In die voorportaal van ons voorstedelike woning staan daar gisteraand houers met goedjies, boekies oor die geestelike en ornamentjies en wat nog weet ek nie; goeters wat ’n sonnige vriendin sommer “kaggelkakkies” sou noem.
Dit alles staan reg om vervoer te word na ’n ander perseel, om daar in afwagting te rus totdat die Durbanville Plaasfees in Maart 2018 plaasvind en die inhoud van die houers op tafels gepak en saam met ander mense se oudhede, wit olifante of kaggelgoedjies uitgestal en verkoop kan word; sodat vreemde mense nuwe ouerige goeters vir hul huise kan kom versamel en sodat die woord vervul kan word … “om op te gaar kan ons baie moeg maak”.
Die relaas vandag gaan egter nie oor die sosiale of selfs ekonomiese korrektheid van die uitstalware of selfs die versamelaarsgees nie, maar oor die mens wat agterbly; die mens wat agterbly nadat dít wat hy of sy gereken het sy lewe mooier of rooier kon maak, weggegee moes word.
Dieselfde geld vir die mens wat agterbly nadat hy iets wat hy nie wou weggee nie, tog verloor het.
Goeie maters van ons se ouers het nou onlangs tot die besef gekom dat die huis teen die bult nie meer werk nie en dat die alewige trap boontoe en die gesukkel ondertoe, nie die kleinkinders se kuiers en oorslaap die sous of die kool werd maak nie.
Die vier slaapkamers en tweeslaapplekmotorhuis en alles tussen-in het net te veel begin raak; die huis moes verlaat word en ’n nuwe, bonkige nessie was die ouer mense se voorland.
Die huis soek is seker die maklike deel, die pak en die trek en die uitpak en plek soek vir elke blik en stoel is die traumatiese ervaring. Dis amper soos om ’n ander mater se nommer 14-voete in my nommer agt of nege skoen te probeer gemaklik maak; êrens gaan die bloedsomloop klonte kry en sal die skoene se wande geknip moet word! Die antwoord is tog voor-die-hand-liggend, hoor ek iemand uit die boonste gestoeltes sê-vra … of is dit?
Sondagmôre word ons oudste seun wakker gemaak deur die bank wat vir hom boodskappies na sy selfoon toe stuur. Die bank is bekommerd aangesien iemand, wat nie hy is nie, by ’n vreemde OTM met die verkeerde kode geld wil trek!
Hy skrik en storm beangs, selfoon in die hand, by my en Mammie se slaapkamer binne.
“Iemand trek geld uit my rekening!” weergalm dit deur die huis.
Ons skrik en Mammietjie spring uit die bed, so al asof die skurke op die skerm van die selfoon vir haar hardhandigheid wag en ek … ek sukkel bewegingloos om wakker te word te midde van die rumoerige aanslag op die kalme gevolge van gisteraand se Sauvignon blanc en die hoofpynpille wat daarin opgelos was…
“Sê gou weer, wie doen wat?”
In die kattebak van sy motor, daar waar sy rugsak met sy rekenaar, beursie, bril, pen, skoene ensovoorts ensovoort was, is daar nou niks nie!
Ek het hom so baie jammer gekry, want selfs al sou die roepstem van verwyt heel eerste sy opwagting in my gedagtes en op my tong wou maak, sou dit nie die trane van ons jongman se wange afdroog of die bleke skok in sy lyf troos nie; hy het vandag, vir die eerste keer in sy lewe, goeters verloor wat vir hom belangrik was, goeters wat vir hom eienaarskap gegee het en goeters wat hy met sy eie geld gekoop het! Nou is dit weg, en ja, hy wou dit nie weggee nie, maar hy het …
Onder in die pad sien ek ons buurman-oom, die vriende se pa, met sy helder truitjie die laaste losgoed in sy motor laai. Die woning wat hul tuiste was moet seker nou leeg wees en alhoewel die kinders net so moeg gewerk aan hierdie trek is, moet dit vir hom seker erger wees wanneer hy vanaand die trui oor sy kop trek en op sy bed gaan sit, onder ’n vreemde dak en in ’n kamer wat nie meer na sy eie voel en lyk nie. Sy kaggelkakkies staan nie meer rakkies en vensterbanke vol nie en die bekendheid van sy roetine-paaie deur die huis is weg. Ja, hy wou dit miskien nie alles weggee nie, maar hy moes.
In ons MK[1]-getroude lewe het ons drie keer die laailorrie gelaai en getrek. Elke keer het ons minder gehad om weg te gooi, nie omdat ons aan die goeters vasgeklou het nie, maar omdat die asgate die stukkende opgaargoed en ander mense se vertrekke en kaste die oorvloed van ons amper-nuut en ongebruikte goeters in besit kon neem. En, wanneer ons weer trek, dan sal daar weer weggooigoed wees; kombuis-, huis- en motorhuis-opgaarsels wat waarde vir ’n ander, meer as vir ons, behoort te hê.
Dinge, plekke en mense wat kom en gaan is ’n onvermydelike waarheid van ons bestaan. In ’n wêreld en kultuur waar ons strewe na besitreg, standvastigheid en wat myne is, leer die aanvaarding van die werklikheid ’n mens dat die lewe, gesondheid, vreugde, hartseer en die materiële, ja selfs ons identiteit, nie permanent is nie. Alles verander altyd; ons hele bestaan is altyd in gedrang en aan die verander ... selfs Mike Tyson het blykbaar op ’n keer gesê: "Almal het 'n plan, totdat hulle in die gesig geslaan word...”
Ek kon verknog raak aan die idee dat my hartseer oor goeters en plekke wat ek verloor en soms sommer weggee het, vir ewig sou brand, maar dit is nie waar nie, want ek kan onthou hoe opgewonde ek was toe ek die werklikheid van een-dag-op-'n-slag leer ken het – die goeie, die slegte en die moeilike dae.
My seuns, daar is tog raad wat ongelukkig waar is: “Jy kan altyd huis toe kom,” want ons almal vind troos op verrassende plekke.
-----------------
[1] MK – Met Kinders / nadat die kinders gebore is.


Kommentaar
Soos Prediker sê: "Daar is 'n tyd om op te gaar en 'n tyd om weg te gooi ..."
Dit nou baie geniet. Jy skryf goed.