Onaangeraak
As ek vandag êrens in die Kgalagadi Park
tussen hartebeeste, wildebeeste en Afrika luiperds
kon gaan sit sommer net so platgat in die stof
sou ek my vergryp aan die wonders van ons land
ek sou vergeet van die Boland se berge
en my Vallei vol stomp, goue koringlande.
Ek dink ek sou eers sekretarisvoëls en valke bestudeer
ek sou verdrink in die habitatte en ekosisteme
en al die goed wat geld nie kan koop
ek sou vergeet van die gat in my hart
die letsels op my siel en my onvoltooide spore.
Ek sou aan niks wou vat nie
ook nie ’n binne-begeerte hê om iets na te laat nie
ek sou eerder alles net so los
myself ook net so wou los
saam met my spoke en skadu’s onder ’n boom sit
en stil-stil asemhaal
tot alles om my verstof.
Kommentaar
Net Carin kan sekere goed doen en hierdie is een van hulle
Hier skryf jy my hart raak.
Pragtige gedig hier, Caren, ek voel jou verlange en versugting aan.
Uitsonderlike gedig!