Wanneer 'n Nobel-prys aan iemand toegeken word, kan die ontvanger normaalweg een persoon as gas na die seremonie bring. Dit beteken gewoonlik dat die vereerde sy ma of vrou saamneem. Byvoorbeeld, in 1933 is sowel Paul Dirac as Werner Heisenberg deur sy ma en Erwin Schrödinger deur sy vrou vergesel. In iedere geval het die ontvanger seker hoogstens een vrou (en nie vier nie). Toe Desmond Tutu in 1984 na Oslo is om die Nobel-vredesprys te ontvang, het nie net sy vrou nie maar ook sy vier kinders hom vergesel, asook lede van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) (John Allen, Rabble-Rouser for Peace, London: Rider, 2006, p 219). Dit is in pas met Tutu se uitspattige lewenswyse waarvan Allen telkens melding maak. Maar dieselfde Tutu "railed against those who lived in privilege" (p 135).
Voor die besoek aan Noorweë, toe aangekondig is dat Tutu die prys gewen het, was hy in Amerika. Hy en sy vrou en twee van sy kinders het daarna met die Concorde (die aller duurste manier van vervoer buiten ruimtevlugte) van Amerika na Engeland gevlieg (p 212). Daarna het hulle na Suid-Afrika gevlieg. Tutu vlieg graag eersteklas (p 232). By hulle aankoms in Johannesburg het Tutu gesê hy aanvaar die prys namens "those who are called the little people - the ones whose noses are rubbed in the dust every day. This award is for mothers, who sit at railway stations to try to eke out an existence, selling potatoes, selling mealies, selling produce. This award is for you, fathers, sitting in a single-sex hostel, separated from your children for 11 months a year. This award is for you. This award is for you, mothers in the KTC squatter camp [Cape Town], whose shelters are destroyed callously every day, and who sit on soaking mattresses in the winter rain, holding whimpering babies ... This award is for you, the 3.5 million of our people who have been uprooted and dumped as if you were rubbish. This award is for you" (p 213). Dit is hoe hierdie internasionaal bekroonde vredemaker hom uitgelaat het.
Die voorafgaande aanhaling is vir my een van die mees hemelskreiend-skandalige tekste in die annale van ons sogenaamde bevrydingsliteratuur, gesien teen die agtergrond van Tutu se gedrag rondom sy Nobel-prys. Tutu is met 'n vredesprys, insluitende $192 000, vergoed vir die onrus wat hy oor baie jare gestook het. Allen skryf vaagweg oor hierdie geld: "He shared some with his family and the staff of the S[outh] A[frican] C[ouncil] of C[hurches] and gave the rest to a scholarship fund for South African students in exile" (p 215). Hierna het Tutu voorsitter van die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie geword. Hiervoor het hy buitensporige vergoeding ontvang; dermate dat hy hom in 'n luukse huis in Milnerton, naas sy huis in Orlando-Wes (p 371), gevestig het en sy weelderige lewensstyl kan handhaaf. Die voetsoldate van die rewolusie, onder andere diegene wat deur Tutu tot geweld opgesweep is, is in die meeste gevalle steeds verarmde sukkelaars. Hy het vir homself materiële voorspoed vermag en nie vir die massa soos hy in 1984 te kenne gegee het nie.
Daar is niks mee verkeerd om aartappels, mielies en ander vars produkte te verkoop nie. Daardie verkopers gaan sedert 1994 voort met hulle (sukkel)bestaan. Baie van diegene wat in 1984 in krotte gebly het, is steeds in krotte en reën steeds nat. Gestel dit was vir Tutu erns om die gepeupel se lot te verbeter. Hy sou dan bereid gewees het om sy persoonlike gerief en oorvloed in te kort. Hy sou derduisende rande op reis- en verblyfkoste kon bespaar. Hierdie koste is waarskynlik (in die meeste gevalle) deur ander mense en instansies gedra, maar Tutu sou hulle maklik kon oorhaal (sy vrou noem hom "a professional beggar", p 241) om eerder bv net een vliegkaartjie (pleks van ses) in die goedkoopste klas (pleks van eersteklas of op die Concorde) te koop en die oorskot geld aan die verligting van armoede te bestee. Die heiliges van die SARK kon op 'n soortgelyke manier geld na die armes gekanaliseer het deur eerder tuis te bly as om politieke munt uit hulle teenwoordigheid in Oslo te probeer slaan.
Onlangs het Tutu diegene in die Groote Kerk in Kaapstad met sy teenwoordigheid vereer. Hulle moes glo meer as 'n jaar wag voordat hy kon kom omdat sy program van openbare optredes oorvol is; en dít nadat hy uit die openbare lewe getree het.
Johannes Comestor

