Om Proust te lees is om met jouself gekonfronteer te word

  • 2
Proust
Valentin Louis Georges Eugène Marcel Proust:
10 Julie 1871 – 18 November 1922

Alta Coertzen het op 23 Oktober 2013 by die Boekwurm-leeskring van Stellenbosch 'n gesprek omtrent Proust se Swann's Way gelei. Sy deel haar lesing met LitNet.

Om Proust te lees is om met jouself gekonfronteer te word. Proust het die ware lewe ontbloot deur waarneming, meditasie en kreatiwiteit en om hieraan uitdrukking te kon gee het hy die genre van ’n roman vir homself herskep – soos wat ’n outentieke kunstenaar met sy kuns behoort te doen – hy het die grense verskuif (Carter 2000:493).

Om Proust te lees is soos om saam met die skrywer ’n reis te onderneem in sy soektog om sy literêre stem te vind – jy weet wat die einddoel is, maar om daar te kom is nie eenvoudig nie, nie altyd duidelik nie, maar so verrykend.

Dit is byna onmoontlik om in ’n kort tydsbestek sinvol oor Proust en sy roman te praat en daarom is dit nodig om aan die hand van die volgende rigtingwysers te besin oor Proust en À la recherche du temps perdu, wel wetende dat baie ander temas en onderwerpe uitgelaat word 1:
 

Rigtingwysers:

  1. Die oorkoepelende titel, die verskillende dele van die roman en Swann’s Way
  2. Die tydsaspek met verskillende onderafdelings
  3. Die struktuur van die roman
  4. Die karakters in die roman

1. Die oorkoepelende titel

Die oorkoepelende titel, À la recherche du temps perdu, ondervang dat daar oor tyd gereflekteer gaan word en dat ’n soektog/reis/ekspedisie ( quest) ter sprake is, naamlik om dit wat verlore is, terug te vind. Dié roman sluit dus aan by die Odusseusverhaal van Homerus.

À la recherche gaan oor ’n man wat sukkel om te skryf en wat sy hele lewe daaraan wy om sy stem as kunstenaar te vind. Maar telkens slaan hy die verkeerde rigting in en verloor en vermors hy kosbare tyd. Eers in sy volwasse jare, toe hy alreeds siek en moedeloos was, weet hy wat die essensie van sy roeping is, naamlik om sy ervarings van sy lewe neer te skryf en deur ’n versmelting en splitsing hierdie verhaal in ’n wêreld van fiksie te transponeer. (Sien Time regained; Carter 2001:38, 2000:459).

Moncrieff se Engelse vertaling word nog steeds as ’n klassieke vertaling van À la recherche beskou. Hy het byna net so lank aan die vertaling gewerk as wat Proust aan die roman gewerk het, maar voordat hy deel 7 kon afhandel, is hy dood. In my uitgawe, die een van Wordsworth, is die laaste deel deur Stephen Hudson vertaal.

Moncrieff se vertaling streef daarna om die uitsonderlike vermenging van gespierde ontledings met poëtiese mymering wat Proust se styl kenmerk, weer te gee (Proust 2006, agterplat).

’n Hele paar Engelse vertalings van enkele van die dele het al verskyn, maar baie van hulle is net ’n aanpassing van die Moncrieff-vertaling.

Alhoewel die roman uit verskillende dele bestaan en elke deel sy eie titel en onderafdelings het, het Proust ’n hele paar moontlikhede oorweeg voordat hy op die titel À la recherche du temps perdu besluit het.

Moncrieff het die titel in Engels vertaal as Remembrance of things past en dit is ’n aanhaling uit “Sonnet no 30” van Shakespeare. Proust se beswaar teen hierdie vertaling van die titel was dat die begrip/woord tyd nie daarin voorkom nie. Ek het al gewonder of Moncrieff nie ’n ander titel sou gemunt het as hy die laaste deel volledig kon vertaal het nie.

Die ander titel in Engels is In search of lost time – dit is merendeels ’n letterlike weergawe van die Frans en is gemunt deur DJ Enright vir sy hersiene vertaling in 1992 (Prendergast 1993).

Die spel met woorde gaan egter verlore, soos die poëtiese nuanses van tyd wat weg is, en die alledaagse betekenis van pedre son temps, naamlik “om tyd te mors”, gaan ook verlore. Daarby word die rol wat geheue in die herwinning van verlore tyd speel, ook negeer. In die Frans word die poëtiese en die gewone moontlikhede gebalanseer (Stern 1989:1; Bales 2001, Prendergast 1993).

Hierdie oorkoepelende titel sluit sewe dele in, elkeen met sy eie titel en onderafdelings:

1. Swann’s Way: met ’n skerper fokus op die rol van die bourgeoisie en dit speel hoofsaaklik af in Combray, ’n fiktiewe dorp.

2. Within a budding grove: speel hoofsaaklik in die Champs Elysées en daarna in die kusdorpie, Balbec, af. Die groep jong meisies is die fokus.

3. The Guermantes Way: met ’n skerper fokus op die aristokrasie, veral die Guermantes-familie.

4. Cities of the plain – Sodom and Gomorrah – Hier is die fokus hoofsaaklik Charlus en sy homoseksualiteit.

5. The captive.

6. The fugitive. (5 en 6 vorm die Albertine-siklus.)

7. Time regained: Die Verteller vind sy stem.

Alhoewel die eerste deel, Swann’s Way, oftewel Du côte de chez Swann,2 die primêre uitgangspunt is vir hierdie bespreking, word die verbande met die res van die roman ook aangetoon.

Swann’s Way bestaan uit vier dele: die overture, Combray, Swann in love en Place-names: the name.

Net soos die oorkoepelende titel is die vertaling van die eerste sin van die roman ook problematies: Longtemps, je me suis couché de bonne heure.

Daar is talle vertalings in Engels van hierdie sin, maar ek volstaan met Moncrieff se vertaling: For a long time I used to go to bed early.

In die buurt van Combray, ’n fiktiewe dorp, is daar twee paaie, naamlik die een van Swann, oftewel die Méséglise-een, en die een van Guermantes.

Die strukturele funksie van die twee paaie is belangrik. Die Verteller het as kind gedink dat die een pad verby Swann se landgoed gaan en die langer een verby die Guermantes-kasteel en dat hulle in teenoorgestelde rigtings lê en dat die twee paaie onderskeie geografiese entiteite is.

In die sewende deel, Time Regained, wys Gilberte Swann die Verteller daarop dat die twee paaie geografies aan mekaar verbind is en dat dit ’n sirkel vorm (Carter 2000:542).

Soos dit alreeds uit hierdie paar opmerkings blyk, is tyd ’n belangrike rigtinggewer in die roman.


2.
Die tydsaspek in die roman

Die tydsaspek in die roman hou verband met die oorkoepelende titel daarvan, À la recherche du temps perdu, met die eerste woorde For a long time en die laaste woorde van die roman they stand like giants immersed in time, wat albei die begrip tyd beklemtoon.

In die eerste paragrawe lees ons hoe verward die kind/Verteller is; dat hy nie weet waar hy is nie; dat daar ’n vermenging is van kindwees en volwasse wees. Daar is dus ’n verbuiging van tyd tussen die hede, die toekoms en die verlede. Daarby is die Verteller op ’n soektog om vergange tyd terug te vind (Carter 2000:48, 421).

Die tydskaal waarin Proust se verhaal afspeel, is redelik lank en hierdeur kan hy die aftakeling van die karakters en die families uitbeeld: hulle wat in die waan geleef het dat hulle rykdom onuitputlik is, dat hulle waardes ondeurdringbaar is en dat hulle voortbestaan verseker is (Gamble 2001: 8, 9).

Die Verteller ken ook die karakters en families van sy kinderdae af, maar die tyd het hulle so verander dat dit lyk asof hulle almal maskers op het, ja die maskers van die ouderdom (Carter 2000:426).

Proust het ook die realiteit van tyd herskep. Vir hom was ’n uur nie net maar 60 minute nie.

In die waarneming van om ’n uur te beleef is daar emosies en sensasies betrokke. Daarby is tyd kompleks, soos om in tyd te besin oor die grootsheid van die klank van ’n varaf vliegtuig of die tyd wat verband hou met die spirituele belewenis soos in die waarneming van die buitelyne van die toring van die St Hilaire-kerk.

Tydens ’n rit in ’n motor besef die Verteller dat die verhouding tussen afstand en tyd verander het: Distances are only the relation of space to time and vary with that relation.

Sy lang en uitgebreide sinne is baie keer die draers van hierdie diepgaande nadenke oor wat die realiteit van tyd is (Carter 2000:471; IV:337; VII:1164).

Die tydvak waarbinne die roman afspeel, is die Belle Époque-tydperk (vanaf 1890 tot met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914). Gedurende dié tydperk was daar talle ontwikkelinge en verandering op die gebied van die kunste:

  • Letterkunde; musiek; skouspel; ballet; skilderkuns.
  • Die groot wêreldtentoonstellings van 1889 en 1900, wat oor die ontwikkelinge op verskeie gebiede gegaan het en waarvan die Eiffeltoring, een van die wêreld se wonders, as die ingang tot die tentoonstellings gebruik is.
  • Die Art Nouveau-style wat in die dekoratiewe kunste – juwele, glaswerk en die argitektuur – hoogty gevier het.
  • Die mode het ook dramatiese veranderinge ondergaan – dink maar aan die vernuwende skeppings van Coco Chanel, Cartier en Fortuny.
  • Die ontwikkelinge op tegnologiese gebied, byvoorbeeld die motorkar, vliegtuie, treine, die metro, kamera, telefoon en telegraaf.
  • Op natuurwetenskaplike gebied was daar oa die teleskoop en elektrisiteit.

Hierdie ontwikkelinge is in die roman ingebed en dra by tot die ryk geskakeerdheid daarvan.

Die verhaal verloop nie chronologies nie en word nie liniêr vertel nie. Dit word eerder gekenmerk deur ’n wye omvang van diskontinuïteit; in ’n beskrywing kan byvoorbeeld besonderhede uitgelaat word (I:568) en later daarna teruggekeer word of daarna verwys word, en soms is dit moeilik om die oorspronklike verwysings te kry. Inligting kan ook gegee word lank voordat die regte situasie beskryf word. Daar word byvoorbeeld al vroeg in die verhaal na Albertine se moontlike biseksualiteit verwys. Ander inligting kan weer teruggehou word en as terugflitse deel van ’n herinnering word. Vir my as leser is hierdie diskontinuïteit soos ’n kaleidoskoop – met elke draai, iets anders, maar met dieselfde gegewe. Deel van die niechronologiese verloop van die verhaal is dat die Verteller se lewe in die verlede die substansie vir die teenswoordige tyd is.

In die Verteller se lewensverhaal is daar gelykwaardige tydfases met die eerste een as die Combray-tyd, dan die Doncières-tyd, die Paryse tyd en ten slotte die Tansonville-tyd. Hierdie tye kan onderverdeel word in verskeie periodes, soos die Verteller se beheptheid met die hertogin Guermantes, sy liefde vir Gilberte, sy versotheid op Albertine, en in elkeen van hierdie periodes is daar ’n tyd waarin passie hoogty vier; dit word gevolg deur ’n tyd van intense jaloesie en dan volg ’n tyd van vergetelheid (Landy 2001:120).

Ook Swann in love is so ’n periode waarin passie en jaloesie hoogty vier. (Dit is seker nie vreemd dat hierdie deel van die roman verfilm is nie, met Jeremy Irons as Swann en Ornella Muti as Odette.)3

Maar asof in teenstelling met ’n niechronologiese tydsverloop sluit die narratief van Within a budding grove se tweede hoofstuk, “Place-names: the place”, by kalendertyd aan, weliswaar met gapings tussenin. Tydsaanduidings soos “twee jaar later”; die opeenvolging van die dae of dae langer gelede as gister of die vorige week; die bestudering van verskillende dae se treintye, om maar net ’n paar voorbeelde te noem, is alles deel van die konsep kalendertyd.

Naas al hierdie fasette van tyd word ’n vierde dimensie van tyd ontgin, naamlik ruimtelike tyd. Proust beskryf dit so:

As there is geometry in space, so there is psychology in time, in which the calculations of a plane psychology 4 would no longer be accurate because we should not be taking account of Time and one of the forms that it assumes, forgetting (V:637/751).

Hier word na die teenstelling van onthou, naamlik vergeet, verwys.

Hoe Proust die tydsaspek in die roman gebruik, is alreeds sigbaar in die openingsgedeelte van Swann’s Way se eerste vier paragrawe. Hierdie woorde wat met tyd te doen het, sluit in begrippe soos vroeg tot laat, horlosie en horlosietyd, ervaringstyd, tydsduur, spoed (stadig, vinnig) en ’n tydperk: 5

a long time; early; sometimes; quickly; time to say; half an hour later; time to go to sleep; thinking all the time; moments; same time; o’clock; hurrying; watch; nearly midnight; hour; moment; minute; midnight; all night; often; short snatches; long; instantaneous; flash; earlier; stage; a new era.

Daarmee saam is die rol van die geheue baie belangrik in die tydsaspek: om die verlede te onthou met die moontlikheid van die teenpool, naamlik dié van vergeet.

Maar wie is die een wat onthou? Hoe weet ons dat dit wat onthou word, reg is, dat niks uitgelaat word nie? Is die Verteller nie dalk selektief in dit wat hy onthou nie?

Hierdie vrae word deur Proust so beantwoord: hy waarsku dat die geheue nie soos ’n houer is waarin alles van die verlede opgestapel word en wat gelyktydig opgeroep kan word nie. ’n Herinnering kom na vore slegs wanneer daar ’n aansporing is, soos ’n reuk, ’n smaak of enige ander sensasie waaroor ons nie noodwendig beheer het nie.

Proust onderskei ook tussen die gewone geheue, of willekeurige geheue, wat feilbaar, leweloos en nie bruikbaar vir die kunstenaar is nie, en die onwillekeurige geheue, wat volmaak, vitaal en tydloos is. In die stem van die Verteller beskryf Proust in Swann’s Way die rol van onthou of herinneringe so:

[A]ll these memories, following one after another, were condensed into a single substance, but had not so far coalesced that I could not discern between the three strata, between my oldest, my instinctive memories, those others, inspired more recently by a taste or “perfume”, and those which were actually the memories of another, from whom I had acquired them at second hand – no fissures indeed, no geological faults, but at least those veins, those streaks of colour which in certain rocks, in certain marbles, point to differences of origin, age and formation. (I:189)

Dat daar tydsverskille is, dat daar ’n instinktiewe geheue is, dat die rol van die sintuie belangrik is in die onthouproses, en dat onthou ook te doen het met die oorsprong van die herinnering, die tydvak waarin die herinnering gevorm is en hoe, is alles deel van die onthouproses.

Die twee Engelse titels probeer die rol van geheue ondervang: In Search of Lost Time dui op die soeke na verlore tyd en Remembrance of past things beklemtoon weer die rol van die geheue in die onthou-proses van dinge wat verby is en wat in die laaste deel van die roman kulmineer: Time Regained: herwonne tyd (Carter 2000:565; White 2009:42).

In die onthou-proses speel die onbewuste ’n belangrike rol: al die fisiese komponente van die oorspronklike ervaring word aangepas en in hierdie handeling word die geheue gerekonstrueer en reïnterpretasie vind plaas. Daarom is onthou nie net sentimentele oomblikke van nostalgie of passiewe sensasies van plesier nie (Carter 2000:548–9).

Om te verstaan wat Proust bedoel met die onbewuste, moet mens ingestel wees op die manier waarop hy dinge verbeeld, op sy woordkeuse en op die oënskynlik onbelangrike besonderhede – dink maar aan die beroemde madeleine-en-tee-toneel.

In die leesproses word die leser se onbewuste ook gestimuleer: terwyl jy lees, speel jou ervarings van wie jy is ’n rol in die verstaan van dit wat jy lees (Jordan 2001:115; I:310 ev).

Deel van die tydsaspek is die verganklikheid van die lewe en daarom is die dood deel van die meditasies oor die lewe. Die Verteller se ervaring van die dood, sy rou oor die gestorwene en die uiteindelike vergetelheid is inherent deel van die roman (Schmid 2001:68).

Een van die karakters wat in die roman sterf, is die Verteller se ouma; hy vertel van haar siekte, van die ongevoeligheid van die besoekers, van haar sterwe. Alhoewel die Protagonis aanvanklik nie veel oor haar gedink het nie, word hy met die verloop van die tyd toenemend bewus van die besondere invloed wat sy in sy lewe gehad het. Haar sterwe is vir hom soos ’n standbeeld wat vermorsel is (III:1128 ev).

Reeds in Swann in love lees ons van hoe Swann nie lekker voel nie, en die manier waarop Proust hierdie ongemak van hom met sy verliefdheid verweef, is aangrypend. Een van die ontstellendste tonele is waar Swann by die hertog en hertogin Guermantes aankom. Hulle is op pad na ’n bal en Oriane het vergeet om rooi skoene by haar rooi rok aan te trek en dit krap vir Basin om – ja dieselfde hertog wat so ontrou is aan haar. In hierdie klugtige situasie vertel Swann vir Oriane, wat tog ’n goeie vriendin van hom is, dat hy kanker het en nie meer baie tyd oor het om te leef nie. Sy maak dit doodgewoon as onsin af (III:1351-1354): “The death of Swann! For we talk of death for convenience [...] but there are almost as many different deaths as there are people” (V:610).

Albertine en die Protagonis se verhouding is beëindig, maar die Protagonis besef dat hy ’n fout gemaak het. Voordat hy tot versoening met haar kan kom, hoor hy dat sy in ’n perdry-ongeluk dood is. Deur haar dood leer die Protagonis die donker kant van onwillekeurige onthou ken: "‘[T]he perpetual rebirth of moments from the past called forth by identical moments.’ Everything – the rain, the sun's rays, the morning sounds – serves to evoke a memory of their time together (VI:837 ev).

Die twee kunstenaars, Bergotte en Vinteuil, sterf ook, maar hulle leef voort deur hulle werk.

Mme Verdurin ontken die dood. As iemand sterf, praat sy net nooit weer oor die persoon nie. Deurdat sy aan die einde van die roman die prinses Guermantes is, sê die Verteller dat sy nou ’n naam het wat die dood ignoreer. Maar dan sterf Robert de Saint-Loup, ’n Guermantes, as soldaat in die oorlog.

Wanneer die Verteller sy literêre stem vind, is hy baie bang dat hy sal sterf voordat hy sy roeping vervul, want hy het begin skryf op die vooraand van sy dood, voordat hy die kuns van skryf optimaal kon ontwikkel: “For after death Time leaves the body and memories – indifferent and pale – are obliterated [...] memories which perish with the desire of the living body.”

Hoe Proust ook al met tyd, die onthou van gebeure en die geheue omgaan, sy tydsberekening in die roman is perfek.

Dit bring ons by ’n belangrike rigtinggewer in die lees van die roman, naamlik dié van struktuur.

3. Struktuur

3.1 Sirkulariteit

Proust se roman is sirkulêr in tyd en ruimte. Alhoewel Proust baie lank aan sy roman geskryf het en voortdurend die omvang daarvan vergroot het, het hy nie afgewyk van hierdie basiese sirkelstruktuur nie, soos dat die eerste sin met die slotsin van die roman beantwoord word (Carter 2000:582).

Hierdie sirkulêre struktuur hou ook verband met die soektog van die Protagonis, naamlik om sy eie kreatiewe stem te vind, wat aan die einde van die verhaal gebeur – en wat die leser sprakeloos laat, want die leser besef dat die Verteller/kunstenaar se verhaal die verhaal is wat jy nou net gelees het (Carter 2000:453).

Die sirkelstruktuur hou ook verband met die twee paaie in Combray wat in wese ’n sirkelpad is. Maar hierdie sirkelroete het ook simboliese betekenis, Swann’s Way (ook bekend as die Méséglise-pad) het te make met die bourgeois-samelewing, en die Guermantes Way het te make met die aristokratiese lewenswyse.

Daarby trou Gilberte, ’n Swann van geboorte, met Robert Saint-Loup, ’n Guermantes-afstammeling; hulle huwelik is nie slegs biologies van waarde nie, maar dit het ook simboliese waarde, want na die oorlog is daar ’n vermenging van die aristokratiese en bourgeois “paaie” in die Franse samelewing.

Dit is alom bekend dat Proust voortdurend veranderinge aan die roman aangebring het, maar nooit aan die struktuur verander het nie. Hy het soos ’n mosaïekkunstenaar te werk gegaan en dit bring mee dat hy die oorlogsjare en die siklus wat oor Albertine gaan, deel van die roman kon maak.

Een so ’n voorbeeld is waar Proust tydens die oorlog besluit het om die geografiese ligging van die fiktiewe Combray na Illiers, wat werklik bestaan, maar wat nader aan Parys is, te verskuif. Nou was die fiktiewe dorpie Combray in die pad van die Duitse opmars.

Gilberte Swann, wat teen hierdie tyd in die roman met Saint-Loup getroud is, het as gevolg van die voortdurende bomaanvalle en ter wille van haar dogtertjie se veiligheid uit Parys gevlug. Sy het na Tansonville, Swann se landgoed in die platteland, vertrek. Slegs twee dae nadat sy daar aangekom het, het die Duitsers en die Franse slaags geraak en hierdie geveg het vir meer as agt maande geduur. Dit staan bekend as die veldslag van Méséglise. Gilberte skryf in ’n brief aan die Verteller hoe sy geliefde meidoring-paadjie wat teen die heuwel opgegaan het, ’n belangrike militêre strydpunt geword het, die beroemde Heuwel 307. Daarby het die Franse die klein bruggie oor die Vivonne opgeblaas, maar die Duitsers het gou-gou ander brûe gebou. Vir ses maande het die Duitsers die helfte van Combray-Illiers beset, terwyl die Franse die ander helfte beset het. Die Verteller se kinderparadys is heeltemal deur die twee opponerende magte vernietig.

In die beskrywing van hierdie tonele is daar die hele tyd ’n vermenging van die fiktiewe en die niefiktiewe. Dit bring ons by die vraag of hierdie boek ’n roman of ’n outobiografie is.

Dit is so dat die roman enersyds ’n openbaring en andersyds ’n versluiering van Proust se lewe is. Daar is net te veel ooreenkomste met Proust self wat mens nie buite rekening kan laat nie. Daarteenoor is die verskille van Proust net so sterk. Regdeur die roman is daar dus ’n integrering van die fiktiewe met die niefiktiewe. Proust het telkens beklemtoon dat die roman ’n selfstandige verhaal is en nie ’n outobiografiese maskerade wat as fiksie aangebied word nie.

Daar is egter een klein venstertjie wat Proust vir ons ten opsigte van die fiktiewe en die niefiktiewe oopmaak. Hy skryf: “In hierdie boek waarin elke feit fiksie is en waarin nie ’n enkele karakter gebaseer is op ’n lewende persoon nie en waarin elke aspek van die vertellings uitgedink of versin is, is daar net een voorbeeld wat op die waarheid gegrond is en wat ek tot voordeel van my land wil noem. Dit is die gedeelte oor Françoise se miljoenêr-familie wat regte mense is en wat werklik bestaan het. Hulle het hul aftrede onderbreek sodat hulle hul behoeftige niggie kon help (III 846/vi 225), maar ons kan nie die vraag ontwyk nie: hoe kan ’n fiktiewe karakter familie in die werklike lewe hê?!"

Hierdie besonderhede beklemtoon dat Proust se omvangryke werk nie met die werklike lewe ooreenstem nie, maar dat dit daaruit gebore is. Hierdie geboorte was ’n stadige proses en die verhaal is baie meer kompleks en veelvlakkig as die lewe van die skrywer self (Shattuck 2000:1–13).

Daarom is die roman nie soseer ’n weergawe van dit wat regtig gebeur het nie, maar ’n ontdekkende skeppingsproses waarin vertel word van dit wat met mense kan gebeur, insluitend die skrywer. Daar is dus ’n simbiotiese verhouding tussen die mens en die boek en waarin die estetika en biografiese elemente ’n rol speel. Die literêre mens wat ons Marcel Proust noem, is versluier en toevallig in die roman teenwoordig (Shattuck 2000).

3.2 Die struktuur: taal en Proustiaanse sinne

Proust se taal is die taal van die Franse gees, wat gebou is op die ryk en diepsinnige literêre verlede van ’n Montaigne, ’n Saint-Simon en ’n Chateaubriand (Prendergast 1993). Alhoewel Proust se taal weliswaar deurdrenk is van sy voorgangers s’n, reik dit baie verder. Telkens in die roman gebruik hy die taal en segswyses waarin sy karakters leef en beweeg, soos dié van Françoise, om maar een voorbeeld te noem.

Deel van die diepsinnigheid in die skryfwerk van Proust is die veelbesproke Proustiaanse sin. Hierdie lang sinne weef soos wonderlike sydrade regdeur die roman. Hy verdedig die lang sinne so:

But I must perforce weave these long silken threads as I spin them, and if I shortened them the result would be little fragments rather than whole sentences. So that I remain like a silkworm and indeed live in the same temperature, or rather like an earthworm. (Carter 2000:396).

Sy lang sinne is gelaai met besonderhede en situasies; dit is vol vreemde en genotvolle bekoring - juis omdat dit so feitelik, presies en goed gestruktureer is en hy die verlede, die teenswoordige en die toekomstige daarin saamsnoer. Sommige van hierdie sinne is meer as 600 woorde lank (Carter 2000:393; Brooks 2004). Een voorbeeld van ‘n sin wat weliswaar nie so lank (!) is nie:

And just as the Japanese amuse themselves by filling a porcelain bowl with water and steeping in it little crumbs of paper which until then are without character or form, but, the moment they become wet, stretch themselves and bend, take on colour and distinctive shape, become flowers or houses or people, permanent and recognisable, so in that moment all the flowers in our garden and in M Swann’s park, and the water-lilies of the Vivonne and the good folk of the village and their little dwellings and the parish church and the whole of Combray and of its surroundings, taking their proper shapes and growing solid, sprang into being, town and gardens alike from my cup of tea. (I:64)

Eers die besonderhede van die papierballetjies, dan die vergelyking met die Verteller se bekende wêreld, terwyl die sin natuurlik asemhaal soos wat dit voortbeweeg na die slot, “from my cup of tea” (Carter 2000:502).

Deur hierdie lang en kragtige sinne kan Proust sy verbeelding vrye teuels gee in die beskrywing van sy karakters en tonele. (Daar is ’n voorbeeld van ’n sin wat oor drie bladsy strek: III:17-19.)

Dit wil voorkom asof hierdie sinne van die middel af gekonstrueer is; dit bring mee dat hulle toeneem in diepte eerder as in lengte. Soms kom dit voor asof die sinne onvoltooid is, maar dit is nie so nie, want dit hang af van watter toneel op hierdie sin volg (Landy 2001:27). Hierdie sinne is nie soos ’n maraton nie, maar soos ’n Zeoniese 100 meter-resies, waar die skrywer en die leser eers telkens die halfpadmerke moet haal voordat die wenstreep bereik kan word (Landy 2001:128).

Sommige van die sinne is ook buitengewoon ingewikkeld en dit hang saam met Proust se sensitiwiteit vir subtiele nuanses; dit gaan nie net oor die werklikheid nie, maar oor hóé die werklikheid weerspieël word.

Versameling en verdeling, intensiteitstoename, vervalsing, heterogeniteit, paradokse, teenoorstaandes, self-isolerende frases, ritse adjektiewe, oksimorons,6 ironiese uitsteltegnieke, kompakte vergelykings wat ingeperk word, terwyl ander dinge, insluitend langer vergelykings, daardeur vleg (Bowie, 2001:219).

Maar iets wat my ongelooflike plesier verskaf het, is hierdie voorbeeld: wanneer die karakter in oomblikke van groot spanning verkeer, eindig die Verteller se prosa in ’n alexandrine of in ’n perfekte oktosillabiese koeplet (kompleet met interne rym) soos in die volgende voorbeeld:

Jóuvris la fenêtre sans bruit
Et mássis au pied de mon lit ...

Noiselessly I opened the window
And sat down on the foot of my bed ... (1:362/42

Maar vir my as leser is daar in hierdie gedeelte veel meer as net die interne rym en ritmes. In dié gedeelte het die volgende my aangegryp, gefassineer en asemloos gelaat:

  • die verwysings na klank
  • teenoorstaandes soos ’n skaduwee teenoor ‘n konkrete voorwerp
  • die verskillende vorms: landskap, dunner, langer, uitgesprei
  • beweging, byna nie waarneembaar nie, delikaat
  • onverenigbaarheid
  • indrukke van ver af – nie skerp omlyn nie, ook sag, wat weer verband hou met die openingsin
  • die presiesheid van ’n enkele noot teenoor die afstand; wat ook die fisiese luister bemoeilik
  • en dan die ontstellende: die leër wat nader marsjeer – wat geen aanvoeling het vir hierdie genoemde subtiliteite nie:

Noiselssly I opened the window and sat down on the foot of my bed; hardly daring to move in case they should hear me from below. Things outside seemed also fixed in mute expectation, so as not to disturb the moonlight which, duplicating each of them and throwing it back by the extension, forwards, of a shadow denser and more concrete than its substance, had made the whole landscape seem at once thinner and longer, like a map which, after being folded up, is spread out upon the ground.

What had to move – a leaf of the chestnut-tree, for instance – moved. But its minute shuddering, complete, finished to the least detail and with utmost delicacy of gesture, made no discord with the rest of the scene, and yet was not merged in it, remaining clearly outlined. Exposed upon this surface of silence, which absorbed nothing from them, the most distant sounds, those which must have come from gardens at the far end of the town, could be distinguished with such exact “finish”.

The impression they gave of coming from a distance seemed due only to their “pianissimo” execution, like those movements on muted strings so well performed by the orchestra of the Conservatoire that, although one does not lose a single note, one thinks all the same that they are being played somewhere outside, a long way from the concert hall, so that all the old subscribers, and my grandmother’s sisters too, when Swann had given them his seats, used to strain their ears as if they had caught the distant approach of an army on the march, which had not yet rounded the corner of the Rue de Trévise. (I:50-51)

Uit bostaande voorbeeld is dit ook duidelik dat sy narratiewe strategieë veelvuldig is, soos om ’n saak, voorwerp of aksie uit verskillende perspektiewe te beskryf, of om ritse briljante en gepaste analogieë te gee (Carter 2001:39).

Hierdie buitengewone beskrywings pas Proust ook toe in die uitbeelding van sy karakters.


4. Karakters7

Ter wille van die omvang van hierdie bespreking en die “tydsaspek” word die verskillende karakters nie beskryf of bespreek nie. ’n Opsomming van die belangrikste karakters word wel in ’n addendum gegee. Die rigtinggewer vir die volgende bespreking is die Verteller en die ek en die fiktiewe kunstenaars in die roman.

4.1 Die Verteller en die “ek”

Die eerste karakter/stem waarvan ons lees, is die ek: “For a long time I used to go to bed early.” Hierdie narratiewe stem is terselfdertyd ’n vermenging en ’n verdeling in die ek en in die Verteller.

Hierdie Verteller is op soek na sy literêre stem.

Maar wie is die Verteller? Die Verteller is nie Proust nie. Hy gebruik wel die oë en die ore, die lewe en kultuur van die skrywer.

In die roman is die ek en die Verteller ’n karakter, dus ’n dubbele personifikasie in een voornaamwoord; daar is vermenging maar ook ’n verdeling van die ek. Soms is die Verteller “ek” en ander kere weer “ons”. Die Verteller het nie ’n naam nie en ons weet nie hoe hy lyk nie. Hy is passief en deursigtig, orals en nêrens, soms ’n spioen, soms ’n voyeur, en hy verskyn in onwaarskynlike situasies. Die leser is deel van die Verteller se ervaringswêreld, die rykdom en kompleksiteit, sy herinneringe, sy emosies en sy innerlike lewe (Rodgers 2001:96, 98; Prendergast, 1993).

Daar is twee gevalle in die roman waar die Verteller se naam genoem word.

Then she [Albertine] would find her tongue and say: “My—”, or “My darling—” followed by my Christian name, which, if we give the narrator the same name as the author of this book, would be “My Marcel”, or “My darling Marcel”. (VI:507)

Hier tree die Verteller buite sy beperkinge as fiktiewe karakter op as hy homself as skrywer met Proust se naam noem (Prendergast 1993).

Die deel Swann in love wyk egter af van die eerstepersoonsverteller-patroon. Die liefdesverhouding tussen Swann en Odette het plaasgevind voordat die Verteller gebore is, en daarom word die gebeurtenis deur ’n derde persoon aan hom vertel.

Proust skep met hierdie tegnieke onmiskenbaar een van die rykste narratiewe stemme in die letterkunde, ’n stem wat tegelyk kind en volwasse man is, wat verteller én Protagonis is. Hy verweef moeiteloos die hede, die verlede en die toekoms (Carter 2000:467).

4.2 Die fiktiewe kunstenaars as karakters in die roman

In die roman is daar vier fiktiewe kunstenaars wat ’n belangrike rol speel, te wete die skrywer Bergotte, die aktrise Berma, die musikus en komponis Vinteuil en die skilder Elstir. Alhoewel hierdie karakters fiktief is, sluit hulle uitbeeldings by niefiktiewe kunstenaars aan.

Proust se diepgaande kennis van die letterkunde, die beeldende kunste, die argitektuur en musiek dra by tot die egtheid van die beskrywings en verdiep ook die kruisverwysings na die verskillende kunste.

4.2.1 Die skrywer Bergotte

Vroeg in die roman maak ons kennis met die seun wat sit en lees van hoe sy ma vir hom voorlees. Ons leer die kind se leesvreugdes deur die oë van ’n ouer Verteller ken. Sy leeservaring sluit ook sy ander sintuie in: dat hy die lug ruik, dat hy teen ’n growwe muur sit, dat daar blomme om hom is; en dat Françoise voedsame kos maak “to strengthen and refresh me after the strenuous pursuit of its hero through the pages of my book” (I:99).

Deur Swann leer die skrywer Bergotte ken. Aanvanklik het die Verteller gedink dat hy net agter die storie aan lees, maar mettertyd het hy bewus geraak van die uitsonderlike frases wat Bergotte se werk verlewendig, sien hy die vergelykings raak en vind die uitbeeldings neerslag in sy siel en denke.

Hy word ook bewus van Bergotte se tegniek om die narratief te onderbreek ter wille van ’n tipe inkantasie, ’n gebed, waarin hy vrye teuels aan sy verbeelding gee sodat hy ’n spesifieke waarheid kan meedeel. Die werk van Bergotte open vir die Verteller nuwe wêrelde, nuwe skryfstyle, nuwe filosofieë om maar ’n paar te noem. Baie is van mening dat deur Bergotte ons insig in die skryfwerk van Proust self verkry.

Die kind ervaar teleurstelling wanneer die eiegeregtige diplomaat en vriend van die Verteller se pa, Norpois, baie negatief reageer oor die kwaliteit van Bergotte as kunstenaar. Ook teenoor die Verteller se skryfwerk is Norpois ewe afwysend en hy vermaan hom dat die lewe meer is as om net mooi woorde agtermekaar in ’n sin te skryf. Die kind is verpletter en voel dat hy nie uitgeknip is om ’n skrywer te wees nie (I:447; II:30/35, 53/63; Bales, 2001:189/0). Maar later besef die Verteller dat Norpois se denke eenvlakkig is en dat hy nie in staat is om ’n saak van verskeie kante te beredeneer nie (White 2009:43).

’n Ander les wat die kind moes leer, is dat Bergotte in die werklike lewe nie ooreenstem met sy beeld wat hy in die lees van sy werk van hom gevorm het nie. Bergotte se semibloedskande-verhouding agter sy vrou se rug, sy psigiese wreedheid en dat hy verdink word van finansiële oneerlikheid stem glad nie ooreen met die beeld van ’n brose ou man van die jong Verteller nie. Hierdeur leer die Verteller dat daar ’n verskil is tussen die kunstenaar en sy werk en die sosiale self.

Bergotte se artistieke apoteose het gekom met sy dood toe hy inmekaar sak by ’n uitstalling van Vermeer se werke voor die skildery Sig op Delft: Dit is soos wat ek moes geskryf het, my laaste boeke is so droog, ek moes soos Vermeer kleur ingebring het, soos hierdie klein stukkie geel op die muur, het Bergotte gedink voordat hy gesterf het (V:207/244).

Die Verteller leer dat al is Bergotte fisies dood, sy kuns nie saam met hom sterf nie. In ’n serie van metafisiese nadenke verwoord die Verteller dat in die kuns ’n ander wêreld bestaan en dat hierdie wêreld verskillend is van die een waarin ons leef – die kunstenaar word deur sy literêre werk telkens herbore (V:208/245/6). In ’n epitaaf verwoord die Verteller sy bewondering vir Bergotte:

They buried him, but all through that night of mourning, in the lighted shop windows, his books, arranged three by three, kept vigil like angels with outspread wings and seemed, for him who was no more, the symbol of his resurrection. (V:209/2)

4.2.2 Die aktrise Berma

Een van die boeke wat die kind graag gelees het, was Racine se drama, Phèdre.

Deur Bergotte se brosjure wat hy oor Racine en Berma se vertolking van die drama geskryf het, het die kind ’n allesoorheersende begeerte gehad om haar in ’n opvoering van Phèdre te sien. Soggens het hy die Morris-rubriek bestudeer om te sien of daar dalk nie ’n opvoering daarvan is nie. Sy ouers het egter gedink dat hy nog te jonk was, maar Norpois het ‘n aandeel daaraan gehad dat die Verteller en sy ouma na ’n middagvertoning kon gaan. Hy het alles van haar uitvoering verwag, want “day and night” het sy gesit “upon an altar perpetually illumined, […] enthroned in the sanctuary of my mind” (II:415).

Tydens die opvoering het hy oorgehaal gesit, sy ore gespits, maar dit wat hy gehoor het, het hom teleurgestel. Hy kon nie haar diksie as besonders ervaar nie; haar intelligente intonasie en pragtige gebare het by hom verby gegaan. Haar spel het niks bygedra tot sy verstaan van Phèdre nie. Ook die vervlietende aard van die gebeure op die verhoog het bygedra tot sy onvermoë om die grootsheid van die aktrise te beleef.

Later in sy lewe het die Verteller weer na Berma gaan luister en dié keer kon hy deurdring tot die grootsheid van haar kunstenaarskap. Hoe sy haar stem, haar diksie, haar gebare gebruik om uitdrukking te gee aan die destruksie, obsessie en jaloesie van die drama. Hy het ook ingesien dat Berma se interpretasie ’n tweede kunswerk word en kon opreg sê: “Certainly, I put Berma first!” (III:897).

Maar soos in die geval van Bergotte moes die Verteller ook te hore kom van swakhede in Berma se persoonlikheid. Sy kon nie met geld werk nie, was permanent in die skuld en het gesukkel om afsprake na te kom.

Die groot tragiese aktrise se laaste dae verloop ook tragies: om haar selfsugtige kinders te help is sy gedwing om weer op te tree en op dié manier het sy haar einde verhaas.

In hierdie beskrywinge van Berma en haar kuns verweef Proust ook die ooreenkomste en verskille tussen musiek en die skilderkuns in ’n hegte eenheid (Wilson 1928).

’n Integrale deel van À la recherche du temps perdu is die toneelmatige panorama en die jukstaponering en betrokkenheid van die egte lewe en die fiksionele spelers. In sy hiërargie van talent plaas die Verteller die ware Sarah Bernhardt net bo La Berma, die fiksionele tragiese heldin. Die karakter en kuns van Berma is ook op Sarah Bernhardt, die tydlose en uitsonderlike aktrise, geskoei.

Maar in die drama is daar ook ’n derderangse aktrise, ’n prostituut en Saint-Loup se geliefde. Die Guermantes-familie was aanvanklik baie negatief oor haar, maar aan die einde van die roman verwerf sy nie net ’n belangrike posisie in die salon van prinses Guermantes, alias mme Verdurin nie, maar Oriane Guermantes het ook haar loopbaan bevorder.

4.2.3 Die skilder Elstir

Soos wat Bergotte se skryfkuns geskoei is op dié van Proust en Berma as aktrise op dié van Sarah Bernhardt is Elstir op die impressionistiese kunstenaar Whistler geskoei.

Bergotte en La Berma was as kunstenaars deel van die Protagonis se kinderjare. In sy jongmensjare neem die skilder Elstir oor en dit word veral beskryf in Within a budding grove: Place-names: the place wat verwys na die fiktiewe Balbec, ’n kusdorpie aan die Normandiese kus, waar die Verteller en sy ouma vakansie hou sodat die Verteller die Balbec-kerk met sy besonderse argitektuur en beelde kan sien. Hierdie begeerte hou verband met sy ervaring van die kerk (ook fiktief) in Combray.

Dit waaroor die kind en die jong Verteller al die jare gedroom het, het toe weer eens nie gerealiseer nie: daar is ’n gaping tussen wat hy sien en dit waaroor hy gedroom het (I:378; 463/547: I:58–66; I:78/80(91).

Die jong Verteller besoek Elstir en weer eens is hy teleurgesteld, hierdie keer oor die lelike en verbeeldinglose moderne villa waarin Elstir bly, maar in sy ateljee besef die Verteller dat Elstir die vermoë het om wêrelde te herskep (II:478/565). In die beskrywing van Elstir se kuns word die woord skep byna dwingend oor en oor gebruik saam met botone van verwondering, en die Verteller besef dat sy uitsonderlikheid geleë is in “a sort of metamorphosis of the objects represented, analogous to what in poetry we call metaphor, and that, if God the Father had created things by naming them, it was by taking away their names or giving them other names that Elstir created them anew” (II:479/566; Bales 2001:192).

In die beskrywing in die roman van die skildery Le port de Carquethuit word die metaforiese karakter van Elstir se werk na vore gebring. Daar is nie ’n duidelike onderskeid tussen land en see nie, maar die manier waarop dit op mekaar inwerk is belangrik: elkeen word vanuit die perspektief van die ander waargeneem, met skeepsmaste wat lyk asof dit uit die droë land kom en die geboue wat uit die see kom. Die Verteller verwonder hom ook aan al die ander landskap- en seeskilderye van Elstir (ll:757; Bales 2001:192).

Maar Elstir is nie net ’n kunstenaar nie, hy is ook ’n kunskritikus. Toe die Verteller sy teleurstelling uitspreek oor die argitektuur en die beelde in die Balbec-kerk, is dit Elstir wat hom leer hóé om te kyk. In ’n monoloog vertel Elstir hoe die kunstenaar uit die Middeleeue die teks van die Bybel met groot presiesheid in klip vertaal het.

Die katedraal wat Proust beskryf, bestaan nie in die werklike lewe nie, maar dit is ’n kombinasie van uitbeeldings en konstruksies van verskeie katedrale, waaronder dié van Chartres en Laon.

Elstir wys hom daarop dat om in ’n ander medium uitdrukking aan ’n kunsvoorwerp te gee, diepgaande denke van die individuele kunstenaar vra sodat ’n algemene onderwerp uniek en subtiel uit gebeeld kan word (II:485/573). Elstir beklemtoon ook dat die individualiteit van ’n kunstenaar in ’n kritiese teorie gefundeer moet wees – emosionele entoesiasme, maar wat ingegee is deur die rede (Bales 2001:191/2; 194; II:485/573 (II:20; II:273-4/323 ). Ook die leser leer hoe om met kuns om te gaan.

Die laaste fiktiewe kunstenaar is die komponis en musiekonderwyser Vinteuil.

4.2.4 Die komponis Vinteuil

Musiek het ’n baie belangrike rol in die lewe van Proust gespeel en hy het die werke van Wagner, Caesar Franck en Gabriel Fauré goed geken, maar dit is die musiek van Beethoven wat hom die naaste aan die hart gelê het, veral sy strykkwartette en ander kamermusiek (White 2009:45; Shattuck 2000).

Hierdie kennis van en liefde vir musiek kom tot uiting in die manier waarop hy musiek in die roman verweef en in sy meesterlike meditasies oor musiek as kunsvorm.

Vroeg in die roman lees ons van Vinteuil, goedgemanierd en sorgsaam teenoor sy dogter en dat hy die musiekonderwyser van Combray was. Die karakter van Vinteuil ontwikkel van ’n oënskynlik saai persoon tot ’n musikale genie. Net soos met die ander kunstenaars beklemtoon Proust dat daar ’n onderskeid is tussen die sosiale self en die kreatiewe self.

Vinteuil bly saam met sy dogter in ’n huis op ’n heuwel met die naam Montjouvin. Na Vinteuil se dood is die Verteller getuie van die minder aangename lesbiese liefdestoneel tussen Vinteuil se dogter en haar musikale vriendin. Maar dit is juis hierdie vriendin wat later ‘n aandeel sou hê aan die neerskryf van Vinteuil se werk, maar dit is ook hierdie toneel wat die jaloerse Protagonis later herroep in sy tevergeefse pogings om uit te vind of Albertine in lesbiese verhoudings is; veral toe hy uitgevind het dat mlle Vinteuil en haar vriendin, Rosemonde, goeie vriende van Albertine is (Carter 2001:27; Swann’s Way en talle ander plekke waar daar na musiek en na Vinteuil se musiek verwys word; V:649, ev).

Ons leer Vinteuil as komponis ken deur die treffende musiekfrase wat in ’n sonate van hom voorkom. (Volgens bespiegelinge het ’n motief uit ’n werk van Saint-Saëns, Sonate vir viool en klavier in D, vir Proust as voorbeeld gedien (Connelly 2012:146).

Hierdie werk van Vinteuil word vir die eerste keer in die salon van mme Verdurin uitgevoer en sy maak aanspraak daarop dat dit sý is wat die musiek ontdek het en dat die werk slegs in háár salon volle betekenis kan kry. Haar rare gedrag as sy na musiek luister moes haar sensitiwiteit vir hierdie kunsvorm beklemtoon en as sy na ’n werk soos Vinteuil se sonate luister, is dit vir haar ’n estetiese marteling en tas die musiek haar fisies aan.

Dr Cottard, een van die getroue lede van haar groepie, moes haar gereeld tydens die uitvoering bystaan. Mnr Verdurin het ook gemeen dat sy vrou dalk net genoeg krag het om na die andante van die sonate te luister, maar hierdie voorstel het haar laat uitgil: “Just the andante! How you do go on […] As if it weren’t ‘just the andante‘ that breaks every bone in my body” (I:206; Carter 2000:499).

Die besondere musiekfrase het ook vir Swann, wat nie besonder musikaal was nie, getref. Dit word vir hom die kenwysie van sy liefde vir Odette en op dié manier verwar hy kuns met Eros; selfs as Odette die tema met foute en al speel, is die musiek vir hom mooi.

Swann is baie keer ontnugter met Odette – haar gedrag, maar ook haar voorkoms – en hy gebruik kuns as plaasvervanger, soos byvoorbeeld dat hy nie ’n foto van haar op sy lessenaar het nie, maar ’n afbeelding van ’n skildery: “When he had sat for a long time gazing at the Botticelli, he would think of his own living Botticelli, who seemed all the lovelier in contrast, and as he drew towards him the photograph of Zipporah he would imagine that he was holding Odette against his heart” (I:221).8

In teenstelling met die Verteller het Swann in sy musiekkennis geringe groei getoon en hy word vergelyk met Moses, wat nooit die beloofde land ingegaan het nie – alhoewel hy die geleentheid gehad het, het hy nooit deurgedring na die estetiese kwaliteite van musiek nie.

Proust se ontleding van die sosiale salonne waarin musiek ’n rol speel, is vlymskerp, satiries en klugtig, soos die uitvoering wat Swann in die salon van die markiesin De Saint-Euverte bygewoon het. Die karakters se gedrag het met musiek as kunsvorm nie veel te make nie (I:311 ev).

Sonder Odette woon Swann die konsert by. Soos in ’n klug word een van die belangrikste sosiale salonne, uiteraard fiktief, van Parys uitgebeeld. By sy aankoms lyk die lakeie en kelners vir Swann asof hulle uit Balzac se boeke kom of uit skilderye wat hy al gesien het. Met ’n opeenstapeling van voorbeelde beskryf Proust hierdie klugtige situasie met woorde soos:

Marquise de Saint Balzac’s “tigers” – now “grooms”; portraits in galleries; cloak-room footmen with noble greyhound profiles; Renaissance pictures; decorative warriors; Mantegna’s paintings; Massacre of the Innocents; the Martyrdom of Saint James; San Zeno frescoes of the Eremitani Master’s; Paduan models; Duerer’s Saxons. Greek sculpture; “Staircase of the Giants”, a gigantic usher; Swiss Guard fashion, Goya’s sacristans; Effigy of Benvenuto Cellini; Aubusson tapestries; empty milk-can upon a door-mat; Giotto’s Vices and Virtues at Padua; Injustice; the idea of the forests that enshroud his secret lair. 9

En dan is die gaste, veral die mans met hulle rare monokels, en die kunstenaars en die musiek nog nie eens beskryf nie!!

Later in die roman in The Captive, hoofstuk 2, is daar weer ’n musiekaand in die salon van mme Verdurin. Dié keer het Charlus dit gereël en sy minnaar Morel was die violis. Die septet van Vinteuil10 is uitgevoer en die Verteller raak bewus van Vinteuil se uitsonderlike vermoëns soos sy orkestrasie en sy tema-ontwikkeling. (Die beskrywing van hierdie septet sluit aan by die septet van Beethoven). Die musiek het die Verteller diep geraak en in wonderlike poëtiese taal beskryf hy sy luisterervaring (V:649, 657): “Deur die kunswerk verkry ons vlerke, haal ons anders asem, reis ons deur oneindige ruimtes, kyk ons na die wêreld met ander oë, vlieg ons van ster tot ster.”

In hierdie nadenke oor musiek verweef Proust meesterlik die ander kunste om die betekenis van die musiek te versterk. Weer eens besef die Verteller dat al is ’n kunstenaar oorlede, hy voortleef in sy kuns. Vinteuil word die prototipe van groot kunstenaars.

Maar die gaste by dié besondere konsert word ook beskryf en dit word ’n allegorie van die wyer samelewing, en daar is selfs ’n terugverwysing na Gilbert die Slegte wat deel was van die verhaal van die towerlantern in die jong kind se kamer in Combray en wat ook familie van die Guermantes-familiegroep is. Die verhouding van Charlus met die violis Morel word ook vergelyk met die verhouding tussen mlle Vinteuil en haar vriendin. Die ironie van die sogenaamde klasseverskille in die Franse samelewing waarop die aristokrasie baie gesteld was, word ook uitgebeeld, soos Morel, die uitnemende violis, wie se pa ’n lakei was en wat by die Verteller se oom Adolphe gewerk het, en waar die Verteller die vrou in pienk, Odette, ontmoet het. Aan die einde van die roman bestaan baie van hierdie klassevooroordele nie meer nie.11

Dit is belangrik om te onthou dat musiek ’n kunsvorm in tyd is en om na musiek met insig te luister speel die geheue – die onthou van dit wat voorafgegaan het, dit wat op die oomblik gebeur en dit wat gaan volg, ’n belangrike rol, net soos in die roman. Proust beklemtoon dat daar ’n wêreld van moontlikhede vir die komponis en musikus is: “[T]he field open to the musician is not a miserable stave of seven notes, but an immeasurable keyboard”, en dit is die taak van die kunstenaar om hierdie bedekte wêreld vir ons oop te maak sodat ons kan deel in die rykdom en verskeidenheid van dit wat inherent deel is van musiek (I:337).

Die kuns om kos te maak is eweneens belangrik en hierin oortref Françoise almal. Sy is die paragon van die kuns van huishou en Proust vergelyk haar gawe om bestanddele vir die boeuf mode te meng en ’n bief-in-jellie te vorm met die gawe van Michelangelo (ll:417; Shattuck 2001:79; Harder 2001:148).

Deur die kuns, hetsy die letterkunde, beeldende kuns of musiek, is die tydsbegrip van die roman ingeweef. Deur die kuns kan die eindigheid van die kunstenaar opgehef word deurdat die kunswerk verbygegane tyd kan oorspan.

Reeds in die voorafgaande bespreking het ons bewus geraak dat sommige van die karakters homoseksueel is. Hoe homoseksualiteit bydra tot die diepsinnige betekenis van die roman, word nou van naderby bekyk.


5. Homoseksualiteit in die roman

In À la Recherche du temps perdu is die erotiese liefde tussen heteroseksuele en homoseksuele pare ’n belangrike gegewe. Daarby toon Proust aan dat obsessionele begeertes en jaloesie dieselfde tussen hetero- en homoseksuele pare is en dat hierdie verhoudings gedoem is tot mislukking omdat dit op illusies gebaseer is.

Proust het van die begin af sy uitgewers gewaarsku dat die tema van homoseksualiteit ’n belangrike rol in sy roman speel. Alhoewel hy onderwerpe aangeraak het wat gewoonlik as taboe beskou is, soos sadisme en pederastie, getuig die oorkoepelende karakter van die werk van ’n hoë morele vlak (Carter 2000:543).

Proust het regdeur sy lewe ontken dat hy homoseksueel is en homoseksuele verhoudings het, maar hy het wel erken dat hy homoërotiese aantrekkingskrag tot mans het, soos vir Agostinelli, ’n vlieënier wat in die oorlog omgekom het, en die komponis Reynaldo Hahn.

Die geval van Oscar Wilde in Engeland en prins Philip von Eulenburg in Duitsland wat aan homoseksuele dade skuldig bevind is en die siening dat homoseksuele ’n ras is waarop daar ’n vloek is, het hom versigtig gemaak. Daarom het hy ten alle koste probeer om nie in die gedrukte media die etiket van ’n homoseksueel te kry nie (White 2009:44, 76).

Proust het ook daarteen gewaak dat sy seksuele identiteit die omvang van die roman beïnvloed, want sy scopus was die mens in sy wye omvang en nie net een segment daarvan nie (Shattuck 2000:47)

Alhoewel die tema homoseksualisme regdeur die roman loop, is dit in die vierde deel, Cities of the plain, waar Proust die grense verskuif. Hy gebruik die Bybelse titel Sodom en Gomorra vir die inleidende gedeelte. In hierdie deel verbeeld hy die probleme wat homoseksuele in ’n onverdraagsame samelewing het.

In die karakter van Charlus sien ons sy stryd tussen om manlik te wees of om vroulik te wees. Daarmee saam is die wrede paradoks dat hy ’n fyn denker met ’n sensitiewe aard is, maar wat uitgelewer word aan sy vernederende instinkte. Alhoewel Proust die meeste van sy karakters met empatie uitbeeld, is dit Charlus se degenerasie wat die ontstellendste is. Alles wat menslik is aan hom gaan tot niet en hy word pervers ter wille van perversiteit: die kwade het nou vir hom die ideale geword. Charlus beweeg van ’n woedende “queen” tot ’n vernederende King Lear-figuur. Maar dan lees ons tog dat daar in sy seniele en veragtelike siel ’n laaste sprankie van hoop en liefde is. Dit is Charlus wat sy huis as militêre hospitaal in die oorlog beskikbaar stel, in teenstelling met mme Verdurin, wat tydens die oorlog net oor ’n vars gebotterde croissant vir ontbyt besorg was (White 2009:109).

Aan die begin van die roman het die aristokratiese Robert Saint-Loup, ’n Guermantes, ’n vurige verhouding met die avant-garde aktrise cum prostituut. Net soos Swann en Odette se verhouding is ook hierdie verhouding gedoem tot mislukking. Alhoewel Saint-Loup biseksuele neigings toon, trou hy tog met Gilberte Swann en ook hierdie verhouding is gedoem tot mislukking, aangesien hy toegee aan sy homoseksuele geneigdheid. As ’n soldaat van beroep gaan veg Robert Saint-Loup in die oorlog en sneuwel en hy word begrawe in Combray met net ’n enkele rooi G op die swart gedrapeerde materiaal om sy kis – wat beklemtoon dat hy ’n Guermantes-afstammeling is. Dan wonder die Verteller of die homoseksualiteit van Charlus en dié van Saint-Loup oorerflik is en of dit aangeleerde gedrag is. ’n Debat wat in Proust se tyd gevoer is.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die publikasie van die roman tot stilstand gekom en dit het vir Proust die geleentheid gegee om die roman te hersien en die Albertine-siklus The captive en The fugitive te skryf. Die aanvanklike drie dele het nou vier geword, die omvang van die roman het verdubbel, die balans was beter en hierdie uitbreiding is presies in die middel van die roman.

Soos wat die twee dele van Sodom en Gomorra sentreer om Charlus se homoseksualiteit, sentreer die Albertine-siklus rondom Albertine se lesbisiteit en die jaloesie van die Verteller. Dit sluit aan by Swann’s Way met mlle Vinteuil en haar vriendin – die vriendin wat met moeite en toewyding Vinteuil se komposisies versorg het (Schmid, 2001:67).

Maar wat verstommend van hierdie omvangryke en enorme werk is, is die ordelikheid en die logika en Proust se bemeestering van komplekse onderwerpe.

André Gide, ’n tydgenoot van Proust, het aanvanklik Swann’s Way as niksseggend afgemaak en die publikasie daarvan teengestaan. Hy het veral nie genoeë geneem met die tema van homoseksualiteit nie, maar later het hy van opinie verander en het hy ‘n aandeel gehad in die Goncourt-prys wat Proust vir Within a budding grove ontvang het.

Die twee Goncourt-broers na wie die prys vernoem is, is deel van die roman in die slotgedeelte, Time Regained. Dit was ook Gide wat na Proust se dood sy homoseksualiteit openbaar gemaak het – sy vriende het te veel respek vir Proust gehad! Dit voel veral of jaloesie Gide gedryf het – want wie word as die grootste Franse skrywer van die 20ste eeu beskou: Gide of Proust?!12

Ná hierdie kursoriese oorsig oor die tema van homoseksualiteit kom ons by die sewende en laaste deel van die roman, die deel waarin besin word nie oor vergange tyd nie, maar oor herwonne tyd.


6. Le Temps retrouvé; Time Regained – herwonne tyd

Toe Proust die eerste sin van À la recherche du temps perdu geskryf het: “For a long time I used to go to bed early”, het hy daarmee saam die slotsin van hierdie magistrale werk geformuleer: “They stand like giants immersed in Time.” Die gelaagdheid en rykdom van hierdie laaste paar woorde kry hulle volle betekenis eers by die lees van die volledige roman.

Daarby is hierdie deel, Time Regained (Le Temps retrouvé), min of meer in dieselfde tyd as Swann’s Way geskryf en voltooi die sirkel. Die soektog/reis van die Verteller/Protagonis/Proust om sy literêre stem te vind, het sy eindpunt bereik. Maar hoe het dit gebeur?

Die Verteller keer ná maande weer terug na Parys en hy is vas van plan om weer deel te word van die leë sosiale lewe van die stad, aangesien hy tog afgesien het van sy literêre ambisies. Hy gaan woon, op uitnodiging, ’n middagkonsert aan die huis van prins en prinses Guermantes (die vroeëre mme Verdurin) by.

Maar met die treinreis na Parys het hy bewus geword van ’n ry bome, halfpad in die son en halfpad in die skadu, en hy onthou hoe hy hom as kind oor so iets kon verwonder.

Met sy aankoms by die huis van prins Guermantes het hy met die uitklim uit die motor effens oor die ongelyke klippaadjie gestruikel en dit het herinneringe van Venesië opgeroep: daar, op die San Marco-plein het hy op dieselfde manier oor ’n ongelyk paadjie gestruikel. Die Verteller besef dan dat hierdie byna niksseggende gebeure met ’n fisiese assosiasie saamhang.

Hy is laat vir die eerste item op die program en hy moet in die prins se biblioteek wag. Die effe onbeholpe kelner kap met ’n lepel teen ’n porseleinbord en hierdie geluid roep weer talle ander herinneringe op, soos die gekap van ’n man met ’n ystervoorwerp teen die trein se wiele – ’n bedekte verwysing na Tolstoi en Anna Karenina? Hy dink ook terug aan die sensasies wat hy as kind ervaar het, soos die proe van die madeleine-koekie en die tee en dit het weer ander herinneringe van sy vroeë kindertyd, soos sy ma wat vir hom voorlees, na vore gebring.

Terwyl hy alleen was in die studeerkamer, het hy gemediteer hy oor die aard van kuns en die letterkunde en teruggedink aan dinge wat hy gedink het lankal vergete is, soos sy roeping om ’n letterkundige kunswerk te skryf.

Dan besef hy dat sy soektog klaar is, dat hy sy roeping gevind het en dat die herinneringe van so pas en die gepaardgaande sensasies en assosiasies die essensie van sy roman moet wees: sy lewenservarings moet in ’n literêre werk gestalte kry. Op hierdie oomblik besef ek as leser dat dit wat ek nou net gelees het, die Verteller se verhaal is – ja die herinneringe – nie van ’n verlore tyd nie, maar van herwonne tyd.

Dit val op dat in hierdie laaste deel van die roman daar min verwysings na skrywers, skilders en komponiste is. Die Verteller se stem en sy estetiese siening is nou die middelpunt van die verhaal (VI:235/276–7).

Maar met sy intrede in die salon herken die Verteller byna nie sy ou kennisse nie; die tyd het oor hulle gegaan en hulle tot groteske marionette getransformeer.

Terselfdertyd het hulle rolle in die samelewing verander, hetsy deur die oorlog, huwelike, geld of natuurlike ontwikkeling. Die titel prinses Guermantes behoort nou aan mme Verdurin, want sy het ’n derde huwelik aangegaan, dié keer met prins Guermantes – die mense wat sy so verag het.

Maar die tyd het ook die Verteller verander: al is sy hare en snor nog swart, het sy liggaamskragte afgeneem. Hy wonder of hy lank genoeg sal kan leef om die boek wat hy in hom het, klaar te skryf (Stern 1989:21).

Die Verteller besef ook dat dit nie gaan oor sy beheptheid daarmee om die torings van Martinville te sien nie, of oor die smaak van die madeleine-koekie nie, maar dat dit gaan daarom om die gegewe sensasies te interpreteer en dit om te skakel in ’n spirituele ekwivalent wat diensbaar is vir die skep van sy kunswerk (Carter 2000:468; White 2009:54). Hierdie herinneringe en sensasies is van nielewende voorwerpe.

Dan kom die draaipunt in die roman waarin die verlore tyd teruggewin moet word. Die Verteller is verras om ’n jong meisie by die onthaal te sien en tot sy groot vreugde hoor hy dat sy mlle De Saint-Loup is, die dogter van Gilberte Swann en Robert de Saint-Loup. Sy word vir die Verteller ’n simbool van sy jeug (VII:1269 ev).

In die mooiste prosa vertel hy hoe hy besef dat in haar die twee paaie van sy kindertyd verenig word en dat daar uit haar baie vertakkings gaan kom. Deur haar dink hy terug aan die Champs Elysées, aan Balbec met sy katedraal, aan Elstir se skilderye en aan die musiek van Vinteuil. Hy dink aan die see by Balbec en aan sy liefde vir Albertine en aan sy verterende jaloesie. Hy onthou ook al die mense wat sy lewe gekruis het. Die woorde van die digter kom by hom op:

The poet spoke of the mysterious threads which life breaks.

But it is still truer that life is ceaselessly weaving them between beings, between events, that it crosses those threads, that it doubles them to thicken the woof with such industry that between the smallest point in our past and all the rest, the store of memories is so rich that only the choice of communications remains. (VII:1271)


7. Ten slotte

Proust kan as ’n literêre sikloop beskryf word, iemand wat met ’n skerp en standvastige oog gekyk het – hy is dié denkende “ek”. Vanuit ’n ryk bron van herinneringe het hy sy verhaal vertel. Hy het nie sy familie of die samelewing veroordeel nie, maar hulle as mense wat kan faal, aan ons voorgehou.

Maar Proust het as kunstenaar nie gefaal nie, nie ten opsigte van homself nie, en ook nie ten opsigte van ons nie, want hy het sy verhaal, soms onder moeilike omstandighede, volledig vertel en so onsterflik geword, net soos die Goeie Vrydag-musiek van Wagner waarvoor hy so lief was. 13

 

 

Addendum

Belangrikste karakters in Swann’s Way en wat regdeur die roman ’n rol speel 14

Die Protagonis en sy familie

Die eerste sosiale groep waarmee ons kennis maak, is die familie van die Verteller/Protagonis, en hierdie karakters se name is nie belangrik nie, maar eerder hulle familie-verhouding met die Protagonis/Verteller. Ons leer hierdie karakters hoofsaaklik ken as Mamma, Pappa en Ouma.

Sy kom uit ‘n welgestelde Joodse familie, is fyn-beskaafd en het ‘n goeie skoling gehad. Sy is deel van die belangrike nagsoentonele en in die voorlees van George Sand se boek, François le Champi (1847) wat sy sensureer terwyl sy lees.

Hy is ‘n sekretaris in die Franse ministerie. Hy is bevriend met Norpois.

Bathilde: Die ouma van die Protagonis is die enigste persoon in die roman wat moreel suiwer is. Dit is sy wat hom aan die wêreld van die kunste blootstel, daarop gesteld is dat hy kwaliteit-ervarings beleef en saam met hom na die Berma-vertoning gaan. Met haar dood kom die Protagonis vir die eerste keer in aanraking met verlies en die invloed wat dit op sy diepste menswees het (II:609–41; III:359–97/425–71). De verhaal van verlies van sy ouma word in twee verdeel, sodat dit weerskante van twee kontrasterende vertellings is: die een oor die Guermantes-familie en die ander een oor baron Charlus. Hulle oordadige en leë lewe, hulle sosiale ambisies en twyfelagtige moraliteit wat bevraagteken word, staan in skerp kontras met dié van die ouma.

Marcel se oupa: Vriend van Charles Swann se pa en dit maak die vriendskap van die gesin met Swann moontlik.

Marcel se tant Léonie: Godsdienstig en toegewy, hipokondries en eienaar van die familiewoning in Combray. Sy word uitgebeeld in talle komiese situasies. Die Protagonis erf haar meubels en later skenk hy haar meubels en ‘n rusbank aan ‘n bordeel. Laasgenoemde was nogal doelmatig!

Françoise: Familiekok/-huishoudster van tant Léonie en later van die Protagonis se familie. Regdeur die roman word Françoise geprys as dié ware kunstenaar, omdat sy spesiale naaldwerkvaardighede het en ’n uitsonderlike kok is. Proust beklemtoon dat om ’n boek te skryf daar baie vergelykings en ooreenkomste is met Françoise se kuns, soos om verskillende stukke materiaal vir ’n rok te gebruik en om verskillende bestanddele in die van maak ’n boeuf mode te vermeng.

Marcel se oom Adolphe: Het ’n skandalige verlede en is nie intrinsiek deel van die roman nie, maar duik tog regdeur die roman op. Die gevolge van die Protagonis se onverwagse besoek aan hom en dat hy nie die oom op straat gegroet het nie, bring ’n familieverwydering mee. Hier lees ons die eerste keer van die “Lady in Pink”, wat Odette blyk te wees.

Twee tantes: Céline en Flora wat Swann moet bedank vir die sjampanje in ‘n snaakse toneel vol woordspelings.

Swann en sy familie

Charles: Hy is ’n Jood, ’n connoisseur en ’n kunsversamelaar wat besig is om bles te word, maar wat ook kanker kry en sterf. Hy is die vader van Gilberte, eggenoot van Odette, ’n ou vriend van Marcel se familie en ’n vriend van Oriane Guermantes. Alhoewel almal dink dat hy ’n artikel oor Vermeer skryf, het hy lankal al daarvan afgesien. Swann as seksuele jagter sluit verhoudings met die gewone werkersklas in: as hy Odette nie aantref by Mme. Verdurin nie, onthaal hy eers ’n jong meisie uit die Paryse werkersklas in die Bois Boulogne en dan gaan soek hy vir Odette in die Paryse strate.

Mme Odette de Crécy: Die courtesan Odette de Crécy is ’n voorbeeld van die Belle Époque-samelewing en baie van die waardes. Deur haar seksuele gunste aan welgestelde mans en haar verbintenis in die eg met Swann en later met Forcheville het sy haar status in die samelewing bevestig (Gamble 2001:8). Sy word ook van lesbiese verhoudings verdink, wat Swann baie ontstel – dit is ’n voorloper vir die Protagonis se ontsteltenis met Albertine se lesbiese verhoudings. Sy beklee ’n besondere posisie in die Woensdag-kliek van mme Verdurin en later in die sosiale groep van die nuwe prinses De Guermantes alias mme Verdurin.

Gilberte: Sy is die dogter van Charles en Odette. Die Protagonis se eerste liefde. Deur Odette se huwelik met Forcheville word sy mlle De Forcheville. Sy trou met Robert de Saint-Loup en word die markiesin De Saint-Loup.

Mlle Saint-Loup: Sy is die dogter van Robert de Saint-Loup, ’n Guermantes en Gilberte Swann.

Die Verdurin-kliek

Mme Verdurin: Welgestelde boheemse gasvrou en beskermvrou van die kunste. Meesteres van die Woensdag-kliek (of klein groepie), wat sy met ’n ysterhand regeer. Sy word baie keer as grotesk en satiries voorgestel, veral in haar reaksies op musiek. Sy stel haarself en haar geriewe eerste; haar vriende se dood ignoreer sy; in die oorlogtyd toon sy min meegevoel met die slagoffers, soos byvoorbeeld dié wat omgekom het in die bombardering van die Duitsers van die Britse Lusitania. Sy bekla eerder haar lot as sy nie elke oggend ’n vars gebotterde croissant in die hande kry nie (Carter 2000:594). Dat mme Verdurin uiteindelik die prinses Guermantes word, is simptomaties van die sosiale veranderinge na die oorlog (Hughes 2001:165).

Gustave (Auguste): Welgestelde eggenoot van mme Verdurin. Sy ongeskiktheid met sy gaste is irriterend en van sy afsterwe word baie min vermeld.

Brichot: Hy is ’n akademikus aan die Sorbonne, maar dit is nie duidelik wat hy doseer nie. In klugtige tonele lees ons van sy groot intellek en dit wil voorkom of sy lidmaatskap van die Woensdag-kliek sy grootste prestasie is!

Dr Cottard: Een van die langsbestaande lede van die Verdurins se Woensdag-groepie en hy staan mme Verdurin by as sy aanvalle tydens ’n musiekuitvoering kry.

Guermantes-familie

Kontrasterend tot madame Verdurin se groep is die groot en uitgebreide Guermantes-familie. Hulle is vyandiggesind teenoor die bourgeoisie; hulle posisie in die aristokratiese wêreld van die Belle Époque, ook genoem die Faubourg Saint-Germain, is sterk. (In die ontwikkeling van die roman brei die Faubourg Saint-Germain ook sosiaal en geografies uit.) Die Faubourg Saint-Germain is nie net ’n geografiese gebied in Parys nie, maar dit verwys ook na ’n denkwêreld, na ’n eksklusiewe groep wat uit Royaliste, nasionaliste, Katolieke en anti-Dreyfusards bestaan. Die Verteller het aan die begin van die roman begeer om deel van hierdie groep te word, want hy het geglo dat dit die toppunt van die samelewing is (Gamble 2001:12). Belangrike figure in hierdie familie:

Hertog (Duc) de Guermantes, Basin : Hy is die broer van baron De Charlus en die prins De Guermantes is sy neef. In Swann’s Way leer ons hom by die konsert van die markiesin De Sainte-Euverte ken as die prins Des Laumes; dit was voordat hy die hertogskap geërf het. Hy is getroud met sy niggie, Oriane Guermantes, aan wie hy van die begin af ontrou was. Aan die einde van die roman het hy ’n ogie op Odette, maar in sy seniliteit weet hy nie mooi waar hy is en met wie hy ’n verhouding het nie.

Hertogin (Duchesse) Guermantes, Oriane: Oorspronklik mlle De Guermantes en daarna die prinses Des Laumes. Sy is getroud met haar neef, Basin, die hertog (duc) De Guermantes; sy is ook ’n niggie van mme De Villeparisis en die tante van Robert de Saint-Loup. Sy was ook gesteld op haar vriendskap met Charles Swann. Die Verteller het ’n oorheersende begeerte gehad om die hertogin te ontmoet en deel te word van haar sosiale kring. Groot was sy teleurstelling toe hy haar die eerste keer in die Combray-kerk sien - in plaas daarvan om in die kleure van die tapisserieë en die gekleurde glasvensters geklee te wees, asof sy van ’n ander tydperk en van ’n ander substansie is as dié van ’n gewone mens. Nooit het dit by hom opgekom dat sy miskien rooi vlekke in haar gesig kan hê nie en ’n gewone pers serp kan dra nie. Later, toe die Verteller nie meer verlief was op haar nie, het hy haar gevatheid geniet. Uiteindelik het die titel hertogin ook al sy waarde in die na-oorlogse samelewing verloor (White 1999:51).

Charlus, Palamède, Baron de: Jongste broer van die hertog De Guermantes en oom van Saint-Loup. Baie titels, waaronder prins Des Laumes, hertog van Brabant, landedelman (Squire) van Montargis en nog talle ander.

Charlus is ’n baie temperamentele man van twyfelagtige karakter. Hy was homoseksueel obsessief, sadomasochisties, baie jaloers, veral ten opsigte van sy protégé, die violis Morel. Charlus kon baie goed klavier speel en het ’n fyn aanvoeling vir musiek gehad. Die Verteller wonder hoe dit moontlik is dat ’n fisiefe skandvlek met so ’n uitsonderlike gawe in musiek in een mens verenig kan wees (Coeuroy 1926:142). Charlus het die Protagonis ná ’n aandete by die hertogin Guermantes, na sy huis genooi. Hier word die jong man gekonfronteer met Charlus se buitengewoon aggressiewe en enigmatiese gedrag. Later in die roman sien die Protagonis vanuit ’n venster uit sy ouerhuis ’n eksplisiete openbaring van Charlus as homoseksuele jagter in sy ontmoeting met Jupien, ’n kleremaker. Proust self beskryf hierdie toneel as onbetaamlik (III:3–33;IV:38–44). Die aftakeling van die karakter van Charlus is ’n belangrike gegewe in die uitwerking wat tyd op die mens het. In die oorlog moes Charlus sy groot huis in ’n militêre hospitaal verander.

Saint-Loup-en-Bray, Robert, Markies : Seun van die graaf en gravin De Marsantes, neef van Charlus en die hertogin (Duchesse) De Guermantes en kleinneef van mme De Villeparisis. Hy is ’n boesemvriend van die Protagonis – tydens hulle besoek aan ’n restaurant in Doncières kom Robert se sorgsame karakter na vore in die uitbeelding van ’n dans van vriendskap as hy ’n warm mantel oor die Protagonis se skouers gooi. Hy het ’n vurige verhouding met Rachel, ’n prostituut en laerklas-aktrise (sy dien as teenpool vir Berma). Aan die einde van die roman is sy deel van mme Verdurin se uitgesoekte kunstenaarsgroepie met die hertogin Guermantes as beskermvrou. Saint-Loup trou uiteindelik met Gilberte Swann en hulle het ’n dogter, mlle Saint-Loup. Later in die roman blyk dit dat Saint-Loup biseksueel is. Hy sterf as ’n soldaat in die oorlog en in die beskrywing van sy begrafnis is dit Proust op sy beste.

Groepie jong meisies by die kusdorp, Balbec

Albertine Simonet: Dié beroemde karakter in die vyfde en sesde deel van die roman. Sy is een van die meisiegroep van Balbec. Sy is ’n niggie van m en mme Bontemps, wat haar in hulle sorg geneem het, want haar ouers is oorlede.

Andrée : Die oudste van die meisiegroepie van Balbec; sy is die lang een, en dans met Albertine by die Casino van Incarville.

Gisèle : Deel van die groepie meisies in Balbec

Ander karakters

Bloch, Albert: ’n Jood en die Protagonis se oudste vriend. Hulle ken mekaar alreeds van skooldae af.

Mme Bontemps : Albertine se tante, vriendin van Odette en mme Verdurin.

Cambremer, Marquis de: Swaer van Legrandin; Normandiese landedelman met ’n groot neus.

Cambremer , Renée, Marquise de: Legrandin se ongeskikte, arrogante en onverfynde suster.

Forcheville, Baron de : Vulgêre en arrogante vryer en uiteindelike eggenoot van Odette de Crécy.

Jupien: Kleremaker, faktotum, toesighouer van ’n manlike bordeel en oppasser van Charlus ná sy beroerte.

Legrandin : Buurman van die Protagonis se familie in Combray. Ingenieur, geleerde, snob en seksuele invert.

Marsantes, Marie-Aynard, Comtesse de : Weduwee en moeder van Robert Saint-Loup en suster van Charlus en Basin.

Norpois, Marquis de: Voormalige ambassadeur, hooghartig en pretensieus en vriend van die Protagonis se vader. Hy is ook die minnaar van mme De Villeparisis.

Parma, Princesse de: Simbool van sosiale uitnemendheid en epitomee (beliggaming) van noblesse oblige.

Putbus, Mme van die werkersklas: Simbool van losse sedes en lyflike genot.

Rachel: Prostituut, avant-garde aktrise en minnares van Saint-Loup. Aan die einde van die roman tree sy in die hertogin Guermantes se salon op.

Villeparisis, Madeleine, Marquise de: Tante van die hertog en hertogin Guermantes en groottante van Robert de Saint-Loup en minnares van m De Norpois.

 

 

Bibliografie

Bales, R (red). 2001. The Cambridge Companion to Proust. Cambridge: Cambridge University Press.

—. 2001. Proust and the fine arts. In Bales (red) 2001.

Brooks, P. 2004. The Shape of Time. The New York Times, 25 Januarie. http://topics.nytimes.com/top/reference/timestopics/people/p/marcel_proust (3 Oktober 2013 geraadpleeg).

Carter, WC. 2000. Marcel Proust. A life. New Haven en Londen: Yale University Press.

—. 2001. The vast structure of recollection: from life to literature. In Bales (red) 2001.

Coeuroy, A. 1926. Music in the Work of Marcel Proust. The Musical Quarterly, 12(1):132–51. http://www.jstor.org/stable/738511 (29 Julie 2013 geraadpleeg).

Connelly, J. 2012. Music in Marcel Proust’s À la recherche du temps perdu A Playlist Resource. Proust Society of America, Boston Chapter Orris Publishing Hingham, MA Compilation and Original Content (10 Junie 2012). http://www.proust-ink.com/proust_playlist.pdf (21 Augustus 2013 geraadpleeg).

Ellison, D. 2001. Postlude: Proust and the art of brevity. In Bales (red) 2001.

Finch, A. 2001. Love, sexuality and friendship. In Bales (red) 2001.

Gamble, C. 2001. From Belle Epoque to First World War: the social panorama. In Bales (red) 2001.

Harder, HM. 2001. Proust’s human comedy. In Bales (red) 2001.

Jordan, J. 2001. The unconscious. In Bales (red) 2001.

Kapeles, E. 2008. Paintings in Proust. A visual companion to In search of lost time. Londen: Thames & Hudson.

Landy, J. 2001. The texture of Proust’s novel. In Bales (red) 2001.

Leonard, DB. 2001. Ruskin and the cathedral of lost souls. In Bales (red) 2001..

Matthews, C. 2010. 182 Days of Marcel Proust. A journal about reading "In Search of Lost Time". proustproject.blogspot.com (4 Okober 2013 geraadpleeg).

Prendergast, C. 1993. The English Proust. London Review of Books, 15(13). www.lrb.co.uk/v15/n13/christopher-prendergast/english-proust‎ (19 September 2013 geraadpleeg).

Proust, M. 2006. Remembrance of things past. Volumes 1 & 11. Vertaal deur CK Scott Moncrieff. Hertfordshire: Wordsworth Editions Limited.

Richardson, D. 2012. Resemblance: Portraits of characters from Marcel Proust’s “In Search of Lost Time”. Berkeley: Edition One Books. Resemblancetheportraits.blogspot.com‎ (19 Oktober 2013 geraadpleeg).

Rogers, B. 2001. Proust’s narrator. In Bales (red) 2001.

Schmid, M. 2001. The birth and development of A la recherche du temps perdu. In Bales (red) 2001.

Shattuck, R. 2000. Proust’s Way. A field guide to In search of lost time. New York: WW Norton & Company.

—. 2001. Lost and found: the structure of Proust’s novel. In Bales (red) 2001.

Stern, S. Proust 1989. Swann’s Way. Landmarks of World Literature. Cambridge: Cambridge University Press.

Wagner, Richard. 1950. Tristan and Isolde: Prelude and Liebestod. Parsifal: Good Friday Spell. Londense Filharmoniese Orkes. Dirigent: Clemens Krauss. Naxos Classical Archives. Strepieskode: 0747313055111

White, E. Marcel Proust. A life. Londen: LipperTM/Penguin.

Wikipedia: the free encyclopedia, 2013. Marcel Proust. en.wikipedia.org/wiki/Marcel_Proust. (5 November 2013 geraadpleeg). ‎

Wilson, EA. 1928. A Short view of Proust. The New Republic, 21 Maart 1928. www.readingproust.com/wilson.htm‎ (19 November 2012 geraadpleeg).

 

 

Eindnotas

1 Byvoorbeeld die filosofiese, Christelike, biologiese, sielkundige en politieke verwysings, soos die Dreyfus-saak, om maar net ’n paar te noem. Die invloed van gewoonte as deel van die belewing van tyd is eweneens ’n tema wat regdeur die roman voorkom.

2 Een van die Boekwurmlede, Ria Smit, het die Franse vertaling van die titel so verklaar: Côté op sigself beteken inderdaad "kant", maar die frase du côté de is 'n vaste uitdrukking wat vertaal as in die buurt van. En die chez beteken "aan die huis van", of dit kan ook iets sê oor "die buurt of omgewing van". Letterlik vertaal sou 'n mens dus iets kon sê soos: In die buurt/area/omgewing van die huis van Swann. Waar Moncrieff dus dit titel vertaal het met Swann's way het hy enersyds wel 'n dubbelsinnigheid gekry met die betekenisse van (1) die pad wat by Swann se huis verbyloop, en (2) die manier(e) waarop Swann dinge gedoen het.

3 Swann in Love , 1984, regisseur Volker Schlöndorff. Die baron Charlus gespeel deur Alain Delon; die hertogin Guermates: Fanny Ardant; madame Verdurin: Marie-Christine Barrault.

4 Planes of psychology verwys na ‘n spesifieke vlak van bestaan, denkaktiwiteit of prestasie.

5 In die PowerPoint-aanbieding rol die woorde een na die ander in.

6 ‘n Oksimoron is ’n vorm van spraak waarin teenstellings saamgevoeg word, byvoorbeeld onnosele slimkop, ou nuus (voorbeelde uit HAT).

7 Sien Addendum A vir ’n lys van die belangrikste karakters

8 Swann's Odette : detail van die skildery Moses word getoets van Sandro Botticelli, 1481–1482 (Karpeles 2008:23).

9 In die PowerPoint-aanbieding as ’n woordwolk weergegee.

10 Een van die beroemdste septette in die musiekliteratuur is die “Septet in E-mol majeur, Op 20 van Beethoven”, tussen 1799 en 1800 gekomponeer, vir klarinet, fagot, Franse horing, viool, altviool, tjello en kontrabas. Baie komponiste het hierna hierdie tipe werke geskryf.

11 Sjuut! van die Franse skilder James Tissot (c 1875). Uitbeelding van ’n elegante Franse salon tydens die Belle Époque.

12 André Paul Gide (22 November 1869 – 19 Februarie 1951) was ’n Franse skrywer en wenner van die Nobelprys vir letterkunde in 1947.

13 Wagner, Richard. 1950. Tristan and Isolde: Prelude and Liebestod. Parsifal: Good Friday Spell. Londense Filharmoniese Orkes. Clemens Krauss. 1950.

14 In die boek van David Richardson, Resemblance, is daar satiriese uitbeeldings van die belangrikste karakters.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 


 

Titel: Swann's Way
Skrywer: Marcel Proust
Uitgewer: Dover Publications
ISBN: 9780486421230

Koop Swann's Way by Kalahari.com

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dit is duidelik dat u deeglike navorsing gedoen en uitstekende kommentaar gelewer het. Ek sou nog 'n boek by die bibliografie wou voeg omdat ek dit interessante leesstof gevind het. Dit is die boek van Proust se huishoudster die laaste nege jaar van sy lewe: Celeste Albaret, Monsieur Proust (London: Collins, 1976, 387p).

     

    Johannes Comestor

  • Hello Johannes

    Ja! Ek weet van die boek, maar nog nie tyd gehad om te lees nie. Dankie dat jy dit noem. Proust self het my meer as twee jaar besig gehou.  Soos dit met hierdie dinge gaan, het ek hierdie week nog verdere insigte gekry, maar nou ja.  En dan al die dinge wat ek moes uitlaat, omdat ek net ‘n enkele aand gehad om oor hierdie magistrale werk te kon praat!

    Dankie, vir die plasing.

    Alta

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top