Die nalatenskap van die Middeleeue (400-1400) het lank die plaaslike wysbegeerte, oftewel filosofie, oorheers; veral aan die eens Afrikaanse universiteite. Die reste daarvan kan steeds gesien word in teoloë wat as filosofie-dosente funksioneer. Die soeke na die waarheid (filosofie) is met die besit van die waarheid (teologie) verwar.
In die vroeë Middeleeue is die wysbegeerte van Plato (427-347 vC) verchristelik. Albertus Magnus (1193-1280) en veral Thomas van Aquino (1225-1274) het daarna ’n moeiliker taak aangepak, naamlik die verchristeliking van die wysbegeerte van Aristoteles (384-322 vC). In die laat Middeleeue en daarna het Aristoteles as dié wysgeer bekend gestaan. Maar die Verligting het David Hume (1711-1776) en daarna ’n nog groter gees, Immanuel Kant (1724-1804), opgelewer. Kant het as 't ware die wysgerige goudstandaard geword en is dit in sekere opsigte steeds.
Joseph Haydn (1732-1809) het in 1764 sy Simfonie nr 22 gekomponeer. Die eerste deel wek die indruk van vraag en antwoord, die dialektiese metode van debatvoering soos gevind by Sokrates (470-399 vC), oftewel die disputatio-manier van redevoering. Hierdie simfonie het spoedig die naam Der Philosoph gekry, maar dit verwys blykbaar nie na ’n spesifieke filosoof nie.
Kant se filosofie kan as ’n toonbeeld van voortreflike wysbegeerte voorgehou word. Die drie toeganklikste inligtingsbronne hieroor is seker die Wikipedia, die Internet Encyclopedia of Philosophy en die Stanford Encyclopedia of Philosophy. Daar is ’n ontsaglike gedrukte literatuur oor Kant.Ek beveel Roger Scruton se Kant: a very short introduction (London: Oxford University Press, 2001) as ’n uitstekende inleidende studie aan. Scruton het baie moeite gedoen om Kant se wysbegeerte so eenvoudig moontlik aan leke te verduidelik. Gewapen met inligting uit die genoemde vier bronne kan die leser dan self besluit of hy/sy oor die potensiaal beskik om ’n wysgeer te word; "wysgeer" in die tegniese of formele sin; nie in die populêre sin van slimmighede kwytraak nie. Dit sou geen kwaad doen om terselfdertyd na Haydn se pragtige simfonie te luister nie.
Wat hier volg, is elementêre, nie-tegniese, bolangse opmerkings oor Kant. Scruton verduidelik dat Kant die grense van die mens se begripsvermoë wou bepaal en objektiewe kennis (soos deur René Descartes, 1596-1650, verlang) gegrond op kritiese denke wou daarstel. Kant wou dit bereik deur onder andere beheer oor sy emosies uit te oefen. Maar hy het tog verplig gevoel om die grense van sy begripsvermoë te probeer oorstyg. Kant wou sy plig, veral as geleerde, gedissiplineerd doen. Piëtistiese Lutherse geloof, waarvolgens ’n mens ag op jou gewete moet slaan, het ’n vormende rol in sy jeug en selfs later gespeel.
Kant het daarvan gehou om hom van geselskap af te sonder, gevolglik was dit ’n bedekte seën dat hy nooit getrou het nie. Hy het nie van geraas en selfs nie van musiek gehou nie, geen erg aan die visuele kunste gehad nie, maar lief vir poësie gewees. Hy het ’n geestelike lewe ("life of the mind", Kindle 379) gekies en aanvanklik veral natuurwetenskaplike kennis opgedoen. Hy was 57 jaar oud voordat sy eerste belangrike wysgerige boek in 1781 gepubliseer is.
Daardie boek het geblyk nie net Kant se vernaamste werk te wees nie, maar ook ’n mylpaal in die geskiedenis van die (Westerse) wysbegeerte, naamlik sy Kritiek van die Suiwere Rede. Die kennis waaroor mense beskik, is oor dinge (voorwerpe en gebeure) soos hulle hulle in ons ervaring voordoen. Hoe dinge lyk, is nie noodwendig soos dinge werklik in hulleself is nie. Wanneer ons iets waarneem, doen ons dit noodwendig op ’n bepaalde manier. Byvoorbeeld, as gebeurtenis A (sê reën) gereeld op gebeurtenis B (sê wolkvormasie) volg, kom ons tot die gevolgtrekking dat B die oorsaak van A is. In ons sintuiglike ervaring is daar net wolke en reën. Dat die een die ander veroorsaak, het ons rasioneel bygevoeg.
Scruton verduidelik hoe Kant die wysbegeerte van twee van sy voorgangers, die rasionalisme van Gottfried Wilhelm Leibniz (1646-1716) en die empirisme van David Hume (1711-1776), in sy eie denke saamgevoeg en probeer harmonieer het. "Rationalism derives all claims to knowledge from the exercise of reason, and purports to give an absolute description of the world, uncontaminated by the experience of any observer ... Empiricism argues that knowledge comes through experience alone; there is, therefore, no possibility of separating knowledge from the subjective condition of the knower. Kant wished to give an answer to the question of objective knowledge that was neither as absolute as Leibniz's nor as subjective as Hume's" (K 516).
Volgens Leibniz "reality itself is accessible to reason alone, since only reason can rise above the individual point of view" (K 551). "Hume ... denies the possibility of knowledge through reason, since reason cannot operate without ideas, and ideas are acquired only through the senses ... no belief can be established as true except by reference to the sensory 'impressions' that provide its guarantee ... My experiences are as they seem, and seem as they are, for here 'seeming' is all that there is ... Hume reduces my knowledge of the world to knowlege of my point of view. All claims to objectivity become spurious and illusory" (K 555).
Kant voeg hierdie twee standpunte saam. "Only in their synthesis is knowledge possible; thence there is no knowledge that does not bear the marks of reason and of experience together. Such knowledge is, however, genuine and objective. It transcends the point of view of the person who possesses it, and makes legitimate claims about an independent world. Nevertheless, it is impossible to know the world 'as it is in itself', independent of all perspective" (K 581).
’n Mens se vermoëns is sodanig dat hy dinge net op bepaalde maniere, denkkategorieë genoem, kan verstaan. "Experience contains within itself the features of space, time, and causality. Hence in describing my experience I am referring to an ordered perspective on an independent world" (K 589). Ons kan nie anders as om voorwerpe in ruimte en tyd (albei is volgens Kant eerder "forms of intuition" as denkkategorieë, K 761) en gebeure ingevolge oorsaak en gevolg te verstaan nie. ’n Ander maklik verstaanbare denkkategorie is kwantiteit. Ons neem nie tellings as sodanig in voorwerpe waar nie, maar hulle is vir ons telbaar. Ons verstaan van ’n voorwerp is dat daar een of meer is. Dus: "Experience contains intellectual structure" (K 741). Nog ’n denkkategorie is substansie. Ons neem nie substansie as sodanig waar nie, maar alle voorwerpe wat ons ken, het in ons verstaan meerdere of mindere substansie.
Die voorafgaande bespreking is op die terrein van die kennisleer. Dit gaan om verskynsels, dus hoe dinge hulle in ons sintuiglike ervaring voordoen. Van daar af gaan Kant na die metafisika, dus na dit wat buite ons sintuiglike ervaring is, bv dinge-in-hulleself. Oor sulke dinge kan ons per definisie niks weet nie, maar Kant, wat soms geneig was om die grense van moontlike kennis te oorskry, het veronderstel dat daar naas verskynsels dinge-in-hulleself bestaan. Let op Ludwig Wittgenstein (1889-1951) se pittige opmerking hieroor: "A nothing would do as well as a something about nothing can be said" (K 997).
In die metafisika kan daar ook oor bv die bestaan van God en die onsterflikheid van die mens se siel gespekuleer word. Dit kan as springplak dien vir besinning oor menslike gedrag, bv watter dade goed of sleg, reg of verkeerd, vry of onvry, ens, is. Dit is die terrein van die etiek. Die grondstelling (goue reël) van Kant se etiek is: "Act only on that maxim which I can at the same time will as a universal law" (K 1400), dus die Bybelse voorskrif dat ons ander moet behandel soos ons self behandel wil wees. Kant het hierdie voorskrif nie op gesag aanvaar nie, maar rasioneel tot hierdie gevolgtrekking gekom.
Verwant aan die etiek, as ’n ander onderdeel van die waardefilosofie, is daar die estetika, waarin oor bv die begrippe "mooi" en "lelik" besin word. Daar is baie ander terreine waaroor ’n filosoof hom kan uitlaat, bv die politiek. Kant was bv teen demokrasie gekant omdat meerderheidsregering indiwiduele vryheid aan bande kan lê.
Kennis van vakkundige filosofie is nie lewensnoodsaaklik nie. Dit is waarom die meeste mense daar sonder klaarkom. Filosofie kan ’n mens laat tob oor dinge waarmee gewone sterflinge hulle nie besig hou nie. Enersyds kan filosofie ’n mens onseker, ongelukkig, sinies, ens, maak. Andersyds kan dit die indiwidu help om ’n pasgemaakte lewens- en wêreldbeskouing te vorm en sy eenmalige lewe sinvol te lei. Die filosoof bewoon toeganklike lig, maar dit is nie vir almal wenslik of beskore nie.
Wanneer ’n student vir ’n kursus in die wysbegeerte inskryf, neem hy meesal kennis van wat dooie mense eens gedink het. ’n Filosoof hoef egter nie dood te wees nie. Vanaf volgende keer skryf ek oor ’n lewende filosoof, Roger Scruton, wat baie by Kant geleer het.


Kommentaar
Hello Johannes
Ek het eenkeer iets van Kant probeer lees. Hel, was dit 'n gesukkel, nie omdat hy nonsens skryf nie, natuurlik, maar eerder omdat hy 'n uiters onvriendelike skryfstyl het. My brein het eers gevries en toe in neutraal gegaan. Ek het die boek klaar gelees en vas besluit om nooit vir 'n siel te vertel dat ek iets van hom gelees het nie, te bang hulle vra my dalk iets oor sy filosofie. Bydraes soos hierdie een van jou help dom outjies soos ek om ten minste 'n idee te kry van Kant se denke. Baie dankie.
Chris