"Om ’n beter mens te wees" deur Ezette Mallin

  • 0

Om ’n beter mens te wees

Ek wens ek kon ’n liedjie sing vir die ou man by die see
Sy vrou het hom verlaat vir meer as wat hy kon gee
Sy skoene het al lankal hul mooiste blink verloor
Sê vir my daar's iemand wat sal waghou voor jou deur

Ek wens ek kon van hulp wees vir die vroutjie in die straat
Hier is sy gebore en hier is waar sy slaap
Haar klere is vol gate en haar hare is vol grond
Sê vir my daar's iemand wat altyd oor jou sal waak

Die laaitie op die winkelstoep het al lankal weer vergeet
Mense stap met sakke vol - wanneer gaan hy eet
Sy ma het afgesterwe en sy pa sit in die tronk
Sê vir my daar's iemand wat ’n beter mens wil wees

Daar's ’n meisie in die middestad wat soms net wil verdwyn
Sy sluit haar in haar kamer toe as haar ouers weer baklei
Haar oë is donker opgemaak en sy luister Johnny Cash
Sê vir my daar's iemand wat jou vashou as jy huil

Êrens in ’n groot kantoor sit ’n man in sy eie hel
Hy dink wat hy nou sal gee vir ’n handskud van ’n pêl
Sy koue hart is grys en behoort nou aan die bank
Sê vir my daar's iemand wat skuld vir skuld vergeld

Sê vir my daar's iemand wat die antwoorde sal gee
Sê vir my daar's iemand wat sal liefhê as ek smeek
Sê vir my daar's iemand wat sal luister as ek praat
Sê vir my wat ek kan doen om ’n beter mens te wees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top