Om oor 'n kimlyn te treur

  • 1

Verlede week het ek geskryf oor hoe mens moontlik oor ’n dorp soos Stellenbosch en sy beroemde eetkultuur kan skryf. En gekyk na ’n genre wat aspirantskrywers beslis kan aandurf: literêre joernalistiek. Ek is nog lank nie uitgeskryf oor die wisselwerking tussen feite en fiksie nie en gaan dus vir eers aanhou knaag en kou aan daardie genre. Hierdie week gaan ek egter spesifiek na ’n idee kyk wat ek verlede week genoem het: hoe skrywers iets soos kos of ’n ete ’n simboliese of metaforiese betekenis kan gee.

In Nederland word literêre joernalistiek “reportage” genoem, en aangesien hierdie rubriek handel oor ’n Nederlandse skrywer wat in New York woon, gebruik ek verder daardie term.

Wie is hierdie Nederlandse skrywer? Een van my gunstelinge: Arnon Grunberg.

Arnon Grunberg tydens sy besoek aan Suid-Afrika Maart 2011
Foto: Stefan Arno Möhl

Vir eers gaan ons egter die beskutte skilderagtigheid van Stellenbosch verlaat en New York, met sy kimlyn (’n mooi Afrikaanse woord vir skyline) waaroor menigte al getreur het, betree. Die reportage heet “Leef je nog”, ’n stuk wat Grunberg in New York geskryf het en waarin hy op merkwaardige wyse kommentaar oor daardie stad met sy bekende (veranderde) kimlyn lewer. Dit is die eerste keer in die Nederlandse koerant NRC Handelblad gepubliseer – 14 September 2001 – twee dae na die 9/11-terreuraanslae. Dit is ook gebundel in die boek Grunberg rond de wereld, wat ’n versameling van sy reportages van plekke en stede oral oor die wêreld kombineer.

Kom ons begin eers by ’n opmerking met ’n angel van die Nederlandse TV-aanbieder Paul Rosenmöller. Hy sê in ’n onderhoud met Grunberg op ’n Nederlandse geselsprogram, Gesprek op 2: “Wie is Arnon Grunberg dat hy soggens my muesli met joghurt vergal?” Met ander woorde: “Wie gee jou die reg om soggens my ontbyt te bederf?” Hy rig hierdie vraag aan die skrywer, sy gespreksgenoot, in reaksie op die uitlokkende uitsprake wat Grunberg daagliks maak in sy politieke kommentaar in De Volkskrant.

Maar wat beteken dit vir Grunberg om soggens sy lesers se ontbyt te bederf? Kom ons kyk na daardie spesifieke reportage wat ek genoem het waarop ’n menigte lesers uiters fel met talle kwaai briewe reageer het:

In plaas van om te simpatiseer met die naasbestaandes van die slagoffers van 9/11, of ten minste uit respek vir die gebeure te swyg, skryf Grunberg in hierdie stuk oor sy behoefte om op hierdie dag ’n warm maaltyd te bekom. Hy loop deur New York, met sy strate leeg en stil na die gebeure, naarstig op soek na ’n oop restaurant.
Natuurlik kan mens skryf oor ’n behoefte aan kos en jou soektog na ’n restaurant. Maar om dit juis op 14 September 2001 in New York te doen, in die konteks van die skokkende gebeure drie dae vantevore, het Grunberg se lesers as immoreel en skandalig beskou. Lesers het veral die uitspraak: “Wie nog leeft, moet aan eten denken” (“Wie nog lewe, moet aan kos dink”) as die toppunt van disrespek beskou.

Maar is dit wel skandalig om juis van kos te praat terwyl mense rondom hom swaarkry? Grunberg beklemtoon in sy stuk die “gretigheid” waarmee daar oor die katastrofe gepraat word in sy waarneming op hierdie dag van die mense rondom hom in ’n New York-restaurant: “Iedereen had het wel over verslagenheid, maar de uitdrukking op sommige gezichten was verlekkerd. Hysterisch zijn is nog fijner als je het met zijn allen doet.” (“Almal het wel gepraat van verslaenheid, maar die uitdrukking op sommige gesigte was verlekkerd. Dis altyd lekkerder om saam histeries te wees.”) Hy kyk dus na die mense rondom hom in die restaurant as mense wat plesier vind in sensasie agter die skyn van empatie.

Die leser van sy artikel word dus gekonfronteer met haar eie ontbyt terwyl sy die koerant lees. Grunberg vra: Waarom eet jy nog terwyl daar duisende dooies en gewondes in New York lê? Het jy regtig empatie met die slagoffers, of verorber jy bloot gulsig die sensasionele beelde wat die media opdis? Wat maak jou moreel verhewe bo my wat in New York na ’n restaurant soek?

Deur dus juis van kos en sy soeke na ’n warm maaltyd te praat, lewer Grunberg fel kommentaar op ’n samelewing wat maak of dit moreel verhewe is of empatie met die slagoffers van ’n gewelddadige gebeurtenis het.

Hierdie uitlokkende woorde van hom stel dus veral ’n moraliteit aan die kaak wat empatie, sorg en welsyn as skynheiligheid voorhou. Hierdie empatie van die mense in die restaurant (en per implikasie die lesers van die artikel wat geaffronteerd voel deur sy woorde) is vir hom niks anders as selfingenome, huigelagtig en neerbuigend nie. Wanneer Grunberg sy lesers se ontbyt bederf, beteken dit dat hy ons uitdaag om nie in die skyn van morele verontwaardiging te val nie. En treur hy op dié manier juis op ’n meer etiese – in plaas van skynheilige – manier oor die stadsilhoeët van New York.

Wat gee Grunberg die reg om soggens sy lesers se ontbyt te bederf?

Vanselfsprekend vind hy sy rol as skrywer om reaksie uit te lok en aanstoot te gee.

Groete
Rentia

(Lees meer oor Grunberg hier).

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top