Vrye Weekblad het al die stops oopgetrek oor Ingrid Winterbach se jongste roman. ’n Groot gebaar – en daardie sein is ook te sien in die resensies. Wanneer laas is daar met soveel oemf op ’n Afrikaanse roman gereageer? (Ek sluit Marni Bonthuys se resensie van verlede week op Boeke24 hierby in.)
Onrus op Steynshoop, deur Ingrid Winterbach. Resensie: Deborah Steinmair (Vrye Weekblad)
Ingrid Winterbach se karakters laat Steinmair in die nag wakker word en hardop lag. Back to you – Steinmair het my helder oordag laat lag deur die humor in Winterbach se werk osmoties vas te lê. Kyk: “Hulle is gekompliseerd, volrond, sensueel en warmgenaai.” So ’n tipiese Winterbach-kwartet van woorde. Die resensie ontwikkel ’n spontane argument; raak hierdie kant toe, dan daardie kant toe, arriveer by die dramatis personae, en skep dan ’n kleurryke tafereel van mense. Die boek lewe in jou kop. Daarna die tematiek en haar reaksie op Winterbach se skryfkuns. Sy pak groot trefkrag in ’n enkele opmerking soos “Winterbach se godsverstommende taalgebruik”. Ten slotte reken sy af met die probleem wat Winterbach se getroue lesers met haar vorige paar romans begin pla het, eenselwigheid. “Nou staan ek op en juig: Ja! Dis anders!” Steinmair is so deksels goed omdat sy die aandag totaal laat verskuif na Winterbach en die roman, déúr haar geesdrif, al is die klem so sterk op die ek-invalshoek. 8/10
Onrus op Steynshoop, deur Ingrid Winterbach. Resensie: Joan Hambidge (Vrye Weekblad)
Cometh the hour ... Hambidge se aanpak is jintemal verskillend van Steinmair s’n – dit is in geheel meer ’n skrywe oor Onrus op Steynshoop binne die groter korpus van Winterbach-romans. Die eerste gedeelte staan vir my op ’n gemaklike resensiefondament, waarop ek fokus. Sy het die voordeel van ’n ontsaglike belesenheid; wanneer sy op volle toere is, soos hier, kan die boek wat sy bespreek, geplaas word binne verskeie verbande. Onrus op Steynshoop het soveel skakels na buite, soveel verweefde strukturele elemente, en Hambidge teken dit aan. Jy moet vlug van gedagte wees om saam met haar die spronge te maak. Dit is dikwels vir my ’n bron van kommer, selfs ergernis wanneer ek die verbande nie kan volg nie en prof Google net so dom is soos ek. Maar hierdie keer sing sy sonder glibberige glissando’s. Daarna volg die blik op die hele oeuvre en sluit dit met ’n reeks opmerkings wat nie heeltemal die stellende krag van die uitmuntende eerste deel van die artikel het nie. Maar dit bly, selfs teen die einde, ’n prikkel vir verdere ondersoek. 7/10
Onrus op Steynshoop, deur Ingrid Winterbach. Resensie: Juliana Coetzer (Vrye Weekblad)
’n Informele lesersindruk, sê die krant. Beskou Vrye Weekblad lesersindrukke op dieselfde manier as LitNet? Resensies wat die publikasie nie aangevra het nie, maar wat deur die resensent geskryf en voorgelê is? Juliana Coetzer se styl en inslag het ’n opvallende informele trant; sy skryf oor Winterbach in die algemeen en vernou dan die fokus na Onrus op Steynshoop. Sy skep iets wat vir die leser ander benaderings tot die roman voorhou. Ook by haar tref die oorgawe aan die plesier wat die lees van ’n Winterbach-roman bring. Daarom takseer ek die resensie as bogemiddeld. 6/10
Onrus op Steynshoop, deur Ingrid Winterbach. Resensie: Andries Visagie (Rapport Boeke)
Ná die triple whammy van Vrye Weekblad se Winterbachfest is Andries Visagie se benadering besadigder. Op dieselfde peil van lof en byval; akademies in inslag. Sy resensie sluit met ’n onverwagte opmerking: “Die roman sal ook sinvol gelees kan word saam met boeke soos Vat jou hele hart: Kom saam na die Middelkoninkryk van Elkarien Fourie, Lente in Beijing deur François Loots en Lodewyk G du Plessis se Die dao van Daan van der Walt.” Dít is intrigerend – hoekom dan só? Skielik, net só, wens mens dat die resensie langer was, sodat hy kan sê hoekom. Wat is die waar en hoe van die raakpunte? Toevallige geografiese of meer verreikende sinologiese verbande? Ek het hier bo verwys na die ergernis wat ek soms met Joan Hambidge se resensies ervaar – ek wens só dat sy net ’n bietjie meer wil gee, verder wil uitbrei. As Hambidge byvoorbeeld sê: “Freud en Lacan teenoor Jung”, wil ek ’n meer uitgebreide uiteensetting hê as: “Die onbewuste as ’n kelder wat bewaar en stoor teenoor Jung se alchemistiese sienings en die mandala.” Want ek is nuuskierig. Hoe speel dit uit by Ingrid Winterbach? Dieselfde geld Andries Visagie se afsluiting van sy resensie. 7/10
Drome het ook asem, deur Helene de Kock. Resensent: Anschen Conradie (Boeke24)
Liefdesverhale is soos jeugromans. Resensente reageer nie maklik op die diepere masjienasies van die werk nie; die verhaal self en sy aanslag verg skynbaar nie indringende analise nie. Hoe verkeerd is dit nie! Sekerlik is dit nie hoge literatuur nie, maar jy kan die vaardigheid om iets tot stand te bring wat ’n groot klomp mense dit wil laat lees, nie geringskat nie. Anschen Conradie maak een opmerking wat die aandag trek. Sy wys na die verband tussen Drome het ook asem en Diana se dag (2023), en wys daarop dat die antagonis van die 2021-roman nou die protagonis is. En dan verduidelik sy hoekom dit so is – op ’n wyse wat my baie lus maak om Helene de Kock as skrywer te herbesoek. Sterk intro, prikkelende slot (Anschen, is almal op 34 al minder laf?), in sy geheel sterk. 6/10
Terwyl ons in tye van verandering staan, en in antwoord op dinge wat Marlies Taljard ter sprake gebring het met my vorige bloginskrywing: Ek hét Onrus op Steynshoop gelees en meen dit is ’n vernuwende toevoeging tot die lys publikasies wat Joan Hambidge in haar artikel insluit. My rol is om te kyk na die reaksie van resensente en hoe suksesvol hulle die kunsjoernalistieke aard van hul opdrag uitvoer. Dít sien lesers hier bo.
Van ’n kritiese afstand gesien, hoop ek dat Willie Burger iewers ’n kans sal vind om die roman te bespreek. Deur die jare was hy vir my een van die literatore wat Lettie Viljoen/Ingrid Winterbach die skranderste benader het. Dit is werklik jammer dat hy so ongereeld as resensent aktief is.
Wat Onrus op Steynshoop betref, mis ek nog werklik indringende reaksie by resensente op die dinge wat ek as leser van die roman raakgesien het: Die terugkerende rol van die Vrystaat op die ontwikkeling van Winterbach se retoriese finesse, veral haar humorsin, in al die subtiele en meer openlike variante daarvan. Ek sou graag wil weet of iemand al opgemerk het hoe hierdie vernuwende roman se benadering tot sinne, die skakeling en vlotheid van sinne en paragrawe, verskil van die vorige bakens in haar oeuvre.
Dít is die dinge wat vir my as Winterbach-volger belangrik is om te weet, en (durf ek my dit aanmatig om dit te sê?) vir die skrywer ook. Sy het nodig om te weet hoeveel lesers bewus is van die greinverandering, deur die jare, in haar romans. Joan Hambidge raak in die verbygaan aan die Vrystaat-aspek; dit verdien ’n slag ’n langer skrywe. Dalk sit iemand paraat om ’n akademiese essay te skryf oor die skrywerlike ontwikkeling van Klaaglied vir Koos na Karolina Ferreira na Buller se plan na Die boek van toeval en toeverlaat na Die aanspraak van lewende wesens na Die troebel tyd na Onrus op Steynshoop?
Ek het nog meer vrae, maar laat dit vir eers daar.


Kommentaar
Ek't hierdie aflewering se vergelykende aard baie geniet. En die onderwyser in my waardeer die puntegewing - moet asb nie daarmee ophou nie.
Lekker bespreking, dankie, Crito! Interessante saak, daardie aptytwekker aan die einde van Andries Visagie se (goeie) resensie. Ek het weer daarvan gehou; dis onverwags en dit maak my definitief nuuskierig oor waarop die leser sal afkom langs daardie paadjie af.