Vanoggend sluit die hoteldeur
in Antalye vir oulaas.
Die wit kussings lyk bedruk,
verraai die troebel drome van die nag.
Handdoeke geur herinneringe
van die laaste keer saam.
Die seep, gebruikte tandeborsel,
dalk ook die kam, vergeld niks,
iets van die onstuimige liefdesreis.
In die tas ervaringe netjies vergeet.
Nou word daar finaal uitgeboek,
die solo-rekening vereffen
en die sleutel van die deur gelaat
op die toonbank sonder opvolgadres.


