Om terug te gaan

  • 0

Daar is so baie plekke wat ’n mens kan sien, wil sien, op hierdie aardbol. En dan is daar plekke waarheen ’n mens wil teruggaan; sommige weer en weer, ander vir slegs ’n enkele keer.

Om net een laatmiddag weer in Istanboel te wees. Soos die eerste keer moet die hortjies van die kamervenster van die regop, smal hotelletjie digby die Blou Moskee toegetrek wees maar die ruite wyd oop sodat die straatklanke deur die smal skrewe kan sypel: ’n Vrou wat uitroep, twee mans wat dreunpraat, iets wat klink soos ’n kind se skopfiets oor die kieselstene.

Dit sal weer warm wees: ’n Klouerige soelte wat jou telkens laat opstaan van die ietwat té hoë bed; nog iets van jou lyf afstroop. Eers die denim. Later die T-hemp. Nog ’n bietjie later sommer alles.

En dan sal die muezzins begin. En jy sal in hoendervleis uitslaan oor jou kaal lyf ondanks die hitte.

Die enigste ander plek waar die muezzins ’n mens ook tot trane kan dryf is in Stone Town, Zanzibar. Met die see agter jou rug en die verslete stegies uit die oog, kan jy maar net die inkomende gety binne jou borskas probeer beheer.

’n Bestemming wat telkens soos ’n eerste keer voel, en wat ’n mens net nooit heeltemal kan deurgrond nie, is Inhambane. Die heel eerste keer was soos ’n tuiskoms wat jou kon laat sweer aan geloof in reïnkarnasie, want daar is presies afgery op die enigste oop bakkery in die dorp. Miskien is dit omdat so min toeganklike geskiedenis opgeskryf is van dié eeu oue handelshawe wat ’n mens kan loop nalees dat dit immer voel iets beweeg aan die periferie van jou sig maar sodra jy jou kop draai en probeer kyk, is dit weg.

Op die elmboog wat die dorp met die strandmeer maak, is daar ’n huis met ’n groot werf en ’n uitsig oor die dau’s se swygsame kom en gaan. Met die laaste uitgerekte wandeltog deur elke liewe straat van die dorp was op daardie uithoek ’n hoenderhen met talle kuikens onder die flambojant en die water het uit die tenk gedrup-drup en al die frangipani-bloeisels het op die sypaadjie gelê en ’n jong seun op ’n swart dikwielfiets het gestop en gevra of alles oukei is. “Ken jy die mense?” was die vraag en sy antwoord was ja en toe is daar nog ’n bietjie gesels en met die wegstap was jou groet: “Hierdie mense het die mooiste huis op die hele aarde.”

Daardie namiddag was die reuk dieselfde as wat jy later sou herken in Quisico, ’n stad in die hart van die Amasone waar ’n mens slegs per boot of vliegtuig kan opdaag. Miskien is dit eenvoudig maar die reuk van halfvergete dorpe.
Shiwa-NganduSoos Shiwa Ngandu naby Mpika in Zambië. Ná jare is dié uithoek langs die Great North Road skynbaar nie meer so verlate nie; slaan daar nie meer ’n klamheid van diep uit die aarde teen die hoofhuis se mure nie. Ja, ’n terugtog daarheen is ’n begeerte, maar daar is ook ’n onwilligheid om een van die suiwerste Sondae ooit beleef dalk op ’n doodgewone Dinsdag of Donderdag te moet herleef.

Die gids se naam was Sunday. Hy het opgedaag iewers vanuit die omringende bloekomplantasies of uit een van die kelders van die huis of dalk van ’n houtboot op die Shiwa-meer. Nie gedink daar gaan hoegenaamd ’n gids wees nie, en dit sou maar goed wees want kort tevore is die boek The Africa House deur Christina Lamb gelees en ’n mens het gedag jy weet wat te wagte is. Hier is dan nou Stewart Gore-Brown se koloniale droomhuis in die middel van niks. Mits jy al die omliggende villages ignoreer. Jy kan nie.

Maar Gore-Brown was daar voordat die meeste villages daar was. Tog was die voorsate van die villagers daar voordat Gore-Brown, nadat hy as veteraan van die Eerste Wêreldoorlog ’n lap grond ¬– ’n groot stuk aarde met ingesluit ’n meer en ’n warm bron, Kapishya Springs – toegeken is deur die Britse regering in destydse Noord-Rhodesië. Die hemele hoor ’n mens, min nasies kon so deeglik kolonialiseer soos die Britte. Want Gore-Brown laat sy linne en kristalglase en boeke en tapyte deur draers karwei deur sowat 700 km se moerassige landskap. “Just because one lives in Africa, is not to say one cannot do it properly.”

Hy het dit prôperlies gedoen.

Daar is die ingangsportaal, muwwerig tydens daardie besoek. Die tapisserieë teen die mure tam en motgevreet. In die eetkamer met die swaar en donker houtmeubels groei ’n sampioen teen die een stoelpoot. Deurgaans wou die verf ook nie meer aan die mure klou nie. ’n Onbewoonde huis slyt soveel vinniger as wat ’n mens ooit kan dink. Daarby is Afrika ’n jaloerse minnares en eis sy, oënskynlik ongesiens, terug wat aan haar behoort deur honger boomwortels deur fondasies te laat beur; gryp taai lote om vensterrame, en syfer die ewige humiede hitte deur en ín als.

Maar om die een of ander rede het die uitsonderlike boekery in Gore-Brown se biblioteek op die boonste verdieping die meeste skade vrygespring. Kyk, blaai Sunday deur een van die enorme volumes van Gore-Brown se dagboeke, so lyk die planne wat aanvanklik opgetrek is; so is dit aangepas, en hier is die lys van boumateriaal wat laat kom is van ander ver lande; hier die notisie van hoeveel bakstene gebak is waar die bloekoms nou staan.

Daar is ’n klein balkon uit daardie biblioteekvertrek. Met die uitstap daarop was die reuk oor die eens noukeurige tuin met aan die kant die buitelyne van ’n klei-tennisbaan, onnaspeurbaar.

En dit is een van die redes waarom ’n mens moet aarsel om sekere plekke opnuut te besoek: Sal die inkrimp van jou hart, soos wat die digter Elizabeth Eybers eens verwoord het, ooit weer dieselfde voel? Nee. Sal dit jou ooit weer so lank bybly, by jou spook? Ja.

Onthou dit. Immer. Kyk dan verder na ander horisonne. Die aarde is vol daarvan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top