Omar die Tentmaker

  • 0

Ontwaak! Die oggend het in die kom van die nag
die blink klip geslinger wat die sterre laat vlug.
En kyk, die ruiter uit die ooste het
die sultanstoring gevang met ’n lasso lig.

Daardie paleis met torings wat die hemel soek
 waar sultans daagliks gebid het en soms moes vloek –
ek het ’n lagduifie daar sien sit
en “koeroek, koeroek”, roep sy, “koeroek, koeroek”.

Ag my lief, kon ek en jy met die lot saamsweer
om die krom bestel van sake te korrigeer,
hoe sou ons dit nie aan skerwe slaan
en dan boetseer – nader aan wat die hart begeer.

Kortstondig trek ons deur hierdie dor woestyn,
kortstondig drink ons by die oase wyn.
Skink gou! Die karavaan gaan met dagbreek
verder en die môrester het alreeds verskyn.

Die Dood sal hom uiteindelik op elkeen wreek –
óók op die sjah wat hom in ’n paleis versteek.
Een nag word hy met ’n rykversierde dolk deur
die altydteenwoordige Kamerling gesteek.

Hulle sê die leeu, akkedis en das
hou die hof waar vroeër Jamsjied gebras
het. En Bahram, die groot jagter…  die sebra
stamp en stamp bo sy kop, maar hy slaap vas.

*

In die tent van Omar Khayyam
het ek soet wyn gedrink en saam
gesing – maar as die Dood die toue sny
waar gaan ons dan die tent opslaan?

 

Stellenbosch, 1976

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top