Vervaldatum-kompetisie: Onder die kloktorings van Santissima Trinità dei Monti

  • 0

Dis eers wanneer sy die foto’s op die skerm vergroot dat sy die detail tussen al die strukture opmerk: skulpmotiewe bo vensterkosyne, duiwe op ’n daklysie, ’n wolkstreep in die lug, die blinde oog van die kloktoring.

Hulle het uit die noue Via dei Condotti in die oopte uitgestap – Piazzadi Spagna – en by die fontein in die skewe plein getalm. “Fontana della Barcaccia,” het Schalk uit sy reisgids gelees. “Gebou van travertyn, Pietro Bernini, 1629. Kyk, dis ’n sinkende skip met water wat uit die lekplekke stroom. Die fontein is onder straatvlak gebou en so is die probleem van lae druk opgelos. Slim. Wag, ek moet dit afneem.”

Vir haar lyk dit meer soos ’n dier: ’n walvis wat uit die water beur, en trane wat uit sy oë loop. “Piazza di Spagna … Fontana della Barcaccia … Bernini,” proe sy die name op haar tong, en laat haar vingers deur die koel water gly.

“En wat ’n konstruksie,” beduie hy na die trappe wat soos ’n waaier boontoe strek. “Het jy geweet die Spaanse trappe is die wydste stel trappe in Europa? 137 dubbeltrappe oor twaalf stelle. En om te dink dis byna 300 jaar gelede gebou – spesifiek om die plein hier onder en die kerk daar bo te verbind.”

Die tweetoringkerk is geëts teen die horison, die strak vorm van ’n obelisk daartussen.
Piazza di Spagna … Trinità dei Monti.

“Ons klim tot bo, maak gou ’n draai deur die kerk en dan stap ons af na die Tiber toe, daar’s ’n paar brûe waarna ek wil kyk. Ons moet ook nog by die Colosseum en die Vatikaanstad uitkom …”

“Kom ons sit eers ’n bietjie.”

“Nie te lank nie. Jy weet ons het net een dag vir Rome.”

Die trappe is laatoggend reeds warm gebak. Onder die dreuning van Schalk se stem en die geroesemoes van baie tale hou sy die mense dop: voetgangers wat uit die winkelstrate op die plein uitspoel, die kruis en dwars gemier oor die oopte met die fontein ’n reuse-magneet daarbinne, die groepies op die marmertrappe, jong paartjies hand om die lyf, vriende wat vir foto’s poseer, gesinne, enkelinge, die straatverkopers. Skuins voor hulle smyt ’n man helderkleurige jellieballe teen ’n stuk karton neer sodat dit plat uitsprei en weer langsaam na die oorspronklike fatsoen terugkeer. Nader op die trappe probeer sy vriend die taai vrugteballe aan ’n klompie jongmense smous.

“For you,” klink ’n stem langs haar op. Dis ’n skraal donkerkopman wat ’n rooi roos na haar uithou.

“No thank you.” Sy skud haar kop.

“For free,” glimlag hy en sit die roos in haar skoot. “For the lady.”

“Thank you.”

“A rose for the lady,” herhaal die man dringender en kyk vir Schalk, wat ’n oopgesprei­­de kaart sit en bestudeer.

Schalk kyk gesteurd op. “En nou?”

Sy beduie na die roos in haar skoot.

Hy kyk van die blom na die man voor haar. “’n Truuk so oud soos die berge!”

“Ek sal betaal,” keer sy, te verleë om die roos terug te gee.

“Nee wat, laat ek maar …” Hy vou eers die kaart op voordat hy opstaan om sy beursie te kry. “Sal ons gaan?”

“Grazie. Thank you. Grazie,” sê die smous agter hulle aan.

“Grazie,” snork Schalk. “Die smouse is so min Italiaans as wat ek is. Dis Pakistani’s, Bangladesji’s en Sri Lankane. Die meeste van hulle is heeltemal ontwettig hier. Ek lees die polisie het ook maar ’n stryd om hulle van die toeristeplekke weg te hou. O, en dis die Keats-Shelley Memorial House hier regs …”

When I have fears that I may cease to be …

“Ek lees die trappe is al baie keer gerestoureer – laas in 1995. In 2007 het ’n dronk ou met ’n Toyota hier probeer afry – van die trappe het glo lelik afgesplinter,” vertel hy terwyl hy so in die loop foto’s neem. “’n Meesterlike voorbeeld van Italiaanse Rococo: die stelle trappe wat van die middel af verdeel, die terrasse, die balustrades, die herhalende motiewe.”

In die skaduwee van die laaste stel trappe buig ’n ou vroutjie laag voor hulle – haar arms, palms na bo, uitgestrek.

“Toneelspel. Bedelaars is glo ’n groot probleem in Rome – dis ’n verleentheid vir die Roomse Kerk, al hierdie armes op hulle voorstoep.”

Sy hoor nie eintlik wat hy sê nie, want hulle het op die boonste straatvlak uitgestap, ’n kunsmark binnegestap. Verspreid in die ruimte om die obelisk staan uitstalborde met skilderye en afdrukke: die ewige stad in baldadige kleur, sepia, swart en wit. Die Spaanse trappe, ’n brug oor die Tiberrivier, aansigte van ou geboue, die Colosseum, Basilica Sancti Petri,die fonteine van Rome, papawerlande, hawestadjies, ’n asuurblou see. En daartussen, langs voorbeelde van hulle werk, portretkunstenaars met hulle tekenborde – voor elkeen ’n leë stoeltjie of ’n model wat, omring deur nuuskierige toeskouers, selfbewus poseer.

Hy was besig om ’n tekening af te rond: ’n blonde tiener met drie vriendinne wat belangstellend toekyk. Sy blik het tussen die model en die afbeelding voor hom verwissel terwyl hy met ’n laaste paar potloodhale tekstuur en skadu’s aangebring het. Sy het gemerk dat die illustrasie ’n getroue uitbeelding van die meisie was, maar dit was die bewe­gings van sy hande wat haar opgeval het. Die hand wat met seker hale die lyne trek, skadu­wees inkleur, diepte gee. Die hand wat uitreik na ’n sagte uitveër, en subtiele ligstrepe in die tekening laat. Sy linkerhand wat die frummels van die papier wegvee. Sy vingerpunte donker van die grafietstof.

Vir ’n oomblik het hy van die tekening af opgekyk – na haar.

“Kom, ons moet nou gaan.”

“Ek wil eers my portret laat teken.” Sy het met Schalk gepraat – of was dit met haarself? – maar dis na die man met die donker oë wat sy gekyk het.

Uit sy gedempte sug kon sy hoor hoe Schalk sy ongeduld probeer bedwing. “Hoe lank gaan dit neem?”

“I would like a drawing. How long will it take?”

Die kunstenaar het opgekyk na die kloktorings agter haar. “Thirty ...” Hy het met haar geglimlag. “Forty minutes.”

“Thank you. Please.”

Hy het die tekenbord na die model omgedraai, haar en die vriendinne se kommentaar aangehoor, die tekening opgerol, in ’n koker geplaas, opgestaan om die transak­sie af te handel en die geselskappie gegroet – alvorens hy haar met ’n handgebaar na die voustoeltjie nooi.

Hy het met haar geglimlag. “Please relax.”

Agter haar hoor sy hoe Schalk foto’s neem van die uitsig ondertoe. Hy sal wag, weet sy, maar nie langer as die gestelde tyd nie.

Tydsaam haal die kunstenaar ’n skoon tekenvel uit die houttassie langs hom, knyp dit aan die tekenbord vas, vee ligweg oor die oppervlak. Oor ’n grafietstiffie in sy uitgestrekte vuis kyk hy speurend na haar. Hy dra ’n ligte hemp en broek, ’n geruite pet. Hoe warm moet dit nie word so die hele dag in die son en met slegs ’n staan­sambreel om die ergste hitte te kan afkeer nie? Hoeveel mense moet hy nie daagliks teken nie? Maar nou sien hy haar, weet sy, hy sien haar.

“Het jy geweet dat Rome die stad in die wêreld met die meeste obeliske is?” Sy kan hoor dat hy Schalk weer opgedraai het, en weet dat hy met die reisgids in sy hand staan. Voor hulle lê die grafsuil se marmervoetstuk’n skaduweeoor die keistene.

Die kunstenaar het die eerste ligte strepe op die tekenbord gemaak; sy blik wissel tussen haar en die werk voor hom. Woordeloos gesels hulle.

“Hierdie een,” (sy kan hoor hoe Schalk opkyk) “die Obelisco Sallustiono, is in 1789 deur pous Pius VI opgerig. Dis ’n skaalmodel van die obelisk van Pharaoh Rameses II wat in die Piazza del Popolo staan. Ek wou nog daar uitgekom het, ek weet nie … Daar’s ook grafsuile op St Peter’s-plein en voor die Pantheon.”

Ontspan, sê sy donker oë, ontspan, sê die soepele handbewegings oor die papier.

“Die kerk, die Santissima Trinità dei Monti, is by ’n bestaande klooster op die Pincioheuwel gebou. Daar is reeds in 1502 met die konstruksie begin, maar die bouery het stadig gevorder en die fasade is eers in 1584 bygevoeg. Die kerk is in die Gotiese styl en die fasade neoklassiek. Die tweeling-kloktorings kom van die ontwerp van Franse kerke met soortgelyke dubbeltorings.”

Most holy trinity of the hills.

“Blykbaar was daar oorspronk­lik twee verskillende horlosies in die torings. Die een het die Europese uur aangedui; Ultramontana– anderkant die berge, anderkant die Alpe – het hulle dit genoem.”

As sy haar oë sou opslaan, sou sy by die kunstenaar verby, en anderkant die obelisk en oorkant die straat die dubbeltrap na die ingang sien, die fasade van die kerk en die twee torings teen die lug. Maar haar blik bly op die man voor haar. Die man wat, weet sy, die plooitjies om haar oë sien, en dié om haar mond. Die man wat met haar glimlag.

Sy voel hoe haar mond sag word.

“Die ander horlosie het die Italiaanse gebruik gevolg. Die Italiaanse horlosie het net ses ure en een wyser gehad – dit het aangedui wat oor was van die dag; hoeveel tyd voor sonsondergang.”

Vir haar het die tyd stilgestaan; het die sekondes meedoënloos voortgetik.

“Nadat die Italiaanse sisteem in die middel van die negentiende eeu verwerp is,” dreun Schalk se stem in die agtergrond, “is die klokgesig deur ’n sonnewyser vervang.”

Onwillekeurig kyk sy op, en vir die eerste keer merk sy die ruimte met die ontbrekende horlosiegesig.

“Nou lees mens die tyd met ’n strepie skaduwee,” verdwyn Schalk se stem tussen die gedruis.

Die kunstenaar het haar blik gevolg, besef sy toe hulle gelyktydig terugkyk. Mekaar eien.

Grafiethale op papier, ’n strepie om tyd te meet, die skadublok wat korter krimp, die eeue oue geboue en die oomblik in die stuiwende misreën, ’n waterval wat oor die balustrade stort, in kaskades die trappe afstroom, oor die plein met die sinkende skip die beurende vis uitsprei, ’n blink rivier in die Via dei Condotti afloop, in al Rome se fonteine opborrel, onder al die brûe oor die Tiber deurvloei, uitmond in die oseaan.

Wanneer hy opruim, die illustrasieborde opstapel en vasbind, die stoeltjies opvou, die staansambreel toevou en vaspak, die trollie wegsleep om vir die nag staan te maak, blink die keistene soos water in die laatmiddagson.

“Grazie,” sê die bedelares toe hy op pad ondertoe ’n paar muntstukkie in haar palm plaas.

Soos elke dag wag die drukgang van die metro – die tekentas vasgedruk teen sy bors –en is dit eers met die stap huis toe wat hy, soos ’n platgegooide straatvrug, langsaam herstel.

Wanneer hy uiteindelik die deur agter hom toetrek en die geur van pastasous, vroegaandgeluide en die roggelklank van waterpype sy klein hawe binnedring, bly die tekentassie toe en die televisie afgeskakel, leun hy met geslote oë teen die rusbank.

Agter sy ooglede verskyn en verdwyn subtiele bewegings van mondhoeke, kommerlyntjies om oë, ’n kloppende hart in die keelholte, die skuiwende son en skaduwees op die terras, strepies teen ’n sonwyser. Bly hy sonder keuse kyk.

Jare se waarneming en wag en die intense bestudering om kontoere, lig en skadu te peil en in grafiet vas te vang, het hom meer laat sien, al hoe dieper laat kyk, sodat hy gaandeweg besef het hoe dun die maskers, hoe weerloos die sitter, hoe delikaat die verhoudings tussen reisgenote, tussen mense, is.

Vandag die vrou met die roos en die versluierde oë, dié oë wat ligter geword het en al hoe dieper gedroom het.

Hulle hande het geraak toe hy die koker vir haar gegee het.

Of sy weer na die tekening sal kyk, betwyfel hy.

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.      

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top