Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: One small step
Skrywer: Paul Sinton-Hewitt
Uitgewer: Pan Macmillan
ISBN: 9781035065042
Elke Saterdag herhaal dieselfde ritueel. Kom reën, kom wind, kom winter, maar verkieslik sonskyn! Meer as 400 000 mense uit oor die 20 lande trek om stiptelik agtuur die oggend in hulle eie spesifieke tydsones saam by ’n plaaslike park of ander ontspanningsarea; dit wissel van strande, bosse, wingerde en woestyne tot dorpsgebiede. Vir die volgende sowat uur of meer, neem hulle dan deel aan ’n 5 kilometer wedloop wat deur hulself onderling georganiseer word. Jongmense, oumense, blinde mense, sommige selfs op krukke of in rolstoele, almal is welkom, as deelnemer of amptenaar. Dit is ’n uiteenlopende versameling van mense. Waar dit toegelaat word, mag selfs die honde ook deelneem. Die fenomeen staan bekend as Parkrun, maar anders as wat sommige mense verkeerdelik dink, is baie van die deelnemers aan Parkrun glad nie hardlopers nie, maar stappers. ’n Ander algemene verkeerde aanname, is dat Parkrun lidmaatskapfooie hef. “Hoeveel kos dit?” is ek al talle kere oor baie jare gevra. Maar daar is geen kostes nie, behalwe dat die organiseerders jou uiteindelik gaan probeer intrek om te volunteer, aangesien die grootste stryd, week na week, woed om genoeg amptenare te versamel wat bereid is om hulle deelname op te offer vir een week per jaar.
Alhoewel baie Parkrunners bewus is van die feit dat die heel eerste Parkrun in 2004 in Bushy Park, Engeland plaasgevind het, en dalk selfs weet dat die stigter van Parkrun ’n man met die naam Paul Sinton-Hewitt is, weet min mense waarskynlik hoe diep die Parkrun-verskynsel eintlik in Suid-Afrikaanse grond gewortel is. Sinton-Hewitt, wat in 1960 gebore is en deesdae in Engeland woon, is oorspronklik van Rhodesië (vandag Zimbabwe), maar het sy jeugjare, sowel as ’n belangrike deel van sy volwasse lewe in Suid-Afrika deurgebring. Die boek bestaan ongeveer twee-derdes uit vertellinge van Sinton-Hewitt se agtergrond en persoonlike lewe, voordat dit uiteindelik by die geskiedenis van Parkrun uitkom vir so ongeveer die laaste derde van die boek. Waar enkele lesers kla dat daar te veel ingegaan word op Sinton-Hewitt se persoonlike geskiedenis, is die persona van Sinton-Hewitt so verweef met die ontwikkeling van die Parkrun-verskynsel, dat dit volgens my eintlik heel gepas is.
Dit is nie orals ’n mooi storie nie. Sinton-Hewitt had geen maklike jongmenslewe nie, en weens omstandighede moes hy en sy sibbe vir lank in ’n weeshuis woon. Die boek dokumenteer onder meer ook hoe Sinton-Hewitt aan diensplig in Suid-Afrika onderwerp was (hy was in die lugmag), sowel as sy ongemaklike verhouding met sy moeder. Sinton-Hewitt se ouer halfbroer het ’n noemenswaardige invloed op hom uitgeoefen en onder meer sy loopbaankeuses beïnvloed. As rekenaarprogrammeerder het Sinton-Hewitt later spoedig opgang gemaak en was hy baie suksesvol in sy werk. En dan was daar altyd Sinton-Hewitt, die hardloper. Tydens sy jare in Johannesburg sou Sinton-Hewitt gewoonlik tydens etensure aan hardloopklubs se oefensessies deelneem. Om te hardloop was vir hom meer as net oefening. Dit het hom die geleentheid gegee om konneksies met ander mense te bou en behou. Terwyl hy nog in Suid-Afrika gewoon het, het sy paaie ook gekruis met dié van die legendariese Comrades-atleet Bruce Fordyce (1955–). Sinton-Hewitt was in hierdie jare ook deel van Fordyce se ondersteuningspan in Fordyce se pogings om die Comrades te verower, maar die basis wat gelê is, sou uitloop op ’n vriendskap wat later deurslaggewend sou word in die ontwikkeling van Parkrun. Ook die inklusiewe aard van die Comrades, waar mense van verskillende rasse teen mekaar kon meeding, in die land bekend vir die beleid van apartheid, sou ’n lewenslange indruk op Sinton-Hewitt laat.
Sinton-Hewitt het uiteindelik in Engeland gaan woon, en waar sy loopbaan aanvanklik baie suksesvol was, het hy later deur ’n werklose periode geworstel. Daarby is hy boonop ook geteister deur ’n besering, wat veroorsaak het dat hy nie meer aan maratonwedlope kon deelneem nie. Dit was hierdie sameloop van omstandighede wat daartoe bygedra het dat die eerste Parkrun op 2 Oktober 2004 plaasgevind het, want deur middel van so ’n geleentheid, kon Sinton-Hewitt op gereelde basis met sy vriende sosialiseer. Alhoewel Parkrun in die formaat van ’n wedloop plaasvind, was die klem van meet af aan op die sosiale aspek daarvan. Die Parkrun-verskynsel sou ook eers heelwat later die naam “Parkrun” aanneem, en het aanvanklik bekendgestaan as die Bushy Park Time Trial.
Sinton-Hewitt verskaf ’n keurige uiteensetting van die ontwikkeling van Parkrun. Die heel eerste land waarheen Parkrun sou uitbrei buite die Verenigde Koninkryk, was Sinton-Hewitt se geboorteland Zimbabwe, maar Zimbabwe sou later ophou om Parkruns aan te bied (ander lande wat ook eens Parkruns gehad het, maar nie meer het nie, is Frankryk en Rusland). Sedertdien het Parkrun nie net uitgebrei na meer as 20 lande nie, maar het daar ook geleenthede ontstaan wat spesifiek fokus op kinders en gevangenes. Uiteindelik sou Sinton-Hewitt sy vriend Bruce Fordyce nooi om ’n Parkrun-geleentheid by te woon, wat uiteindelik sou uitloop op die heel eerste Parkrun op Suid-Afrikaanse bodem, op 12 November 2011 by die Delta Parkrun Johannesburg.
A social movement is a collection of people with shared ideals and a vision for change. It doesn’t have to be an uprising or revolution. Sometimes, we can all be on the same side. (bl 285–6)
Die impak van Parkrun kan nie onderskat word nie. Getuienis op getuienis spreek daarvan. In sy pogings om finansiering te bekom, het Sinton-Hewitt Parkrun bemark as die ekwivalent van ’n kleuterskool, maar vir hardlopers. ’n Ruimte waar deelnemers nie professionele atlete hoef te wees nie. Spoedig het die waarde van Parkrun duidelik geword en die borge het toegeneem. Dit is ook op aandrang van Sinton-Hewitt dat Parkrun kosteloos aan die publiek aangebied word, en so moet bly. Vir sommige Parkrunners val die klem meer op die aspek van oefening en vir ander is dit die sosialisering, maar vir die meeste is dit die kombinasie van die twee sake, wat Parkrun so ’n weeklikse sensasie maak. Soos Parkrun self, is Sinton-Hewitt se boek toeganklik vir enige mens. Dis ’n lekkerleesboek, hoewel dit nie wegskram van die moeiliker aspekte van Sinton-Hewitt se storie nie.
Dit is gepas dat hierdie storie gedokumenteer is, want die essensie van Parkrun is miskien juis stories. Parkrun gaan oor die stories van gewone mense se ervaringe, wat hulle nou kan aanvul met die groter storie van Parkrun self, soos geskets deur ’n merkwaardige man in hierdie boek.
My eie storie van Parkrun sedert 2020 kan, opsommend, soos volg beskryf word: 113 voltooide 5 kilometer wedlope by 25 verskillende Parkruns, tesame met 118 deelnames as amptenaar. Maar ek het te veel gesien en beleef op al daardie paaie om dit hier oor te vertel.
Kommentaar
Interessante bespreking van 'n onderwerp wat heeltemal onbekend aan my was, dankie Barend.