Titel: Binnekring van spookasems
Samesteller: Herman Lategan
Uitgewer: Jonathan Ball SA
ISBN: 9781868426263
Koop Binnekring van spookasems by Kalahari.com
Lees jy Herman Lategan, dan dink jy: katlagter, lieweheersbesie. Dis nie sy woorde nie, dis net die aansteeklikheid van sy woordgebruik dat jy, die leser, skoon op hol raak en jou eie ou gunstelinge oproep. So flankeer Lategan met woorde. Dis nie ’n kroeg nie, dis ’n taphuis; hier is hyserbedieners; ’n lieplapper is lief vir sy lawaaiwater; hier is nagvlinders, nagblomme; hier is mans wat skapies aanja.
Immers is jy een van die honderdes (duisendes?) wat weekliks jou Rapport só lees dat jy Lategan se “Woorde wat wip” (in my geval Ruthie ook) vir laaste hou. Nou kry jy ’n boekvol woorde wat wip wat in konteks, en nie altyd in konteks nie, lei tot ’ n vertelling, of ’n herinnering, of net ’n waarneming.
Is dit ’n boek van essays? Van rubrieke? Kortstukkies? Vinjette? Geen deurlopende tema nie, geen diep filosofiese kentering nie. Dis nie Proust nie. Dis nie John Steinbeck nie. Waaragtig nie Jack Kerouac nie. Jy soek ’n motivering vir die samestelling van al hierdie onverwante indrukke, die brokke biografie, outobiografie, huldeblyke. Demmitol.
Ek kry nie ’n leitmotif nie. Ek kry, soos so baie ander wat Lategan-lesers is, die reeds erkende flaneur van Seepunt; ek lanterfanter saam op sypaadjies. Ek koekeloer (o, hy is lief vir hierdie woord, hierdie Herman Lategan!) saam deur vensters na ou eensame Joodse vroue; ek soek saam in boekwinkels na die name van vorige eienaars.
Aggenee, man, Lategan, jy het nou genoeg die woord “sinjaalrooi” gebruik, en ek het klaar en genoeg al die reuk van tamatiebredie gehad; en, ja, ons weet van die ou formicatafels. Maar dis nou vir jou ’n raak woord daardie: toeka-tantes. Ewe met ’n geknelde skilpadgesiggie.
Die titel en die amper verskonende omslag waarsku, of vra ekskuus, vir die inhoud. Spookasems. Maar ek dink tog met die lees ek moet ’n slag weer Seepunt toe. Ek moet daai Cafda-winkel gaan soek. Ek wil Lategan se misterige Seepunt-aand belewe.
En ek wil hom vra ken hy die woord “meesmuil”? Het hy op die trein na Lutzville dalk ook ’n ou oom hoor praat van ’n soenoffebiets? (Nee, ek het die woord in die deurmekaarwinkel op Lutzville gehoor.) Ken hy die woord “knaterkraker”?
Is hierdie koekstruif van ’n versameling ’n belangrike boek? Ek sê nie, maar waar het ek al ’n beter, dwingender essay gelees as “Die Karretjiemense van die Klein-Karoo”?
Hoe intens is die lees van Babs Laker se laaste ineengekrimpte, moeisame ouderdom. Kyk hoe hy sy ma Ria se nagtelike jolyt by die plaaswerkershuise beskryf. Waar het ek ooit al voorheen gelees dat Ina Rousseau besluite geneem het oor die swaai van ’n touhangertjie? Ook, die heel eerste keer dat ek lees dat sy dik geraak het vir Peter Blum toe hy harige borste ontwikkel het.
Interessant dat Jonathan Ball die boek uitgegee het. Weet hulle dalk iets van Afrikaanse sypaadjie-letterkunde wat die ander uitgewers nie weet nie?
Lees ook Koos Kombuis se lesersindruk.