is om die Ysterkoei te laat sweet
en laggende Katastrofes uit te dryf,
dit teen die mure van die Huis van die Dowe
neer te skryf
om ’n Kouevuur te teken
en ’n Lotus luisterryk
te kweek
Om te vlieg
en om Blomskryf
te bedryf
om die Oorblyfsels van ’n tydelike reis
op te spoor, na te gaan,
bymekaar te skraap
en uit te Skryt
Met ander woorde:
Om ’n sinkende skip
blou te verf
om die Boom agter die maan
te gaan haal en te verplant
in ’n vreemde Seisoen
in die paradys
om Voetskrif(te) neer te skryf
en in ’n Ongedansde dans
ge-Yk-te Eklips-e
na te laat
en Lady One te takseer,
haar sag op haar skaam lippe
te kus en te keur
om die Hertzogprys te wen
en te verloor, deur al die dekades
van dekadente deurdinkte
digtelikheid
in Afrikaans;
met prente in bohemiaans
en die zin en die zen
ondermaans steeds
met wit woorde
te verbloem ...
(my beskeie ode aan Breyten
Breytenbach – die een wat maar
poësie mag pleeg sonder om self
te blik of te bloos)
~kamikazi

