Die verskyning van George Claassen en Frits Gaum se boek oor religieuse geloof en ongeloof (SêNet, 20 tot 27 Maart) is voorafgegaan deur 'n soortgelyke publikasie, naamlik Hier staan ek ... (Kaapstad: Griffel Media, 2011, 288p, R220), onder redaksie van Diek van Wyk, Coenie Nolte en Leon Atterbury. Eersgenoemde boek probeer om 'n balans tussen geloof en ongeloof te handhaaf. Die ander werk hel skynbaar meer oor na twyfel en onkonvensionele religieuse geloof. Anders as in eersgenoemde boek is hier egter nie sprake van uitgesproke ateïsme nie (p 11). Vir Coenie Nolte se twee vorige boeke het ek waardering (SêNet, 29.04.2011). Ek het ook reeds die aandag gevestig op die feit dat Martin Luther waarskynlik nie die bekende woorde (Hier staan ek, ek kan nie anders nie) tydens sy verhoor gebesig het nie (SêNet, 18.11.2011).
Ek gaan hierdie boek bespreek sonder om te herhaal wat ek oor Claassen en Gaum se boek geskryf het. Dalk is dit ook onnodig om die medewerkers elke keer te identifiseer. Wat van belang is, is wát gesê word. Naas die redakteurs se voorwoord bestaan die werk uit twee dele. In die eerste deel is vyf anonieme predikante aan die woord. Die tweede deel bevat die bydraes van negentien medewerkers (insluitende die drie redakteurs) wat hulleself identifiseer. Die skrywers is dus sowel teologie-geskooldes as leke. In die voorwoord word die boekinhoud soos volg beskryf: "'n Aantal skrywers vertel van hul spirituele groei en ontwikkeling weg van waarhede wat nie meer vir hulle sin gemaak het nie, en van koersveranderings wat hulle in hul geloof gemaak het" (p 9).
Om onderskeibaar te wees, het kerkgenootskappe hulle tradisioneel tot sekere leerstellings verbind. Hierdie medewerkers distansieer hulle egter van hierdie soort dogmatisme of "gebalsemde standpunte" (p 242). Hulle sal nie weer "kerkmak" raak nie, want "Kategismus-antwoorde" stel hulle nie tevrede nie (p 128). Hulle verkies vrye vertolking en uitlewing van hulle oortuigings, wat aan voortgesette verandering (of "groei") onderhewig is. 'n Hele aantal van hulle vind aansluiting by die beweging van die Nuwe Hervormers. Hulle probeer nie om ander tot hulle standpunte oor te haal nie en hulle veroordeel nie diegene wat konvensioneel glo nie.
Die doel met hierdie publikasie is om begrip en gesprek te bevorder (p 11). "Die kerk kan 'n baie onveilige plek wees om jou hart uit te stort wanneer jy dit die nodigste het om te praat" (p 161). Uit baie van die bydraes is dit duidelik dat die vrees wat Bybelverse en kerklike vertolkings ingeboesem het, aanleiding tot die skrywers se aanvanklike geloof gegee het. Hulle is as't ware "geestelik gemolesteer" omdat hulle jeugdige onskuld misbruik is (p 68). Om rus te vind, moes van hierdie vrees ontslae geraak word. "Hoekom het Hy nodig om heeltyd tevrede gestel en geprys te word?" (p 259). Dit word dan die aanvang van hulle afvalligheid. Die wreedhede wat in die Bybel beskryf word, of deur kerklike gelowiges gepleeg is, het baie van die medewerkers met afgryse vervul. Andersins is dit dikwels wetenskaplike bevindings, soos die ewolusieleer, wat hulle vertroue in kerklike uitsprake ondermyn. Teenstrydighede in die Bybel of sodanige vertolkings, bv "Almal wil hemel toe gaan, maar niemand wil doodgaan nie" (p 88), ontmoedig ook aanvaarding.
Hedendaagse historiese kennis ondermyn ook die gesag van die Bybel. Dit is bekend dat inligting uit ander godsdienste oorgeneem is, dat die tekste van die Bybelboeke deur mense geskryf en aangepas is en dat mense besluit het watter tekste in die Bybel opgeneem word. "Die menslike element in die Bybel was eenvoudig te oorheersend om daarvan 'n geïnspireerde, onfeilbare Woord te maak" (p 31). Deur af te sien van 'n deurgaanse letterlike verstaan van die Bybel en deur baie van die inhoud mites, metafore of beeldspraak en gelykenisse te noem, word die tekste meer aanvaarbaar vir hedendaagse mense. Die algemene neiging by die medewerkers is sekularisering; dus toepassing op die hier en nou, die skepping van 'n hemel of koninkryk op aarde.
Ek het 'n fundamentele probleem met afvallige predikante en teologie-dosente as hulle hulle radikaal-hersiene opvattings verswyg maar tog voortgaan om in die betrokke kerkgenootskap te funksioneer (SêNet, 9.06.2011). 'n Predikant wat aan die bestaan van 'n persoonlike God en aan lewe na die dood twyfel, nie meer die Bybel lees nie en nie meer bid nie (p 18-19) kan onmoontlik in die konvensionele sin bevredigend in sy pos funksioneer. Hy maak hom skuldig aan doodgewone oneerlikheid teenoor die gemeentelede en die kerkgenootskap; sy "lewensroeping het oorgeslaan in rolvertolking" (p 45). Tog is dit plaaslik en elders 'n algemene verskynsel dat hierdie afvalliges (ketters?) voortgaan om die sekuriteit en materiële voordele van hulle kerklike amp te geniet. "Ek sal in die kerk bly" (p 48). "Nie dat ek die kerk wil verlaat nie" (p 49). "Die kerk is 'n eeue oue instelling wat steeds goed benut kan word vir die goeie in die lewe" (p 50). "Ek kies om te bly in die tradisie waarin ek grootgeword het en die moeilike pad te betree om daarbinne na nuwe begrip te soek" (p 83).
Skeptisisme oor geloofsgenesing bestaan omdat die aansprake beperk is tot kwale wat nie maklik sigbaar is nie. Geloof kan egter nie 'n geamputeerde ledemaat laat aangroei nie (SêNet, 22.03.2012). "'n Mens sou verwag dat die persentasie genesings by gelowiges baie hoog en by ongelowiges laag sou wees. Die feit is egter dat, of jy glo of nie, bid of nie, geen meetbare verskil maak nie" (p 30). "Jy het seker al opgelet dat daar nooit gebid word vir die herstel van die blindgeborene, die mongooltjie of die kreupele nie" (p 277).
Sommige van die medewerkers gaan uit van die veronderstelling dat die heelal geskape is. Maar daar word ook op gewys dat God se ontstaan nie verklaar word nie (p 49). Die gebrek aan betroubare inligting oor God word dikwels oor die boeg van die misterieuse gegooi: "Ek sien God as die omvattende misterie, die onbeskryflike bron van alles" (p 70). Soms word hierdie bron Energie genoem (p 154). Irrasionaliteit kan hier 'n vasstrapplek kry. Die een skrywer het "net geweet ... dat God nie is soos die kerk wil hê ek moet glo nie ... Ek weet in my diepste wese van God. Om te weet is nie in die verstand gesetel nie" (p 107-108). 'n Ander skrywer sê: "Dit is hoe God vir my bestaan ... ek voel Hom intuïtief aan ... Daarom wil ek in God glo, en verkies ek om in Hom te glo" (p 122). Nog een beweer: "Om ... werklik te begryp, moet 'n mens jou 'siel' ervaar en nie net daaroor dink nie" (p 255).
'n Ander een beklemtoon die rol van die onderbewussyn, bv: "Drome probeer om ewewig in die innerlike lewe te skep" (p 142). In die bundel word die toppunt van irrasionaliteit deur 'n sielkundige bereik. "Ek was oortuig dat daar 'n plek binne die mens se psige is waar al die geheimenisse van God, die skepping en die hele lewe opgesluit lê" (p 252). "Die misterieuse wêreld van die onbewuste het veral deur my bestudering van drome vir my sy geheimenisse begin wys. Dit laat my nou nog soms stom oor die presiese, fyn humoristiese en absoluut relevante taal van drome, wat niks anders as Goddelik geïnspireer kan wees, met mense [wat] in hulle slaap praat" (p 253). "My eie reis het die afgelope paar jaar egter al hoe meer in ander rigtings as intellektuele begrip en kennis beweeg" (p 254).
Aan hierdie misterieuse (eintlik onbekende, selfs onkenbare, p 155) God word dan spekulatiewe inhoud gegee. Daar word (arbitrêr) besluit dat sy essensie liefde (of omgee) is (p 70, 127, 167). Dit open die weg om Jesus se lewe as rigtinggewend te aanvaar (p 83, 99, 123). Maar dit berus op 'n keuse ooreenkomstig huidige sosiale behoeftes en sluit aan by die hedendaagse (veral Amerikaanse) neiging om Jesus tot rolmodel te verhef. [Robert Wright (The evolution of God, London: Abacus, 2010) maak dit duidelik dat Bybelse liefde aanvanklik hoogstens toegeneentheid jeens medegelowiges beteken het en eintlik glad nie 'n prominente rol in die Bybel (veral die Ou Testament) speel nie.] Dit is deel van die huidige kafeteria-benadering tot godsdiens: Jy mag maar daardie elemente uitkies wat jou pas en vir jou 'n pakket saamstel waarmee jy kan saamleef; "die vermoeienis van eie wieke" (p 247). "Ek weet niks van God af nie. Alles wat ek oor God sê, is hoogstens wat ek hóóp God is" (p 168). Dit kom neer op wensdenkery wat nie in die werklikheid weerspieël hoef te word nie.
Nog 'n medewerker skryf: "Ek vind rus in die aanvaarding van God as Misterie," maar hy erken terselfdertyd en tereg: "Die woord 'Misterie' bring 'n mens nie ver om nuwe inhoud aan die godsbegrip te gee nie en is tewens paradoksaal as 'n verklaringsbeginsel" (p 81). Die stelling "die mens is geskape na die beeld van God en God is 'n misterie" (p 213, ook p 228, 235) kan kwalik sinvol wees. 'n Mens kan moontlik vra: "Hoe kan ek met iemand praat wat ek my nie kan voorstel nie?" (p 242). Misterie lei verskeie medewerkers daartoe om aansluiting by Oosterse godsdienste te soek.
Die vermyding van ateïsme in die bundel dui myns insiens enersyds op inersie, dus op die houvas wat religie in hulle jeug op hierdie skrywers gekry het. Hoewel hulle na bevryding streef, raak hulle nie van al die religieuse bagasie ontslae nie; veral nie as dit materiële voordele inhou nie. Andersyds, as die bestaan van God ontken sou word, is daar die wesenlike gevaar van verguising. Daarom wend sommige hulle tot panteïsme. Daarmee word die bestaan van God as 'n metafisiese persoon ontken. Eintlik kry die werklikheid net 'n ander naam, naamlik God. Dit funksioneer dan as 'n susmiddel maar dit hou die smet van ateïsme weg. Tog is dit "geen sonde ... om ánders te dink as almal om jou nie" (p 158).
Johannes Comestor


Kommentaar
Beste Johannes,
Dankie vir nog 'n leersame bydrae.
Wat lank reeds belangstelling by my boesem is die gedagtes in jou laaste paragraaf.
Jy tik: 'Die vermyding van ateïsme in die bundel dui myns insiens enersyds op inersie, dus op die houvas wat religie in hulle jeug op hierdie skrywers gekry het. Hoewel hulle na bevryding streef, raak hulle nie van al die religieuse bagasie ontslae nie; veral nie as dit materiële voordele inhou nie. Andersyds, as die bestaan van God ontken sou word, is daar die wesenlike gevaar van verguising. Daarom wend sommige hulle tot panteïsme. Daarmee word die bestaan van God as 'n metafisiese persoon ontken. Eintlik kry die werklikheid net 'n ander naam, naamlik God. Dit funksioneer dan as 'n susmiddel maar dit hou die smet van ateïsme weg. Tog is dit "geen sonde ... om ánders te dink as almal om jou nie."'
Johannes, daar kon nog nooit 'n puristiese ateïstiese opvoeding 'n enkele geslag op aarde wees nie. Elke mens op aarde het 'n godsdienstige voorouer en al ons oerouers was godsdienstig. Daarom kan daar nie op 'n geëmansipeerde ateïstiese moraal aanspraak gemaak word nie.
Ek het ook al die voorreg gehad om met Angus en Chris Dippenaar rede te voer aangaande hul self getitelde ateïsme wyl hul beskouinge eintlik panteïsties is.
Dink jy nie ook sogenaamde ateïste dra swaar aan hul Calvinistiese bagasie nie? Is dit nie maar 'n Protestantse onding dat as jy nie gereformeerd is nie, dan is jy 'n ateïs hetsy jy jou plekkie warm sit in 'n katolieke gemeenskap of nie?
Futuristiese Abrahamitiese Hindoe, katolieke en Boeddhistiese liefde,
Cornelius