Druk bly ’n konsep wat elke mens op aarde moet verduur.
Soms verpes ons dit soos die druk wat ouers op hul kinders sit om die rugby se A-span te haal. Ander kere is dit gesond, soos dat jy vir die eksamens moet leer; anders kry jy dalk nie daardie iPod vir Kersfees nie!
Tieners word ongelukkig aan al die invloede blootgestel. Ek besef al hoe meer dat tieners baie ontvanklik is hiervoor. Kwessies wat deur sommige volwassenes vermy word.
Die druk wat ’n kind tydens egskeiding moet hanteer, groepsdruk en omgewingsfaktore wat veiligheid betref, is alles ernstige kwessies wat die kind kan benadeel. Dit is waar ek voel so baie tieners hulp nodig het. ’n Kind wat vanuit ’n onveilige area kom het bloot groter risikos en moet meer paraat wees daarop as die kind wat nie daarmee groot geword het nie.
Ek sal nooit vergeet toe ek op skool was nie. Toe ek in Graad 10 (dis nou Standerd 8 vir diegene wat ouer as ses-en-dertig is!) was, het vier mense het op dieselfde dag vir my ’n sigaret aangebied. Gratis. En dit nogal in ’n gesogte, gegoede skool.
Die skok dring deur wanneer jy die skolier in die gesig kyk, en hy dit so normaal ag asof hy nou net sy toebroodjies met jou gedeel het. Ek was stomgeslaan!
Ek onthou daar was toe nog nie so iets soos kuberruim swendelaars nie. Dié pandemie is internet-boelies wat eerder emosionele skade wil aanrig as om ’n bydrae te lewer wat tot die breë samelewing sin maak.
Sielkundig het ek self deurgeloop. Ek onthou toe ek gespot was, was dit onrusbarend afbrekend. Mens besef eers lank nadat jy ’n volwassene is hoeveel meer jy jouself moet beskerm as wat mens destyds uit onskuld wou glo.
Daar was egter so ’n paar ligpunte gewees.
Humor is ’n heerlike hulpmiddel. Om jonk te wees is nie ’n eienskap wat dui op onvolwassenheid nie. Te veel volwassenes skeep hul innerlike kind af.
Ek voel soms bang as ek dink dat my generasie binnekort kinders die wêreld sal instuur wat moontlik ongereed gaan wees vir die uitdaging wat daar buite wag. Ek glo wel dat elke generasie daaroor bekommerd is; nie net ek nie.
Ek wonder of ouers regtig bewus is van hierdie goed. Skoolgaan is bloot ’n oorlog waarheen jy gaan! ’n Mens moet gereed wees daarvoor. As jy nie wakker is nie, kan jy deel word van die malende massa wat voort drentel sonder dat hulle besef waarheen hulle gaan … En tog is daar troos.
Tieners het ’n ingewikkelde bestaan, maar die tye bied heerlike geleenthede vir groei. Hulle is meer paraat, openliker, en praat sonder keer! Wég is die uitdrukking dat ’n kind nie gehoor mag word nie. Kinders het wysheid en ondersteuning nodig. Al wat elke kind ooit wil hoor, is dat hy/sy waarde het. En dat hy spesiaal is, ongeag hoe.
Ek praat nou so lekker oor die wyshede, maar ek was self ’n rebel.
O, wee!
Ek het dit verpes as onderwysers my wou voorsê. Asof my brein sommer buite werking was … Ag, nee!
Ek sou dikwels gróót kanse vat. In Biologieperiode het ek al my Wiskunde-huiswerk gedoen; die Rekeningkunde-huiswerk in Skeinat-klas; die Afrikaanse huiswerk tydens register-periode, en helaas tydens Biologie net hartseer en met spyt beaam dat ek nie my huiswerk kon doen nie, want “ek het nie geweet ek het huiswerk gehad nie, Meneer ...”
Stokkiesdraai is deel van tiener wees.
Vandag se tieners het die wind van voor en die druk wat hulle moet hanteer is erger. Ek wonder egter of hulle dit besef.
Hoe dit ook al sy, tieners is uniek! Ja, en hulle kan cool ook wees.
Soos tieners sou praat: “Ons is só awesome. FYI! ”
Ja, wat sal ons daarop se? “LOL.”


Kommentaar
Ek het jou brief met erns gelees. Almal praat deesdae van die kinders wat groepsdruk moet verwerk. My genugtig, ek moes groepsdruk verwerk. Ek weet deesdae is dit seker erger of die kinders word aan meer blootgestel as net groepsdruk. Hulle word aan mammie en pappie se druk blootgestel. Die ouers het een of ander verwronge idee van prestasie wat hulle self moontlik nooit kon behaal nie en nou projekteer hulle dit op die kinders. Hoe tree hulle as ouers op? Wat gaan aan in die ouerhuis? Ek het vroeg in my lewe moeilikheid opgetel. Hoe meer ek gemoer is hoe meer het ek gedoen wat ek wou. Onderwysers en my ma moes nie vir my voorskryf nie. Ek het rebelleer. Daar was onderwysers wat deur my gesien het en het ons lekker oor die weg gekom, en wou ek presteer. As jy iets by my wil kry of ek iets vir jou kan doen vra jy, "wil jy nie dit of dat nie asb" en nie "sal jy dit of dat vir my doen nie", ek sien onmiddelik rooi en trek bokbek. Dit is asof daar nie respek en selfrespek is nie. Die "why" kultuur is deesdae aan die orde van die dag. Gelukkig sit ek nie meer met kortvolk wat my lewe kan versuur nie. Ek sien ook rooi as iemand vir my sê ek is "old school". Gelukkig is ek op die stadium van my lewe dat ek iemand in ’n restaurant of openbare plek kan berispe as hy dit vir my onaangenaam maak. Ek is ’n knorpot, en nie meer lus vir stront nie. Dit is my reg.
Ek is dankbaar ek is nie in vandag se tye ’n kind nie! Vandag se kinders is oor die algemeen, let wel ek sê oor die algemeen (want gevalle verskil van indivivu na individu), onder meer druk om te presteer.