspieël word in die tipe werk wat gelewer word, en in waar sulke werk gelewer word. In Europese konteks is films al gemaak van teater wat in Nazi-Duitsland ondergronds, letterlik in klein weggesteekte teatertjies, geskep is, gedurende die tydperk van Nazi-heerskappy. Soms moes sulke groepe met lewensverlies boet vir die opstand in hul gemoed teen die gegewe waaraan hulle uitgelewer is.
Deon Opperman se werk herinner my gereeld aan die gegewe. So ook ander werk, wat mens by kunstefeeste sien. Dis maklik om na sekere produksies te kyk en te sê: dis hoe ons onsself uitdruk, en dis waar ons onsself uitdruk, weens die verandering van omstandighede in ons politieke sfeer sedert die ’90’s. Die gehalte van sulke werk is gereeld van hoogstaande gehalte.
Opperman doen dit buite die feesverband. Casper de Vries ook. Elkeen doen dit op ’n ander manier, direk of indirek vas aan die naelstring aan die politieke gegewe. Casper de Vries se verbintenis is indirek, maar duidelik.
Die gemene deler tussen De Vries en Opperman is hul gehore. En sulke gehore het iets van alles.
En as Deon Opperman werk, is daar selde geen reaksie nie. Die teenoorgestelde is gereeld waar. Ek voorspel dieselfde noudat Ons vir jou uiteindelik in die Kaap gesien word. Ons vir jou sal, getrou aan Opperman se werk, die beste en die slegste uit Die Mens haal. Opperman woeker met Die Mens en sy sterkpunte en swakhede, sy eendersheid en totale uniekheid. Hy kapittel die verlede, hy wys die hede – kurkdroog en songebrand eerlik – en hy toets die onvoorspelbare toekoms.
Wanneer Opperman se werke in Kaapstad open, soos onlangs met die briljante Skepping, kry gehore twee vir die prys van een. By beide van Opperman se jongste opvoerings was hy vooraf self op die verhoog. En Opperman se geniale verstand en unieke styl is – of jy saamstem met wat hy sê of nie – vermaak uit die boonste rakke. So ook die produksies wat hy aanbied.
Ons vir jou is nogmaals ’n versugting na lojaliteit, visie, en ’n weerspieëling van die tweeledigheid van elke mens binne teenoorgestelde situasies. In ’n blyspel is daar nie veel ruimte vir karakterontwikkeling of volronde karakters nie. Opperman en Sean Else se teks kom egter baie na daaraan. En dalk is die karakterontwikkeling op ’n beter plek – in die gehoor ...?
Maar of die mikpunt (volgens Opperman se prelude van die verhoog af) vir die fynproewer bereik word of nie, vergoed die ander aspekte van die produksie hiervoor. Die musiek is uitstekend (lirieke, Opperman en Else; musiek en lirieke, Johan Vorster; musikale regisseur en dirigent, Eddie Clayton; verwerkings en programmering, Juan-Pierre (Floors) Oosthuizen; orkestrasies, verwerkings en programmering, Devereaux van der Hoven). In Raoul Beukes het die Afrikaanse blyspel ’n bondgenoot, asof hy vir die tydvak gebore is. Beukes, ’n sanger, het ervaring van die toneelwêreld, en dit kom nuttig te pas in die rol van De la Rey.
Die dramatiese en emosionele uitdaging is groot, maar nie te groot vir hierdie ster nie. Sy ondersteunende rolverdeling is knap. Met die buiging vir die gehoor aan die einde is meer as 20 sanger/akteurs op die verhoog, waaronder ’n hele paar beroemde gesigte (Raoul Beukes, Zanne Stapelberg, Vaughan Gardiner, Marisa Drummond, David Clatworthy, Stephen Jennings, Philip Moolman, Fezile Mpela, Matt Stern, Nadia Beukes, en andere) En gedurende die opvoering word doebleer, soms met van die vrouesterre as mans, om die getalle hoog te hou. ’n Oorlog is nie rugby nie; daar steek sukses in groter getalle, alhoewel veral die geskiedenis wat hier ter sprake is (en rugby) die teendeel bewys. Hoogtepunte is Cobus Venter en Marissa Drummond in hul onderskeie tekstuurryke rolle. En hulle sang.
Die groot aantal jong gesigte in oorlogsgeledere op die verhoog is seker te danke aan die uitdaging van begrotings, met so baie mense wat op die salarisboek is. Daarteenoor lyk dit of min moeite en uitgawes ontsien is om waarde vir geld aan gehore te bied. Die stelle is ondernemend, en die Kunstekaap-operateater net die plek om hulle uit te stal. Trouens, die stuk vertoon hier veel beter as in die groter omgewing van die Staatsteater. Ek onthou die Staatsteater-operaverhoog as oorweldigend – dalk was my sitplek in die Kunstekaap-teater net baie nader aan die verhoog.
Die sukses van die teks en musiek lê dalk tog by universele raakpunte, soos byvoorbeeld die algemene aanklank wat Die Mens sal vind by ’n tema soos ’n ouerpaar se verlies van ’n kind. Dit was inderdaad De la Rey en sy vrou, Nonnie, se voorland. En Johan Vorster se beeldskone liedjie, “Hoe sê ’n pa vir sy seun”, wat handel oor die verlies van ’n kind, welbekend onder gehore, gryp aan die hart – onder andere weens die uitstekende vertolking van Beukes.
Die produksie is ’n klinkende sukses, ondanks kleinigheidjies wat miskien nie eens saak maak nie. Sulke kleinigheidjies is miskien die trein, wat veel meer gestileerd en stylvol aangebied kon word, die perspektiewe op sommige agtergronddoeke, en dalk die manier waarop die brandende huis aangebied word. Ideaal gesproke is ’n De la Rey, met die kenmerkende, woeste baard, hier nie te sien nie.
Maar sulke aspekte word kleinigheidjies wat absolute agtergrond word, gegewe die krag van die vertolkings, musiek en baie uitsonderlike beligting (beligtingsontwerp, Gerda Kruger). Moeite is ook nie ontsien met die garderobe nie (kostuumontwerp, Sarah Roberts).
Een ding wat nie vergifnis verdien nie, is ongelukkig ’n minderheid van mense in die gehoor. Terwyl Opperman uitgesproke is oor wat hom dryf, spreek die gegewe ongelukkig tot enkelinge wat sulke tematiese gebruik sien as ’n geleentheid tot dit waarvoor hulle liefste is, wat hulle sien as redding vir die moeilike gegewe in bykans enige land ter wêreld. In ’n bekrompe, benepe gedagte is siniese onderkruiping die een aspek wat Opperman se realistiese pogings tot verdeling sal probeer dwing. Dis sekerlik nie doelbewus nie; net maar die ongetemperde dierlike reaksie op iets wat hul bedreig. Met ander woorde, dis die vreesreaksie op ’n realiteit waarvoor diesulkes nie oplossings het nie. Behalwe mishandeling. Die maklikste skeidslyn op aarde is mos velkleur. En sedert Marthinus van Schalkwyk die Nasionale Party afgeskaf het, sien mens baie minder dié soort gedrag. Maar in ’n groot gehoor, effe opgesweep met die vrees, en die eensydigheid van die saak voor hom, is dit seker veilig om ou NP-streke uit te haal teenoor die enkele persoon wat die dinosourus tussen ons as sy mindere beskou, nl die persoon van kleur op die verhoog. So, die dwaas in die gehoor dink dis regverdig om ’n gehoor van 1 100 mense te laat speel teen 1. Nuus vir hom is: hy, en die handjievol Jerusalemmers, is die oorgrote minderheid. Dis die soort ongure minderheid waarmee ’n beskaafde deelnemer soos Jonathan Jansen nou te doen kry. Onguur, onder die belt, disrespekvolle minderhede. Hulle wat elke debat vervlak na ’n banaliteit, gebaseer op velkleur.
Die briljante Fezile Mpela speel De la Rey se agterryer. Op ’n gegewe moment is die karakter se lojaliteit duidelik wanneer hy kies om hom sigbaar agter De la Rey aan te haas. ’n Gehoorlid sê: “Ja, baas.” Net hierdie vergrypie sal verklaar hoekom die opvoering, soos in Pretoria, op ’n vervelige vlak van “ons” en “hulle” bejeën sal word. Dit sal wees weens die onvermoë van die kommentator en sy jubelendes, wat hande klap elke keer as iemand “Jerusalem” sê.
Ek is oortuig dat die debatte wat uit die opvoering van Opperman sal spruit, soos die geval was in Pretoria, vorige werk van hom (soos die musiekblyspel deur hom en Else oor Shaka Zulu, soos sy talle verhoogproduksies, wat die aard van die mens ondersoek) op ’n vlak sal probeer dwing van mense wat nie dink nie, soos genoemde kommentator in die gehoor by openingsaand.
Maar alle mense is anders, en as mens die woord “denkendes” wil verdedig, en almal as denkendes wil aansien, is dit goed so. Maar mens moet definitief onderskei tussen agteruitdenkendes en progressief-denkendes.
Deon Opperman se werk is op die vlak van beide. En hy beroep hom nie op vloekwoorde, vervloeking of die vloek van agteruitdenkendes om sukses te behaal nie.
Fezile Mpela se karakter is nie uitgebou nie, maar die akteur agter die karakter, wat onlangs in High Rollers op TV te siene was, is ’n ongelooflik ontwikkelde mens. En akteurs hoor op ’n verhoog wat daar voor aangaan. Akteurs het al op talle dramaverhoë gehore kortgevat, of van die verhoog afgestap, as hulle aanstoot neem. Mpela is briljant, en is in ’n lang speelvak, in ’n klein rol; seker nie omdat hy moet nie. Hy is ’n baie goeie verdiener in Johannesburg. Werk is nie skaars nie. Hy is seker hier uit lojaliteit teenoor Opperman, en om deel te wees van die groep wat hierdie baie spesiale storie vertel. En dis nie Mpela se storie nie. Sy storie is dalk merendeels die Donkerland-een, wat Opperman ook vertel. Mpela speel toevallig in Donkerland ook. Mens hoop hy is binnekort op Kaapse verhoë in nog uitdagende werk van Opperman; iets op die standaard van die tot nog toe plaaslik ongesiene Keburu. Want so ’n uitsonderlike talent is ’n sieraad vir die wêreld.
Tot dan toe, hou dop en (hou) wag – die regses en linkses is op ons. Want soos die verlede, en die onthou daarvan, bied die toekoms talle opsies. Maar Opperman laat jou nie van die verlede vergeet nie. En al is elke mens se onthou ontwerp om homself te pas, is die verlede nie altyd lekker om te onthou nie. Die “ja-baser” in die gehoor was genoeg om my te herinner aan diesulkes met wie ek regtig nie wil assosieer nie. Sy onderrok hang nie uit nie, want hy is poedelnakendkaal. En die NP ’n verloopte realiteit. Hul bestaansreg is lankal uitgedien. Verby is die tye toe hulle akteurs voorgelê het en aangerand het – sommige uit hulle loopbane uitgeslaan het. Verby is die tyd toe hulle mense kon oordeel weens die kleur van hulle vel. En selfs erger as hul eie mense kon verneder; soms selfs vermoor. Skrikwekkend, dat hulle hier neffens jou bestaan, en in die donker lewe kry. Nou nog trots is op hulle uitgestorwe manier van dink.
Maar glo my, almal dink nie dieselfde nie. Die skote sal, soos voorheen ... klap.
Vir verdere inligting en besprekings: http://www.artscape.co.za/show/ons-vir-jou/752/

