Baie van die televisie (KykNet) se spelling is swak, daar waar die titels en dié soort van goed verskyn. Daar was selfs ’n stadium waar, met die weervoorspelling, die dae se afkortings "Son, Maan, Dins" ens was, maar dié het hulle darem reggemaak (hulle gebruik nie die regte afkortings nie, hulle skryf die hele woord nou uit).
Televisieprogramme waar celebi (nog nie in die woordeboek nie, meervoud van celebo) verskyn soos byvoorbeeld Bravo!, is die se taal so’n mengelmoes mens sou sweer hulle het nooit Afrikaans op skool gehad nie, net so half geleer aan moedersknie. Die aanbieders help hulle ook nie reg nie, hulle praat self ook meestal so. Mens sou nou dink, as jy streef na uitmuntendheid soos meeste sakeplanne stipuleer, mens die aanbieders sou vra om voor die tyd vir die mense te vra om tog asseblief Afrikaans te praat soos die Engelse húlle taal praat, so suiwer as moontlik.
Die radiostasie (RSG) is nog erger; hulle slaan die laagste. Op ’n daaglikse basis bring hulle luisteraars onder die indruk dat Afrikaans nie eintlik belangrik is nie deur Engelssprekende gaste na geselsprogramme te nooi. Baie inbellers slaan dan ook oor Engels toe om die gas se onthalwe en op die manier bied die Afrikaanse radiostasie ’n Engelse program aan vir Afrikaanssprekende luisteraars, kan jy nou meer.
Baie van hulle omroepers het ’n traak-my-nie-agtige houding teenoor Afrikaanse taalgebruik en/of hulle kan nie behoorlik Afrikaans praat nie: Daar word baie na ’n skip as vroulik verwys, hulle praat van tenders wat toegeken word (een het selfs gepraat van ’n tender wat "gewen" word), die klem word op die verkeerde lettergreep geplaas (úniversiteit, onderwýs, handhááf, mettertýd, ártikel, kóngres, depártement) en die oortreffende trap word toutologies gebruik (mees belangrikste, mees interessantste ens).
Kort-kort sê ’n omroeper/omroepster ook dat hy/sy nou nie weet wat die Afrikaanse woord vir die Engelse woord is nie en dan gebruik hulle die Engelse woord. Anglisistiese gebruik is volop, byvoorbeeld werkers wat "afgelê" word en die gebruik van "doen" soos in Engels. Een omroeper sê nou die dag " ... ek hoop nie jy sit in die verkeer vas nie, maar as jy doen dan ..." Kan dieselfde ou wees wat gesê het Dr Victor of iemand " ... kom nie van Jamaika af nie, hy doen werklik nie ..."
Ek weet nie of hulle dit aspris doen nie, ’n, wat Theodor Dalrymple noem, genefluxion in the direction of popular culture, ’n hand-om-die-blaas-houding kweek in ’n poging om populêr te wees en so die luisteraargetal te verhoog, ’n poniekoerant-aanslag dus. Aan die ander kant, dalk doen hulle dit uit laksheid, hulle gee bloot nie om nie en dit is net so erg. Hoe dit ookal sy, dis slinks en op die manier doen hulle Afrikaans meer skade aan as die regering met sy openlike ondermyning van Afrikaans.
Gelukkig ís daar darem nog die radiopersoonlikhede wat professioneel optree soos byvoorbeeld Derrich Gardner, Bettie Kemp en nog ’n hele paar.
Jan Rap
NS Daardie klarinetspeelster op die voorblad, Maria du Toit, is asemrowend.

