Omdat hy kán

  • 5

Kyk, as jy goed is, dan ís jy goed.

Elke keer wat ’n resensie van Johann Kriegler in ’n koerant verskyn, los ek alle ander dinge en lees dit eers. Dan plaas ek dit eenkant, en later in die dag, met Sondag se skemerkelk, gaan lees ek dit weer behoorlik van kant tot kant.

Hy skryf resensies wat met elke kyk ander aangesigte openbaar: oor die onderwerp, oor homself.

Natuurlik ken ons dié afgetrede regter al goed. Hy was die man wat legitimiteit gegee het aan die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika. Hy is ook vader van nege, wat beteken dat hy ook weet hoe om sente om te draai.

Miskien wil ek te veel van dié wonderlike mens sien in die woorde wat hy neerpen. Tog is dit opvallend dat sy resensie van Chris Bishop se The BEE billionaires (Rapport Boeke) eers fokus op die groot geld en uiteindelik te ruste kom op diegene met geen geld nie, húlle wat éintlik by swart ekonomiese bemagtiging moes gebaat het.

Die mens agter die resensie. Mens vind hom in woordkeuses, in stilistiese dwarswinde. Soos in “’n vlaag swart miljardêrs”, wat vir my dieselfde heimlikheid het as ’n nou fietssaal. Of Chris Bishop se boek wat “dieselfde snaar … tokkel” as ’n lys ander boeke wat hy vooraf genoem het. ’n Titseltjie meta.

Dis wanneer mens by sy analise kom dat jy weet hoekom hy so ’n hoog aangeskrewe juris is. Want hy’s nobody’s fool.

BEE, of SEB, is ’n onderwerp wat in ’n koerant met Afrikaanssprekende lesers nie dieselfde aanklank sal vind as foto’s van Eben Etzebeth se troue nie.

’n Resensent weet hy gaan iets anders moet doen met só ’n onderwerp. Hy sit met dieselfde probleem as  plastiese sjirurge: Hoe meer jy wegsny, hoe meer Mickey sit jy in die Rourke. Kriegler se kanse om wyd gelees te word met dié resensie was uit die staanspoor skraal.

Wat Kriegler dan doen, is vir my baie dapper. Hy weet Bishop wil nie ’n foliant pleeg nie, en sê dit. Wat die boek wel is, is “nie ’n blote feitevertelling nie, maar eintlik ook ’n waardeoordeel, ’n pragmatiese besinning en ’n ernstige poging om by te dra tot die oplossing van die SEB-geskilpunt”.

Los van die onintellektuele braaksel wat mens op Facebook en onderaan webkrante se berigte sou kry.

’n Goeie resensie kan dikwels gemeet word aan alles wat nie gesê word nie. Kriegler se keuse van dinge om te presiseer sluit daarby aan. Die belangrikste is die werklik positiewe resultate van SEB, met voorbeelde van die magdom swart sakelui wat danksy SEB presteer het.

Die name wat ter sprake kom, is dikwels vir Kriegler onbekend (“tot my skande …”). Helaas, vir die uwe ook, en ek vermoed vir die meeste van Riekie Louw se danstroepies ook.

Wat Kriegler dan met die resensie doen, so onder ons oë, is om aan die hand van Bishop se navorsing oor SEB ’n beeld te begin vorm van die veranderende samelewing, van die vorm van ’n gesonde kern. Dit gaan hier oor breë kultuur, sosiaal-ekonomies gesproke.

“Dit is terloops g’n verrassing dat hoogs gespesialiseerde (en beloonde) superprokureurs en verwante praktisyns soos onkruid ná die eerste reën oral ontpop het nie. ’n Hele nuwe geslag toppresteerders op universiteit, sakeskool en dergelike is afgeskep en floreer vandag in ’n esoteriese SEB-newel.”

Interessante beeld daai, van die onkruid. Die dwarswind, sien. Dit plaas die resensent aan die kant van wat ek ’n stereotiepe Rapport-leser sou noem. AfriForum-in-boots. Maar eintlik ook nie. Hang af hoe jy kruid benader.

Maar nou weet ons ook dat Kriegler ’n strategiese resensent is. Sy skanse is ingebou (“tot my skande ...”). Hy sê SEB “is in wese ’n geslote boek, ’n ondeurdringbare wetteregtelike oerwoud, met omskrywings en definisies en kwalifikasies, afdelings en subafdelings en kodes en handveste en plek-plek goëlterminologie, ’n kruis tussen ouderwetse Marxisme en die nuwighede en diep-filosofiese wyshede van kritiese rasseteorie”.

Wat Bishop nie ontken nie, is dat SEB reeds skouspelagtige resultate opgelewer het. En Kriegler maak ons nuuskierig daaroor, hoewel hy die gedagtelyn gou terugbring na die ander belangrike punt wat die boek beklemtoon: “Daar is ook onderlangs ’n gemeenskaplike en knaende aanspreeklikheidsbewustheid vir die mislukking van die beleid, met skeptisisme jeens die wankelrige politieke leierskorps se vermoë om dit te herstel. Die ganse stelsel moet herwaardeer word; daar moet opnuut en vreesloos eerlik gekyk word hoeveel armes inderdaad opgehef is. Die verwarring en bontpratery daaroor deur ministers en amptenare is dodelik vir buitelandse belegging en moet summier end kry.”

Johann Kriegler se afsluiting van sy resensie is só netjies dat ’n mens se mond eintlik oophang van verbasing. Sy aanloop (“Dis te betwyfel of die boek enige regstreekse invloed op staatsbeleid kan hê, maar in die mate dat dit meningvormende lesers [my kursivering] se kennis verbreed en verdiep, is dit in sigself ’n betekenisvolle rendement op Chris Bishop se arbeid”) is daardie lang swaai in die argument waarop ’n mens gewag het voor die finale swiep: “Volharding met SEB in sy huidige gedaante [gaan ] ons land oneindige skade …  berokken.”

Ek het reeds genoem dat goeie resensies dikwels baie te make het met dinge wat nie genoem word nie. In hierdie geval onderskryf die resensent die boek se slotsom. Omdat hy kan. Enigiemand wat sy huiswerk gedoen het, sal weet dat Johann Kriegler sy vormingsjare gehad het in die tyd toe die Nasionale Party besig was om uitvoering te gee aan die WEB-ideale van 1934 se Afrikaner Volkskongres. As juris is hy onbesproke. Hy het die eras van Verwoerd, Vorster, Botha en De Klerk beleef, was lid van ons eerste Konstitusionele Hof-bank, en het die kritiese afstand om enige EB-beleid en -uitkoms te evalueer.

Chris Bishop kan baie in sy skik wees met dié resensie.

Die beste vir laaste: Lees gerus Kriegler se laaste sin: “Dáárom is The BEE Billionaires aanbevole leesstof vir diegene wat hierdie resensie tot hiertoe gelees het.”

Ek is versot op humor wat alles wat voorafgegaan het, kontekstualiseer. Wrang, sardonies. Bravo!

  • 5

Kommentaar

  • Tydskrifte plaas bekendes op die voorblad omdat hulle moet oorleef. Die navorsing agter, en inhoud van die artikels, asook hoe dit geskryf word, is egter van hoogstaande gehalte. Ek praat nou van die een met Eben-hulle op die voorblad. Dis hárde, hárde werk onder leiding van 'n briljante redakteur. Bekyk die tydskrif 'n bietjie van naderby en sonder om vooraf te oordeel.

  • Abram Kriel,
    Dit lyk my dat het sowaar nou wat geword, want dis nie die eerste keer wat ek dit hoor nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top