Onbeantwoord

  • 2

Ek sien prof Jansen se foto op die tuisblad (by sy onderhoud oor sy Engelse boek) en dit herinner my aan 'n paar onbeantwoorde vrae, vrae wat ek en 'n hele paar ander mense gevra het:

  1. Hoekom het Afrikaans op universiteit so agteruitgegaan onder Bruin bestuur?
  2. Hoekom het die land sedert '94 so agteruitgegaan (alles, paaie, hospitale, die onderwys, dienste, alles)?
  3. Kan 15 Afrikaanse kindertjies by 'n Engelse skool opdaag en daarop aandring om in Afrikaans onderrig te word?
  4. Kan daar van 'n Zoeloedosent of –onderwyser verwag word om in Venda klas te gee?
  5. Indien nie, kan mens dan oor die algemeen sê dit is onredelik om van 'n onderwyser, wat lid van taalgroep X is, verwag om in taal Y klas te gee?
  6. Indien wel, hoekom word Afrikaanse onderwysers en dosente dan verplig om in Engels klas te gee?
  7. Is daar iets in die grondwet wat almal verplig om Engels te kan praat?
  8. Indien wel, is dit nie ongrondwetlik nie?
  9. Indien nie, kan Afrikaanssprekende onderwysers hulle nie op die grondwet beroep wanneer hulle gedwing word om vir Engelse kindertjies klas te gee nie?
  10. Hoekom kan die polisie dit nie regkry om wildstropery, veral wat renosters betref, te stop of ten minste hewig te beperk nie?
  11. Wie het Mapogo Matamaga se tande getrek?
  12. Hoekom is 'n Engelssprekende geamuseerd as hy swak Afrikaans praat maar 'n Afrikaanssprekende is in erge verleentheid as hy swak Engels praat?
  13. Hoekom eindig so baie advertensies op RSG in 'n Engelse slagspreuk?
  14. Hoekom verengels Engelssprekendes Afrikaanse woorde as hulle Engels praat (Dzjouhennisbûgh, Pwietôwië) maar Afrikaanssprekendes doen hulle bes om Engelse woorde op Engels uit te spreek as hulle Afrikaans praat?
  15. Hoekom neem RSG en kykNET aan almal kan Engels praat maar aanvaar heeltemal as iemand nie Afrikaans kan praat nie?
  16. Hoekom is daar so baie Engels op Monitor en Spektrum?
  17. Hoe kan die regering Afrikaanssprekendes nooi vir 'n 'gesprek' terwyl hulle die Afrikaner terselfdertyd afjak deur Afrikaanse name links en regs te verander?
  18. Is swart stadsrade effens rooi in die gesig wanneer dorpenaars maar self inspring en die dorp verfraai (probeer restoreer na wat dit voor '94 was)?
  19. Wat verstaan vandag se studente onder die begrip 'apartheid'?
  20. Besef die kerke die onberekenbare skade wat hulle aangerig het deur verskoning te vra vir wat hulle wit voorouers verkeerd SOU gedoen het?
  21. Besef Afrikaners dat Engels die amptelike taal in die land is?
  22. Hoekom bestaan so baie grense in Afrika uit reguit lyne, lyne wat slegs met gesofistikeerde opmeetinstrumente bepaal kan word?
  23. Hoekom is Lesotho en Swaziland onafhanklike state maar 8 ander Suider-Afrikaanse volke het nie onafhanklike state nie?
  24. Hoekom is Namibië se amptelike taal Engels, gegee dat selfs SWAPO se toesprake in Afrikaans was?
  25. Hoe kan professor Van Niekerk vir 'n klas van 250 studente vra in watter taal hulle verkies om onderrig te word; sou 'n voorafopname , sê per stembriefie, nie meer regverdig gewees het nie?
  26. Hoekom sê professor Van Niekerk dat Stellenbosch nog NOOIT 'n Afrikaanse universiteit was nie?
  27. Hoekom klink professor Van Niekerk, 'n Afrikaanssprekende, so tevrede met die oorname van Engelssprekendes op US-kampus?
  28. Hoe kan 'n preek op 'n Sondag verbygaan sonder dat daar hewig beswaar gemaak word teen die moorde op plase?
  29. Hoekom is dit in die haak om bekommerd te wees oor alles wat verdwyn behalwe Afrikaans?
  30. Hoekom dink mense Engfrikaans is oulik en 'kreatief'?
  31. Hoekom is daar al hoe meer Engelse woorde (champagne, baby, lullabye, beach house, lifestyle, fairytale, maybe, glamour, games en TALLE ander) in Afrikaanse liedjies?
  32. Hoekom is daar so min Afrikaners wat hulle misnoeë uitspreek oor bogenoemde verskynsel (vraag 31)?
  33. Wat het van Schalk Jacobsz en Elna Potgieter geword?
  34. Dit is nou 67 jaar na die Tweede Wêreldoorlog, presies waar ons in 1969 ten opsigte van die Engelse Oorlog was. Hoekom word huidige storievertellers en filmmakers oor WOII nie so beskuldig van koei-opdiepery soos ons al sedert 1914 (die Rebellie) beskuldig word nie?

Daar is nog baie vrae maar my woorde is nou al 600+. Tot 'n volgende keer dan.

Jan Rap

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek is bly om te sien Schalk Jacobsz is nog met ons. Ek onthou hom veral vir sy ryk stem, wat in vele oorgeklankte reekse gebruik is - die een wat ek die beste onthou was as ene Theophraste Longuet in 'n reeks getiteld "Die ander een." Ek wens ek kon daardie reeks (in sy oorgeklankte vorm natuurlik, want ek verstaan geen woord Frans nie) weer êrens in die hande kry...

     
    En so gepraat van oorgeklankte reekse, ek wonder of daar nie 'n groot nostalgie-mark is vir reekse soos Derrick, Die Tierbrigade, selfs Die man van staal ens. is nie. SABC is in elk geval besig om stokou Engelse reekse die een na die ander weer uit te saai. Miskien moet hulle maar dieselfde doen met al daardie ou oorgeklankte goed uit die 1980's. Derrick was tog in elk geval veel beter as CHiPs.

     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top