Onopgevoede Afrikaners

  • 8

Heil die leser

Die getwis die afgelope tyd oor wie 'n Afrikaner is of mag wees en wie nie, het weereens hul juiste ondergang onderstreep.

Ja, geeneen hier het 'n saak met die sedelike vorming van hul nageslag, 'n Volk nie.

Aan die eenkant is daar die inklusiewe groep wat met byna godsdienstige benadering reken enige begeesterde wat wil wees, mag wees (al op die trant van God bewerk geloof in ons harte – geen mens kan aan 'n ander geloof in God gee nie).

Aan die anderkant die eksklusiewes – die sogenaamde ware Afrikaners. Hul gronde is eenvoudig; hulle is goed want ander is sleg.

Ek onthou egter my opvoeding as Afrikaner.

Alhoewel my voorgeslagte neopedie in die kerk ontvang het, is my geslag hoofsaaklik aan skole en universiteite as Afrikaners opgehef. Daar is vandag 'n lang lys van sulke vervalle Afrikanerinrigtings deur vreemdes oorgeneem.

Toe ek hierdie slegte vooruitsig 'n leeftyd gelede aan die onverantwoordelike kruisietrekkers gedeel het was hul messias Frik op die TV, sport en die Huisgenoot. Ons hoef nie bang te wees nie; ons sal steeds kan "stamp" op Voëlvry en lekker saam kan karaoke. Ons sport sal internasionaal mal raak en die media sal vir ons 'n ware beeld gee as daar 'n dooie rot in die drinkwater iewers spartel.

Hahahaha ...

Vandag?

Die Afrikaners kruip wel skaam-skaam uit hul gate as daar om 'n "boemboks" soos in die lokasies destyds karaoke word.  

Sport verteenwoordig als behalwe Afrikaneropvoeding.

En die media?

Nes Esau het Afrikaners hul geboortereg vir kortsigtige plesier weggesmyt. Die getwis vandag daaroor is barbaars. Nêrens is daar 'n plek waar die Afrikaner kulturele verfyndheid aan hul nageslag oordra nie. Wie sou dit in elke geval vandag doen – die dominee, Joost of Steve dalk?

Waar is daar 'n standaard meester wat omsien na ons Volk se edukasie?

Wie en wat is 'n Afrikaner vandag?

Hul grond en rykdom afgeneem ...

Oorgeneem ...

Elkeen vir hulself ...

Afrikaans is "lekker".

Afrikaner is 'n bejammerenswaardige groepie in 'n reënboogtuin gehok vir studiedoeleindes of vermaak en die opvoeding van besoekers aan Mzansi.

Hartseer groete,

Cornelius Henn

 

  • 8

Kommentaar

  • Dagsê Cornelius

     
    Jy vat die Afrikaner darem nou baie vlak. Die Afrikaners wat ek ken (en graag mee geassosieer wil word) maak binnekort hulle hoeveelste Shoprite in Afrika oop, staan aan die hoof van Media24 en het sopas die 183 miljoenste MNET-intekenaar wêreldwyd opgeteken. Ander ontwerp ruimtetuigies wat op Mars rondry en nog ander verower goue medaljes by die olimpiese spele. Ek het persoonlik kontak met Afrikaner-akademici wat wêreldwyd as kenners op hulle gebied gereken word.
     
    Moenie dat die Jan Rappe en die Thyse jou in hulle put van mismoedigheid insleep nie - dis oënskynlik onmoontlik om daaruit te ontsnap.
     
    Groetnis
     
    Thomas
     
     
  • Thys Human (PTA)

    Is dit lekker daar op jou identiteitseiland?  Jy klink soos iemand wat aanmekaar net met homself kan praat.

     
    En as jy dink dat Malema jou gaan omhels oor jy die "Boer" so vloek, maak jy 'n groot fout.
     
    Vaarwel. 
     
  • Pieter Redelinghuys

    Beste Cornelius,

    Dankie vir jou skrywe oor die kulturele toestand van die Afrikaner. Die probleem is diepliggend weens die feit dat met elke geslag neem die Afrikaner meer afstand van sy Europese wortels en identiteit af, en met die verloop van tyd sal hy meer 'n produk van Afrika word. Die Afrikaner het eenvoudig nie die kulturele rykdom van die Engelse, die Duitsers, die Hollanders of die Franse nie, nasies van wie hy afstam. Ek wonder of die huidige geslag een boek geskrywe deur 'n Duitser, Hollander of Fransman kan opnoem. Blykbaar het hy ook vergeet dat sy geskiedenis nie begin by Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap nie, maar strek tot die stamlande van oorsprong, die Renaissance, die Hervorming, en nog verder terug.

    Rugby, braaivleis edm is vermaak en nie kultuur of opvoeding nie. Miskien sal die Afrikaner eenvoudig meegesleur word in die algemene Anglo-Amerikaanse "wêreldkultuur"  van konsumering, winkelsentrums, en Hollywood-films.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Thomas,

    Jou skrywe is 'n uitstekende teenmiddel (antidote) teen die verlammende gif van pessimisme te bespeur in Cornelius se skrywe. Dit is verblydend om te hoor dat daar nog Afrikaners (seker van 'n jonger geslag) so goed presteer in die wêreld van besigheid en wetenskap, en nie besluit het om die land te verruil vir groener weivelde nie.

    So met die verloop van tyd sal die takhaarmentaliteit ook begin vervaag, en iets van die verlede word, soos wat die ouer geslag padgee vir 'n jonger geslag, tensy eersgenoemde daarin geslaag het om laasgenoemde te besmet met die gif van die verlede.

    Pieter Redelinghuys

  • Thys Human (PTA)

    Sjoe, Pieter, maar jy is ’n besondere bitter man. Wat HET dan met jou gebeur dat jy so teen die Afrikaner vloek – want diegene wat jy so afkraak is ook volop in die Wes-Kaap – hulle is deesdae maar net lugtig om op te staan en hardop te sê waar hulle staan – juis weens die soort vloekery van mense soos jy.

    Of is jy dalk iemand met ’n duidelike Afrikaner naam en van, maar tog nie uit huis uit Afrikaner nie?

    Sal interessant wees om te weet, maar eintlik maak dit nie saak nie – jou bitterheid en haat is besig om jouself te vernietig, nie die Afrikaner nie.

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter, alhoewel ek nie weet hoe ons ’n maatstaf daaraan gaan bepaal nie glo ek tog dat my pessimisme jeens die toekoms en opvoeding van ons Afrikaners meer realisties as jou en Thomas se swartgalligheid jeens godsdiens is. Met respek; daar is beslis meer prestasie en  vreugde oral in die genade en liefde van ons Almagtige Lewende Skepper as in die uitsonderlike en welverdiende aansien en prestasies van enkele Afrikaners. Groete, Cornelius.

  • CorneliusHenn

    Thys, miskien is daar hoop as ons die noodsaak van opvoeding eerder as geld of aansien aan geleerdheid besef. Daar is sekerlik baie Afrikaanses wat presteer maar ongelukkig self nie eens sal weet hoe om ’n Afrikaner te definieer nie aangesien daar geen standaard aan Afrikaneropvoeding veral buite kerkverband bestaan nie. Om ’n tekortkoming te erken bedoel beslis nie belediging nie. Ons Afrikaners sal drasties iets op ’n algemene vlak moet doen om ’n standaard aan Afrikaneropvoeding en geleentheid daar te stel eerder as om op so barbaarse styl te probeer veronderstel wie is ’n Afrikaner en wie nie. Boeregroete, Cornelius.

  • CorneliusHenn

    Dankie Thomas, ek deel jou optimisme. Ek hoop egter jy kan saam die tekort huidiglik daaraan en my pleidooi vir ’n norm aan Afrikaneropvoeding die toekoms insien en selfs op ’n dag steun. Groete, Cornelius.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top