
Ek is een van die dertien deelnemers van Saktyd. Saktyd is ‘n prestasie wat my na aan die hart lê omdat dit waarlik diepe integriteit gevra het van my as mens.
In my daaglikse bestaan twyfel ek baie! Twyfel bring wel wysheid as ons die oorsaak daarvan ontbloot en die rede daarvoor gaan opsoek en verstaan. Dis ons diepste begeerte en die sug na vrede wat ons dryfkrag is om ons eie probleme self op te los, wat dan die oplossings blootlê.
Ek ontvang vanaand ‘n brief. Die skryfster bieg hoeveel sy empatie het omdat ek tydens die tweede episode van Saktyd genoem het dat skooldae dikwels onmoontlik en ontsierlik was, ‘n Wroeging waar aanvaarding per slot van sake onmoontlik was.
Ek raak toe ontsteld, en probeer verder lees.
In die brief lui dit toe dat ek altyd positief gehandel het met mense, en selfs 'n voorbeeld op hierdie manier was.
Geluk bring soms ‘n mens tot die verhaal dat ons almal strewe om gelukkig te wees. Soveel mense glimlag en lyk asof hulle met die goue lepel van die lewe in hulle sakke rondloop. Helaas, ons maak ‘n wrede fout!
Saktyd was baie moeilik vir my gewees. Ek moes my eie twyfel (verskoon die dubbelsinnigheid) in twyfel trek om plek te maak vir nuwe uitdagings. Ek moes ‘n lewe vir myself kweek. Kortom, ek móés kies om te begin lewe.
Ons is dikwels afgerem en ons voel beledig binne. Dit put ons uit om elke oggend op te staan, en met ons dinamiese en moderne samelewing mee te ding. Ontnugtering dryf ons soms om te ontvlug. Soms soek ons iewers ontvlugting.
Ontvlugting is daardie plek waar jy alleen kan wees. Waar jy met jou Skepper teenwoordig kan wees, en jy volmaak veilig en sielvol jou binneste ruimte kan begroet. Soms is dit opsioneel. Dan is daar dae waar dit nodig is.
Dit laat my dink aan my ervaring ‘n wyle gelede by Kaap Augulhas. Die sterk, maar vorsvolle ligtoring het my meteens wakker laat skrik! Dat hierdie ligtoring na meer as ‘n eeu bestaan, verstom my. En dit laat my toe dink.
‘n Ligtoring se doel op aarde is om rigting te gee aan die wat dit nodig het. Ons elkeen is ligtorings vir mekaar. En ons is ook elkeen opsoek daarna. Ons wil ‘n ligtoring hê ...
Sommige vind dit in geloof, ander in mense. En selfs prestasies en eer.
My ligtoring (so het ek besluit) berus in een mens: Ekself.
Om nooit op te gee nie, maar te veg! En dit wil ek beklemtoon: Ons moet aanhou brand. As jy nie nou spreekwoordelik gesproke lewe nie, dan het jy opgegee. As ons nie na onsself kyk, en eerstens vir onsself iets beteken nie, watter doel dien dit om na ander te probeer omsien?
In my wêreld is mense eerlike spesies wat nie weet hoe om van hul eie onsekerhede ontslae te raak nie. Ons dra soms soveel hartseer. En dis onnodig! En dit waar daar eintlik blydskap moet wees. Ons verstaan ander, juis omdat ons nog antwoorde vir ons eie twyfel wil vind. Ons het nodig om een iets raak te sien: ons is mekaar se ligtorings.
‘n Ligtoring se krag lê nie in die behoud dat dit verlig nie. Slegs dat ons dit raak moet sien. Kom ons wees eerlik: ons is nie hier op aarde om mekaar tevrede te stel nie. Dis sinloos.
Ons is daar om te probeer. Probeer is die beste wapen wat ek het. Jy ook. En om doodtevrede te wees met die lief, en leed, wat ontvang. Want dis ons hoop vir mekaar wat ons rede gee om môre te verken, en in alles die eenvoud te waardeer. En die mens langs my te glo. Want dit is wat 'n ligtoring doen. Hy laat jou glo dat jy wel jou eindbestemming sal bereik.
Elridus Grobler

