Ons raak nie verlore in een groot oomblik nie, maar in baie klein stiltes

  • 0

Prent: Canva

Daar is ’n vreemde ding wat gebeur met mense. Niemand word eendag net wakker en weet nie meer wie hulle is nie. Dis nie dramaties nie. 

Dis stadig. Byna onmerkbaar.

Dit begin met klein toegewings. Jy glimlag wanneer jy nie lus is nie. 

Jy sê: “Dit gaan goed”, omdat dit makliker is as om te verduidelik hoe ingewikkeld jou lewe geraak het. Jy werk aanhoudend, gee aanhoudend, wees aanhoudend beskikbaar en elke keer sê jy vir jouself: “Ek sal later weer na myself kyk.”

Maar later kom nooit regtig nie. Ek het begin agterkom dat mense nie noodwendig breek nie. Hulle raak net moeg, om eerlik te wees. 

Moeg om vrae te beantwoord wat hulle self nie meer weet hoe om te beantwoord nie. En so bou jy ’n lewe rondom funksionering, nie rondom leef nie.

Ons leef in ’n tyd waar sterk wees amper beteken jy moet stil wees. Waar jy nie te veel vrae vra nie, nie te veel voel nie, nie te stadig beweeg nie. En sonder dat ons dit agterkom, raak ons goed daarin om onsself te ignoreer.

Die gevaar is nie die groot krisisse nie. Dit is die gewone dae.

Die oggende waar jy opstaan en jy voel niks spesifieks nie. Die aande waar jy gaan slaap en jy weet jy het alles gedoen wat jy moes, maar niks wat jou regtig laat lewendig voel het nie. 

Dis daar waar mense begin verdwyn; nie fisies nie, maar innerlik.

Ek dink baie mense soek nie ’n nuwe lewe nie. Hulle soek net weer hulleself in die lewe wat hulle reeds het.

Maar hier is die ongemaklike waarheid: Jy kry jouself nie terug deur meer te doen nie. 

Jy kry jouself terug deur weer te begin luister. Na daardie klein stem wat lankal stiller geword het. 

Die een wat sê: “Hierdie is nie vir my nie.” Of: “Jy leef nie jou passie nie.” En miskien is dit waar verandering begin; nie in groot besluite nie, maar in die besef.

Ek wonder soms hoeveel mense loop elke dag rond met ’n weergawe van hulself wat hulle lankal nie meer ken nie.

En hoe lank mens kan aanhou voordat jy begin glo dis normaal om so half te leef.

Maar miskien is dit nie te laat nie. Miskien is bewuswording self al ’n soort terugkeer.

Want as jy eers begin agterkom dat jy weggeraak het, beteken dit jy is nog daar om dit raak te sien.

En dalk is dit die eerste stap terug. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top