Plaaslik word die begin van die sogenaamde bevrydingsliteratuur dikwels aan twee boeke toegeskryf. Die een is Trevor Huddleston se Naught for your comfort (1956), wat ek reeds bespreek het (SêNet, 15 Maart). Die ander is Alan Paton (1903-1988) se Cry, the beloved country (1948), wat in 1946 voltooi is, dus ’n dekade voor Huddleston se boek. Huddleston was ’n uitlander wat sy boek in Suid-Afrika geskryf maar openlik daarop geroem het dat hy hoogs eensydig na die Suid-Afrikaanse werklikheid kyk (p 18). Paton was ’n Suid-Afrikaner wat sy boek tydens sy studieverlof in Noorweë en die VSA geskryf het, maar hy het die Suid-Afrikaanse werklikheid baie beter as Huddleston verstaan.
Dit is Huddleston wat aan Desmond Tutu die manuskrip van Paton se boek geleen het (John Allen, Rabble-rouser for peace, London: Rider, 2006, p 44). Tutu het in die jare sestig, as dosent aan die teologiese seminarie op Fort Hare, Paton se werk aan die studente voorgeskryf (Allen, p 104). Bevrydingsteoloë soos Huddleston (p 44) en Tutu (Allen, p 149) het veral ’n enkele sin in Paton se boek uitgesonder vir beklemtoning omdat dit hulle politieke agenda gepas het. Dit is die volgende woorde van een van die karakters, eerwaarde Theophilus Msimangu: "I have one great fear in my heart, that one day when they [the whites] are turned to loving, they will find we [the blacks] are turned to hating" (Cry, the beloved country, London: Vintage Books, 2002, p 38, 235).
Anders as Huddleston, Tutu en veral Nelson Mandela was Paton teen geweld gekant (Nelson Mandela, Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 447). Anders as die genoemde drietal was Paton ook sterk teen ekonomiese sanksies gekant (Allen, p 214, 289). Wat politieke radikaliteit betref was Paton nie in dieselfde liga as hierdie aktiviste nie. Paton het Tutu glad nie as ’n heilige beskou nie (Allen, p 265). ’n Ander feit wat in gedagte gehou moet word, is dat Paton se boek tydens die Smuts-bewind geskryf is. Ook Huddleston se boek is geskryf voordat apartheid ’n noemenswaardige impak gehad het. Die belangrikste positiewe bydrae wat die boeke van Paton en Huddleston gelewer het, was om die aandag op die ellende van swartes te vestig, maar dit was eintlik voorapartheidsellende en nie soseer apartheidveroorsaakte ellende nie, bv in 1946 was die paswette reeds op swartes van toepassing (Paton, p 69, 160). In hierdie sin is die hedendaagse gewoonte om net (of veral) Afrikaners vir swart ellende te blameer, misplaas.
Die verhaal begin in Ixopo in Suid-Natal, waar Paton ’n onderwyser was. Daarna verskuif dit na die Witwatersrand, waar Paton van 1935 tot 1949 hoof van ’n rehabilitasiesentrum was. Die verhaal eindig in Suid-Natal. Vanweë die ruimtebeperking gaan ek nie die storie hier opsom nie, want dit kan maklik in bv die Wikipedia opgespoor word.
In 1946 was daar reeds krotbuurte vir swartes, bv in Pietermaritzburg (p 16), te min huise en oorvol huise (p 48-50), aparte busse vir wittes en swartes (p 13, 39), aparte hospitale (p 34), in die hof aparte sitplekke en deure vir wittes en swartes (p 136, 144, 174). Toe reeds was die skole vir swartes vol (p 27): "Not more than four out of ten are at school" (p 68-69). Busse is geboikot as die tariewe verhoog word (p 40). Grond is onwettig beset en krotte is daarop gebou met gesteelde materiaal (p 50, 52). Wat opval, is dat Paton telkens van "white and black" skryf (p 21, 37, 157, 229), terwyl dit deesdae, veral van owerheidskant af, andersom gedoen word. Ek dink nie laasgenoemde is ’n poging tot alfabetiese volgorde nie. Dit is veel eerder ’n uitdrukking van mag, van dominansie, van verswelging. "Who knows how we shall fashion a land of peace where black outnumbers white so greatly?" (p 71). Voorheen het "the People ... the White People" beteken (p 136-137). Deesdae is "the people" ongetwyfeld (veral) die swartes.
Wat in die boek beklemtoon word, is die omvang van misdaad in 1946, veral in Johannesburg. Die misdadigers wat genoem word, is swart en die slagoffers is wit. Dit is waarom die wittes in vrees lewe. "Cry, the beloved country, for the unborn child that is the inheritor of our fear" (p 72). "It is fear that rules this land" (p 25). "So many have grown lawless ... Who can enjoy the lovely land?" (p 67). Die rede vir misdaad, bv diefstal, word aan die wittes toegeskryf: "They give us too little ... They give us almost nothing" (p 26).
Die ontworteling van die stedelike swartes word benadruk. Die skuld hiervoor word voor die deur van veral die mynmaatskappye gelê, wat trekarbeid gebruik en hulle werkers in enkelwoonkwartiere huisves. Terselfdertyd is daar in die swartes se plattelandse gebiede verval omdat die arbeidskrag vandaar na die stede onttrek word. Net bejaardes en vroue en kinders woon daar (p 188, 230). Op hierdie manier word die stamverwantskap en -gebruike afgetakel. "The white man has broken the tribe" (p 25). "It was the white man who gave us so little land, it was the white man who took us away from the land to go to work" (p 228). Later, tydens die apartheidsera, is gepoog om die tuislande te ontwikkel, die toestroming na die stede te keer, die stamverwantskap en kultuur (insluitende die tale) van swartes te herstel, maar daarin het baie swartes geen behae gehad nie.
Paton vertel hoe die landbougebiede van swartes agteruitgaan. "Year by year there was less food grown in these reserves. There were too many cattle there, and the fields were eroded and barren ... if they got more land, and treated it as they treated what they had already, the country would turn into a desert" (p 113). Lobola kry die skuld vir die aanhou van, en gevolglike oorbeweiding deur, te veel beeste (p 215). "A native could get land from the farmer, and set up his kraal and have his family there ... provided that he and his family gave so much labour each year to the white farmer. But even that was not perfect, for some of them had sons and daughters that left for the towns, and never came back to fulfil their portion of the contract; and some of them abused the land that they had; and some of them stole cattle and sheep for meat; and some of them were idle and worthless, till one had to clear them off the farm, and not be certain if their successors would be any better" (p 114). Die "oplossing" waarmee sedertdien voor ’n dag gekom is, is om plaasgrond van wittes te ontneem en aan swartes te gee en om dit uiters moeilik vir wittes te maak om van ongewenste swart plaasbewoners ontslae te raak.
John Kumalo is ’n politieke aktivis in Johannesburg wat die gepeupel opsweep. "What God has not done for South Africa, man must do ... Something is happening that no Bishop can stop" (p 25). "A new society is being built" (p 34). John het ’n lae dunk van die "Bantu Press": "[It] does not say all that could be said" (p 27). Hy beskou homself vry van stamverwantskap: "Our customs are different here" (p 35). Die stamhoof is volgens hom "nothing but a white man’s dog ... the Church too is like the chief" (p 34). Die voorspoed wat die wittes geniet "is not built on the mines ... it is built on our backs, on our sweat, on our labour. Every factory, every theatre, every house, they are all built by us" (p 35). As dit so is, waarom het sodanige ontwikkeling nie in dieselfde mate in die res van Afrika plaasgevind nie? Swartes moet eerder vra: "Where would we be without all that this white man has done for us?" (p 227-228). Wanneer die mynwerkers staak "they go mad; they imprison mine officials in their offices, and throw bottles and stones, and set places on fire" (p 162). Daar is hierdie profetiese woorde: "There are some men who long for martyrdom, there are those who know that to go to prison would bring greatness to them" (p 160).
Msimangu se retoriek word soms idealisties: "Because the white man has power, we too want power ... But when a black man gets power, when he gets money, he is a great man if he is not corrupted ... I see only one hope for our country, and that is when white men and black men, desiring neither power nor money, but desiring only the good of their country, come together to work for it" (p 37). Wat het sedert 1946 gebeur? Wat het geword van Nelson Mandela se uitgesproke ideaal tydens die Rivonia-verhoor dat een groep nie ’n ander moet oorheers nie? Funksioneer die swart bewind lofwaardig tot voordeel van die land of is daar toenemende korrupsie? "Cry, the beloved country, these things are not yet at an end" (p 66).
Destyds in Suid-Natal, anders as tans, "all the police were Afrikaners, and the post-office clerks, and the men at the railway station" (p 114). Soms skyn daar vooroordeel teen Afrikaners deur. ’n Boer, James Jarvis, verwys na een van die polisiemanne as "a decent fellow for an Afrikaner" (p 114). "His own father had sworn that he would disinherit any child of his who married an Afrikaner" (p 114-115). ’n Ander Engelsman is geheg aan die Britse kroon: "Where would we be if we ever get a republic?" (p 131). "He speaks beautiful English, the kind they speak at Oxford ... not the kind they speak at Rhodes or Stellenbosch" (p 147). Daar is ook minagting vir Afrikaans by sommige Engelssprekende wittes: "It’s a lingo I know nothing about, thank God" (p 121). By party van hulle is daar ontevredenheid oor die "unpronounceable names" van plekke soos Blyvooruitzicht, Langlaagte, Odendaalsrust en Welgedacht (p 146). Die plek- en straatname van die nuwe Suid-Afrika sou hulle sekerlik voor groter uitdagings gestel het. Die vraag is: As ’n plek (feitlik) onherkenbaar verander (bv afgebreek word), is dit nie dalk beter as hy ’n ander naam kry nie? ’n Ander saak: "Bilingualism was a devil of a waste" (p 146, ook p 163). Wat sou hulle sê van die nuwe Suid-Afrika met sy elf amptelike tale?
"Africa ... the great continent where we Africans live" (p 160). "Africa, the beloved country" (p 189, 191). "Nkosi Sikelel’ iAfrika: God save Africa" (p 191). "We work for Africa ... Why do you not say South Africa?" (p 229). In die Ooste word daar tans groot vooruitgang gemaak omdat die Oosterlinge daarin slaag om Westerse invloed in harmonie met hulle eie kultuur te bring. In Noord-Afrika aanvaar die inwoners (Arabiere, Berbers, Kopte, ens) die heilsame beskawende invloed van Europa en die Midde-Ooste. In Suid-Afrika gaan die nuwe bewindhebbers egter teen die stroom in en is hulle Afrika-behep, kontinent-oorbewus: seker in groter mate as in enige ander land. Die uitgangspunt is etnies. Dit gaan om swart Afrika, die broers en susters in sub-Sahara-Afrika; daardie lande wat almal in mindere mate as Suid-Afrika die voordele van Westerse invloed ervaar het. Die voortreflike voorbeeld wat Westerse lande stel, word in die nuwe Suid-Afrika gereeld en openlik geminag. Die Westerlinge in Suid-Afrika word eerder verwyt en verguis as geloof en na waarde geskat. Hierdie gebrek aan gesonde ewewig word in die volkslied weerspieël. Dit is een van die vele tragedies van die nuwe Suid-Afrika.
Johannes Comestor


Kommentaar
Ja Johannes, Jy het dalk reg om te treur oor n land wat byna onmoontlike kaarte gedeel is deur die noodlot en deur die geskiedenis. Aan die ander kant wees getroos deur die feit dat Suid-Afrika nooit betrokke was in n burgeroorlog nie( die Vryheidsoorlog teen Brittanje uitgesluit) of direk betrekke was in die Eerste en Tweede Wêreld Oorloê nie( behalwe vir die soldate wat na die front gestuur is. Die eskapades in Angola was n groot fout gewees en ek voel diep jammer vir die jong mans wat die brutaliteite van daardie avontuur moes beleef). Het jy enige besef wat hierdie twee Wêreld Oorloë aan die mense van Europa gedoen het? Die gevolge lewe nog vandag steeds.
Die Suid-Afrikaanse situasie is n konfrontasie tussen n Noord-Europese kultuur en etos ,en dié van Afrika, sy inheemse kultuur en tradisies. Maar hoe eg is hierdie Afrika- kultuur nou eintlik vandag? Almal wil dieselfde hê: n goeie werk, behuising, elektrisiteit, sekuriteit, mediese dienste en goeie skole vir hulle kinders, edm. So, afgesien van velkleur, hoe verskil mense dan van mekaar en wat hulle basiese begeertes en behoeftes tydens hulle kort bestaan op aarde betref?
Miskien kan die gemeende veskille en probleme tog uitgeskryk word deur eerste klas universiële onderwys, en in dié opsigte lê Suid-Afrika onder die laaste lande op die lys van wêreldprestasies in hierdie gebied.
Ai toggie. Ek wens tog so dat mense wil ophou voorgee asof ons geskiedenis iets anders as die gewelddadige kolonialisering van ’n land en die gevolglike uitbuiting van die inboorlinge vir goedkoop arbeid was.
Die beleid van Suid-Afrikaanse regerings van ’n dekade of twee na 1652 tot in die 1980's was daarop gemik om voldoende arbeid vir landbou en die industrie beskikbaar te stel. Swart mense is nie primêr deur die paswette in die reservate, en later Bantustans, ingehok nie om hulle apart van wit mense te hou nie, hulle is verhoed om "wit" landelike gebiede te verlaat sodat daar ’n oorvoorsiening van goedkoop (plaas)arbeid was.
Apartheid, afsonderlike geriewe en die Bantustans was versiersuiker. Die ou bestel is onderhou deur en is bedryf vir ekonomiese belange. Dit was hierdie ekonomiese beleid van wit regerings wat swart mense verarm het, die trekarbeider stelsel wat families vernietig het en ’n volslae afwesigheid van enige poging van wit regerings om moderne infrastruktuur in die reservate op te rig of om hierdie gebiede ekonomies met die res van die land te integreer wat ontwikkeling gekortwiek het.
Afrikaners het by uitstek ekonomiese en maatskaplike voordeel uit die stelsel getrek en die gunstige ekonomiese posisie wat die "volk" tans beklee is grootliks hieraan te danke.
Daar kan met die wonderlikste mites van ’n verdrukte volk wat homself gedurig moes verdedig en met rassistiese bewerings van inherente swart minderwaardigheid voor en dag gekom word, maar die geskiedenis is wat dit is.
Beste Johannes,
Jy kla steen en been in jou artikel: " Om oor die land te ween". Een van jou herhalende obsessies in jou skrywes sentreer op die swak beeld wat die Afrikaner en die Afrikaanse taal huidig in Suid-Afrika beklee. As filosoof behoort jy tog teen hierdie tyd te weet, en die insig te hê, waarom dit so is, of het jy besluit om vir ewig in n toestant van ontkenning en amnesie te lewe? Waarom het die Engelssprekende Suid-Afrikaners dan blykbaar n beter "image" en hulle taal word graag geleer. Aan die einde van die Twee Wêreld Oorlog in Europa het al daardie lande wat Duits as eerste vreemde taal gebruik het oorgeslaan na Engels. Die eens beleërde nasies wou nie langer na die taal van die onderdrukkers, die Nazis, luister nie.
Hoekom het die Engelse kapitaliste en mynbase, uitbuiters van swart arbeid, n beter beeld as die Afrikaner boer op die plaas? n Sakie om oor na te dink.
Afrikaners het n swak beeld omdat hulle in die verlede die heersende stam in die land was en hulle het n guldige geleentheid gehad om die toon en voorbeeld te stel in die bou van n regverdige gemeenskap, en om te sien dat geregtigheid geskied oor die hele spektrum van daardie gemeenskap. Hulle het geen mandaad gehad om mense in eerste- tweede- en derdeklas burgers volgens ras te klassifiseer nie, iets wat die hele verloop van die individu se bestaan, en sy toekoms op aarde sou bepaal. Geen reg om hele gemeenskappe te ontwortel en verskuif nie. Wat die christendom buite Suid-Afrika veral onthuts het was die wyse waarop alles, met of sonder Bybel verse, deurgevoer was. Waar was jy toe alles gebeur het? Was jy bewus van die vergrepe? Het jy dit alles aanvaar sonder n sweem van twyfel of skaamte?
Dit alles lê nou in die verlede maar die erfstuk lewe vandag nog voort. Hopelik sal ook die bitterheid met die verloop van tyd en met die koms van nuwe geslagte ook versag. Proebeer minder kla en begin meer insig kry in n situasie waarvoor jy deels verantwoordelik was. Dit sal jou dalk tot berusting bring en terapeuties werk.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Die toedeling van blaam is in elkeen van die aangehaalde bronne die sentrale tema. Wie veroorsaak die ongelykheid in ontwikkeling en gevolglik inkomste en lewenskwaliteit. Hoekom word die sogenaamde "Afrikaner" polities uitgesonder om geblameer te word vir alles wat in hierdie mooi land van ons verkeerd geloop het. Uit wat ek kon aflei uit meer dan 50 jaar se lewens blootstelling was die Afrikaner ook maar dikwels bloot 'n slagoffer van besluite wat dikwels kollektief op hom afgedwing is. Dat die Afrikaner vir homself bedingings ruimte geskep het in ooreentemming tot sy bydrae tot die bruto nasionale produk spreek tog vanself. Dat hy sedertdien in hersiening van sy aansprake vrywillige herverdeling van mag ge inisieer en aanvaar het behoort op sigself meer as net versagtend tot sy lot te dien.
Hello Pieter, Marcus et al,
Hello,
Beste Wouter,
"Het ons ooit n kans gehad?" Uit n historiese oogpunt, nouliks, in agname van die gegewe van die mosaïek wat Suid-Afrika en sy mense uitmaak. Maar hoekom in teenstelling dan is Brasilië vandag n sukses, n land wat ook bewoon is deur Europese immigrante, inheemse Indiane, en eertydse swart slawe uit Afrika?
Daar is eenvoudig té veel armoede en onkunde om n houbare en stabiele gemeenskap in Suid-Afrika te bou. Of klink die ideaal van so n gemeenskap dan té onrealisties of utopies? Suid-Afrika moet nie vergelyk word met die VSA, Europa of Australiê nie, maar met ander Afrika-lande. Wanneer ander Afrika-lande die maatstaf word om Suid-Afrika te beoordeel, dan blyk die land die pêrel van die kontinent te wees.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Hello Pieter,
Hello,
Beste Wouter,
"....the wealth of a nation is tied most closely to how much the average person shares in the overall growth of the economy". En die sukses en stabiliteit van die staat hang af van die som van ekonomiese insette van al sy burgers. Met werkloosheid by omtrent 40% in Suid-Afrika - kan jy maar jou eie afleidings maak.
Vandag heers daar n etos van "doen jou eie ding" en verryk jouself in die proses. Daar is geen kollektiewe etos in die verspinterde mosïek wat Suid-Afrika uitmaak wat eertyds gevind was by die Skandinawiese sosiale demokrate nie. Dit is moeilik genoeg om jou naaste lief te hê soos jouself, om nie eers te praat van mense en groepe wat "nie ons mense " is nie.
Die siekte tot die dood van die Germaanse intellek is té veel introspeksie en die las van té veel gewete. Daar is eintlik min wat die individu kan vermag as om elke dag so op te tree om geen nadeel te veroorsaak aan diegene wat ons paaie kruis nie.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Hello Pieter,
In detail is dit die vraagstuk van ongelykheid. Die OECD het onlangs 'n verslag daaroor publiseer en is soos volg deur die FT opgesom:
OECD calls time on trickle-down theory