Om ’n bietjie oor erfenis te besin

  • 0

SZ Minnaar | Foto: Liné Enslin

Ek gaan die grootste deel van Erfenisdag aan die skryf van ’n opstel bestee. Dit is daardie tyd van die semester waar die werk baie en die dosente se simpatie min is. Ek weet van my vriende het ook die dag vir akademiese werk opsy gesit. My gesin en die res van my familie beplan ook nie iets spesiaal nie. Hulle sal seker braai, maar braai word nie juis vir spesiale geleenthede gereserveer nie. Dalk is dit maar net die klein groepie mense waarmee ek in aanraking kom, maar my gevoel is dat niemand werklik Erfenisdag vier soos wat hulle byvoorbeeld Kersfees vier nie.

Miskien is dit weer ’n geval van my groepie wat te klein is, maar verlede week in ’n gesprek wat handel oor “Braaidag se regte naam,” vra iemand: “Nou wat presies is erfenis?” Dit was nie ’n strikvraag of so iets nie; net onkunde. Iemand kan seker nie kwalik geneem word dat hulle nie weet nie, maar dit is jammer dat Erfenisdag net nog ’n lekker af dag is waarop jy kan laat slaap of ander agterstallige werk klaarkry. Dit sal goed wees as ons op Erfenisdag tog ’n bietjie kan besin oor erfenis verder as wat ons braaiwors lank is.

Erfenis is ’n sameflansing van dinge en bestaan selde net uit “goeie” of “mooi” dinge en veral in Suid-Afrika (maar ook byna oral) sit ons met ’n pynlike gedeelde erfenis. Omdat erfenis per definisie iets is wat ’n voorgeslag aan ’n nageslag oordra, voel dit soms soos die gebakte pere wat ons nie wou hê nie, maar nou mee sit.

Vir my is ’n goeie voorbeeld hiervan Afrikaans: Ek is lief vir Afrikaans en dit is die taal waarin ek my by voorkeur uitdruk. Taal beteken egter vir verskillende mense verskillende dinge en ek bly heeltyd bewus van mense wat (eufemisties gestel) ’n minder goeie houding teenoor Afrikaans het. Verskillende houdings oor Afrikaans bestaan nie omdat daar iets inherent goed of sleg aan Afrikaans is nie. Van hierdie houdings is oorgeërf. Indien (oorvereenvoudig gestel) ’n paar Afrikaanssprekendes nie in die verlede opgetree het soos hulle het nie, was daardie houdings vandag miskien anders, positiewer, gewees.

Die vraag is nou, hoe gaan ons met hierdie erfenis om? Asof ons ’n keuse het, probeer ons dit vermy en hoop enige probleme gaan vanself weg? Probeer ons daarvan ontslae raak, want dit is net té pynlik, té problematies om te verdra? Laat ons Afrikaans “wat in elk geval gaan uitsterf” gewoon toe om vinniger dood te bloei?

Vir my is die antwoord om te leer uit die foute van ons voorgangers. Net soos die gevolge van hulle dade vandag se erfenis geword het, sal ons huidige dade gevolglik môre se erfenis word. Hier moet ons nie alleenlik aan onsself dink nie, maar ook aan die toekomstige generasies van Afrikaanssprekendes. Hier is ’n goue geleentheid om daadwerklik op te tree en by te dra tot ’n erfenis wat in die toekoms ten slegste neutraal en ten beste goed bejeën word.

Bygesê, al is die toekoms belangrik, moet ons nie te vasgevang raak met wat gaan gebeur of wat reeds gebeur het nie. Dit is veral wat nóú gebeur waar ons ’n bydrae kan lewer. My opstel moet nog klaar geskryf word (in Afrikaans) en daarna moet dit nagesien word (deur iemand wat Afrikaans begryp) en so gaan dit aan.

Toe ek verlede week op kampus stap, val dit my op hoe ’n meisie aan haar vriendinne sê: “He is Afrikaans. All his friends are Afrikaans. I’m going to have to brush up on my Afrikaans.” Sy het na haar crush verwys. Haar motief is seker meer romanties as enigiets anders, maar ek waardeer haar voorneme om haar Afrikaans op te skerp in ’n tyd waar “almal mos Engels praat”. Wat sal Afrikaanssprekendes opskerp en bydra op Erfenisdag?

* Minnaar is ’n BA (Geesteswetenskappe)-student in sy finale jaar aan die Universiteit Stellenbosch en deel van die ATR-jeuggroep.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top